Asma (van Grieks: άσθμα, ásthma, hyging) is 'n algemene chroniese inflammatoriese siekte van die lugweë, gekarakteriseer deur verskillende en herhalende simptome, omkeerbare lugvloei-obstruksie, en bronchospasma.
Simptome sluit in hyging, hoes, borsbenoudheid, en kortasem.
Asma | ||
Klassifikasie en eksterne bronne | ||
’n Asma-aanval. | ||
ICD-10 | J45 | |
ICD-9 | 493 | |
OMIM | 600807 | |
DiseasesDB | 1006 | |
MedlinePlus | 000141 | |
eMedicine | article/806890 | |
MeSH | D001249 | |
Mediese waarskuwing |
Behandeling van akute simptome geskied gewoonlik met 'n vinnigwerkende inasemings beta-2 agonis (soos salbutamol). Simptome kan voorkom word deur die snellers daarvan, soos allergene en irritante, te vermy deur identifisering en afskerming daarvan, asook deur inaseming van kortikosteroïde (bynierskorshormone). Leukotriene antagoniste (middels wat leukotriene inhibeer) is minder effektief as kortikosteroïde en dus minder gewild.
Die voorkoms van asma het sedert die 1970's aansienlik toegeneem. In 2009 is 300 miljoen mense ter wêreld daardeur geraak. Ten spyte hiervan, is die prognose van asma, met behoorlike kontrole deur stapsgewyse terapie, oor die algemeen goed.
Asma is vir die eerste keer deur Hippokrates, om en by 450 v.C., herken en benoem. Tydens die 1930's–50's, is asma beskou as een van die 'heilige sewe' psigosomatiese siektes. Die aetiologie daarvan is as psigologies beskou, met behandeling wat dikwels op psigoanalise en ander 'beradingskure' gebaseer is. Aangesien hierdie psigoanaliste die asmatiese hyg gesien het as die onderdrukte uitroep van 'n kind vir sy of haar ma, was hulle van mening dat die behandeling van depressie veral belangrik was vir indiwidue met asma.
Die siekte hou dikwels verband met allergiese reaksies. ʼn Asma-aanval kan veroorsaak word deur stof, stuifmeel, 'n infeksie, rook, sekere kossoorte, medisyne, uitputting, koue en vogtige weerstoestande en emosionele ontsteltenis.
Wanneer iemand ʼn asma-aanval kry, is daar gewoonlik 'n gevoel van spanning oor sy longe en hy voel of hy wil versmoor. Die persoon moet gewoonlik regop sit om beter te kan asemhaal. Die asemhaling is stadig en moeisaam, en uitaseming verg die inspanning van al die asemhalingspiere. Die persoon sal waarskynlik ook na sy asem hyg.
'n Hoesbui kan later ontwikkel waartydens taai slym uitgespoeg word. Hierdie uitskeiding van die slym verlig gewoonlik die aanval. ʼn Asma-aanval kan 'n paar minute lank duur, maar dit kan ook ure lank aanhou. As die aanval baie erg is en lank aanhou sonder dat die persoon enige verligting kan voel, is dit bekend as status asmaticus. Aanhoudende asma-aanvalle kan tot emfiseem, 'n ernstige longaandoening, aanleiding gee.
Verskillende middels en metodes word gebruik om asma te verlig. Aminofillien, adrenalien of adrenalien-preparate word gebruik om die simptome van asma te verlig. As die oorsaak van die aanval een of ander allergie is, kan anti-histamien met goeie resultate gebruik word. As geen ander middels die asma kan verlig nie, maak dokters gewoonlik van bynierskorshormone gebruik.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Asma, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.