Klismosstoel

'n Klismos (Grieks : κλισμός) of 'n klismosstoel is 'n soort Antieke Griekse stoel, met 'n konkawe rugleuning en stoelpote wat uitwaarts buig.

Klismosstoel
Klismosstoel, op die grafsuil van Xanthippos, Athene, ongeveer 430-20   VC.

Antieke Griekeland

Antieke meubels soos klismosstoele word dikwels in reliëfs en op geverfde pottebakkery vanaf die middel van die 5de eeu v.C. uitgebeeld. In epiese gedigte verwys klismos na 'n leun- of troonstoel, maar daar word geen spesifieke beskrywing van die vorm gegee nie. In die Ilias xxiv, nadat Priamos 'n beroep op hom gedoen het, staan Achilles uit sy troonstoel op en help die ouer man op sy voete. Achilles gaan dan om Hektor se liggaam vir 'n ordentlike begrafnis voor te berei, en keer daarna terug om op sy klismos te sit.

'n Uitbeelding van 'n sater, met 'n klismosstoel op sy skouer, wat op 'n keramiekvaas aangebring is, toon hoe lig hierdie tipe stoele was. Die geboë, afgespitste stoelpote van die klismosstoel buig gebalanseerd vorentoe en agtertoe, en verleen stabiliteit aan die stoel. Die agterpote buig aaneenlopend opwaarts om 'n breë konkawe rugleuning, wat soos 'n geboë tablet lyk, te ondersteun. Die rugleuning kon die rug ondersteun, of dit kon laer wees, sodat iemand met 'n elmboog daarop kan steun.

Gedurende die Hellenistiese periode het die klismosstoel algemeen in onbruik geraak. Ten spyte daarvan is daar uitgekerfde afbeeldings van die klismosstoel, wat uit die 1ste eeu n.C. dateer, in die Dionusosteater, aan die voet van die Akropolis van Athene. In gevalle waar Romeinse voorstellings klismosstoele met sittende persone uitbeeld, is die beelde kopieë van Griekse werke. Die rede waarom die klismosstoel mettertyd nie meer gebruik is nie, kan moontlik aan die ontwerp van die stoel toegeskryf word. Die stoelpote buig na buite, sonder enige verdere ondersteuning, wat tot gevolg het dat die pote heeltemal kan uitsprei en kan breek; dit kan naamlik as 'n ontwerpfout beskou word.

Neoklassisisme

Die klismosstoel het tydens die tweede, argeologiese fase van Europese neoklassisisme herleef. Klismosstoele is die eerste keer algemeen in Parys gesien in die meubels wat Georges Jacob in 1788 vir die skilder Jacques-Louis David gemaak het. Die meubels is gemaak om as rekwisiete te gebruik vir David se historiese skilderye, waar die nuwe gevoel van historisisme visuele outentiekheid vereis het. Dit sal waarskynlik nie moontlik wees om 'n vroeër weergawe van 'n Franse klismosstoel te vind as dié wat in 1786 deur die argitek Jean-Jacques Lequeu ontwerp is, vir die "Etruskiese dekor" van die Montholon-hotel, aan die Montmartre boulevard, nie. Die betrokke stoel is ook deur Jacob gemaak. Hoewel die meubels nie meer bestaan nie, het waterverfontwerpe daarvan in die Cabinet des Estampes behoue gebly. Simon Jervis het daarop gewys dat Joseph Wright van Derby inligting rakende 'n klismosstoel in sy Penelope Unraveling Her Web, 1783–84 (J. Paul Getty Museum), ingesluit het.

In Londen is vroeë klismosstoele deur Thomas Hope vir sy huis in Duchessstraat, Londen, ontwerp. George Beaumont het die huis so vroeg as 1804 beskryf as "meer 'n museum as enigiets anders". Hope het verskillende variasies van klismosstoele in Huishoudelike Meubels en Binnenshuise Versiering (1807), geïllustreer. Klismosstoele in hul suiwerste vorm is in Hope se kunsgalery uitgestal. Henry Moses se sketse, van 'n deftige geselskap besig om kaart te speel en op klismosstoele sit, het in Hope se Designs of Modern Costume verskyn (ca. 1812).

'n Selfportret van Adam Buck en sy gesin sluit modieuse klismosstoele, sowel as 'n versameling Griekse vase, in. Daar is voorheen aangeneem dat die klismosstoele in die skildery verteenwoordigend van Thomas Hope was. Joseph Bonomi het klismosstoele vir Packington Hall, Warwickshire, ontwerp.

