Antoine Marie Jean-Baptiste Roger, Comte de Saint-Exupery, of eenvoudig de Saint-Exupery (Franse fonetiese uitspraak: ɑ̃twan də sɛ̃t‿ɛɡzypeʁi; 29 Junie 1900 - 31 Julie 1944), was 'n Franse skrywer, digter, aristokraat, joernalis en baanbreker in die vliegkuns.
Hy het van Frankryk se hoogste literêre toekennings gewen asook die Verenigde State se Nasionale Boekprys. Hy word veral onthou vir sy novelle Le Petit Prince en vir sy liriese skrywes oor lugvaart, waaronder sy Terre des hommes uit 1939.
Antoine de Saint-Exupéry | |
---|---|
Saint-Exupéry in Toulouse, 1933 | |
Gebore | Antoine Marie Jean-Baptiste Roger de Saint-Exupéry 29 Junie 1900 Lyon, Frankryk |
Sterf | Geskatte datum 31 Julie 1944 (op 44) |
Eggenoot | Consuelo Suncín de Sandoval (1931 – sy afsterwe) |
Handtekening | |
Saint-Exupéry was voor die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog 'n suksesvolle kommersiële vlieënier en het lugposroetes in Europa, Afrika en Suid-Amerika gevlieg. Aan die begin van die oorlog het hy by die Franse lugmag aangesluit en verkenningstogte gevlieg totdat Frankryk in 1940 'n wapenstilstand met Duitsland onderteken het. Nadat hy uit die Franse lugmag ontslaan is het hy na die Verenigde State gereis ten einde sy regering te oorreed om oorlog teen Duitsland te verklaar.
Saint-Exupéry het 28 maande in Amerika deurgebring waartydens hy drie van sy belangrikste werke geskryf het. Hierna het hy by die Vrye Franse lugmag in Noord-Afrika aangesluit - alhoewel hy ouer as die maksimum toegelate ouderdom vir sulke vlieëniers was en sy gesondheid in 'n bedenklike toestand was. Hy het verdwyn en sterf vermoedelik op 31 Julie 1944 tydens 'n verkenningstog vanaf Korsika oor die Middellandse See.
Voor die oorlog het Saint-Exupéry bekendheid in Frankryk verwerf as vlieënier. Sy literêre werke het hom na sy dood tot 'n nasionale held in Frankryk verhef. Sy Le Petit Prince is in 300 tale vertaal. Hy het verdere erkenning verwerf met internasionale vertalings van sy ander werke. 'n Internasionale humanitêre groep het die titel van sy filosofiese werk, Terre des hommes, as hul naam aangeneem, en dit is ook gebruik as die sentrale tema van Expo 67 in Montreal, Quebec.
Sy geboortedorp Lyon het ook die belangrikste lughawe aldaar na hom vernoem.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Antoine de Saint-Exupéry, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.