Wiki Afrikaans 2022: Spesiaal:Soek
AfrikaansVietnameseEnglish

Carel van der Merwe is ’n skrywer, historikus en sakeman wat in Afrikaans en Engels skryf. Hy het al talle literêre pryse vir sy fiksie- en nie-fiksieboeke verwerf.

Carel van der Merwe
Carel van der Merwe2.jpeg
Gebore
Willem Carel van der Merwe

7 September 1963 (1963-09-07) (58 jaar oud)
Alma materUniversiteit Stellenbosch, Universiteit van Kaapstad, Middlesex Universiteit
BeroepSkrywer, historikus, sakeman
Toekennings
  • 2010: Eugène Maraisprys
  • 2016:KykNET-Rapport boekprys (Nie-fiksie)
  • 2016:SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (Protea Boekhuisprys)
  • 2017:SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (LW Hiemstra-prys)
  • 2020:KykNET-Rapport boekprys (Nie-fiksie)
  • 2020:ATKV Woordveertjie (Nie-fiksie)
  • 2022: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (Protea Boekhuisprys)

Lewe en werk

Willem Carel van der Merwe is op 7 September 1963 in Johannesburg gebore. Sy pa, Carel van der Merwe, was die besturende direkteur van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie van Suid-Afrika Beperk. Van der Merwe gaan skool in Johannesburg, Witbank en Keulen in Duitsland, en matrikuleer in 1981 aan Hoërskool Linden.

Na sy twee jaar militêre diensplig studeer hy aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy in 1986 die B.Rek.-graad behaal. Aan die Universiteit van Kaapstad verwerf hy in 1987 ’n nagraadse kwalifikasie. Op Stellenbosch speel hy slot vir die Akker XV, die eerste blanke rugbyspan van die universiteit wat aan die liga van die swart South African Rugby Association (SARA) deelneem. Hy bekwaam hom in 1988 as ’n geoktrooieerde rekenmeester en werk in Johannesburg en Londen vir die internasionale ouditfirma Arthur Andersen & Co[1].

In 1991 sluit hy aan by Rand Aksepbank se korporatiewe finansieringsafdeling. In hierdie kapasiteit help hy om New Africa Investments Limited (NAIL) te stig, een van die eerste maatskappye op Johannesburgse Effektebeurs (JSE) wat deur swart sakelui beheer is. In 1995 word hy deur dr. Nthatho Motlana, die voorsitter van NAIL, versoek om ’n mede-stigterslid te word van ’n nuwe aksepbank, African Merchant Bank Ltd (AMB). Van der Merwe dien as uitvoerende direkteur en hoof van korporatiewe finansiering van AMB. In 1997 noteer AMB op die Johannesburgse Effektebeurs. Cyril Ramaphosa, die huidige president van Suid-Afrika, sowel as Dikgang Moseneke, voormalige adjunk-hoofregter van Suid-Afrika, dien ook op direksie van AMB[2].

In 2000 word Van der Merwe aangestel as ’n uitvoerende direkteur van Comparex Ltd, ’n internasionale IT maatskappy gebaseer in Brittanje[3]. Hy woon vir ses jaar in Londen, en verwerf in hierdie tydperk deeltyds ’n meestersgraad (met lof) in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Middlesex.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 2006 vestig hy hom op Stellenbosch, waar hy ’n sakeman is en sy eie beleggingsmaatskappy, Grapetown Capital, besit[4]. In 2018 verwerf hy ’n PhD in Geskiedenis aan Universiteit Stellenbosch[5]. Hy is tans die voorsitter van die Stellenbosch Erfenistrust[6], asook ’n direkteur van AMB Capital, die opvolger van AMB[7]. Hy het twee dogters, Mieke en Emma.

Skryfwerk

Van der Merwe het eers in sy vroeë veertigs begin skryf. Sy eerste kortverhaal, The water mountains, word in 2004 in ’n versamelbundel in die Verenigde Koninkryk gepubliseer[8].

