Etienne Roché van Heerden is 'n Suid-Afrikaanse skrywer.
Hy is op 3 Desember 1954 in Johannesburg gebore as die seun van Gerrie, 'n Afrikaanse skaapboer, en Doreen, 'n Engelssprekende wiskundeonderwyseres. Hy het grootgeword op twee plase (waarvan een geleë is teen die berg gelyknamig aan sy roman Toorberg in die distrik Graaff-Reinet). Ná die dood van sy vader het die gesin na Stellenbosch verhuis waar Van Heerden aan die Paul Roos Gimnasium gematrikuleer het. Ná 'n jaar in die Suid-Afrikaanse Vloot het hy aan die Universiteit van Stellenbosch (waar hy ook lid is van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium) studeer en hy die grade B.A. (Regte), LL.B. en honneurs (cum laude) in Afrikaans en Nederlands behaal het. Hy het ook 'n meestersgraad aan die Universiteit van die Witwatersrand en 'n Ph.D. aan die Rhodes-universiteit behaal.
Etienne van Heerden | |
---|---|
Gebore | Etienne Roché van Heerden 3 Desember 1954 |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | Skrywer |
Bekend vir | Romans, gedigte |
Eggenoot | Kaia |
Ouer(s) | Gerrie en Doreen |
Webwerf | http://www.etiennevanheerden.co.za |
Sy loopbaan het al verskeie kinkels gehad: in 1983 is hy as prokureur toegelaat, waarna hy as prokureursklerk in Bellville gaan werk het; daarna het hy by 'n reklamefirma in Kaapstad gaan werk; en daaropvolgens het hy 'n lektoraat aan die Universiteit van Zoeloeland aanvaar om homself meer tyd vir sy skryfwerk te gun. In 1987 is hy aangestel as dosent aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad, waar hy ook 'n kursus in skeppende skryfwerk in Engels en Afrikaans gelei het. Tans is hy professor en hoof van Afrikaans en Neerlandistiek aan die Universiteit van Kaapstad. Van Heerden is dikwels oorsee op besoek – hy is onder meer Honorary Fellow aan die Universiteit van Iowa in die VSA en "Writer in Residence" aan die Universiteite van Antwerpen en Leiden. Hy speel ook 'n belangrike rol in die Afrikaanse kultuur van die virtuele ruimte deurdat hy die stigtersredakteur van die multitalige kulturele webruimte LitNet is. Só speel hy ook 'n leidende rol in die skepping van 'n interaktiewe roman getiteld Die Rooi Roman. Verskeie publikasies vloei uit sy pen, onder meer rubrieke, akademiese artikels, literatuurkritiek en -teorie en vryskut joernalistieke werk.
Van Heerden het in 1978 met die jeugroman Matoli, en as digter in 1981 (tesame met Peter Snyders, Daniel Hugo en André le Roux du Toit) met Brekfis Met Vier gedebuteer. Hy was in die tagtigerjare ook een van die Afrikaanse skrywers wat 'n ontmoeting met ANC-lede by die Victoria-waterval in Zimbabwe gehad het. Van Heerden is een van die beste romanskrywers van sy generasie, wat ook oorsee baie sukses met sy werk behaal het. Tog skryf hy nie vir 'n geselekteerde skrywerspubliek nie, maar is besonder gewild onder die leserspubliek.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Etienne van Heerden, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.