Hierdie lys van Afrikaanse wetenskapsfiksie is chronologies sorteer en sluit slegs die oorspronklike werke in.
Hierdie lys sluit ook, waar moontlik, radiodramas, kortverhale en TV-reekse in.
Reeds in 1960 skryf Jan Rabie die artikel "Toekomsfiksie en die letterkunde". Rabie stel in hierdie artikel die wetenskapsfiksie-genre as wêreldletterkunde aan die leser bekend, hoewel hy ook drie Afrikaanse outeurs noem: hyself, Leon Rousseau en Tiaan Eybers. Rabie bespeur oor die algemeen 'n element van wêreldontvlugting, feëverhale, herleefde legendes en mitesen “kommenterende gewete van die mensdom” in “toekomsfiksie”, wat hy spesifiek in een sin as sinoniem vir “Afrikaanse wetenskapsfiksie” of “ruimterillers” of “science fiction” uitstip. Rabie eien die potensiaal van 'n genre wat die vermoë het om kultuurskeppend te wees, maar gaan een stappie verder: wetenskapsfiksie kan die grens oorbrug tussen humanisme en die wetenskap, kuns en wetenskap, “tussen 'n roos en 'n atoom” . Rabie sien hierdie genre teen die onsekere dampkring van die atoomeeu, ruimtewedloop en Koue Oorlog.
1976: Een fokus wat Rabie sowel in sy artikel as in 'n toegestane onderhoud op Onrus deel, is sy belangstelling in en bekommernis oor die toekoms van die mens en die Afrikaner, maar ook die uitreik van die mens na die buitenste ruimte.
Twee vrae word beantwoord, waaronder:
en
1983: "Sciencefiction: problematiek en perspektief", deur C.E. Ungerer, is die eerste proefskrif omtrent die wetenskapsfiksie in die Afrikaanse taal Sy vra haar af:
In haar proefskrif kyk sy wel na wetenskapsfiksie-elemente in die oeuvre van Etienne le Roux, Chris Barnard, Breyten Breytenbach, P.G. du Plessis, Anna M. Louw en Jan Rabie. Laasgenoemde se Swart ster oor die Karoo (1957) en Die hemelblom (1971) word as "suiwer SF-verhale" beskou. Sy skryf voorts: "Dit is interessant dat die meeste SF in Afrikaans op die jeugdige leser toegespits is." Ekliptika X (Pierre Conradie, 1971), Die bruin planeet (Kobus Smit, s.j.) en Blou vier, groen vier (Ilse Steenberg, 1981) kom almal onder die loep en elkeen word respektiewelik as space opera, avontuurboek en fantasie ingedeel: ietwat teleurstellende pogings tot wetenskapsfiksie (omdat daar weinig sprake van komplekse organisasie met verskillende strata of betekenisvlakke is), hoewel die tekste almal aan SF-kriteria voldoen.
Voorts word Loeloeraai (C.J. Langenhoven, 1923) en "Fofelooi is Sjorsjor" (Pierre Haarhoff, Augustus 1980) uitvoerig bespreek. Na Ungerer se mening slaag Loeloeraai nie as wetenskapsfiksie nie, al is dit ook geslaagde fiksie, omrede die wetenskapfiktiewe struktuurelemente nie geloofwaardig is nie; die wetenskapfiktiewe gegewens word nie oortuigend gerasionaliseer nie, en sommige word eksplisiet verswyg. "Fofelooi is Sjorsjor" slaag wel, omdat die wetenskapfiktiewe novum (nuutjie, gegewe) oorheersend en logies verklaarbaar is, maar daar is ook ander simboliese (maatskaplike) eienskappe opgesluit, asook geen optimale Endzustand nie (daar is in die moderne epistemologie en filosofie van die wetenskap 'n visie van die wêreld met sy gebreke, maar geen optimale oplossing nie).
