Isabelle de Charrière (20 Oktober 1740 – 27 Desember 1805), bekend as Belle van Zuylen in Nederland, née Isabella Agneta Elisabeth van Tuyll van Serooskerken, en Isabelle de Charrière elders, was 'n Nederlandse en Switserse skrywer van die Verligting wat die laaste helfte van haar lewe in Colombier, Neuchâtel geleef het.
Sy is vandag veral bekend vir haar briewe en romans, hoewel sy ook pamflette, musiek en toneelstukke geskryf het. Sy het baie in die samelewing en die politiek van haar tyd belang gestel, en haar werk rondom die tyd van die Franse Revolusie word as van besondere belang beskou.
Isabelle de Charrière | |
Portret van Isabelle de Charrière deur Maurice-Quentin de La Tour, 1771 Saint-Quentin, Aisne, Musée Antoine-Lécuyer | |
Bynaam | Belle van Zuylen, Belle de Zuylen, Zélide, Abbé de la Tour |
---|---|
Geboorte | Kasteel Zuylen, Utrecht Nederland | 20 Oktober 1740
Sterfte | 27 Desember 1805 (op 65) Le Pontet, Colombier, Neuchâtel, Neuchâtel, Pruise |
Nasionaliteit | Nederlands en Switsers |
Beroep | Romanskrywer, digter, draaiboekskrywer |
Webblad | www www |
Isabelle van Tuyll van Serooskerken is in die Zuylen-kasteel in Zuilen naby Utrecht in Nederland gebore, aan Diederik Jacob van Tuyll van Serooskerken (1707–1776), en Helena Jacoba de Vicq (1724–1768). Sy was die oudste van sewe kinders. Haar ouers word beskryf deur die Skotse skrywer James Boswell, destyds 'n student in die regte in Utrecht en een van haar minnaars, as "een van die oudste edelmanne in die Sewe Provinsies" en "'n Amsterdamse dame, met baie geld". In die winter het hulle in hul huis in Utrecht gewoon.
In 1750 word Isabelle na Genève gestuur en reis sy deur Switserland en Frankryk saam met haar Franssprekende goewerneur Jeanne-Louise Prevost, wat van 1746-1753 haar onderwyser was. Nadat sy 'n jaar lank net Frans gepraat het, moes sy Nederlands weer aanleer met haar terugkeer na Nederland. Frans sou egter die res van haar lewe haar voorkeurstaal bly, wat help om te verklaar waarom haar werk vir 'n lang tyd nie so goed bekend in haar geboorteland was as wat dit andersins kon gewees het nie.
Isabelle het 'n baie breër opvoeding geniet as wat destyds gewoon vir meisies was, danksy die liberale siening van haar ouers wat haar ook vakke soos wiskunde, fisika en tale soos Latyn, Italiaans, Duits en Engels laat studeer het. Volgens alle getuies was sy 'n begaafde student. Sy het altyd in musiek belanggestel, en in 1790 het sy by die komponis Niccolò Zingarelli begin studeer.
Op die ouderdom van 14 jaar het sy verlief geraak op die Rooms-Katolieke Poolse graaf Peter Dönhoff. Hy het nie in haar belanggestel nie. Teleurgesteld het sy Utrecht vir 18 maande verlaat. Soos sy ouer geword het, het verskillende minnaars op die toneel verskyn net om verwerp te word omdat hulle belowe het om haar te besoek, maar dit nie gedoen het nie, of omdat hulle hulself onttrek het omdat sy meerderwaardig was. Sy het die huwelik gesien as 'n manier om vryheid te bekom, maar sy wou ook vir liefde trou.
Spesiaal uitgenooi deur Anne Pollexfen Drake en ook haar man luitenant-generaal George Eliott om besoek af te lê by hul Londense huis in Curzon Street, Mayfair, het Isabelle per boot van Hellevoetsluis te Harwich op 7 November 1766 gearriveer, vergesel deur haar broer Ditie, haar bediende Doortje en haar dienskneg Vitel.
Uiteindelik, in 1771, trou sy met die Switserse Charles-Emmanuel de Charrière de Penthaz (1735-1808) gebore in Colombier, die voormalige private onderwyser van haar broer Willem René in die buiteland van 1763 tot 1766. Daarna was sy bekend as Isabelle de Charrière. Hulle vestig hulle te Le Pontet in Colombier (naby Neuchâtel ), gekoop deur sy oupa Béat Louis de Muralt, saam met haar skoonpa François (1697–1780) en haar twee ongetroude skoonsusters Louise (1731-1810) en Henriette (1740–1814). Die kanton Neuchâtel is toe deur Frederick die Grote as prins van Neuchâtel in persoonlike vereniging met Pruise geregeer. Daar was godsdiensvryheid wat veroorsaak het dat baie vlugtelinge, waaronder Jean-Jacques Rousseau, Béat Louis de Muralt en David Wemyss, lord Elcho, na die kanton Neuchâtel gekom het. Die egpaar het ook beduidende hoeveelhede tyd in Genève en Parys deurgebring.
