Afrikaans hoort by Nederlands: ons Afrikaanse taalverdriet is 'n boek (en verwerkte lisensiaatverhandeling) deur Petrus van Eeden.
In hierdie boek betwis Van Eeden die funksionaliteit en bestaansreg van Afrikaans as die (na sy mening rypgedrukte) standaardtaal in Suid-Afrika. Hy pleit dat Afrikaners moet herbesin en Nederlands weer as kultuurtaal moet aanvaar. Van Eeden steun taalamalgamasie.
Afrikaans hoort by Nederlands | |
---|---|
Skrywer | Petrus van Eeden |
Land | Vlaandere, België |
Taal | Afrikaans |
Onderwerp | Taalamalgamasie, taalpartikularisme, taalpolitiek |
Genre | Akademies (taal) |
Uitgewer | Brevitas |
Uitgegee | 1995 |
Bladsye | 232 |
ISBN | 1 874976 13 9 |
Van Eeden voer die volgende standpunte aan:
Die Nederlandse taal in Vlaandere was duidelik nie in 'n ander posisie as die Nederlands in Suid-Afrika nie. In albei lande was die Dietssprekende bevolking arm en swak geletterd (die Vlaminge was egter baie meer verstedelik as die Afrikaners), wat beteken het dat hul omgangstaal 'n lae status gehad het. In albei lande was daar 'n groot behoefte aan 'n groter Nederlandstalige elite, en in albei was Nederlands amptelik die kultuurtaal. In albei het stemme opgegaan ten gunste van 'n eie selfstandige taal, los van Nederlands. Albei volkere het hulle bedreigd gevoel deur 'n ander vreemde taal en kultuur, en albei volkere het stappe gedoen om hul identiteit teen die oorspoeling te verskans. In Vlaandere en in Suid Afrika was maar weinig mense wat Nederlands vlot kon gebruik. In Vlaandere is die agterstand uitgewis, deur die taal van die Noorde aan te leer. In Suid Afrika is egter 'n nuwe standaard geskep. Daarby het die Vlaminge en Quebecane ongetwyfeld besef dat 'n eie taal, met net 'n paar miljoen sprekers, die wind van voor sou hê, maar dat 'n inskakeling by die bestaande standaardtale 'n redding inhou. Sonder dat hulle dit vermeld het, het hulle geglo aan 'eendrag maak mag'. (nie verbatim)
De Villiers meen dat die feit dat sommige Boere tydens die Anglo-Boereoorlog hul notules in Engels gehou het, daarop dui dat Nederlands 'te moeilik' vir hulle was. Die feit dat sommige Boere hul notules in Engels gehou het dui eerder daarop dat hulle slegs Engels op skool geleer het. Die taal wat 'n persoon op skool leer as vak, en veral as die gebruiklike medium van onderrig, is die taal wat hy ook skryf, omdat hy meer vertroud met die spelling en sinsgebruik van daardie taal is, al besig hy 'n ander taal as spreektaal. Die argument dat Nederlands te moeilik was, moet gesien word as propaganda wat goed geval het op die ore van mense wat laaggeskoold was. Dis so goed as om aan skoolkinders te vra of matriekwiskunde nie liefs 'makliker' gemaak moet word deur die matriekstandaard te vervang met die st 6 standaard nie: Daar sal net enkele teenstemme wees. Wiskunde sal moontlik liefhebbers bykry, maar die vak se waarde, toepassingsmoontlikhede en prestige sal taan. Elke taal op aarde, selfs jou moedertaal, is moeilik as jy nooit daarin onderwys ontvang het nie, want onderwys is die enigste manier waarvolgens taalnorme bemeester word. (nie verbatim)
Die vrae word verder gestel:
Wat die taal self betref word die volgende opmerkings gemaak:
Die volgende gevolge word voorgehou:
Jaap Steyn verskil in sy vaktydskrifartikel (1996) met Van Eeden se mening dat Afrikanernasionalisme grootliks verantwoordelik was om Afrikaans die voertaal te maak, aangesien Nederlands voor, tydens, en na die Anglo-Boereoorlog in die Vrystaat en Transvaal om presies dieselfde redes aangewend is. Steyn meen daar was sterk argumente om Nederlands te beskou as instrument teen verengelsing. Dit was ’n taal met ’n groot letterkunde, en was dermate in Suid-Afrika gevestig as kerk- en Bybeltaal, dat omtrent elfduisend lidmate uit 46 Kaaplandse gemeentes nog in 1919 petisies geteken het teen die Afrikaanse Bybelvertaling. In werklikheid het die kanseltaal lank reeds nader aan Afrikaans as Nederlands gestaan – soos Gustav Preller reeds in 1905 gevind het nadat hy 'n aantal preke stenografies laat opneem het.