Oor die Afrikaanse konteks skryf sy :
1985: Volgens Prophet word wetenskapsfiksie in jeugliteratuur deur literatore, onderwysers en andere as 'n genre van weinig literêre of skolastiese waarde beskou. Om hierdie rede word dit selde, indien ooit, op skole aangebied, "especially in South Afrika (sic) where the genre has yet to become respectable." Kinders glo daarom dat wetenskapsfiksie lektuur is wat geen meriete het of van belang is nie. In Hoofstuk 6, ‘Children's SF in South Africa’, word gedeeltes uit Goldstuck se artikel, 'Low-flying sci-fi' (Fontline, Desember 1984), aangehaal:
Die Afrikaanse werke wat bespreek word, is die Fritz Deelman-reeks (Leon Rousseau), die Leon Hugo-reeks (Leon Kock), Sending Reyger (Rocco van Schalkwyk), die Atlantis-reeks (Helene Hugo), Swart Ster oor die Wêreld (sic) en Hemelblom (sic) (Jan Rabie) en Blou vier, groen vier (Ilse Steenberg). Met die uitsondering van Blou vier, groen vier ("one of the best Afrikaans children's science fiction works"), en die tienerpoging Sending Reyger wat verskoon word, word die meerderheid werke oor die algemeen van swak karaktertekening en "stock situations" beskuldig.
In die samevatting staan:
1988: Volgens Elsabe Steenberg kan Afrikaanse wetenskapsfiksie skaars as 'n volwaardige subgenre van jeugliteratuur beskou word, weens gebreke wat betref karakterisering en struktuur. Aan die positiewe kant beskik wetenskapsfiksie oor 'n intelligente opset, opwindende toekomsgerigtheid, en eis intellektuele samewerking van die leser:
Sy lig die volgende kenmerke van Afrikaanse jeugwetenskapfiksie uit:
1988: Inger Preis brei in die laaste hoofstuk van die verhandeling "Fantasie: modern, postmodern en wetenskapfiksie met toespitsing op die Afrikaanse kortverhaal" meer uit oor die Afrikaanse wetenskapsfiksie. Die volgende opmerking word gemaak:
Op grond van Warrick, Greenberg en Olander se wetenskapsfiksie-elemente "grounded in scientific knowledge", "sense of noveltyd", "dislocation in space and time", "awareness of unity", "SF addresses itself to the mind", "a new awareness" en "moment of illumination", word 'n handjievol Afrikaanse wetenskapsfiksie/fantasie-kortverhaaltekste heerteen geweeg, waaronder "Ek het jou gemaak" deur Jan Rabie, "Die nuwe profeet" deur Breyten Breytenbach, "Fofelooi is Sjorsjor" deur Pierre Haarhoff, "Die man wat gewag het op die vuur" deur Eduard de Waal, "Kommune van die lyke" deur Alexis Retief, "End" deur Henk Wybenga, asook "Die besoekers van Epsilon Centauri" deur P.C. Haarhoff.
Preis kom tot die gevolgtrekking:
Die vooroordeel teen Afrikaanse wetenskapfiksie sal opgehef word as die verhale volgens nuwe kriteria geëvalueer word. Die realiteite wat deur wetenskapfiksie ondersoek word, is nie uitsluitlik binne die gebied van die empiriese nie, maar ook binne die metafisiese en geestelike gebied. Etiese, geestelike en sielkundige aspekte wat aan universele vrae verbonde is, word in wetenskapfiksie teen die agtergrond van 'n kognitiewe novum ondersoek. Dit is die perfekte interaksie tussen verbeelding en kognisie, wat volgens Scholes die perfekte fiksie skep: "In the perfect structural fabulation, idea and story are so wedded as to afford us simultaneously the greatesyt pleasures that fiction provides: sublimation and cognition." |
1988 is sonder toeval ook die jaar waarin P.C. Haarhoff die Eugène Maraisprys verower vir sy bundel Uit 'n ander Wêreld (1987), op 24 Junie.
In die 1990's verower drie wetenskapsfiksieboeke die Sanlamprys (kinder- en jeugboekkompetisie, waarvoor manuskripte ingeskryf word). Hieronder tel Rebel deur Tertia Botha (brons, 1994, tema: ligte inslag), In die tyd van die Esob deur Martie Preller (goud, 1996, tema: sport of buitelug), en Die teken van Crux deur Elsa Hamersma (goud, 1998, tema: millenniumwending).
