Erektiele Disfunksie: Soort seksuele disfunksie by mans

Erektiele disfunksie (afgekort as ED) of impotensie is ’n seksuele disfunksie wat gekenmerk word deur ’n onvermoë om ’n ereksie te kry of te behou wat styf genoeg is vir seksuele bedrywighede.

’n Ereksie is die hidrouliese effek van bloed wat in die sponsagtige dele van die penis opgeneem en behou word. Die proses word gewoonlik meegebring deur seksuele stimulasie, wanneer prikkels van die brein na die senuwees in die penis gestuur word. Erektiele disfunksie is die algemeenste seksuele probleem by mans en kan psigologiese stres veroorsaak weens die invloed daarvan op die selfbeeld en seksuele verhoudings.

Erektiele disfunksie
Ander nameImpotensie
SpesialiteitUrologie, andrologie
SimptomeOnvermoë om 'n ereksie te kry of handhaaf
OorsakeLae testosteroonvlakke, sekere voorskrifmedisyne, neurogeniese sindrome, ens.
RisikofaktoreHartbloedvatsiektes, diabetes, rook, stres, geestesteurings, ouderdom, dieet met baie versadigde vette, niersiekte
Diagnostiese metodeHang af of die aard fisiologies of psigologies is
BehandelingBehandeling van onderliggende oorsake, medisyne, penispomp, berading (psigologiese behandeling)
MedikasieSildenafil, prostaglandien, inplantate, ens.
Erektiele Disfunksie: Tekens en uitwerking, Oorsake, Patofisiologie Mediese waarskuwing

Die meeste gevalle word toegeskryf aan voorspelbare en fisieke risokofaktore. Dit kan ingedeel word in vaskulêre, neurologiese en hormonale probleme, asook dié wat deur dwelms veroorsaak word of in die penis self voorkom. Belangrike voorspelbare faktore sluit in ouderdom, hartbloedvatsiektes, diabetes, hoë bloeddruk, obesiteit, abnormale lipiedvlakke in die bloed, hipogonadie (die onvoldoende funksionering van die geslagskliere), rook, depressie en die gebruik van voorskrifmedisyne. Sowat 10% van gevalle word verbind met sielkundige faktore, wat toestande soos depressie, stres en verhoudingsprobleme insluit.

Dit is belangrik om daarop te let dat die term "erektiele disfunksie" nie ander ereksieverwante probleme soos priapisme insluit nie.

Behandeling sluit in om die onderliggende probleme en psigososiale kwessies te behandel en leefstylveranderings. In baie gevalle word medisynegebaseerde terapieë gebruik, veral 'n vasodilator ('n stof wat bloedvate verwyd) soos sildenafil. Dié middels help bloedvloei aan na die sponsagtige vesel van die penis. Ander, minder algemene behandelings sluit in pille van prostaglandiene (hormoonagtige chemiese stowwe) wat in die urinebuis gedruk word, die inspuiting van 'n spierverslapper van die gladde spiere regstreeks in die penis, penisinplantate en die gebruik van penispompe.

Erektiele disfunksie kom na berig word voor in 18% van mans tussen die ouderdomme van 50 en 59, en in 37% van mans tussen 70 en 75.

Tekens en uitwerking

ED word gekenmerk deur die volgehoue onvermoë om 'n ereksie van die menslike penis te kry of behou wat styf genoeg is vir bevredigende seks. Dit word 'n probleem as dit langer as drie maande voortduur.

ED het dikwels 'n uitwerking op die emosionele welsyn van mans én hulle maats. Baie mans soek nie mediese hulp nie omdat hulle verleë voel. Sowat 75% van gediagnoseerde gevalle word nie behandel nie.

