Carl August Sandburg (6 Januarie 1878 – 22 Julie 1967) was 'n Amerikaanse digter, geskiedkundige, romanskrywer, balladesanger en volkskundige.
Hy is in Galesburg (Illinois) van arm Sweedse immigrante-ouers gebore en in sy huis Connemara in Flat Rock (Henderson-distrik, Noord-Carolina) oorlede.
Carl Sandburg | |
---|---|
Carl Sandburg in 1955 | |
Gebore | 6 Januarie 1878 Galesburg, Illinois |
Sterf | 22 Julie 1967 (op 89) Flat Rock, Henderson County, Noord-Carolina |
Nasionaliteit | Verenigde State |
Beroep | joernalis, skrywer |
Bekend vir | Abraham Lincoln Rootabaga Stories |
Eggenoot | Lilian Steichen |
Kinders | Margaret, Helga en Janet |
Ouer(s) | August Sandberg Clara Mathilda (née Anderson) |
Sandburg was ook 'n suksesvolle joernalis, biograaf en outobiograaf. Tydens sy loopbaan het hy twee keer die Pulitzerprys gewen: vir sy biografie oor Abraham Lincoln (Abraham Lincoln: The War Years, 1940) en sy digbundel The Complete Poems of Carl Sandburg (1950).
Carl Sandburg word dikwels as die stem van die Amerikaanse Midweste en die Nywerheidstydperk genoem. Hy was 'n volksdigter, wat in sy werk 'n soort mistiese vaderlandsliefde met sosiale betrokkenheid verbind het. Baie van sy werke is aan die woelige stede van die Midweste gewy soos sy mees bekende gedig Chicago:
Hog Butcher for the World Tool Maker, Stacker of Wheat |
Op die ouderdom van dertien jaar het hy die skool verlaat om as 'n arbeider geld te verdien en deur die Amerikaanse Weste te trek. Dit was die beginpunt van sy lewenslange toewyding aan sy land en sy volk. Ná sy diensplig gedurende die Spaans-Amerikaanse Oorlog, waartydens hy in Puerto Rico gestasioneer was, maar nie aan gevegte deelgeneem het nie, het hy by die Lombard-kollege in Galesburg ingeskryf, waar sy eerste gedigte ontstaan het.
Nadat hy sy graad behaal het, het Sandburg in Milwaukee (Wisconsin) as joernalis gewerk. In die jare 1907 en 1908 het hy as distrik-organiseerder vir die Sosiaal-Demokratiese Party in Wisconsin en in die tydperk tussen 1910 en 1912 as die sekretaris van Milwaukee se Sosialistiese burgemeester Emil Seidel gedien. In 1908 het hy met Lilian Steichen getrou, die suster van die bekende fotograaf Edward Steichen.
Ná sy verhuising na Chicago het hy vanaf 1917 as hoofredakteur van die dagblad Daily News gewerk. Van sy gedigte het in 'n leidende poësietydskrif verskyn, en sy eerste digbundel, Chicago Poems, is al in 1916 gepubliseer. Met werke soos Cornhuskers (1918), Smoke and Steel (1920) en Slabs of the Sunburnt West (1922) het hy vinnig sy reputasie as een van die beduidendste en kleurrykste Amerikaanse digters verwerf. Sy bekende versameling van kinderstories, wat hy oorspronklik vir sy dogters geskryf het, Rootabaga Stories, het eweneens in 1922 verskyn. Latere suksesvolle digbundels het Good Morning, America (1928), The People, Yes (1936) en Harvest Poems 1910-1960 (1960) ingesluit. Remembrance Rock (1948), 'n epiese werk oor die geskiedenis van Amerika, was die enigste roman wat Sandburg geskryf het.
In die tydperk tussen 1926 en 1939 was hy merendeels werksaam met die ses boekdele van sy biografie oor Abraham Lincoln. In hierdie werk, wat nog steeds as die mees gesaghebbende oor Lincoln beskou word, beskryf hy die president as die vleesgeworde Amerikaanse gees. Vir sy biografie is hy in 1939 met die Pulitzer-prys in geskiedkunde bekroon.
Daarnaas het hy as volksanger rondgetrek en sowat 280 volkswysies en -liedere versamel wat in 1927 as The American Songbag verskyn het. Die Amerikaanse volksmusiek het sy belangstelling gewek toe hy op 19-jarige ouderdom na die graanboustreke van Kansas getrek het om daar werk te soek, en in die twintigerjare het begin om volkswysies te versamel. Sy Songbag het bewys dat die Amerikaanse volksmusiek met sy Britse eweknie kon meeding en was een van die eerste sangbundels wat Afro-Amerikaanse wysies en liedere bevat het.
Sandburg se outobiografie, Always the Young Strangers, het in 1953 verskyn. Van sy beste poësie het in die laat digbundel Honey and Salt in 1963 verskyn, waar hy duidelik wegbeweeg het van sy vroeëre ideologies-realistiese grondslag na 'n styl wat sy simpatie teenoor mense, wat hy ontmoet het, oortuigend tot uitdrukking bring. In die 1960's het hy nog steeds lesings gegee en ook die wêreld van televisie aangedurf, waar hy verskeie kere sy liedere gesing, kitaar gespeel en uit sy werke gelees het. Carl Sandburg is op 22 Julie 1967 op Connemara, die plaas van sy gesin, oorlede.
Wiki Commons bevat media in verband met Carl Sandburg. |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Carl Sandburg, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.