Mere En Panne

'n Betreklik groot oppervlakte min of meer stilstaande water word, afhangende van die diepte, 'n meer of 'n pan genoem.

Mere is normaalweg standhoudend, terwyl panne dikwels in die droë seisoen opdroog. Daar word normaalweg tussen die oewersone en die oop water onderskei.

Mere En Panne
Olifante by die St. Luciameer

Diep mere in gematigde streke het gewoonlik 3 lae: 'n onderste koue, suurstofarme hipolimnion, 'n boonste warmer, suurstofryke epilimnion en 'n middelste metalimnion. Ongeveer 2,5 miljoen km2 (1,8 %) van die vastelande van die aarde is varswatermere en -panne.

As die water so diep is dat sonlig nie tot op die bodem deurdring nie, word van 'n meer gepraat, terwyl oppervlaktes vlak water as panne bekend staan. Mere en panne kan onder andere as oorblyfsels van ou gletsers, in ou vulkaankraters, tydens aardbewings of deur afsnyding van draaie in riviere ontstaan.

Die lewensduur van die meeste mere is (geologies gesproke) kort: daar is byvoorbeeld geskat dat die Bodenmeer in Europa oor ongeveer 12 000 jaar heeltemal toegestik sal wees as gevolg van slikdeeltjies wat voortdurend deur die Rynrivier in die meer afgeset word. Ook mere en panne wat nie deur riviere gevoed word nie, raak mettertyd opgevul deur dooie organiese materiaal. Hierdie proses duur heelwat langer in tropiese en subtropiese wêrelddele omdat die organiese materiaal daar vinnig afgebreek word.

Gelaagdheid en sonering

In gematigde dele kan 3 waterlae met verskillende eienskappe in mere onderskei word. Die boonste waterlaag, die epilimnion, is in die somer relatief warm. Omdat die digtheid van die warm water laer as die van die koue water is, meng dit moeilik daarmee.

Die epilimnion bestaan uit die laag water wat deur die wind in min of meer sirkulerende beweging gehou word. Die koue onderlaag staan as die hipolimnion bekend, terwyl die laag tussen die epilimnion en die hipolimnion die metalimnion genoem word. In die metalimnion neem die temperatuur vinnig af, en dit staan daarom ook as die termoklien bekend. Die boonste grens van die hipolimnion is meestal ongeveer die vlak tot waar lig deurdring en waaronder dus geen plantegroei kan voorkom nie.

Alle suurstof in die hipolimnion moet dus daar kom deur vermenging met die epi-en metatimnion. In die somer is daar feitlik geen vermenging nie (somerstagnasie) en die suurstofkonsentrasies neem af totdat daar in die dieper dele soms geen suurstof meer is nie. Slegs anaerobiese organismes kan dus in daardie dele leef. In die herfs en in die winter koel die oppervlakwater af en meng dit met die hipolimnion, waardeur die suurstofkonsentrasie van laasgenoemde toeneem.

As die watertemperatuur tot onder 4 °C daal, word die vermenging weer vertraag omdat die bolaag ligter word (water se digtheid is die hoogste by 4°C), en as dit vries, word die suurstofmere toevoer na die hipolimnion afgesny (winterstagnasie). Winterstagnasie het minder effek as somerstagnasie omdat prosesse wat suurstof verbruik, by lae temperature stadiger verloop, terwyl die suurstofvoorraad aan die begin van winterstagnasie hoër is omdat suurstof beter in koue water as in warm water oplos.

In die lente, wanneer die ys smelt (indien die water gevries het), word die oppervlakwater swaarder en sak dit af na die hipolimnion, sodat vermenging weer plaasvind. Wanneer baie minerale voedingstowwe deur riviere na mere gevoer word, neem die plantegroei baie toe. Sulke mineraalryke mere staan as eutrofiese mere bekend. Die vermeerdering in plantegroei het tot gevolg dat daar veral aan die einde van die somer meer dooie organiese materiaal vrykom, wat na die bodem afsak.