Teen 1995, met die verskyning van Jeanette Ferreira se wetenskapsfiksieroman, Die onsterflikes, is bevind "In Afrikaans bestaan egter so te sê geen wetenskapsfiksie vir volwassenes nie." Van die redes wat aangevoer word is omdat daar nooit eintlik wetenskapsfiksie in Afrikaans geskryf is nie, lesers ook nie daarvoor gevra het nie, dat wetenskapsfiksie as "kinderlik" beskou is [en nie vir volwassenes bedoel is nie], dat die boekemark te klein is (dat daar net 'n publikasiekans sou wees as dit óf 'n boekklubboek óf ernstige literatuur is), dat die letterkundiges nie wetenskapsfiksie ernstig opneem nie (en dit vereenselwig met middelmoot- of lughaweliteratuur), al het talle ernstige skrywers se werk wetenskapsfiksie-elemente.
2000: De Waal Venter vra hom in sy artikel, Science fiction (SF) - wat is eintlik aan die gang?, af waarom daar so min wetenskapsfiksie in Afrikaans is, vergeleke met die teelaarde van moderne wetenskapsfiksie in Amerika. Hy wonder of die Afrikaanse skrywers vrees dat hul werk as minderwaardig of minder belangrik beskou sal word sou hulle in hierdie genre skryf. Ook hier word Pierre Haarhoff se bundel Uit 'n ander wêreld uitgelig as "seker een van die sterkste kandidate van Afrikaanse volbloed-SF". Hy verwys ook na die titels wat in Carien Ungerer se proefskrif (1983) behandel word. Hy glo Afrikaanse letterkunde het wetenskapsfiksie nodig en sluit af met die woorde:
2001: In Brug na Eden (Charles F. Stofberg) se resensie, wys Philip John op die skraal tradisie Afrikaanse wetenskapfiksie, maar ook die uitbeelding van menseverhoudinge wat op die vlak bly van Ena Murray-verhale; meganies, eendimensioneel, en vry van eksistensiële en sielkundige verwikkeling, hoewel die volgehoue aksie asook die praktiese kant van die ruimtereise hiervoor vergoed. Ook hier word die boek "vir 'n paar dae se ontspanne vakansielees" aanbeveel, maar tog beskou as 'n welkome toevoeging.
2004: Betsie van der Westhuizen skryf in Die Kerkblad:
2004: 'n Vaktydskrifartikel, 'Vrouekarakters in bekroonde Afrikaanse jeugboeke: ’n Opdatering', is deur Nieman en Hugo geskryf ter aanvulling van De Villiers (1992) se navorsing betreffende die uitbeelding van genderidentiteit in bekroonde Afrikaanse jeugboeke voor 1992 wat slegs die Scheeperspryswenners in aanmerking geneem het. Die artikel gaan van die standpunt uit dat die Suid-Afrikaanse (maar ook die internasionale) samelewing van so 'n aard verander het, dat die genderrol van die vrou ingrypend verander het. Daarvolgens word gekyk hoe die manlike en vroulike karakters in Afrikaanse bekroonde jeugboeke strook met die werklikheid ten opsigte van die "current changes since 1992". In hierdie artikel word ook die drie bovermelde en bekroonde Sanlampryswenners van nader bekyk.
2005: Aan sekere universiteite is Afrikaanse wetenskapsfiksie ook as gemarginaliseerde literatuur doseer, byvoorbeeld aan tweedejaarstudente aan die Universiteit van Suid-Afrika (die sillabus vanaf 2005 tot en met 2015), waar die kortverhale "Die Miljardplaatjies" en "Fofelooi is Sjorsjor" deur P.C. Haarhoff, asook die roman Loeloeraai deur C.J. Langenhoven, behandel is.
2005: Martie Preller se Die hart van Zeebak (2004) word vir die M-Net-Via Afrika se MER-literêre prys vir jeuglektuur benoem.
Vanaf 2010 (veral ná die verskyning van District 9 in 2009, maar ook Amerikaanse rolprente wat munt probeer slaan het uit 'die einde van die wêreld' op 21 Desember 2012, en ander distopieë, asook Lauren Beukes se Zoo City (2010) wat oorsee gunstig ontvang is) blyk daar opnuut 'n belangstelling in die Afrikaanse wetenskapsfiksie in die akademiese en literêre kringe te wees. In hierdie dekade is die grootste strydrosse vir die Afrikaanse wetenskapsfiksie by name Afrifiksie en Thompson Boekdrukkery (wat opgerig word).