In 2006 word sy debuutromans, Nasleep en No man’s land uitgegee, die verhaal van die voormalige verkenningsoldaat Paul du Toit wat gedurende sy studentejare spioeneer vir Militêre Intelligensie op die End Conscription Campaign en is betrokke by ’n bomaanval op een van hul vergaderplekke. Hy doen daarvoor aansoek om amnestie by die Waarheid-en-Versoeningskommitee (WVK), waardeur hy die gebeure herleef. In die proses moet hy die sielkundige skade verwerk wat hy opgedoen het, asook die verbrokkeling van sy huwelik as gevolg daarvan en die besef dat hy in ’n land woon waarin hy nou nie meer welkom is nie. Die skrywer slaag daarin om die impak van die oorlog op persoonlike vlak maar ook soos dit in verhoudings met familie en vriende kristalliseer, uit te beeld. Andries Visagie se resensie in Rapport maak die kommentaar dat: “Nasleep is ’n besonder sterk debuutroman wat goeie dinge voorspel vir Carel van der Merwe se toekoms as skrywer. Die oorwoënheid en sorgvuldigheid waarmee hy sy materiaal hanteer, getuig van ’n vlymskerp intelligensie. Van der Merwe is verder onverskrokke in sy ondersoek na gevoelige kwessies in die samelewing. Hy is reeds ’n skrywer met durf en dit skep die verwagting dat hy kan ontwikkel tot ’n woordkunstenaar wat nuwe rigtings in die Suid-Afrikaanse literatuur sal kan oopskryf.[9] Nasleep is in 2008 op die kortlys vir die Universiteit van Johannesburg-prys vir debuutwerk en No man’s land is op die kortlyste van die Statebondprys en die M- Net-prys.[10] Die roman word oorspronklik deur Van der Merwe in Engels geskryf, en gelyktydig met sy eie Afrikaanse vertaling gepubliseer. Die roman word ook in Nederlands as Nasleep uitgegee.

In 2010 verower Geldwolf (wat gelyktydig in Engels as Shark verskyn) die Eugène Marais-prys en is hierdie roman ook op die kortlys vir die toekenning van die M-Net-prys in die fliekkategorie.[11] Die hoofkarakter en geniale syferman Stephen Winter se dryfkrag is om sy reeds magtige SiriusCorp uit te bou deur ’n R30 miljard-tender te wen vir ’n ICard, ’n elektroniese identiteitskaart wat toegang tot verskeie dienste van die staat bied. In die tenderproses word hy ingesleep in die nepotisme en korrupsie van swart ekonomiese bemagtiging en die bewese skurk Godfrey Mtambo word sy gedwonge vennoot. Godfrey is verwant aan die minister wat die tender moet toeken. Die roman beweeg teen ’n vinnige pas soos die seks, verraad, gierigheid en selfs moord wat hierdie omgewing vergesel, blootgestel word. In die proses verwaarloos Stephen sy verhoudings met sy gesin en kollegas, sy gesondheid en liefdeslewe en alles lei eindelik tot ’n skokkende einde. Abraham de Vries skryf in sy resensie vir Die Burger ”Laat my dus aan die begin erken: ek kon Geldwolf nie neersit nie…die leser word gelei deur ’n slim verteller.[12] Soos met No man’s land en Shark, skryf Van der Merwe aanvanklik dié roman in Engels, en vertaal dit self in Afrikaans.

Skaduwee en Shadow, wat in 2012 uitgee word, is die opvolgers van Nasleep en No man’s land. Tien jaar later pas Paul du Toit die dogter van ’n Britse geldskieter in haar reis deur Suid- Afrika op, maar sy word ontvoer. Paul bevind hom dan midde-in ’n geld- en politieke web waarbinne korrupsie hoogty vier. Sy lewensmaat, Monica, kondig aan dat sy swanger is en vir vaderskap sien Paul ook nie kans nie. Die titel verwys na Paul se taak om die dogter van ’n afstand te bewaak, maar verwys ook na die skaduwee wat oor sy lewe hang. Malene Breytenbach skryf in haar resensie vir Rapport dat “Carel van der Merwe se jongste roman, Skaduwee, is meesleurend, verbeeldingryk en keurige taal.[13] Van Der Merwe skryf ook dié roman aanvanklik in Engels, en vertaal dit self in Afrikaans.

Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog, wat in 2015 uitgegee word, is ’n indringende studie deur Van der Merwe oor die beroemde Afrikaanse digter, skrywer en diere-en insekkenner Eugène Marais (1871-1936) se gesindhede en aksies voor, tydens en direk na die Anglo-Boereoorlog, veral die ses jaar wat hy in Londen deurbring. Marais het van 1897 tot 1902 in Brittanje en Europa gewoon en voor en gedurende hierdie tyd ’n groot rol gespeel aan die politieke en joernalistieke front. Tydens Marais se loopbaan as joernalis in Zuid-Afrikaansche Republiek was hy voortdurend haaks met die regering van president Paul Kruger, veral oor die korrupte konsessiebeleid wat dit toegepas het. In hierdie tyd was hy goed bevriend met die politikus en later skrywer Percy Fitzpatrick, wat saam met Cecil John Rhodes en lord Alfred Milner een van die grootste aanstigters van die Anglo-Boereoorlog was. In Londen ontmoet hy vir Joseph Chamberlain, die Britse minister van kolonies, waarna hy in ’n lang memorandum voorstelle maak oor hoe die Engelse die Boerekrygsgevangenes op Ceylon en St. Helena behoort te behandel, asook hoe om Transvaal na die oorlog te regeer. Ná sy terugkeer na Suid-Afrika raak Marais bevriend met lord Alfred Milner en skryf ’n aantal artikels in Land en Volk waarin hy Milner se verengelsingsbeleid vir die skole ondersteun. Hierdie boek werp lig op ’n tyd in Marais se lewe waaroor daar voorheen min bekend was. Jean Oosthuizen skryf in sy resensie van die boek vir Rapport dat Van der Merwe “bykans die onmoontlike reggekry het: hy lewer ’n bydrae tot die Marais-oeuvre wat self Leon Rousseau nie kon regkry in die “Die groot verlange” nie.”[14] In ’n resensie vir LitNet skryf Frederik de Jager dat “die orde wat die skrywer uit ’n chaos van feite, leidrade, geheime, misleidings en gewoon leuens geskep het, is om die minste te sê indrukwekkend.”[15] Op sy beurt beskryf Daniel Hugo die boek as “asemrowend”, en dat “Carel van der Merwe het hom met hierdie boek bewys as ’n meesterlike spoorsnyer”.[16]

In 2016 word die kykNet-Rapport prys vir nie-fiksie aan Donker stroom toegeken.[17] Dit word ook in 2016 en 2017 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met onderskeidelik die Protea Boekhuisprys[18] en die LW Hiemstra-prys bekroon.[19] Die Protea Boekhuisprys word toegeken vir die beste gepubliseerde Afrikaanse werk in geskiedenis of kultuurgeskiedenis in die voorafgaande drie jaar. Donker stroom word ook in 2016 gekortlys vir die South African Literature Awards se kreatiewe nie-fiksieprys.[20]

In 2019 verskyn Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen, ’n biografie van genl. Ben Viljoen, ’n enigmatiese Boereoorloggeneraal. Ben Viljoen (1868-1917) was 'n prominente jonger generaal in die Anglo-Boereoorlog, maar ná die oorlog is hy nie opgeneem in die nuwe politieke elite van die Afrikaners nie. Nadat hy die eed van getrouheid op St. Helena onderteken het, het hy nooit weer permanent na Suid-Afrika teruggekeer nie.Van der Merwe het Viljoen se spore gevolg na Brittanje, Nederland, Mexiko en Amerika om te gaan vasstel hoe dit gebeur het dat dié Boereoorloggeneraal burgerskap van vier verskillende lande gehad het, die ster was van 'n Boereoorlogskouspel, aan 'n Mexikaanse revolusie deelgeneem het, as vredeskommissaris tussen die Yaqui-Indiane opgetree het en voor sy dood op die punt was om 'n film in Hollywood te vervaardig. 'n Prentjie van 'n komplekse persoonlikheid kom na vore wat herinner aan 'n deel van die huidige generasie Afrikaners - minder godvresend, gemaklik in verskillende kulture, en bereid om te emigreer wanneer hulle dink dit tot hul voordeel is.