Wat Nederlands egter in ’n swak posisie geplaas het, was die betreklik lae onderwyspeil van Afrikaners, die gebrek aan ’n stedelike bevolking en die feit dat daar slegs ’n baie klein elite was. Die grootste Afrikanerbevolking was destyds in die Kaap, waarvan in 1908 slegs 7,63% van Afrikaners standerd 4 behaal het, 2,84% standerd 6 en 1,12% standerd 7. Die onderwysmedium in die Kaapland was oor die algemeen Engels en in alle provinsies was die eksamentaal Engels. Die provinsiale openbare eksamens van standerd 8 en standerd 10 (tot in 1912) was in Engels. Nederlands was in die meeste Kaapse skole nie eens 'n vak nie en die oorblywende skole het weinig tyd daaraan afgestaan.
Binne hierdie konteks is die volgende stellings dikwels gemaak:
Buiten die toenemende Europeesgeleerde Afrikaners wat steun begin bied het vir Afrikaans (sodat "Afrikaans" nou nie meer die taal van die ongeletterde was nie), was daar ook Nederlandse akademici of simpatisante (o.a. D.C. Hesseling, dr. Kiewiet de Jonge, dr. J.B. Scheepers, prof. H. Kern, dr. R.A. Kollewijn, Jac. van Looy, Alb. Verwey, proff. P.J. Blok, C.B. Spruyt, A. Kluyver en W.G. van Nouhuijs) wat uitgesproke ten gunste was van Afrikaans. Dikwels is na die Griekse diglossiesituasie verwys: rasionele argumente was nou onvoldoende, want óók die "gevoel" is bepalend vir die keuse van 'n kultuurtaal, en die "macht van het dichterlike woord... [komt] uit het hart", soos Hesseling dit gestel het. Steyn meen dat Nederlands en Afrikaans in die Transvaal en Vrystaat eenvoudig as sinonieme beskou is wat vir spesifieke omstandighede gebruik is. Volgens pres. M.T. Steyn het jy immers jou statige Bybel-Hollands gehad, die vereenvoudigde Hollands in die koerant en die pittige Afrikaans vir briefskrywery. 'n Getoutrekkery tussen Nederlands en Afrikaans is dus as onnodig beskou.
Steyn beklemtoon dat die kampvegters vir Nederlands min wapens tot hul beskikking gehad het. Hulle kon slegs die Zuid-Afrikaanse Taalbond weer instel en die Nederlandse spelling vereenvoudig. Die stryders van Afrikaans het daarteenoor 'n arsenaal van media (toesprake, brosjures, vlugskrifte en kongresse, tydskrifte en boeke) gehad waarmee hulle mense met die argumente en persepsies wat hulle geskep het kon oortuig. Soos Steyn dit stel - "Feitelik elke nuwe boek in Afrikaans was terselfdertyd 'n argument vir die verowering van die een of ander terrein vir Afrikaans."
Die voortbestaan van 'n taal met 'n klein letterkunde kon egter nie as nie-dominante taal in 'n meertalige staat gewaarborg word nie. Tot in 1914 sou die verwerwing van taalregte, onder meer in die onderwys, minstens 'n belangrike en besmoontlik die belangrikste oogmerk wees van die Afrikanernasionale stryd. Die taal waarvoor daar geveg is, in naam altans, was 'Hollands'. Van 1914 af sou die Afrikanernasionalisme van karakter verander. Die beweging sou verdeeld geraak het terwyl die hoofstroming tot meer van 'n politieke beweging sou word. Hierdie koersverandering het tot stand gekom deur die stigting van die Nasionale Party, die wetlike erkenning van Afrikaans as onderwysmedium en die uitbreek van die Rebellie. Kortom sou kultuur en materiële belange met mekaar versoen word om saam 'n politieke dryfveer te word.