Die stigting van Thompson Boekdrukkery neem 'n lang aanloop. In 2001, toe Gerhard Thompson op pad was na Engeland om daar skool te gee, kry hy 'n afskeidsgeskenk van sy broer; dit was wetenskapsfiksie - A4-velle wat met ringbinding gebind is. Met die verhuising na Taiwan in 2003 besluit Thompson om sy vrou se reisjoernale asook sy broer se boek te laat druk. Aanvanklik is hierdie drukkery maar klein. In 2007 begin Thompson, op voorstel van sy vrou, 'n jaarlikse Afrikaanse Wetenskapsfiksie- en Fantasie-kortverhaalkompetisie, in samewerking met die Orania Beweging, reël. In 2008 is die eerste vier inskrywings ontvang. Die doel van hierdie kompetisie was om 'n boek uit te gee met hierdie kortverhale, sodat die wins hieruit opnuut as prysgeld aangebied kon word. Baie Afrikaanssprekendes, so het Thompson gou bevind, weet nie wat Wetenskapsfiksie en Fantasie behels nie. In 2010 word die webtuiste Afrifiksie gestig waar inligting vryelik aan die publiek verskaf word. In 2011 kontak die skrywer, Eben van Renen, vir Thompson, en so word Thompson Boekdrukkery se eerste boek, Arwantië 2953, uitgegee. Die uitgewery kon Thompson slegs deeltyds behartig, omrede hy skoolgee. Thompson glo nie die (hoofstroom)uitgewers is soseer die remskoen wat Afrikaanse wetenskapsfiksie kniehalter nie, maar eerder die lesers wat nie genoegsame belangstelling toon nie of bloot oningelig is. By die 2014 Boekebeurs is die Thompsons (wat spesiaal uit Thailand ingevlieg het) se stalletjie goed ondersteun.
2010: Erika Lemmer ondersoek in haar proefskrif "Ingrid Winterbach, 'n derde kultuur en die Neo-Victoriaanse romantradisie (1984-2006)" ook van die wetenskapsfiksie-elemente wat in Winterbach se werke as deel van die (Neo-)Victoriaanse stroming manifesteer.
2011: Steenkamp ondersoek die rol van identiteit en omgewingskwessies in Suid-Afrikaanse spekulatiewe fiksie ('n omvattende, dog vae begrip wat kan neig vanaf politieke toekomsromans en bespiegelende fiktiewe geskiedenisherskrywing tot stralerpak-wetenskapsfiksie) in haar proefskrif in die Anglistiek. Sy stel dit duidelik dat die bespreekte Afrikaanse werke beperk word tot die Engelse vertalings van die boeke van Karel Schoeman (Promised Land) en Eben Venter (Trencherman):
2012: LitNet bied vir die eerste maal 'n wetenskapsfiksiekortverhaalkompetisie vir leerlinge aan. Die beoordelaars was Koos Kombuis, Lauren Beukes, Fanie Viljoen en Elzette Steenkamp. Sowel Jaco Jacobs as Fanie Viljoen het 'n paar wenke gegee.
Die top-tien-finaliste is aangewys: "Die eksperimente" deur Esté Roberts, "Die eksperimente" deur Esté Roberts, "Marko Blignaut" deur Kabelo Mpurwana, "LILIT" deur Heinrich Niehaus, "Nagmerrie" deur Werno Katzke, "Kloon" deur Trudie Coetzee, "Kittel" deur Carli Blignaut, "Papie" deur Emlyn Allwright, "00:00" deur Lara du Preez en "Eksperiment AL1:ALONe" deur Stephan Bester.