Isabelle de Charrière hou 'n uitgebreide korrespondensie met talle mense, waaronder intellektuele soos David-Louis Constant d'Hermenches, James Boswell, Benjamin Constant en haar Duitse vertaler Ludwig Ferdinand Huber .
In 1760 ontmoet Isabelle David-Louis Constant d'Hermenches (1722–1785), 'n getroude Switserse offisier wat in die samelewing as Don Juan beskou word. Na baie huiwering het Isabelle se behoefte aan selfuitdrukking haar gewete oorkom en na 'n tweede ontmoeting twee jaar later, begin sy 'n intieme en geheime korrespondensie met hom vir ongeveer 15 jaar. Constant d'Hermenches sou een van haar belangrikste korrespondente wees.
Die Skotse skrywer James Boswell het haar gereeld in Utrecht en in die kasteel Zuylen in 1763-1764 ontmoet, toe hy regte aan die Universiteit Utrecht studeer het. Hy noem haar Zélide, soos in haar selfportret. Hy het 'n gereelde korrespondent vir etlike jare geword nadat hy uit Nederland op Grand Tour vertrek het. Hy skryf aan haar dat hy nie op haar verlief was nie. Sy het geantwoord: "Ons stem saam, want ek het geen talent vir onderdanigheid nie". In 1766 stuur hy wel 'n voorwaardelike voorstel aan haar vader nadat hy haar broer in Parys ontmoet het, maar die vaders het nie tot 'n huwelik ingestem nie.
In 1786 ontmoet dame De Charrière die neef van Constant d'Hermenches, die skrywer Benjamin Constant, in Parys. Hy het haar 'n paar keer in Colombier besoek. Daar het hulle saam 'n briefgerigde roman geskryf, en 'n briefwisseling het begin wat tot die einde van haar lewe sou duur. Sy het ook 'n interessante korrespondensie met haar Duitse vertaler Ludwig Ferdinand Huber gehad.
Isabelle de Charrière het romans, pamflette en toneelstukke geskryf en musiek gekomponeer. Haar produktiefste tydperk kom eers nadat sy 'n aantal jare in Colombier gewoon het. Temas sluit haar godsdienstige twyfel, die adel en die opvoeding van vroue in.
Haar eerste roman, Le Noble, is in 1763 gepubliseer. Dit was 'n satire teen die adel en hoewel dit anoniem gepubliseer is, is haar identiteit gou ontdek en het haar ouers verkope van die werk gestaak. Daarna het sy 'n portret van haarself vir haar vriende geskryf: Portrait de Mll de Z., sous le nom de Zélide, fait par elle-même. 1762. In 1784 publiseer sy twee werke van fiksie, Lettres neuchâteloises en Lettres de Mistriss Henley publiées par son amie. Albei was briefgerigte romans, 'n vorm wat sy aanhou voordoen het. In 1788 publiseer sy haar eerste pamflette oor die politieke situasie in Nederland, in Frankryk en Switserland.
As bewonderaar van die filosoof Jean-Jacques Rousseau het sy in 1789 gehelp met die postume publikasie van sy werk, Bekentenisse, in 1789. Sy het ook in hierdie tyd haar eie pamflette oor Rousseau geskryf.
Die Franse Rewolusie het veroorsaak dat 'n aantal adellikes na Neuchâtel vlug en dame De Charrière het sommige van hulle bevriend. Maar sy het ook werke gepubliseer waarin sy die houding van die aristokratiese vlugtelinge kritiseer, waarvan die meeste volgens haar niks van die Rewolusie geleer het nie.
Sy het woorde en musiek vir verskillende musikale werke geskryf, of ten minste beplan, maar geen oorleef bo fragmente nie. Sy het 'n libretto van Les Phéniciennes aan Mozart gestuur in die hoop dat hy dit sou toonset, maar geen antwoord is bekend nie. Al haar musikale werke is opgeneem in volume 10 van haar Œuvres complètes; dit sluit ses minuete vir strykkwartet, nege klaviersonates, en tien airs en romanse in.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Isabelle de Charrière, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.