In Philadelphia het die argitek Benjamin Henry Latrobe teen 1808 'n stel klismosstoele, in die mees gevorderde neoklassieke styl vir William Waln se sitkamer ontwerp. Latrobe se stoele het 'n Etruskiese kleurskema van rooi en roomkleurig teen 'n swat agtergrond gehad. In 1809 is die stoelpote van klismosstoele, wat Latrobe vir die Withuis ontwerp het, met dwarsbalkies versterk om dit stewiger te maak. 'n Verskeidenheid vroeë 19de-eeuse Amerikaanse klismosstoele is in die uitstalling "Classical Taste in America, 1800-1840", Baltimore Museum of Art, 1993, uitgestal.

Hierdie streng akademiese herlewings van die klismosstoel is soms deur gewone stoelvervaardigers gekompromitteer. JE Höglander van Stockholm het byvoorbeeld 'n vroeë 19de-eeuse klismosstoel aangepas deur die toevoeging van 'n opgestopte rugleuning.

20ste eeu

20ste-eeuse modernisme, gekombineer met die gewildheid van die Art Deco-styl, het tot 'n nuwe waardering van klassieke vorms soos die klismosstoel gelei. Klismosstoele wat deur die Deen Edvard Thomspon ontwerp is, is in Architekten, 1922 geïllustreer. In 1960 het TH Robsjohn-Gibbings die Griekse kabinetsmakers Susan en Eleftherios Saridis ontmoet. Hulle het saamgewerk om 'n meubelreeks wat op die klismosstoel gebaseer was, te ontwerp. Hulle het daarin geslaag om antieke Griekse meubels, insluitend klismosstoele, met 'n redelike mate van akkuraatheid te laat herleef.

Konstruksie

Dit was moeilik om die lang, elegante kurwe van die stoel te skep. Dit is moontlik uit 'n enkele stuk hout gekerf, of deur van tap-en-gatlaste gebruik te maak, of deur die hout deur middel van stoom te buig, of deur die hout in verlangde kurwes te laat groei.

Die sitplek is met vier houtstawe aan die stoelpote geheg; 'n web bestaande uit koord of leerstroke het gedien as basis vir 'n kussing. Die klismosstoel was uitsluitlik 'n Griekse ontwerp, met geen vroeëre waarneembare inspirasie nie.

Verwysings

Eksterne skakels

Tags:

Klismosstoel Antieke GriekelandKlismosstoel NeoklassisismeKlismosstoel 20ste eeuKlismosstoel KonstruksieKlismosstoel VerwysingsKlismosstoel Eksterne skakelsKlismosstoelAntieke GriekelandGrieksStoel

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

Bernice WestLys van openbare vakansiedae in Suid-AfrikaSuid-Afrikaanse GrensoorlogKappie (skryfteken)Verenigde State van AmerikaKolonisasieFrankrykVerkleurmannetjieBrongitisBestuiwingJapanAspoestertjieHuisvliegRookgewoonteJavaScriptAntoniemIronieDelftErfenisKinderregteGrondbesoedelingHomofoonTegnologieWoordeboekSeksposisieAnilingusPiet ByleveldVerkragtingGasSpinnekopHandwoordeboek van die Afrikaanse TaalKolorektale kankerTransatlantiese slawehandelKonsentrasiekampKarpaletonnelsindroomNaaldekokerSuiwelprodukTweebuffelsmeteenslagmorsdoodgeskietfonteinHulpwerkwoordStollingsgesteenteWortelAkuutMuldersvleiSuikerAntisemitismeParlement van Suid-AfrikaJagluiperdSpringbokkeBrandKoorsblaarByvoeglike naamwoordAarverkalkingMiddeloorontstekingWaarheid-en-versoeningskommissieRekenkundige ryOrthopteraWerkloosheidHindoeïsmeWinnie Madikizela-MandelaBreinEkonomiese sektorAfrikaansSlag van Cuito CuanavaleOutismeKweekhuiseffekLys van Suid-Afrikaanse skrywersWetenskapSelfoonKommunismeHoofkarakterBorskankerDaggaGrootste rampe in Suid-AfrikaKaapse PlooigordelNeurenberg-verhoreEkonomie van Suid-Afrika🡆 More