Matthys Stefanus Benjamin Kritzinger (distrik Carolina, Transvaal, 16 Oktober 1896 – Pretoria (vermoedelik), 12 Januarie 1977) was ’n letterkundige en professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Pretoria.
As leksikograaf is hy verantwoordelik vir die samestelling van verskeie woordeboeke.
Matthys Stefanus Benjamin Kritzinger se ouers was Louis Jacobus Rudolph Kritzinger en Sara Sophia Maria Grobler. In die Anglo-Boereoorlog word hy saam met sy moeder in ’n konsentrasiekamp aangehou. Sy eerste opleiding kry hy privaat by sy moeder, waarna hy die CNO-skool op Carolina bywoon en daarna skoolgaan aan die Laerskool Carolina. Sy hoërskoolopleiding kry hy aan die Hoërskool Ermelo. Vanaf 1915 studeer hy verder aan die Grey-universiteitskollege in Bloemfontein, waar hy in 1917 die B.A. Honneurs in Nederlands verwerf. Die daaropvolgende jaar behaal hy die Hoër Onderwysdiploma aan die Transvaalse Universiteitskollege in Pretoria en in 1919 verwerf hy sy M.A.-graad. Hierna word hy onderwyser in Geskiedenis aan die Hogere Oosteind-School in Pretoria, waar hy later ook klasse gee in Afrikaans. Vanaf Oktober 1920 is hy dosent in Nederlands aan die Transvaalse Universiteitskollege, later die Universiteit van Pretoria. Hy promoveer in 1930 aan die Universiteit van Pretoria met ’n proefskrif oor “Die opstandsmotief by Vondel”. Tussen 1933 en 1937 is hy redakteur van Ons Tydskrif vir Letterkunde, Opvoedkunde en Kuns, ’n blad wat deur die Van Schaik Uitgewers geborg is. In 1934 is hy gasdosent in Amsterdam. Hy word in 1936 bevorder tot professor aan die Universiteit van Pretoria, ’n posisie wat hy tot met sy aftrede in 1961 beklee. Sy intreerede lewer hy op 29 April 1936 oor “Die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde as studievak aan die Universiteit van Pretoria”. Vir etlike jare resenseer hy nuwe letterkundige werke, vir baie jare in Die Volkstem en in Die Huisgenoot, terwyl hy ook gereelde boekbesprekings oor die radio lewer. Hy is op 4 Julie 1929 getroud met Esther Margaretha van der Spuy en uit die huwelik is drie dogters gebore. Na sy vrou se dood in Junie 1961 trou hy met mevrou Martha E. Erasmus, gebore Scheepers. Hy sou aanvanklik nes sy pa ’n boer word en het nooit sy belangstelling hierin verloor nie. Vir baie jare lank het hy ’n beesboerdery in die Transvaalse Bosveld. Hy woon op ’n plasie naby Pretoria. In 1977 is hy oorlede.
Hy bundel sy boekbesprekings en ander letterkundige artikels in die bundels “Oor skrywers en boeke” (wat benewens ’n aantal opstelle resensies bevat oor werke van C. Louis Leipoldt, D.F. Malherbe, Jochem van Bruggen, G.C. en S.B. Hobson, C.M. van den Heever en P. de V. Pienaar) en “Studies en kritieke”. “Letterkundige kragte” bevat opstelle oor die werk van C. Louis Leipoldt, A.G. Visser, C.J. Langenhoven en Toon van den Heever. Saam met H.A. Steyn, P.C. Schoonees en U.J. Cronjé is hy verantwoordelik vir die bekende “Groot Woordeboek”, terwyl hy ook outeur is van ’n groot aantal ander woordeboeke. As samesteller bring hy die versamelbundels “Letterkundige leesboek”, “Ons jongste letterkunde”, “Die jongste Afrikaanse kortverhale” en “Tien uitgesoekte kortverhale” byeen, terwyl hy ook verantwoordelik is vir ’n “Plateatlas by die Afrikaanse letterkunde”, wat die Afrikaanse letterkunde in beeld weergee. “Die Kritzingers van St. Louis” bevat familieherinneringe. As Gesangberymer is hy medeverantwoordelik vir die publikasie van die eerste Gesangebundel in Afrikaans in 1944.
In 1962 bekroon die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom met ’n Erepenning vir Afrikaanse taal en letterkunde.
Jaar | Publikasies |
---|---|
1929 | Die opstandsmotief by Vondel |
1932 | Oor skrywers en boeke |
Letterkundige kragte | |
1934 | Studies en kritieke |
1972 | Die Kritzingers van St. Louis |
Samesteller en redakteur | |
1921 | Skoolwoordeboek (saam met H.A. Steyn) |
1922 | Afrikaanse spreekwoorde en uitdrukkings met die Engelse ekwivalent (saam met A.M.M. de Villiers en E.J. Pienaar) |
Letterkundige leesboek (saam met A.K. Bot) | |
1927 | Ons jongste letterkunde |
1931 | Plate-atlas by die Afrikaanse letterkunde |
1932 | Die jongste Afrikaanse kortverhale |
1936 | Tien uitgesoekte kortverhale |
Verklarende Afrikaanse woordeboek (saam met F.J. Labuschagne, P. de V. Pienaar, J.H. Steyn en H.A. Steyn | |
1937 | Groot woordeboek (saam met H.A. Steyn) |
1951 | Klein woordeboek (saam met H.A. Steyn) |
1961 | Beknopte verklarende woordeboek |
1970 | Mini-woordeboek |
1975 | Verkorte tweetalige woordeboek |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Matthys Stefanus Benjamin Kritzinger, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.