Oorsake

Oorsake van of bydraers tot ED sluit die volgende in:

  • 'n Dieet met baie onversadigde vette word verbind aan hartsiektes, en mans met hartsiektes is meer geneig om ED te ondervind. In teenstelling hiermee hou plantgebaseerde diëte 'n kleiner risiko vir ED in.
  • Sommige voorskrifmedisyne (soos betablokkeeders en antihistamiene)
  • Neurogeniese steurings (soos diabetes, veelvuldige sklerose, Parkinsonsiekte en veelstelselatrofie)
  • Cavernosale steurings (soos Peyroniesiekte)
  • Hiperprolaktinemie (bv. weens 'n prolaktinoom)
  • Sielkundige oorsake: 'n prestasievrees, stres en geestesteurings
  • Chirurgie (bv. radikale prostatektomie, of wegsnyding van die prostaat)
  • Ouderdom: Ná die ouderdom van 40 is veroudering self 'n risikofaktor vir ED, hoewel baie ander oorsake ook met veroudering kan voorkom, soos 'n tekort aan testosteroon, hartbloedvatsiektes of diabetes.
  • Niersiekte: ED en kroniese niersiekte het patologiese meganismes in gemeen, insluitende bloedvat- en hormonale disfunksie, en kan ander onderliggende oorsake van ED hê soos hoë bloeddruk en diabetes.
  • Leefstylgewoontes, veral rook, wat 'n sleutelfaktor vir ED is omdat dit die bloevate vernou.
  • Covid-19: Voorlopige navorsing het getoon die virusinfeksie Covid-19 beïnvloed dalk seksuele en voortplantingsgesondheid.

In chirurgie vir 'n paar toestande kan anatomiese strukture verwyder word wat noodsaaklik vir 'n ereksie is, senuwees beskadig of bloedtoevoer belemmer word. ED is 'n algemene komplikasie van behandelings vir prostaatkanker, insluitende prostatektomie en die vernietiging van die prostaat deur eksterne bestraling, hoewel die prostaat self nie noodsaaklik vir 'n ereksie is nie.

ED kan ook met fietsry verbind word weens skade aan die senuwees en bloedvate wat deur drukking veroorsaak word.

Patofisiologie

'n Ereksie word deur twee meganismes moontlik gemaak: Die reflekserekie word verkry deur direk aan die penisskag te vat, en die psigogeniese ereksie word verkry deur erotiese en emosionele stimulasie. Eersgenoemde behels die perifere senuwees en die laer dele van die rugmurg, terwyl laasgenoemde die limbiese stelsel van die brein behels. In albei gevalle is 'n onbeskadigde senuweestelsel nodig vir 'n suksesvolle en volledige ereksie. Die stimulasie van die penisskag deur die senuweestelsel lei tot die afskeiding van stikstofmonoksied, wat die gladde spiere van die corpora cavernosa (die hoofereksieweefsel van die penis) laat ontspan, en eindelik tot 'n ereksie. Daarbenewens is 'n hoë genoeg vlak van testosteroon (wat deur die testikels vervaardig word) en 'n obeskadigde pituïtêre klier nodig vir die ontwikkeling van 'n gesonde ereksiestelsel.

Uit dié meganismes van 'n normale ereksie, is dit duidelik dat impotensie kan ontwikkel weens onder meer 'n hormoontekort, steurings van die senuweestelsel, 'n gebrek aan genoeg bloedtoevoer na die penis en sielkundige probleme. Beserings van die rugmurg veroorsaak seksuele disfunksie, insluitende ED.

Diagnose

In baie gevalle kan die diagnose gemaak word op grond van iemand se geskiedenis van simptome. In ander gevalle word 'n fisieke ondersoek en bloedtoetse gedoen om ernstiger oorsake uit te skakel.

Een van die eerste stappe is om te onderskei tussen fisiologiese en psigologiese ED. Om te bepaal of onwillekeurige ereksies voorkom, is belangrik in die uitskakeling van psigologiese oorsake. As die persoon soms snags volle ereksies kry terwyl hy slaap (dus wanneer die brein en psigologiese kwessies, indien enige, minder aktief is) kan aangeneem word die fisiologiese strukture werk behoorlik. Net so kan prestasievrees of ED slegs in bepaalde gevalle dui op 'n psigogeniese komponent van ED.

'n Ander faktor wat tot impotensie lei, is diabetes, 'n bekende oorsaak van perifere neuropatie, of skade aan die senuwees. ED hou ook verband met algemene swak gesondheid, swak eetgewoontes, obesiteit en veral hartbloedvatsiektes. Dit kan help om ondersoek in te stel na dié soort risikofaktore, soos rook, hipertensie en alkoholisme.

