Ng Gemeente Naboomspruit

Die NG gemeente Naboomspruit is 'n gemeente in Noordelike Sinode op die gelyknamige dorp.

Die dorp Mookgophong (vroeër Naboomspruit) lê tussen Modimolle (Nylstroom) en Mokopane (Potgietersrus) op die grootpad van Pretoria na Zimbabwe en aan die kant van die bekende Springbok-lakte. Jare lank is die kerklike gemeenskap soos ’n bal tussen die gemeentes Waterberg, Pietpotgietersrust en Waterberg-Noord rondgeslinger.

Aangesien hierdie randeier nie alte veel kerklike hitte van een van die moeders ontvang het nie, is aan die begin van 1939 heil gesoek in afstigting. Maklik het dit nie gegaan nie, want die dogter moes sonder bruidskat haar huishouding begin. Gelukkig het ’n paar vêrsiende lidmate – die broeders J.K.G. van Zyl sr., J. Malan en J. du Preez – reeds voor die afstigting voorsorg getref vir ’n plek van aanbidding deur die enigste saal op die dorp vir £250 aan te koop. Hierdie saal is jare lank as kerkgebou gebruik.

Dr. F.D. Moorrees het gedurende November 1939 as eerste leraar na die gemeente gekom. Aangesien daar geen pastorie was nie en ook weinig geld in die kas, is gereël dat die leraar voorlopig gratis losies deur die lidmate aangebied moes word. Gou het die leraar egter ’n vaste verblyfplek by mnr. en mev. Zerbst gevind. Hulle het ’n rondawel laat bou wat vir die volgende drie jaar as studeerkamer en pastorie diens gedoen het.

Persone wat in daardie beginjare die gemeentelike juk saam met die leraar op hulle skouers geneem het, was om Hennie Cloete (koster), mev. Zerbst (orreliste) en mnr. Zerbst (scriba-kassier). Gedurende 1944 het dr. Moorrees vir ’n jaar as kapelaan na Noord-Afrika gegaan. In sy plek het ds. G.C. van Rooyen, vroeër van Durban, waargeneem.

Pas ná sy terugkeer het dr. Moorrees ’n aanstelling aan die Suid-Afrikaanse Bybelvereniging (SABV) aanvaar, sodat die gemeente vir die eerste maal herderloos gelaat is. Hierna het die gemeente lang vakatures en snelle verwisseling van leraars ondervind. Dr. Moorrees is opgevolg deur ds. C.J.P. Bornman, wat nie volle twee jaar gebly het nie. Ná hom het ds. Norval Geldenhuys die herderstaf opgeneem, maar weens verswakte gesondheid moes hy ná ’n kortstondige dog uiters vrugbare bediening van skaars vyftien maande die gemeente verlaat. Daarna het ook hy in diens van die SABV getree.

Gedurende Augustus 1949 is ds. Z.J. van Zyl hier bevestig. In 1952 het Ons gemeentelike feesalbum berig: “Op elke gebied het die gemeente sedert sy stigting gevorder: Die getal lidmate het van 500 tot 850 toegeneem; finansieel is ons selfstandig; ’n eie sendinggemeente is afgestig; ons beskik oor twee ruim kerksale (Naboomspruit en Roedtan), benewens ons pastorie en ander boupersele, terwyl daar reeds oor die £4 000 in hande is vir die bou van ons nuwe kerk.”

Ds. Z.J. van Zyl het die kerkgebou se hoeksteen op 18 September 1954 gelê. Die bouheer was F.P. van Heerden, wat die kerkgebou dus bes moontlik ook ontwerp het.

Bron

Tags:

Naboomspruit

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

Ruhan du ToitAfrikaanse taalleerAnrich HerbstMaagdelikheidEthiopiese kalenderOratoriumNederlandsGMIV/vigs in Suid-AfrikaEdward Higgins WhiteBrugKlem-in-die-kaakLetterkundeLekkerruikpeulKambodjaWolfSkisofrenieHepatitis BOrnitologieEkonomieVoorsetselDoelwitJaco JacobsProbleemoplossingMaselsMuishondOu Apostoliese KerkApple Inc.Cristiano RonaldoSeksDoodJapanDieretuinTrigeminale neuralgieSpinnekopWerwelkolomOrgasmeVerenigde koninkrykKunstenaarAstronomiese eenheidAntieke EgipteOntwerpWUniondalePubiese hareKindersiektesSwedeFJohannes HeestersSlangFonetiekHeilige geskrifteStikstofOorRichard Maurice BuckeKaartSophie MarceauGeweldAfrikaMensInternasionale Fonetiese AlfabetEerste WêreldoorlogGenesisHomoniemSuid-Afrikaanse GrensoorlogPersentasieGeorgiëAfrikanersBruin huisslangElandréSkaakDigitale objek-identifiseerderNagapieRalph Graves🡆 More