Kansvatter word in 2020 bekroon met die KykNET-Rapport boekprys vir nie-fiksie.[21] Die beoordelaars vir hierdie prys se huldingswoord lui dat “Kansvatter is ’n biografie wat geskiedskrywing benader op ’n wyse wat nie dikwels voorkom nie…[Van der Merwe] se vermoë om telkens die verskuiwende sosiaal-politieke ruimte vas te vang vereis selfvertroue, fyn voetwerk en ’n besonder breë agtergrondkennis.[22] Kansvatter word ook in 2020 bekroon met die ATKV se Woordveertjie (nie-fiksie),[23] asook in 2022 met die Protea Boekhuisprys deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns,[24] wat toegeken vir die beste gepubliseerde Afrikaanse werk in geskiedenis of kultuurgeskiedenis in die voorafgaande drie jaar. Kansvatter word ook in 2020 gekortlys vir die South African Literary Awards (SALA) se kreatiewe nie-fiksieprys.[25]

Publikasies

JaarPublikasies
2007Nasleep

No Man's Land

2009Geldwolf

Shark

2012Skaduwee

Shadow

2015Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog
2019Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen

Bronnelys

Tydskrifte en koerante

  • Malan, Mariana “Waarheid is moeilik om vas te pen” “Beeld” 29 Augustus 2007
  • Smith, Francois “Ek wou skryf oor die ‘slegte ou’” “Boeke-Insig” no.2 Somer 2008
  • Booyens, Hannelie “Sakeman storieman” “Huisgenoot” 11 Junie 2009
  • Coetzee, Corné “Die skrywer in die sakeman” “Beeld” 18 Junie 2009
  • Rautenbach, Elmari “Was dié volksheld dalk ’n Britse handlanger?” “Die Burger” 29 September 2015
  • La Vita, Murray “In Marais se Donker stroom” “Beeld” 20 November 2015
  • Smith, Charles “Lojale verset, nié verraad” “Beeld” 27 Februarie 2016
  • Van der Spuy, Michelle “Donker stroom werp nog lig op Marais” “Eikestadnuus” 1 Oktober 2015
  • Anoniem “Verrassende nuwe insigte oor Marais” “Rapport” 25 September 2016
  • Van der Merwe, Carel “Kopskote” “Beeld” 5 Oktober 2015
  • Anoniem “Stellenbosser wen groot prys” “Eikestadnuus” 6 Oktober 2016
  • Kuitenbrouwer, Vincent “Onthullingen over Eugène Marais’ oorlogsjaren” “Maandblad Zuid-Afrika” Oktober 2016
  • La Vita, Murray “Boeregeneraal Ben ‘was soos Trump’” “Burger” 6 Desember 2019

Internet

Resensies

Nasleep

  • Nel, Ronel “Beeld” 28 Mei 2007
  • Esterhuizen, Louis ‘Boeke” Lente 2007
  • Booysens, Hannelie “Die Huisgenoot” 19 Julie 2007
  • Visagie, Andries “Rapport” 26 Augustus 2007
  • Fouchè, Jaco “Die Volksblad” 17 September 2007
  • Coetzee, Cari “Die Burger” 24 September 2007
  • Burger, Willie “Beeld” 8 Februarie 2008

No Man's Land

  • Schlebusch, Helen “The Citizen” 19 July 2007
  • Calder, Ryan “The Witness” 15 August 2007
  • Heyns, Michiel “Sunday Independent” 26 Augustus 2007
  • Crocker, Jen “Fair Lady” Aug 2007
  • Barfield, Gavin “Cape Times” 7 September 2007
  • De Boer, Heinz “Daily News” 12 September 2007
  • Abrahams, Cecil “African Book Publishing Record“ (ABPR XXXIV, no 3, 2008)

Geldwolf

  • De Vries, Abraham “Die Burger” 7 Junie 2009
  • Retief Meiring, Martie “Rapport” 14 Junie 2009
  • Cilliers, Stoffel “Volksblad” 22 Junie 2009
  • Postma, Mariette “Sarie” 1 Oktober 2009