Erektiele Disfunksie: Tekens en uitwerking, Oorsake, Patofisiologie 
'n Ultraklankbeeld wat geneem ná die aanbring van 'n ereksie, 15 minute ná 'n inspuiting van prostaglandien E1. Dit wys geswelde bloedholtes (pyle).

Die huidige Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesteurings (DSM-IV) lys ED.

Toetse

Ultrasonografie met Doppler kan gebruik word om die harde penis te ondersoek. Die meeste gevalle van ED met organiese oorsake het te doen met veranderings in die bloedtoevoer na die corpora cavernosa, waar te min bloed in die penis vloei of te veel bloed weer uitvloei.

Voor die Dopplersonogram moet die penis in B-modus ondersoek word om enige moontlike gewasse, fibrotiese plaak, verkalking of bloeding buite die hartvate te identifiseer en om die voorkoms van die cavernosa-are te verken.

Ereksies kan teweeggebring word met 'n inspuiting van 10-20 µg prostaglandien E1, met evaluasies van die bloedvloei elke vyf minute vir 25-30 minute (sien foto). Die middel kan nie gebruik word in pasiënte met 'n neiging tot priapisme, anatomiese afwykings en penisinplantate nie.

Sommige skrywers beveel die toediening van sildenafil per mond aan in sulke gevalle, hoewel die doeltreffendheid van sulke medisyne omstrede is.

Daar is ook ander toetse wat gedoen kan word, soos om te bepaal of daar genoeg senusensasie in die penis is. Die dokter druk die eikel (kop) van die penis, en as daar genoeg senusensasie is, sal die anus saamtrek. Die dokter kan die sametrekking meet deur na die sluitspier te kyk of 'n vinger in die anus te druk terwyl hy 'n handskoen dra.

Daar kan ook gekyk word hoeveel keer 'n man 'n ereksie kry terwyl hy slaap (onder normale omstandighede vyf of ses keer per nag), veral tydens REM-slaap (fase van vinnige oogbewegings). As die persoon nie 'n ereksie kry nie, kan daar probleme wees met die werking van die senuwees of die toevoer van bloed na die penis.

'n Toets kan met elektromagnetiese vibrasies gedoen word om die sensitiwiteit en senuwerking in die eikel en skag van die penis te meet.

Die druk in die corpus cavernosa tydens 'n ereksie kan ook gemeet word om onder meer die uitvloei van bloed te meet.

Voorkoms van diagnose

In 'n studie wat in 2016 gepubliseer is en gebaseer is op eise by mediese fondse, is 1 108 842 (5,6%) van 19 833 939 Amerikaanse mans ouer as 18 jaar medies met ED gediagnoseer. Die getal diagnoses was die hoogste in die ouderdomsgroep 60-69 (11,5%) en die laagste onder mans van 18-29 (0,4%), Dit was onderskeidelik 2,1% vir 30-39, 5,7% vir 40-49, 10% vir 50-59, 11% vir 70-79, 4,6% vir 80-89 en 0,9% vir mans ouer as 90.

Behandeling

Erektiele Disfunksie: Tekens en uitwerking, Oorsake, Patofisiologie 
Een advertensie uit 1897 beweer sy middel kan "perfect manhood" herstel. 'n Ander een sal alle kwale van die geslagsorgane genees, soos "Lost Manhood, Insomnia, Pains in the Back, Seminal Emissions, Nervous Debility, Pimples, Unfitness to Marry, Exhausting Drains, Varicocele and Constipation". Sulke valse bewerings kom vandag nog voor.

Behandeling hang af van die onderliggende oorsaak. Oor die algemeen is oefening, veral van die aërobiese soort, doeltreffend vir die voorkoming van ED in die middeljare.

Berading kan gebruik word as die onderliggende oorsaak sielkundig is, onder meer om stres en vrees wat met seks verband hou te verminder. Medisyne per mond en vakuumtoestelle is die eerste vorm van behandeling,:20, 24 gevolg deur die inspuiting van middels in die penis en penisinplantate.:25–26 Aarchirurgie is soms voordelig. Behandelings wat nie chirurgie behels nie, behandel nie die onderliggende sielkundige probleem nie, maar word voor seks gebruik soos nodig.

