Die Gereformeerde kerk Vanderbijlpark-Oos was een van vier gemeentes van die GKSA wat tussen 1951 en 1988 op die nywerheidsdorp Vanderbijlpark in die suide van die huidige provisie Gauteng gestig is.
Weens die afname in die getal Gereformeerde lidmate op die dorp (in 1997 was die sieletal byvoorbeeld 1 778, vergeleke met 852 einde 2015), is al vier die gemeentes mettertyd ingelyf sodat net Vanderbijlpark-Trinitas, gestig in 2009, oorbly. Die Gereformeerde kerk Vanderbijlpark het in 1951 van die Gereformeerde kerk Vereeniging afgestig nadat ’n staalnywerheid hier gevestig is. In Mei 1962 het dit nodig geword om die Gereformeerde kerk Vanderbijlpark-Suid af te stig en uit dié gemeente het Vanderbijlpark-Oos op 9 Junie 1974 ontstaan. Veertien jaar later het die gemeente Vanderbijlpark-Noord aan die beurt gekom.
Nadat Vanderbijlpark en Vanderbijlpark-Noord se lidmate skerp afgeneem het, het die twee gemeentes in 2000 saamgesmelt as die Gereformeerde kerk Vanderbijl met 256 belydende en 66 dooplidmate. Toe nog het die Suid-gemeente ’n sieletal van 445 gehad en die Oos-gemeente 788. Algaande het die drie oorblywende gemeentes se lidmaattal egter bly afneem sodat al drie in 2009 saamgesmelt het as die Gereformeerde kerk Vanderbijlpark-Trinitas. In die nabygeleë Vereeniging het die drie Gereformeerde kerke teen 2014 tot een verminder, ’n verskynsel wat wyd voorgekom het ander kant die Vaalrivier: Krugersdorp se drie kerke het teen 2011 tot twee afgeneem, Witbank se drie teen 2010 tot een, Klerksdorp se drie teen 1995 tot twee, Randfontein se twee teen 2005 tot een, Rustenburg se vier reeds in 1994 tot drie, Secunda se twee teen 2006 tot een. Ook die Rand se dorpe en stede het die vermindering in die getal gemeentes nie vrygespring nie, want so het Benoni (sedert 2009), Springs (sedert 2012) en Brakpan (sedert 2013) elkeen nou (2016) net een Gereformeerde kerk, pleks van die oorspronklike twee.
Ná Vanderbijlpark-Oos se afstigting van die gemeente Vanderbijlpark-Suid op 9 Junie 1974 is eredienste aanvanklik in die saal van die Hoër Handelskool Lettie Fouché gehou. In 1976 het die kerkraad met die Gereformeerde kerk Witpoortjie onderhandel om hul bouplan te gebruik. Veranderings daaraan het meegebring dat die binnekant van die kerkgebou omgedraai is: Die preekstoel in Witpoortjie se kerk sou agter in die nuwe kerkgebou staan. Die orrelpype is bokant die preekstoel geplaas en die speeltafel links voor. Aan die kant van die oorspronklike preekstoel is ’n volle galery geplaas. Die gebou se vensters is so beplan dat al die lig op die preekstoel voel. Die eerste predikant, ds. J.J. Venter en van die lidmate het self die fondamente gegrawe en die kerksaal se mure tot op dakhoogte gebou. Saam met Flip Venter, die predikant se broer, is die gebou voltooi en op 16 April 1977 in gebruik geneem, minder as drie jaar ná die gemeente se stigting.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Gereformeerde kerk Vanderbijlpark-Oos, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.