Stephan Bester behaal die derde plek met "Eksperiment AL1:ALONe", Emlyn Allwright is die naaswenner met "Papie", en die wenner is Trudie Coetzee met "Kloon"
2012: Steenkamp voer 'n onderhoud met Eben van Renen en vra hom waarom hy die Afrikaanse wetenskapsfiksieverhaal Arwantië 2953 geskryf het. Sy antwoord is:
Volgens Van Renen word die Afrikaanse wetenskapsfiksieverhale soos dié van Jan Rabie en Fritz Deelman nie gedeel nie, omdat "ons drome [...] geproduseer, gebottel en ingevoer [word] vanuit Kalifornië. Die jonger geslag vereenselwig wetenskapsfiksie met Engels, die uitgewers beskou Afrikaanse wetenskapfiksie as 'n "niewinsgewende nismark". Hy is daarvan oortuig dat selfs die Harry Potter-manuskrip deur die grootste Afrikaanse uitgewerye afgekeur sou word (volgens hom het Afrikaanse fantasie nooit bestaan nie). Voorts sê hy:
Sy raad aan voornemende jong skrywers is om vir hulself 'n weg oop te baan - neem aan kompetisies deel, publiseer sélf jou eie boek, en bou 'n ondersteuningsnetwerk op. Skryf egter omdat jy daarvoor lief is.
2012: Henriëtte Loubser kyk vlugtig in haar akademiese LitNet-artikel, 'Van ’n tegnologiese moontlikheid tot ’n ryke leergeleentheid: die opvoedkundige waarde van wetenskapsfiksie', die leergeleentheid wat wetenskapsfiksie (in Afrikaans) kan bied wat deur ouers en onderwysers ontgin kan word. Dit is baie gewilde leesstof onder sowel kinders as jongmense en wetenskapsfiksie kan benewens die ontwikkeling van geletterdheidsvaardighede, kritiese denkvaardighede, ook as ideale medium dien vir die ondersoek van wetenskaplike, ekologiese en sosiale kwessies, maar kan terselfdertyd ook die wetenskap interessant maak, veral in Suid-Afrika waar die prestasie in die Wiskunde en Wetenskap "veel te wense laat". Op heel optimistiese trant sê sy:
2013: In 'n onderhoud word Charles F. Stofberg die kuns afgevra, maar ook sy verwagtinge van die Afrikaanse Wetenskapsfiksie in die toekoms.
2013: Barendse skryf in haar proefskrif, 'Distopiese toekomsromans in die Afrikaanse literatuur ná 1999', se inleiding :
2014: In Koos Kombuis se Poolshoogte-rubriek op LitNet verskyn die artikel getiteld “Is daar 'n alien op jou stoep?”. In kontras met Barendse, maar eenparig met Steenkamp se siening, skryf hy: "As jy eers begin grawe, besef jy dat die lys gepubliseerde Afrikaanse SF-werke heeltemal te lank is om volledig in een rubriek op te noem." Kombuis bemerk dat die "nuwe SF-gier" in Suid-Afrika (wat sowel Afrikaans as Engelse werke insluit) meer as bloot die oplewing van 'n nuwe genre is – dit is trouens 'n herlewing "van 'n baie ou en inderdaad gevestigde genre". Hy spreek in die artikel ook sy misnoeë uit oor boekwinkels wat nog nie die heroplewing van die belangstelling in Afrikaanse wetenskapfiksie snap nie. Kombuis stel ook die vraag: "Is SF nie dalk bes moontlik die belangrikste genre van ons tyd nie?" Kombuis se artikel adem dieselfde gees as "Toekomsfiksie en die letterkunde" wat deur Jan Rabie geskryf is in 1960. Rabie bekyk die genre teen die onsekere agtergrond van die atoomeeu, ruimtewedloop en Koue Oorlog, terwyl Kombuis let op die onsekerheid van die huidige sosio-politieke / ekonomiese klimaat van die eietydse Suid-Afrika.
2015: Die skrywer Pieter Verwey ondersoek in sy verhandeling, getiteld “Steampunk – ‘n Beskrywende studie en analise van die neerslag van die begrip in die teks 'Clint Eastwood van Wyk en die moordenaarsklok'” "Steampunk" (of, soos hy voorstel, ketelkoolteenkultuur)-elemente en -temas in sy eie boek Clint Eastwoord Van Wyk en die Moordenaarsklok wat in dieselfde jaar deur Tafelberg uitgegee word as jeugfiksie. Oor die reeds bestaande jeugwetenskapsfiksie in Afrikaans, en te midde van 32 jaar wat ondertussen verloop het, gee hy eenvoudig te kenne: Daar word nie gepoog om 'n omvattende perspektief op Afrikaanse wetenskapsfiksie te gee nie. Sien C.E. Ungerer se proefskrif [...] hieroor.
