Die Moederland Roep (Russies: Родина-мать зовёт!, Rodina-Mat zowjot!) is ’n standbeeld by die heuwel Mamajef Koergan in Wolgograd (voorheen Stalingrad), Rusland, ter herdenking aan die Slag van Stalingrad.
Dit is deur die beeldhouer Jewgeni Woetsjetitsj en ingenieur Nikolai Nikitin ontwerp, en was in 1967 die hoogste standbeeld in die wêreld.
Die Moederland Roep | |
---|---|
Land | Rusland |
Onthul | 15 Oktober 1967 |
Plek | Mamajef Koergan, Wolgograd |
Ontwerp | Jewgeni Woetsjetitsj, Nikolai Nikitin |
Dit is ’n ingewikkelde beeld uit ’n ingenieurstandpunt weens die kenmerkende houding met ’n swaard wat in die regterhand in die lug gehou word en die linkerhand in ’n roepgebaar. Dit is tans die hoogste niegodsdienstige standbeeld van ’n vrou in die wêreld.
Dit het verskeie ander name, soos Moeder Moederland, Die Moederland en Die Mamajef-monument.
Toe die standbeeld in 1967 onthul is, was dit die hoogste standbeeld ter wêreld; dit is 87 meter van die bokant van die voetstuk tot by die punt van die swaard. Die figuur self is 52 meter hoog en die swaard 33 meter lank. Tweehonderd trappies wat die 200 dae van die Slag van Stalingrad simboliseer, lei van die onderkant van die heuwel na die monument. Dit weeg 7 900 ton. Die model wat vir die standbeeld poseer het, is ’n plaaslike inwoner, Walentina Izotowa.
Die standbeeld verskyn op sowel die vlag as die wapen van Wolgograd-oblast.
Daar is bewerings dat die standbeeld al hoe meer oorleun weens veranderinge in die grondwatervlak wat veroorsaak dat die fondamente skuif. Die standbeeld is nie aan sy fondamente vas nie en word net deur sy gewig in posisie gehou. Dit het al 20 cm geskuif en sal na verwagting nie veel verder kan skuif voor dit omval nie. Plaaslike owerhede ontken dit egter.
44°32′13″O / 48.742361°N 44.53694°O
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Die Moederland Roep, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.