Hervormingsdag (Duits: Reformationstag) is 'n kerklike feesdag wat deur Evangelies-Lutherse Christene in Duitsland op 31 Oktober ter herdenking van die kerkhervorming deur Martin Luther gevier word.
Op 31 Oktober 1517 het Luther sy geloofsbelydenis in 95 stellings aan die deur van die slotkerk te Wittenberg vasgespyker.
In Switserland word die eerste Sondag in November as Hervormingsdag gevier. Ondanks dié land se gereformeerde belydenis het ook die Switserse Hervormingsdag die hervorming in Wittenberg as godsdienstig-geskiedkundige agtergrond.
Hervormingsdag is 'n openbare vakansiedag in die Duitse deelstate Brandenburg, Bremen, Hamburg, Mecklenburg-Voorpommere, Nedersakse, Sakse, Sakse-Anhalt, Sleeswyk-Holstein en Thüringen. In Baden-Württemberg is dit 'n skoolvakansiedag. In ander deelstate met Evangelies-Lutherse bevolkings geniet Hervormingsdag 'n besondere wetlike status as "stille herdenkingsdag". Ter geleentheid van die Protestantse Hervorming se 500ste herdenking op 31 Oktober 2017 was die Hervormingsdag in die hele Duitsland 'n openbare vakansiedag.
Buite Duitsland word Hervormingsdag in Slowenië en Chili as openbare vakansiedag gevier. Vir gereformeerde kerke in Switserland is die eerste Sondag in November (dus die eerste Sondag ná 31 Oktober) 'n godsdienstige feesdag. In Oostenryk, 'n land met 'n oorwegend Rooms-Katolieke bevolking, word Hervormingsdag nie amptelik gevier nie. Nogtans is dit 'n skoolvakansiedag vir Lutherse leerders, en ook Lutherse werknemers mag aan kerkdienste deelneem.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Hervormingsdag, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.