Dinamiese ekwivalensie en formele ekwivalensie is terme vir vertaalmetodes wat deur Eugene Nida gevorm is.
Die twee terme word dikwels verstaan as fundamenteel dieselfde as onderskeidelik betekenis-vir-betekenisvertaling (om die betekenis van frases of hele sinne te vertaal) en woord-vir-woordvertaling (vertaling van die betekenis van individuele woorde min of meer presies in die volgorde waarin hulle in die sin voorkom), en Nida self het hulle blykbaar dikwels so gebruik. Sy oorspronklike definisie van dinamiese ekwivalense was egter retories: die idee was dat die vertaler só moet vertaal dat die uitwerking van die vertaling op die teikenleser min of meer dieselfde moet wees as die uitwerking wat die bronleteks die een of ander tyd op die leser van die bronteks gehad het.
Die terme "dinamiese ekwivalensie" en "formele ekwivalensie" is oorspronklik gevorm om maniere van Bybelvertaling te beskryf, maar die twee benaderings is van toepassing op enige vertaling van enige teks. Die term 'formele ekwivalensie' is moontlik ’n verkeerde vertaling van 'formal' uit die Engels, aangesien dit meer met die oorspronklike vorm van die teks te doen het as met die formaliteit daarvan. ’n Beter vertaling van dié term is dus moontlik "vormlike ekwivalensie", maar "formele ekwivalensie" is reeds gevestig in die studieveld.
Formele ekwivalensie neig om getrouheid aan die leksikale besonderhede en grammatikale struktuur van die oorspronklike taal te beklemtoon. Dinamiese ekwivalensie, daarenteen, is neig meer na ’n natuurliker manier om die teks weer te gee, byvoorbeeld wanneer die leesbaarheid van die vertaling belangriker is as die behoud van die oorspronklike grammatikale struktuur. In die diplomasie of in sekere sakekontekste dring mense moontlik aan op formele ekwivalensie omdat hulle glo dat getrouheid aan die grammatikale struktuur van die taal gelyk is aan groter akkuraatheid, terwyl, in die letterkunde, ’n roman moontlik met groter gebruik van dinamiese ekwivalensie vertaal sal word sodat dit vlot sal lees.
Volgens Nida is dinamiese ekwivalensie die "eienskap van 'n vertaling waarin die boodskap van die oorspronklike teks op so ’n wyse op die ontvangertaal oorgedra is dat die reaksie van die ontvanger in wese soos dié van die oorspronklike ontvangers is." Nida was geneig om die term te gebruik sodat "die reaksie van die ontvanger" meestal semanties was – die teikenleser het die betekenis van die teks aanvaar soos die bronleser dit sou aanvaar het – wat gelei het tot kritiese aantygings dat dit net sin-vir-sin-vertaling in ’n nuwe gedaante was. Maar as "reaksie" in die volle sin van die woord verstaan word, kon dinamiese ekwivalensie nie net insluit wat Aristotles (in die Retoriek) logos (betekenis en struktuur) noem, maar ook etos (die leser se aanname oor die gesag van die teks) en patos (hoe die leser oor die teks voel).
In latere jare het Nida hom losgemaak van die term "dinamiese ekwivalensie" en het hy die term "funksionele ekwivalensie" verkies. Die term "funksionele ekwivalensie" dui nie net daarop dat die ekwivalensie tussen die funksie van die bronteks in die bronkultuur en die funksie van die teikenteks (die vertaling) in die teikenkultuur is nie, maar dat "funksie" beskou kan word as ’n eienskap van die teks. Dit is egter moontlik om ook in die groter (dinamiese/interkulturele) konteks aan funksionele ekwivalensie te dink as meer as die struktuur van tekste – as oor hoe mense in kulture op mekaar inwerk.
Omdat dinamiese ekwivalensie nie streng behoud van die grammatikale struktuur van die oorspronklike teks vereis nie, ten gunste van ’n natuurliker weergawe in die teikentaal, word dit soms gebruik wanneer die leesbaarheid van die vertaling belangriker is as die behoud van die oorspronklike grammatikale struktuur.
Formele ekwivalensie is meer dikwels ’n doelwit as ’n werklikheid, al is dit net omdat een taal ’n woord vir ’n konsep het wat geen direkte ekwivalent in ’n ander taal het nie. In sulke gevalle kan ’n meer dinamiese vertaling gebruik word, of ’n neologisme kan in die teikentaal geskep word om die konsep te verteenwoordig (soms deur ’n woord uit die brontaal te leen).
Hoe meer die brontaal van die teikentaal verskil, hoe moeiliker kan dit wees om ’n letterlike vertaling te verstaan. Aan die ander kant kan formele ekwivalensie lesers wat die brontaal ken, soms in staat stel om te sien hoe betekenis in die oorspronklike teks oorgedra is, deur onvertaalde idiome, retoriese figure (soos oorkruis strukture in die Hebreeuse Bybel), en woordkeuse.