Shark

  • Oettle, Mike “Herald” 30 April 2009
  • Hogg, Alec “Moneyweb” 25 Mei 2009
  • Bayne, Annette “Citizen” 28 Mei 2009
  • De Beer, Lauren “The Weekender” 27 Junie 2009
  • Mitchell, James “Cape Times” 9 Julie 2009
  • Rosenthal, Jane “Mail & Guardian” 12 Julie 2009
  • Zerbst, Fiona “Cape Times” 7 Augustus 2009
  • Stidolph, Anthony “Witness” 2 September 2009
  • Heyns, Michiel “Sunday Independent” 27 September 2009

Skaduwee

  • Breytenbach, Malene “Rapport” 4 November 2012
  • Burger, Willie “Vrouekeur” 18 Januarie 2013
  • Hambidge, Joan “Woorde wat weeg” 21 Januarie 2013

Shadow

  • Rosenthal, Jane “Mail & Guardian” 16 November 2012
  • Phillips, John “You” 18 Januarie 2013

Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog

  • Hugo, Daniel “Die Burger” 10 Oktober 2015
  • Oosthuizen, Jean “Rapport” 25 Oktober 2015
  • Anoniem “Sarie” 13 November 2015
  • Burger, Willie “Vrouekeur” 23 November 2015
  • De Jager, Frederik “Litnet” 3 Desember 2015
  • Boje, John “Pretoria News” 10 Mei 2016
  • De Wet, Wouter “Historia” November 2016

Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen

  • Oosthuizen, Jean “Litnet” 2 Julie 2020
  • Wasserman, Johan “Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis” Desember 2020
  • Coetzee, Emile “South African Journal of Military Studies” Vol 49, No 2021
  • Zollner, Linda “Sonder seëls” Januarie 2022

Verwysings

  1. “Carel van der Merwe”. Stellenbosch Writers database
  2. “AMB Capital: What we have achieved – Historical highlights”
  3. Scott, Iain (15 Jun 2001). “Comparex director resigns”. Itweb
  4. “Carel van der Merwe”. Stellenbosch Writers database
  5. “Stellenbosch author awarded book prize…again”. Matiemedia
  6. “Stellenbosch Heritage Trust – Die trustees”
  7. “AMB Capital: Who we are”
  8. “Carel van der Merwe”. Stellenbosch Writers database
  9. Visagie, Andries (26 Augustus 2007), “Dapper debuutskrywer kan nuwe rigtings oopskryf.” Rapport
  10. “Carel van der Merwe”. Stellenbosch Writers database
  11. Du Toit, Liesl (28 June 2010). “Kortlys vir vanjaar se M-Net Literêre Toekennings”. Sarie
  12. De Vries, Abraham (7 Junie 2009),”Belê leestyd in pakkende verhaal oor gierigheid.” Die Burger
  13. Breytenbach Malene (4 November 2012). “Kragdadige vernuf”. Rapport
  14. Oosthuizen, Jean (25 Oktober 2015). “Die siel van Eugène”. Rapport
  15. De Jager, Frederik (3 Desember 2015) “Donker stroom: Eugène Marais veelsydig, dubbelsinnig.” Litnet
  16. Hugo, Daniel (10 Oktober 2015), “Op die spoor van die mitiese Marais.” Die Burger
  17. “Wenners van die KykNET-Rapport-boekpryse vir 2016 bekend” Litnet
  18. Protea Boekhuisprys Wiki
  19. “Akademiepryse 2017: LW Hiemstraprys vir niefiksie aan Carel van der Merwe.” (23 Junie 2017). Litnet
  20. “The 2016 South African Literary Awards Nominees” (7 Oktober 2016)
  21. “kykNET-Rapport-boekpryse 2020: wenners aangekondig.” (19 September 2019). Litnet
  22. “Verdieping in net mooi elke liewe leidraad” (20 September 2020). Rapport Weekliks
  23. “ATKV-Woordveertjie vir prosa, niefiksie en spanningslektuur“. (23 Oktober 2020). Litnet
  24. “Hulle wen Akademiepryse vir uitnemendheid”. (22 April 2022). netwerk24.com
  25. “Hier is die SALA benoemings”. (7 Oktober 2020). netwerk24.com