Die Mensjewiste (Russies: меньшевики, afgelei van die woord mensje, minder) was ’n faksie van die Marxistiese Russiese Sosiaal-Demokratiese Arbeidersparty (RSDAP).
Dit het ontstaan toe die party geskeur het; die ander faksie was die Bolsjewiste (большевики, большевисты; afgelei van bolsje, "meer"). Die skeuring het plaasgevind op die tweede partykongres in 1903. Die Bolsjewiste het later die Kommunistiese Party van die Sowjetunie geword.
Op die tweede kongres van die RSDAP, wat in Augustus 1903 in Brussel en Londen gehou is, was daar groot meningsverskille tussen Lenin en Julius Martof, tot in dié tyd ’n groot vriend van Lenin. Hulle kon nie hul verskille bylê nie en die party het in twee faksies geskeur Lenin was die leier van die Bolsjewiste en Martof van die Mensjewiste.
Hoewel albei faksies geglo het dat daar ’n burgerlike demokratiese rewolusie moet plaasvind, was die Mensjewiste meer gematig en wou hulle met die Russiese voorlopige regering saamwerk, terwyl die Bolsjewiste met ander radikale en die boere saamgewerk het en die voorlopige regering se bewind wou oorneem.
Die twee faksies het in 1903–1904 voortdurend verander soos wat talle lede heen en weer oorgeloop het. Die twee faksies het in Januarie 1912 finaal bande verbreek toe die Bolsjewiste ’n partykongres in Praag gereël het net vir hul eie lede. Hulle het die Mensjewiste uit die party geskors en ’n onafhanklike party gestig met die naam RSDAP (Bolsjewiste). Ná die Kronstadt-opstand van 1921 is die Mensjewiste finaal verbied. Baie van die lede het geëmigreer terwyl ander by die Bolsjewiste aangesluit het. 'n Klein maar invloedryke groep sosiaal-demokrate wat verbind is met Maxim Gorki se koerant Nowaja Zjizn (Nuwe Lewe) het geweier om by enige van die partye aan te sluit.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Mensjewis, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.