Medisyne

Die PDE5-stremmer sildenafil (Viagra), vardenafil (Levitra) en tadalafil (Cialis) is voorskrifmedisyne wat per mond geneem word.:20–21 Inspuitings in die penis kan ook gegee word. Dit sluit middels soos papaverien, fentolamien en prostaglandien E1 in. Daar is ook pille wat in die urinebuis gedruk kan word. Nadat dit ingedruk is, kan 'n ereksie binne 10 minute ontstaan en tot 'n uur lank hou. Medisyne wat as behandeling vir ED gebruik word, kan priapisme as 'n newe-effek hê.

Doelgerigte skokterapie

Doelgerigte skokterapie behels die stuur van kort akoestiese pulse met 'n hoë frekwensie deur die vel tot in die penis. Dié golwe breek enige plaak in die bloedvate af, bevorder die vorming van nuwe are en stimuleer die herstel en regenerasie van weefsel.

Dié soort behandeling werk die beste vir mans met vaskulogeniese ED, 'n bloedvatsteuring wat bloedvloei na die weefsel in die penis belemmer. Die behandeling is pynloos en het geen newe-effekte nie. Dit kan lei tot 'n aansienlike verbetering van die IIEF (Internasionale Indeks van Erektiele Funksie).

Testosteroon

Erektiele Disfunksie: Tekens en uitwerking, Oorsake, Patofisiologie 
'n Testosteroonaanvulling met 88 g jel.

Mans met lae vlakke van testosteroon kan ED ondervind. Die neem van 'n testosteroonaanvulling kan help om 'n ereksie te behou. Mans met tipe 2-diabetes is twee keer so geneig om lae testosteroonvlakke te hê en drie keer so geneig om ED te ondervind as mans sonder diabetes.

Pompe

'n Vakuumtoestel kan help om bloed na die penis te trek deur die aanwending van 'n negatiewe druk. So 'n toestel word soms 'n penispomp genoem en kan net voor seks gebruik word. Sommige soorte goedgekeurde pompe is op voorskrif beskikbaar. As farmakologiese metodes misluk, kan 'n doelontwerpte vakuumpomp gebruik word met 'n aparte kompressiering wat om die basis van die penis pas. Dié pompe moet onderskei word van ander pompe (sonder kompressieringe) wat gebruik word om die penis se lengte te vergroot as dit dikwels gebruik word of wat vibreer as hulp by masturbasie.

'n Drastiesee oplossing is opblaasbare of rigiede penisinplantate, wat cirurgies aangebring word.

Vibrators

Die vibrator is in die laat 19de eeu ontwikkel as 'n mediese instrument vir pynverligting en die behandeling van verskillende kwale. Dit word soms 'n masseerder genoem en onder meer gebruik vir seksuele stimulasie. In sommige kliniese studies is bevind dit kan 'n doeltreffende oplosing vir impotensie wees.

Alternatiewe medisyne

Die Amerikaanse FDA (United States Food and Drug Administration) beveel nie alternatiewe behandelings vir ED aan nie. Baie produkte word geadverteer as "kruieviagra" of "natuurlike" middels vir seksuele bevordering, maar geen kliniese toetse of wetenskaplike studies ondersteun die doeltreffendheid van dié produkte in die behandeling van ED nie, en daar is bevind sintetiese chemiese verbindings soortgelyk aan sildenafil in baie van dié produkte is vervalsings. Die FDA het verbruikers gewaarsku dat enige middels vir seksuele bevordering wat na bewering net so goed as voorgeskrewe produkte werk, waarskynlik so 'n vals produk bevat.

Geskiedenis

Erektiele Disfunksie: Tekens en uitwerking, Oorsake, Patofisiologie 
’n Ongelukkige vrou kla by ’n regter oor haar man se impotensie. (Ottomaanse miniatuurskildery).

Pogings om ED te behandel strek tot meer as 1 000 jaar terug. In die 8ste eeu het mans van Antieke Rome en Griekeland gelukbringers van haan- of bokgeslagsdele gedra en geglo dit dien as 'n opwekker van die geslagsdrif en verbeter seksuele funksie. In die 13de eeu het Albertus Magnus aanbeveel dat mans 'n geroosterde wolfpenis eet teen inpotensie.

In die laat 16de en die 17de eeu is manlike impotensie in Frankryk as 'n misdaad beskou, asook 'n wettige rede vir 'n egskeiding. Die praktyk dat kundiges van die hof aangeklaagdes geïnspekteer het, is in 1677 as onwelvoeglik verklaar.