Verwey tipeer Afrikaanse wetenskapsfiksie as volg: ... Afrikaanse wetenskapsfiksie [handel] byna uitsluitlik oor een van twee onderwerpe: όf die ruimte, όf die toekoms, en dit is hoofsaaklik op die jeugmark gerig. Tog gee hy te kenne dat uitsonderings voorkom, maar dat Afrikaanse uitgewers, by name LAPA, Human & Rousseau, Tafelberg, Random House Struik, Jacana Media en Kwêla Books nie eers 'n kategorie vir wetenskapsfiksie het nie. Juis omdat die uitgewers "klaarblyklik min aandag aan wetenskapsfiksie as genre bestee, is dit nie moeilik om te glo dat daar tot vandag toe nog geen Afrikaanse wetenskapsfiksie-literatuur bestaan wat Steampunk in enige formaat verteenwoordig nie."
2016: Thompson Boekdrukkery sluit weens Thompson se sware werkslading, hoewel Afrifiksie bly voortbestaan. Die boeke wat by die uitgewery gepubliseer is, word voortaan gedruk en verkoop by die privaatuitgewer Groep7 Drukkers Geargiveer 30 April 2019 op Wayback Machine.
2017: Wetenskapsfiksie word al hoe meer gesog onder Afrikaanse uitgewers, al is daar nie baie van hierdie leesstof in Afrikaans nie, word in die Herfsuitgawe van Taalgenoot vermeld. Dit word toegeskryf aan die groeiende belangstelling onder jonger lesers, en die Afrikaanse leser wat van dieselfde verskeidenheid genres as die Engelse lesers bedien wil word. Die verbeelding word vrye teuels in (verskeie velde van die) wetenskap gegee en dié genre word nie vereenselwig met 'n "nasionale letterkunde" nie. Die genre kan ook oor ouderdoms- en geslagsgrense heen strek. Die temas behels onder meer die impak van die virtuele wêreld, simulasies, identiteit, ekologiese kwessies en sosiale spanning – dikwels aangebied as simptoom van groter magte in ’n komplekse samelewing; hoewel distopiese en post-apokaliptiese temas tans die meeste aangeroer word.
2017: In dieselfde uitgawe skryf Koos Kombuis in sy rubriek wetenskapsfiksie is belangrik; dit gaan nie alleen oor die vooruitskou nie, maar die meeste uitvindsels en verandering van die omgewing (sosiaal, ekologies, ekonomies) begin in die verbeelding en "verskuif van die vermaak- na die nuuskanale". Dieselfde reëls van goeie fiksie geld egter steeds: "Karakters moet geloofwaardig en driedimensioneel wees; optrede moet gemotiveerd wees; die tydsberekening en spanningslyn moet deurentyd boei."
2018: Ilse Salzwedel gesels met Machiel Viljoen, die webmeester van Afrifiksie.com op RSG se "Skrywers en boeke" (14 Februarie). Die luisteraarterugvoer wat Salzwedel gekry het, toon daar is heelwat wetenskapsfiksieaanhangers, maar daar is nie genoeg boeke in Afrikaans nie. Volgens Viljoen is die belangstelling onder die Afrikaanssprekendes veral in die jare geprikkel van die ruimtewedloop tussen die Westerse lande en die Sowjetunie; omrede Afrikaans by die ander Europese tale ingeskakel het (maar die sprekers ook polities Westers gesentreerd was), is daar oor en weer met belangstelling aan die fiksie gelees en het vertalings plaasgevind wat in hierdie vraag voldoen het. Na raming is daar ongeveer 120 oorspronklike werke in Afrikaans. Viljoen sê hy is deur Thompson destyds genader om 'n webwerf te stig wat kan help met die bevordering, bewusmaking, uitgee en verkoop van wetenskapsfiksieboeke. Toe Thompson Boekdrukkery gesluit het (om tegniese en finansiële redes), is daar wel besluit om die ywerige wetenskapfiksiegemeenskap wat ondertussen spontaan ontstaan het lewendig te hou. Nie alleen lesers doen mee nie, maar ook skrywers. Die gemeenskap poog om betrokkenheid te bevorder deur skryf- en skepkompetisies, maar ook die verskaffing van inligting.