J.P. Louw toon die onderskeid tussen 'n formele en dinamiese vertaling van die Klassieke, aan die hand van 'n aanhaling uit De Bello Gallico deur Julius Caesar, in Afrikaans:
Oorspronklike Latyn | Formele vertaling | Dinamiese vertaling |
At hostes, ubi primum nostros equites conspexerunt, quorum erat V milium numerus, cum ipsi non amplius DCCC equites haberent, quod ii qui frumentandi causa erant trans Mosam profecti nondum redierant, nihil timentibus nostris, quod legati eorum paulo ante a Caesare discesserant atque is dies indutiis erat ab his petitus, impetu facto celeriter nostros perturbaverunt; [...] | En die vyand het, sodra hulle ons ruitery gesien het, waarvan die tal 5000 was, terwyl hulle self nie meer as 800 ruiters gehad het nie, omdat diegene wat ter wille van 'n strooptog oor die Maas gegaan het, nog nie teruggekeer het nie - terwyl ons geensins bang was nie - omdat hulle gesante 'n rukkie vantevore van Caesar af vertrek het en daardie dag vir 'n wapenstilstand gegeld het, soos deur hulle versoek, het hulle ons, nadat 'n aanval gemaak is, maklik verwar. | Ons ruitery was omtrent 500[0] man sterk terwyl die vyand nouliks meer as 800 man by hulle gehad het omdat die res wat die Maas oorgesteek het om 'n strooptog te maak, nog nie terug was nie. Dit het ons houtgerus gemaak - soos ook die feit dat hulle gesante maar net pas van Caesar af na hulle eie linies teruggekeer het en boonop juis vir daardie dag 'n wapenstilstand gevra het. Toe hulle ons dus aanval net toe hulle ons ruiters opmerk, het hulle ons maklik in die harwar gejaag. |
Twee dinge skeel met die formele vertaling hierbo:
Die herwaardering van die grootsheid van die Griekse en Latynse tekste in die 19de eeu, asook die wete dat die vertaling nooit volkome is nie, het die opvatting versterk dat die antwoord binne die oerteks self alleen opgesluit lê ('n mate van strukturalisme). Daar was die sterk voorliefde onder die Franse en Duitse geleerdes (soos by hul voorgangers Batteux, Herder en Schlegel) om die woordorde, die rangskikking van die frases, die strewe na gelyke lengtes, ook die voegwoorde en partikels noulettend te behou in die vertaling. Ritme, rymelary, woordspeling, gekruisde woordskikking (chiasme); niks is ontsien nie. 'n Mens skryf dus in der waarheid steeds Grieks of Latyn, maar wel met bv. Afrikaanse bewoording.
Dit het op sy beurt weer gelei dat die teks bloot grammaties-formeel weergegee is; die oorspronklike teks moes steeds byderhand wees ter vergelyking vir die leser om die nodige effek te ervaar. Hierdie formele, letterlike vertaling het sy waarde en plek in kommentare, handboeke en studiestukke vir studente, maar nie vir vertalings wat vir buitestaanders bedoel is nie. Ook in die antwoordblaaie word letterlike vertalings gebruik om die student of leerling se woordeskatbegrip te toets. Die dinamiese vertaling wil egter die oorspronklike laat herleef in die nuwe taalmedium.
As 'n formele vertaling naas die oorspronklike gejukstaponeer word, lewer dit nie veel probleme op nie, aangesien die leser die vertolking kan interpreteer. As die vertaling wel alleen, op sy eie gelees word, lyk dit dikwels vreemd en swaar om te verstaan. Louw noem onder meer J.P.J van Rensburg se vertaling (Iph. in Aulis, 1967) waar Menelaos aan Agamemnon 'n brief wys, waarop laasgenoemde sê: "Ek sien dit raak, en eerstens moet jy dit uit jou hand laat los." Vir Louw is hier 'n duidelike grammatiese ooreenstemming ter sprake - al is die vertaling korrek, voel dit steeds onafrikaans. Dit sou nader aan die Afrikaans geklink het as mens sou skryf: "Ek kyk juis daarna. En ek sê jou dadelik: los dit!".
'n Dinamiese vertaling moet egter nie verwar word met 'n 'vrye vertaling' of 'parafrase' nie, want daar is nie 'n globale ooreenstemming op die spel nie, of 'n rits onsamehangende idees nie, maar wel die hoorder of leser se reaksie op die mededeling (in die groot geheelbeeld van die werk). 'n Vertaling wat die inhoud nastreef, en nie die vorm nie, bring begrip by die leser tuis. Die vertaler moet dus homself afvra hoe die oorspronklike ontvangers, die oorspronklike (teiken)lesers, die boodskap verstaan het.
In Russies is daar byvoorbeeld die spreekwoord "бог с ними" wat letterlik beteken "God is met hulle". Die Rus verstaan egter hieronder: "hulle moer!"
Bybelvertalers het verskillende benaderings gevolg om dit in Engels te vertaal, wat wissel van ’n uiters formele ekwivalensie tot uiters dinamiese ekwivalensie.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Dinamiese en formele ekwivalensie, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.