Die organismes wat die materiaal afbreek, het suurstof daarvoor nodig en groot dele van ʼn meer kan gevolglik suurstofloos raak en grootskaalse vrektes van vis tot gevolg hê. 'n Goeie voorbeeld is die Hartbeespoortdam, 'n mensgemaakte dam naby Pretoria, waar die waterhiasint (Eichornia crassipes) in 'n stadium geweldig toegeneem het as gevolg van eutrofikasie en later grootskaalse visvrektes tot gevolg gehad het. Die eutrofikasie was, soos in die meeste gevalle, die gevolg van storting van nywerheidsafval en rioolwater in die riviere wat die dam voed.

Veral fosfaatverbindings bevorder die onbeheerste groei van waterplante. In oligotrofiese mere (mere met min minerale voedingstowwe), wat meestal deur slegs reënwater gevoed word, het die hipolimnion ook in die somer voldoende suurstof.

Duidelike verskille tussen die plant- en dierlewe van oligotrofiese en eutrofiese mere is meestal waarneembaar. 'n Derde soort, naamlik distrofiese mere, kan ook onderskei word. Hierdie mere het ook 'n gebrek aan voedingstowwe soos oligotrofiese mere, maar is origens ryk aan opgeloste organiese stowwe en arm aan suurstof en is meestal bruin gekleurd. In byvoorbeeld die suidelike Kaapprovinsie is baie van die riviere distrofies. Die plante en diere van mere en panne kan ingedeel word volgens die sones waarin hulle voorkom.

Die volgende drie hoofsones word onderskei:

- Die oewersone of littoraalsone, waarin veral die waterplante wat in die bodem veranker is, voorkom.

- Die limnetiese sone, dit wil sê die oopwatersone tot op die vlak waar lig nog indring en waar slegs drywende plante (meestal alge) voorkom.

- Die profundaalsone of diepwatersone, waar geen plantegroei kan voorkom nie as gevolg van 'n gebrek aan lig, maar waar wel sekere diersoorte en bakterieë kan voorkom.

Hierdie sone ontbreek by panne. Die hele bodem word soms as ʼn aparte sone, die bentiese sone, beskou. Hierdie sone is deel van die littoraal- en die profundaalsone. Vanweë die kleiner volume water en die relatief groter oppervlakte wat aan die werking van die son blootgestel is, is die omgewings-watertoestande in 'n pan baie minder gelykmatig as in 'n meer. Hierdie ongelykmatige omgewing stel hoë eise aan lewende organismes, maar daar is altyd soorte wat daarby aangepas is. In sommige panne is die hele bodem met waterplante begroei en is daar dus slegs ʼn littoraalsone aanwesig.

Voedselkettings

Soos in ander ekostelsels is die fotosintetiserende plante die primêre voedselproduseerders. Gewortelde waterplante is dikwels met epifitiese draadvormige of eensellige alge bedek, wat veral vir slakke en visse as voedsel dien. 'n Paar vissoorte eet ook die plant self.

Die fitoplankton, met ander woorde massas mikroskopies klein, drywende alge, gee die water van eutrofiese mere dikwels 'n groen kleur. Dit bestaan grotendeels uit groenalge (klas Chlorophyceae), blougroenalge (afdeling Cyanophyta), diatome (klas Bacillariophyceae) en flagellate (afdeling Euglenophyta) en dien as voedsel vir die soöplankton (klein, drywende diertjies).

Die soöplankton bestaan hoofsaaklik uit eensellige diertjies (phylum Protozoa) wieldiertjies (klas Rotifera) en klein kreefagtiges soos watervlooie (phylum Crustacea) en is die prooi van groter diere soos waterkewers (familie Dytiscidae), waterwantse (orde Hemiptera) en die larwes van naaldekokers (orde Odonata) en watermotte (orde Trichoptera).