2018: Herman Cronjé word op 30 November as naaswenner bekroon in die RSG Sanlam-Radiodramakompetisie met sy manuskrip, Die selle.
2020: Op PRAAG verskyn 'n artikel wat uitvaar teen die utopiese Solarpunk as subgenre van wetenskapsfiksie en spekulatiewe fiksie: dit moet maar liefs uit die Afrikaanse boekewêreld bly. Die hoofrede wat aangevoer word is die materialistiese ingesteldheid van die politieke beweging wat uit hierdie genre tot stand gekom het en neerslag vind in die literatuur, d.w.s. dat gelyke mag, gelyke hulpbronne, antikapitalisme en teenwerking van die hiërargie onder die mensdom wat deur hernieubare energie daargestel sal word, noodwendig die menslike gees of sosiale struktuur positief sal beïnvloed. Die politieke beweging is daarby ook nie daadwerklik inklusief soos hy voorgee nie, dit stel onrealistiese verwagtinge daar wat reeds in die werklike lewe verkeerd bewys is (selfs op straatvlak in Suid-Afrika). Dit toon ook suiwer blinde optimisme wat hom hoofsaaklik op die estetika verlaat, met tydrowende gevolge wat strydig is met die modernisme en ekonomie, waarvan laasgenoemdes se hoofdoel dit is om die meeste met die minste geld en tyd te bereik. Dit politiek van 'solarpunk' is revolusionêr van aard, nie evolusionêr nie. Die uiteinde kweek 'n benepe parogiale ingesteldheid (wat nader lyk op 'n kommune uit 'n distopie). Te midde van die paradyslike mooi voorkoms, word die ontginning van grondstowwe elders steeds benodig om hernieubare energie op te wek, wat die omgewing steeds bly skaad (maar wel: uit die oog, uit die hart); ook dwelms, korrupsie en besoedeling op ander vlakke is nie noodwendig gevrywaar in hierdie utopie nie.
2021: PRAAG voer 'n onderhoud met die webmeester van Afrifiksie.com, Machiel Viljoen. Die onderwerpe wat aangeroer word, sluit in die oprigting en doelstelling van Afrifiksie, sowel as die paar tegniese aspekte rondom die voorwaardes van die skryfkompetisies. Die gesprek loop dan in die rigting wie verantwoordelik gehou moet word vir die stadige opgang van die Afrikaanse wetenskapsfiksie, maar ook die wenslikheid om filosofie in die skryfwerk te verweef. Die vooruitsigte van Afrikaanse wetenskapsfiksie die toekoms in word bespreek, onder meer rakende die beskikbaarheid, die toeganklikheid van en belangstelling in die boeke, die herdrukke, die bande wat met Nederlandse kringe gesmee moet word. Ook of vertalings van Afrikaanse boeke in ander tale oorweeg moet word. Trope, die diversiteit, simboliek en van die clichés van die skrywers, asook die verwagtinge van die lesers, word vlugtig onder die loep geneem. Laastens word ook gekyk na die privaatuitgee van die manuskripte.
2021: Halfpad deur die jaar sluit die Afrifiksie-webwerf; die domeinnaam word te koop aangebied. Maar, Afrifiksie.com word herleef onder die naam https://afrifiksie-nova.com/ .
2021: Annerle Barnard verower die Goue prys vir Spel in die Sanlam-prys vir Jeuglektuur 2021.
2021: Cecillia du Toit verower die derde plek, en ontvang R15 000 vir Sterstof, in die RSG Sanlam-Radiodramakompetisie.
2023: Ter viering van die eeuwording van die Afrikaanse wetenskapsfiksie, maar ook die 150ste herdenking van Langenhoven se geboortedag, en meer te wete die publikasiedatum Loeloeraai in die besonder, het LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds kontantpryse uitgeloof aan die moontlike kandidate wie se wetenskapsfiksiekortverhale op LitNet se webwerf vanaf 12 Augustus 2023 tot 31 Desember 2023 verskyn. Die pryse sluit in: 1ste plek - R 3 000,00; 2de plek - R2 000,00 en 3de plek - R1 000,00.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Lys van Afrikaanse wetenskapsfiksie, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.