Steyn skryf in 1998 dat Van Eeden nie genoeg rekening hou met die ander stelling van Louw nie, naamlik dat die wysheid van dwase en vermeteles sou geseëvier het en dat die dwepers weereens die geskiedenis sou bepaal het. Hy wys uit dat Afrikaans mense gouer en magtiger aangegryp het as wat Nederlands dit ooit sou kon doen, en dit voordat die volk kon verdwyn. In 1999 betwyfel hy dit sterk dat Afrikaanse ouers en kinders Nederlands as vak of onderrigmedium sal aanvaar. Meer waarskynlik sou dit daartoe lei dat nog meer Afrikaanstaliges eerder Engels as skooltaal sou verkies. Van Eeden het hierop uitgewys dat menige bedrywe stelsels invoer, wat met terugsig baie duidelik minder rooskleurig daar uitsien as wat hulle aanvanklik vermoed het (Hy verwys hier nie na politiek alleen nie, maar ook na Amerika, Brasilië, Noorweë en Quebec wat misluk het in pogings om hul eie tale te probeer deurvoer). Philip Meelhuysen skryf in 2000 uit Londen dat dit duidelik is dat die Nederlandse regering sy rug gekeer het op alle kultuur wat Afrikaans (en dus Nederlands) is en dat die Afrikaner geen simpatie of samewerking uit Nederland moet verwag nie. Hy wys onder meer na Koningin Beatrix: Koningin Beatrix vermijdde bij haar laatste officiële bezoek aan Zuid-Afrika, zowat elk contact met de Afrikaner cultuur. Anders as wat Van Eeden se boek voorstel, stel hy eerder 'n werksvisum voor waar daar meer persoonlike kontak tussen die Nederlandse/Vlaamse jongmense en die Afrikanerjongmense is. Die tale sal dan natuurlikerwys na mekaar begin groei en die belangstelling wedersyds prikkel. Bly weg van Londen.
Twintig jaar na sy publikasie, op 05 Julie 2015, skryf Van Eeden aan die Briewekolom van Netwerk24, en lewer 'n opsomming van sy werk, en 'n week later reageer Lina Spies hierop. Na haar mening staan Nederlands wel nou op die 8ste plek in Europa en sou dit die taalgemeenskap in Suid-Afrika besmoontlik baie sterker in die wêreld gelaat het. Sy glo egter dat die konsep van 'n "moedertaal" nie vereenselwig kan word met die gedagte om 'n "hoë" sowel as 'n "lae" variant aan te leer nie, en dat dit sou neerkom op 'n denkfout. Dit is wel die taal van die hart en die verstand, die taal waarin hy of sy spontaan voel en dink. Steyn wys egter uit dat dit in Sleeswyk-Holstein nie vreemd is om Deens as huistaal, Platduits as dorpstaal en Standaardduits op kantoor te praat nie. Net so is daar ook Limburgers wat Limburgs aan huis en in die onmiddellike omgewing praat, maar Standaardnederlands op skool leer en Standaardnederlands op televisie hoor en Standaardnederlands nasionaal gebruik. Die frappante verengelsing in Kaaps ten spyt, beskou Spies Afrikaans ook as die taal van die bruin sprekers. Spies meen dat wit Afrikaanses wat nie twee moedertaalvariante het nie, tog geleer het om Kaaps te waardeer as die eksklusiewe moedertaalvariant van hul bruin mede-Afrikaanses, oor die eiesoortige skoonheid en besondere uitdrukkingsvermoë daarvan as spreek- en skryftaal. Afrikaans is volgens Spies verryk deur die skrywers en digters vir wie dit die medium van hul kuns is, soos onder andere die digter en dramaturg Adam Small, wat uiteindelik deur die Suid-Afrikaanse Akademie bekroon is met die Hertzogprys vir sy dramaoeuvre, waaronder Kanna hy kô hystoe. Laastens skryf Spies dat die band met Nederlands nie heeltemal deurgesny is nie. Die etimologiese navorsing maak steeds van Nederlandse werke gebruik en skrywers, soos Marlene van Niekerk, sluit ook meer Nederlandse woorde in hul werke in. Dit kan aanvaar word dat haar lesers dikwels die volksvreemde woorde sal gaan naslaan. Dan is daar ook vertalings wat uit Nederlands na Afrikaans gedoen word – wat mag aandui dat 'n blote passiewe kennis van Nederlands onvoldoende is (en dat 'n passiewe kennis van 'n vreemde "inheemse taal" wel die aanleer daarvan vergemaklik). Sy skryf ook dat Engels as lingua franca nie in Suid-Afrika sou nodig wees as die sprekers veeltalig was nie.