Bo-aan die voedselketting is diere soos roofvisse, paddas, voëls soos reiers en visvangers, en otters. Van die groter diere soos eende eet ook waterplante. Seekoeie woon bedags in water, maar snags wei hulle buite die water. Hoewel hulle dus waterdiere is, vorm hulle eintlik nie deel van die voedselkettings van die mere, panne of riviere nie. Soos seekoeie kom krokodille ook net voor in tropiese en subtropiese water, waar hulle veral van visse leef in geïsoleerde mere wat nie in die see uitmond nie, soos die Baikalmeer in Siberië, het unieke diersoorte soos die Baikalrob (Pusa siberica) ontwikkel.

Die Baikalrob loop egter vandag gevaar om uit te sterf. Nog 'n belangrike komponent van varswaterekostelsels is die detrituseters, wat van dooie organiese materiaal (detritus) leef. Dooie organismes van die fito- en soöplankton sak voortdurend na die bodem, waar die meeste detrituseters aangetref word. Veral in die hipolimnion (waar detritus die primêre voedingsbron is) kom egter ook vryswemmende detrituseters voor. Voorbeelde van detrituseters is bloedwurms (familie Tubificidae), varswatermossels (suborde Schizodonta), varswatergarnale (familie Gammaridae) en die rooi muggielarwes (familie Chironomidae), wat baie soos die bloedwurms lyk.

Verskillende spesies van die familie Chironomidae het baie spesifieke habitatsvereistes en hulle word dikwels gebruik om verskillende tipes water uit te ken sonder om eers watermonsters te ontleed. Die studie van die lewe in varswater en alles wat daardeur beïnvloed word, staan as limnologie bekend. Van die groter mere en panne in Suid-Afrika is St. Lucia-meer (ongeveer 490 km2) en Sibaya-meer (ongeveer 77 km2) in Natal en Barberspan en Chrissiesmeer (altwee ongeveer 25 km2) in Gauteng.

Laasgenoemde twee is groot panne en is veral bekend vanweë hul besonder ryk voëllewe. Talle ander kleiner panne kom in SuidAfrika voor (27 in die distrik Ermelo alleen), waarvan baie soutpanne is, met ander woorde 'n baie hoë soutgehalte het en 'n laag sout nalaat wanneer hulle opdroog.

St. Lucia en die Sibaya-meer is saam met die Kosi-meer eintlik die enigste natuurlike mere in Suid-Afrika en omdat hulle al drie in 'n subtropiese gebied geleë is, vertoon hulle nie die tipiese gelaagdheidspatrone van mere in gematigde wêrelddele nie. Heelparty Suid-Afrikaanse damme vertoon egter wel hierdie patrone.

Bronnelys

Tags:

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

Monargie van die Verenigde KoninkrykKarpaletonnelsindroomHalifax, Nova ScotiaBorskankerJesus van Nasaret8 AprilRieldansInkubasiePubiese hareTaalwetenskappeHermie HendriksMiddeleeueNazi-DuitslandSluipmoordSuid-Afrikaanse algemene verkiesing van 2024PalmagtigeDominikaMuishondBybelNoord-KoreaOrale seksSeekoeiBetonNarsismeMenseregteSuid-Afrikaanse GrensoorlogJennifer ZamudioJada FirePythagoras se stellingFransAalwynJapanRJ-telefoonpropWladimir WisotskiJodeMinervaPous Stefanus IIIDroomEngelsBosnië-HerzegowinaVSA dollarProstaatklierLys van openbare vakansiedae in Suid-AfrikaEkostreekDieregeluideNarsistiese persoonlikheidsteuringJacques LootsAngina pectorisOrkney Snork NieBen Gurion Internasionale LughaweSlag van die Goue Spore16de eeuProxima Centauri bMeksikoNiersteenNabye OosteParysKadmiumGeskiedenis (vakgebied)HolocaustBrahmaputraMenstruasieRussiese Rewolusie (1917)zee7qRing van VuurGoudGianna MichaelsPeter UeberrothLord’sKoringViëtnamoorlogAartappelFrankrykAkteurSponsdierPokke🡆 More