Susanna Bruwer (6 Februarie 1895 - 9 Maart 1973) was ’n Afrikaanse skrywer en was getroud met A.J.
Bruwer">A.J. Bruwer, die bekende ekonoom en skrywer.
Susanna du Pre van Rooyen is op 6 Februarie 1895 gebore as een van agt kinders. Haar vader is Ignatius Marthinus Stephanus van Rooyen (1865–1914) en haar moeder is Salmina Magdalena van Rooyen. Haar ouers is op 16 Julie 1890 op Senekal met mekaar getroud. Sy is getroud met dr. A.J. Bruwer, die bekende ekonoom en skrywer. Hulle het twee seuns en ’n dogter, naamlik Stefan, André en Salomé. Die egpaar bly in ’n woonstel in Parktown in Johannesburg en besit ook die familieplaas Mymering in die Klein-Karoo naby Ladismith. Sy is op 9 Maart 1973 oorlede.
Sy skryf die roman “Bodemvas”, wat baie sterk aangeprys word deur kritici soos F.E.J. Malherbe by publikasie en vele herdrukke beleef. Hierin word die vir die tyd besonder aktuele kwessie van die verhouding tussen Afrikaans- en Engelssprekendes ondersoek en die botsing wat verskillende stelle lewenswaardes ontlok. Die titel van die boek verwys dan ook na die Afrikaner wat vas is aan hierdie grond en nie ’n ander tuiste ken nie. Oom Gerrie Enslin van Palmietfontein is ’n welgestelde Transvaalse Boer wat as gevolg van die lyding tydens die Anglo-Boereoorlog ’n geswore vyand is van alles wat Engels is. Sy dogter Lena raak dan verlief op ’n Engelse jongman, dr. Harold Carey, wat voel dat die familie dit as ’n eer moet beskou dat ’n Engelse dokter hulle dogter as vrou wil hê. Hy is nie van plan om in Suid-Afrika wortel te skiet nie en verwag van Lena om haar verlede prys te gee. Tant Hessie probeer om die konflik tussen oom Gerrie en Harold te ontlont en haar kind in die proses te behou, maar stuit haar teen die trots en onversetlikheid van haar man. Oom Gerrie en tant Hessie weier toestemming tot ’n troue en Lena trou in die geheim met Harold. Die huwelik se onvermydelike botsings dwing haar egter om ook vir Harold te verlaat en met haar ongebore kind terug te keer na haar wortels. Haar moeder, tant Hessie, is intussen oorlede. Hieruit volg besinning en groter insig en aanvaarding van die ander. As gevolg van die aktuele tema word die boek aanvanklik oorskat, hoewel dit nie sonder verdienste is nie. Oom Gerrie en Harold is twee teenpole, wat tot tipering lei, terwyl die karakters oor die algemeen nie werklik as mense uit die verf kom nie. Die Paul de Groot-toneelsgeselskap het in 1933 ’n verhoogverwerking van hierdie boek op ’n aantal Bolandse dorpe opgevoer, sonder veel sukses. “Stefan in die tuin” is ’n kinderboek en “Op haar plek” ’n huweliksroman. In November 1929 publiseer sy in Die Nuwe Brandwag die belangwekkende artikel “As ’n vrou wil skryf. ’n Skets uit die getroude lewe”, waaruit die vooroordeel wat op daardie stadium steeds teen vroueskrywers gerig is, duidelik blyk.
Jaar | Publikasies |
---|---|
1929 | Bodemvas |
1932 | Stefan in die tuin |
1946 | Op haar plek |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Susanna Bruwer, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.