In sy weerskrif van 19 Julie 2015 stip Van Eeden die saak duideliker uiteen. [Onderstaande teks in vierkantshakies is uit die gepubliseerde teks in Rapport verwyder]:
In Vlaandere is na die Tweede Wêreldoorlog op groot skaal oorgestap na Standaardnederlands. [Ondersoekers wys daarop dat Vlaminge selfs 20% dialekgoed per geslag laat val, inruil vir Nederlandse taalgoed. Kom voer gerus 'n praatjie in Vlaandere met Jan Alleman, waaruit die volgende sal blyk: 'n Bejaarde Vlaming is onverstaanbaar (uitgesonderd die geskoolde elite). 'n Middeljarige Vlaming is redelik verstaanbaar, maar die Vlaamse jeug is klokhelder verstaanbaar.] Die Vlaamse volk [stap oor na Standaardnederlands en] vermag dus iets waartoe die Afrikaner nie in staat was nie. Die Vlaamse volk het nie vir taalskeiding gekies nie, maar vir taalbehoud met Nederlands. Dit was ’n slim set. Nederlands was vir die Vlaminge haalbaar! (verbatim)
Hy beklemtoon dat Nederlands nooit 'n lewende taal in Suid-Afrika was nie. Dit was dialeksprekende emigrante uit die Nederduitse taalgebiede wat na die Kaap verhuis het en hulle was nie Nederlandse standaardtaalsprekers nie. Tot en met die middel van die vorige eeu het selfs Nederland geen eenvormige spreektaal geken nie. Selfs vandag praat net die Randstadgebied in wese Standaardnederlands, en die res van Nederland en Vlaandere dialekte. Van Eeden meen dat Spies dus 'n denkfout begaan as sy glo dat daar hoegenaamd geen diglossie onder die Afrikaners bestaan het nie.
Van Eeden vra ook waarom het die sprekers van Kaapse Afrikaans dan nie ook op standaardisering van Afrikaans aangedring nie, want taalskeiding (met die gevolglike standaardisering) sou immers toegeskryf kon word aan die groot kloof tussen die omgangstaal en die kultuurtaal.
Dan meld Van Eeden 'n onlangse bevinding uit sy eie werkskring en leefmilieu. Vir die gemiddelde Afrikaner sou Nederlands blykbaar net so vreemd soos Italiaans of Grieks wees. By sy Amsterdamse werk is naamlik ongeveer 20 Afrikaners in diens, wat almal reeds tussen 5 en 10 jaar in Nederland is. Wanneer hy met hulle gesels blyk dit dat die jongelinge slegs in een taal met Nederlanders kommunikeer, naamlik Engels. Hy spreek ook sy stomme verbasing uit dat die groep wat hul in 'n taalmekka bevind waar Nederlandse boeke oorvloedig beskikbaar is, mekaar Amsterdamse boekwinkels aanraai wat Engelse boeke verkoop.
Van Eeden pleit ten laaste vir 'n sterker toenadering en uitruil van media en kultuurskatte (soos te vinde is onder die Nordiese lande) tussen Afrikaans- en Nederlandssprekendes, en dat die bande tussen bruin en wit Afrikaners versterk sal word.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Afrikaans hoort by Nederlands, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.