Die Russian River (Russiese spelling en uitspraak: Рашен-Ривер Rašen-River) is 'n rivier in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië wat suidwaarts vloei en 'n gebied met 'n oppervlakte van 1 485 vierkante myl (3 850 km²) in die administratiewe distrikte Sonoma County en Mendocino County dreineer.
Met 'n gemiddelde afloop van 64 m³/s (jaarliks sowat twee kubieke kilometer) is dit die tweede grootste rivier (na die Sacramento) wat deur die Groter San Franciscobaaigebied (met nege distrikte) vloei.
Russian River | |
---|---|
Monding van die Russian River, noord van Bodegabaai, Kalifornië | |
Die stroomgebied van die Russian River. | |
Oorsprong | Laughlin Range, Willits, Kalifornië (Verenigde State) |
Monding | Jenner, Kalifornië Stille Oseaan |
Stroomgebied | Kalifornië, Verenigde State |
Lengte | 180 km (110 myl) |
Oorspronghoogte | 600 m (1 960 voet) |
Mondinghoogte | 0 m |
Gemiddelde afloop | 64 m³/s (2 261 vt³/s) |
Stroomgebiedopp. | 3 850 km² (1 485 myl²) |
Die Russian River-streek is tans 'n gewilde ontspanningsgebied vir stadsbewoners uit die metropolitaanse gebiede van San Francisco en Sacramento.
Die Russian River-gebied het 'n lang geskiedenis wat met belangrike historiese gebeure in Kalifornië verbind word. Die riviergebied is oorspronklik deur Kashaya- en Pomo-Indiane bewoon. Dit was nogtans Russiese ontdekkingsreisigers aan wie die rivier sy naam te danke het. In die vroeë 19de eeu is die rivier en sy omgewing deur Iwan Aleksandrowitsj Koeskof in opdrag van die Sint Petersburgse Russies-Amerikaanse Kompanjie (RAK) verken.
Koeskof het destyds die Russiese koloniale nedersetting Fort Ross net noordwes van die riviermonding gestig en sy eerste administrateur geword. Fort Ross is deur die RAK (net soos Kaapstad deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie) as 'n permanente verversingstasie beplan wat setlaars in Russies-Alaska van vars groente sou voorsien nadat sommige van hulle aan skeurbuik beswyk het of deur die siekte gestrem gelaat is.
Russiese pelsjagters en setlaars het na die rivier verwys as Slavjanka of "Klein meisie". Groter getalle setlaars het hulle egter eers teen die middel van die 19de eeu in die streek gevestig nadat die Kaliforniese goudstormloop skare fortuinsoekers na die Weskus laat stroom het.
Vanaf die 1870's het die gebied 'n gewilde vakansiebestemming geword wat danksy nuwe spoorverbindings maklik deur stadsbewoners bereik kon word. In die vroeë 1870's is ook die eerste saagmeul in Duncan Mills gevestig, 'n klein nedersetting wat na die meul se eienaars, Alexander en Samuel Duncan genoem is. Die Duncan-broers het die plaaslike redwood-bosse tot in die 1890's ontgin en hout vir die bou van San Francisco se Victoriaanse woonhuise per boot na die Golden Gate-metropool vervoer.
Wiki Commons bevat media in verband met Russian River. |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Russian River (Kalifornië), which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.