Raymond De Belser (17 Junie 1929 - 3 Oktober 2014), wat ook onder die skuilnaam Ward Ruyslinck geskryf het, was 'n Vlaamse skrywer.
Hy was die seun van Leo De Belser en Germaine Nauwelaers. Sy vader was bibliotekaris by 'n oliemaatskappy, en Ruyslinck het in 'n Rooms-Katolieke gesin grootgeword. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die gesin na Mortsel verhuis.
Ruyslinck is in Berchem gebore. Op 12-jarige ouderdom het hy 'n roman getiteld Vaargeulen geskryf. Sy vader, wat self die roman Gepantserde Beschaving geskryf het, het sy seun se roman na Stijn Streuvels gestuur, wat die roman ongelees teruggestuur het, maar met 'n gepaardgaande brief vol lofprysinge. Die manuskrip het tydens 'n lugaanval in 1943 wat hul huis verwoes het verlore geraak. Hy het 'n aantal gedigte en verhale geskryf, waarvan sommige in die koerant Het Vlaamsche land gepubliseer is.
Nadat hy in 1947 hoërskool voltooi het, het hy die Universiteit van Gent bygewoon om Germaanse filologie te studeer. Hy het egter na 'n jaar uitgeval, wat volgens hom die gevolg was van die impak op wat sy broer se dood in 1948 op hom gehad het. Hy het vyf gedigte ter geleentheid van sy broer se dood geskryf wat onder familie en vriende versprei is.
Hy het as vertaler by 'n reisagentskap en by 'n oliemaatskappy gewerk. Hy is ook aangestel as kurator van die skilderyversameling van die Plantin-Moretus Museum in Antwerpen.
Hy het met Alice Burm getrou, en saam het hulle een seun genaamd Chris gehad.
Sy digbundel, Fanaal in de mist (1956), is bekroon met die Poëzieprijs der Algemene Kunstkamer in België. In 1957 het hy die kortverhaal De ontaarde slapers gepubliseer, wat oor een van sy hooftemas handel - die ongelyke stryd tussen individue en hul gemeenskappe.
Sy mees gelese boek, Wierook en tranen, is in 1958 gepubliseer. In 1961, met die publikasie van die roman Het dal van Hinnom, het sy paaie met dié van die kerk en samelewing geskei. In 1964 het hy na Pulle verhuis en die roman Het reservaat geskryf wat handel oor die illusie van individuele vryheid. Hy het die Prijs voor Letterkunde van de Vlaamse provincies vir hierdie werk gewen. In 1966 het hy die bittersoet sprokiesverhaal Golden Ophelia geskryf.
Gedurende die sestiger- en sewentigerjare het hy baie gereis om navorsing te doen vir tydskrifartikels en Pole, die Sowjetunie, Kanada en Argentinië besoek. In 1975 het hy lid geword van die Koninklike Akademies vir die Wetenskappe en Kunste in Belgie, en in 1985 het hy president daarvan geword. In 1980 is hy bekroon met die eerste Europalia- prys vir sy gehele oeuvre.
Ruyslinck het in 1984 afgetree. Na die selfmoord van sy vrou in 1990 het hy na Meise verhuis om by sy minnares Monika Lo Cascio te gaan woon. Ward Ruyslinck en Monika Lo Cascio het in 1992 saam die outobiografiese roman De speeltuin geskryf.
Ruyslinck se werk kombineer maatskaplike toewyding met 'n pessimistiese lewensbeskouing, humor en satire. Verskeie van sy werke is vir die verhoog verwerk. De slakken, Golden Ophelia en Wierook en tranen is vir film verwerk.
Ruyslinck, wat aan Alzheimersiekte gely het, is op 3 Oktober 2014 in 'n aftreeoord in Meise oorlede.
Engels
Nederlands
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Ward Ruyslinck, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.