Rudolph Lewis (12 Julie 1887 - 29 Oktober 1933), meer bekend as Okey Lewis, was die eerste Suid-Afrikaner wat 'n goue medalje in fietsry kon wen.
Hy het dit vermag tydens die Olimpiese Somerspele 1912 te Stockholm.
Lewis is in die Waterberg-distrik gebore en het in 1903 in 'n myn begin werk. Later het hy by die spoorweë gewerk en toe uit sy werk bedank om aan die Olimpiese Somerspele deel te neem.
Gedurende 1911 het Lewis 'n 25 myl padwedren te Paarl gewen. Die padproefwedren het op 30 Maart 1912 plaasgevind en Lewis was die enigste ryer van die vyf deelnemers wat die wedren voltooi het. Die wedren was 241 km lank. Lewis is op 5 April tot die Olimpiese span verkies. Die Olimpiese span het op 11 April met die SS Armadale Castle uit Kaapstad vertrek en op 17 April in Southampton aan wal gegaan. Twee weke voor die Spele se opening het hulle per skip in Swede gearriveer.
Die tydtoets vir die fietsryers is oor 315 km gehou op 'n gruispad om die Mälar-meer. Die eerste ryers het op 7 Julie om 2:00 weggespring. Daar was 123 deelnemers uit 16 lande en hulle het met 2 minute intervalle weggespring. Wegspringplekke is per lootjie bepaal, Lewis het tweede weggespring en die eerste ryer na 8 km verbygesteek. Hy het 'n 88-rat Swift fiets gery. Vir die eerste 160 km was die wind van voor en met 10 km oor het hy 'n lekband opgedoen. Hierna moes hy elke 400 stop om die wiel te pomp. Hy het egter die wedren in 10:42:39 voltooi vir sy goue medalje. Slegs 94 deelnemers het die wedren voltooi.
Na die Olimpiese spele het Lewis gedurende 1913 in Duitsland gaan fietry. Hy verskyn op die podium 'n paar keer en keer terug na Suid-Afrika aan die einde van die seisoen. Hy vertrek weer na Europa gedurende 1914 maar die Eerste Wêreldoorlog bring 'n einde aan sy fietsry loopbaan.
Hy sluit by die Duitse magte aan en verower 'n Duitse Ysterkruis voor hy 'n krygsgevange word. Hy keer na die oorlog terug na Suid-Afrika in 'n swak fisieke toestand waarvan hy nooit heeltemal herstel nie. Hy sterf op 29 Oktober 1933.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Rudolph Lewis, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.