John Gavin Malkovich (gebore op 9 Desember 1953) is ’n Amerikaanse akteur en rolprentregisseur wat in meer as 70 rolprente gespeel het.
Hy het Oscar-benoemings gekry vir Places in the Heart en In the Line of Fire.
John Malkovich | |
Malkovich in 2009. | |
Geboortenaam | John Gavin Malkovich |
---|---|
Geboorte | 9 Desember 1953 |
Aktiewe jare | 1976-tans |
Malkovich het op skool in verskeie toneelstukke verskyn en was lid van ’n folk-gospelgroep. Hy het daarna toneelspel studeer. In 1976 was hy ’n medestigterslid van die Steppenwolf-teatergeselskap in Chicago. Hy het in 1980 na New York verhuis om in die Steppenwolf-produksie True West te verskyn; hy het daarvoor ’n Obie-prys gewen. Vroeg in 1982 het hy in A Streetcar Named Desire van Chicago se Wisdom Bridge Theatre gespeel.
Hy het in 1984 ’n Steppenwolf-medeproduksie, Balm in Gilead, geregisseer en daarvoor ’n tweede Obie-prys asook ’n Drama Desk-prys gewen. Sy debuut op Broadway was daardie jaar in Death of a Salesman saam met Dustin Hoffman. Malkovich het ’n Emmy gewen nadat die toneelstuk in 1985 vir televisie aangepas is.
Hy het sy rolprentdebuut in 1984 gemaak as Sally Field se blinde loseerder in Places in the Heart en daarvoor sy eerste Oscar-benoeming vir beste manlike byspeler gekry. Hy was ook Al Rockoff in The Killing Fields. Ander prente sluit in Empire of the Sun en The Glass Menagerie (albei 1987). Die volgende jaar het hy ’n ster geword vir sy uitbeelding van die sinistere en sensuele Valmont in Dangerous Liaisons (1988).
Malkovich het in 1992 in Of Mice and Men gespeel en is in 1994 vir nog ’n Oscar benoem vir sy rol on In the Line of Fire. Hoewel hy die titelrol vertolk het in Charlie Kaufman se Being John Malkovich, het hy ’n effense variasie van homself gespeel, soos aangedui deur die karakter se tweede naam, "Horatio". Hy het ook ’n kameerol gehad in die fliek Adaptation, ook deur Kaufman – hy het homself gespeel tydens die verfilming van Being John Malkovich.
Sy regisseursdebuut was in 2002 met The Dancer Upstairs. In dieselfde jaar het hy die titelrol vertolk in Ripley's Game. Ander prente sluit in The Man in the Iron Mask (1998), The Hitchhiker's Guide to the Galaxy (2005), Eragon (2006), Beowulf (2007), Changeling (2008), Red (2010), Transformers: Dark of the Moon (2011) en Red 2 (2013).
Malkovich het ook sy eie kleremaatskappy, Mrs. Mudd, in 2002 gestig. Die maatskappy het die John Malkovich-mansklereversameling "Uncle Kimono" in 2003 uitgereik en ’n tweede reeks, "Technobohemian," in 2010. Malkovich het self die klere ontwerp.
Hy het in 2008 die titelrol vertolk in die prent The Great Buck Howard. Hy was ook Quentin Turnbull in Jonah Hex (2010). Malkovich is bekend vir sy kenmerkende stem, wat The Guardian beskryf as "’n skril, effens orgasmiese, dralerige stemtoon".
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article John Malkovich, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.