Die eerste suksesvolle penispomp is in die vroeë 1800's deur Vincent Marie Mondat ontwerp. 'n Meer gevorderde toestel, wat op 'n fietspomp geskoei was, is in die 1970's deur die prediker Geddings Osbon ontwerp. In 1982 het hy toestemming van die FDA gekry om die toestel as die ErecAid® te adverteer.

Die Amerikaanse kwak John R. Brinkley het in die 1920's en 1930's 'n oplewing in kure vir impotensie in Amerika tot gevolg gehad. Sy radioprogramme het inplantate van duur bokkliere en inspuitings van "mercurochrome" aanbeveel as die pad na herstelde manlike viriliteit.

Moderne dwelmterapie vir ED het in 1983 'n groot hupstoot gekry toe die Britse dokter Giles Brindley sy broek aftrek en aan sy geskokte gehoor se ereksie danksy papawerien wys. Die middel wat Brindley in sy penis ingespuit het, was 'n niespesifieke vasodilator (wat bloedvate verwyd), 'n alfablokkerende agent, en die meganisme wat 'n ereksie veroorsaak het, was die ontspanning van die gladde spiere. Dié uitwerking het die basis geskep vir die latere ontwikkeling van veilige dwelmbehandeling wat per mond geneem kan word.

Die huidige basiese behandeling vir ED, die orale PDE5-stremmer, is in 1999 deur Pfizer bekend gestel.

Leksikologie

Die Latynse term impotentia coeundi beskryf eenvoudig die onvermoë om die vagina met die penis te penetreer; dit is algemeen vervang deur die term "erektiele disfunksie" (ED). Die studie van ED word gedek deur andrologie, 'n subveld van urologie.

Volgens navorsing is ED algemeen en ondervind sowat 40% van mans minstens soms die simptome.

Die teenoorgestelde toestand is priapisme. Dit is ’n toestand waar ’n penis ure lank hard bly sonder dat daar stimulasie is of nadat stimulasie geëindig het.

Verwysings

Nog leesstof

Skakels

  • Erektiele Disfunksie: Tekens en uitwerking, Oorsake, Patofisiologie  Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wiki vertaal.
Klassifikasie
Eksterne bronne

Tags:

Erektiele Disfunksie Tekens en uitwerkingErektiele Disfunksie OorsakeErektiele Disfunksie PatofisiologieErektiele Disfunksie DiagnoseErektiele Disfunksie BehandelingErektiele Disfunksie GeskiedenisErektiele Disfunksie LeksikologieErektiele Disfunksie VerwysingsErektiele Disfunksie Nog leesstofErektiele Disfunksie SkakelsErektiele DisfunksieBloedBreinEreksieHidroulikaPenisSeksSenuwee

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

BloeddrukHentaiOlifantKoperMondArgentiniëEwenaarAnilingusMad BuddiesKonjunktivitisSimboolAfleiding (taalkunde)ShakaNierversakingSteenkool in Suid-AfrikaLuiperdSirkelMantisKoöperasiestoriesViëtnamoorlogKindermishandelingJan CombrinkDataverwerkingVerenigde KoninkrykKoolstofdioksiedKarwatsAlliterasieLiewe HeksieGerda SteynToekoms van die Aarde7de LaanBeaufortskaalRooibokIslamCleopatra VIIMorfologie (taalkunde)Jan Willem JanssensLDermpoliepJagluiperdWet op NaturellengrondSeksualiteitJeugdagBobbejaanOnderwysTrigeminale neuralgieApokriewe boekeVulkaanKrugerwildtuinMaatskaplike verantwoordelikheidSeksuele penetrasieTrappe van vergelykingHarry PotterDeelstate van die Verenigde State van AmerikaLongWekkerSeptimius PicturesPapierBraaiDwelmmiddelSuid-AfrikaC.J. LangenhovenDiarreeMiskruierOorstromingNatuurlike hulpbronNasionaal-Sosialistiese Duitse ArbeiderspartyWaterstofLys van indringerplante in Suid-AfrikaVoorsetselHomoseksualiteitSuid-Afrikaanse randIntertekstualiteitErektiele disfunksieDiatomiese molekuul🡆 More