Bethanie is 'n nedersetting in die Xhariep-distriksmunisipaliteit in die Vrystaat.
Bethanie | |
---|---|
Koördinate: 29°35′53″S 25°57′22″O / 29.59806°S 25.95611°O 25°57′22″O / 29.59806°S 25.95611°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Vrystaat |
Distriksmunisipaliteit | Xhariep |
Plaaslike Munisipaliteit | Kopanong |
Stigting | 1834 |
Tydsone | UTC+2 (SAST) |
Skakelkodes | 051 |
Bethanie is 'n voormalige sendingstasie van die Berlynse Sendinggenootskap, in 1834 gestig deur Gebel en Kraul om die Korana te bedien. Die naam is Hebreeus vir 'n huis van ellende. Die stasie is herdoop na Wurasoord in 1919, nadat ene C. Wuras verantwoordelikheid daarvoor oorgeneem het.
Die dorpie is by nagenoeg 29° 36′ nood en 26° oos geleë, aan die Rietrivier, noord van Trompsburg, noordoos van Edenburg, 60 km suid van Bloemfontein en net wes van die N1-hoofpad.
Die Berlynse Sendinggenootskap het in 1834 vyf sendelinge gestuur om hulle te vestig noord van die Oranjerivier op 'n terrein met drie fonteine wat deur Adam Kok aan hulle toegeken is. Op 24 September begin hul met hul werksaamhede daar en die noem die stasie Bethanie, die Huis van Ellende. Hulle rig 'n tydelike kerk en skool op om onder die Korana te werk. Reeds in 1836 word die sendelinge deur vyf nuwes vervang. Theodor Radloff, Ludwig Zerwick, A. Ortlepp en R. Lange staan onder leiding van C.F. Wuras. Tuine, vrugteboorde en damme word deur die bekeerlinge aangelê. Die boerdery ontwikkel met die klem op skape en perde. 'n Wolwassery en 'n skrynwerkerswinkel is begin. In 1845 word die eerste permanente kerkgebou ingewy, maar op 25 September 1869 word reeds 'n nuwe kerkgebou met sitplek vir 500 in gebruik geneem. Destyds was dit die grootse kerkgebou noord van die Oranjerivier. Die Koranna trek weg van die stasie, maar hul plek word gou gevul deur Betsjoeanas (Tswanas) en vrygestelde slawe. Die dorpie ontwikkel so dat dit selfs 'n eie dokter, dorpskantoor en tronk kry. Kleiner hofsake word hier aangehoor.
Bethanie ontwikkel ook tot sentrum van die Duitse kultuurlewe in die binneland van Suid-Afrika. In 1894 bereik die spoorlyn die dorpie. Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog kom die ontwikkeling tot stilstand. Die Eerste Wêreldoorlog versnel die agteruitgang en in 1925 verkoop die Berlynse Sendinggenootskap 'n groot deel van sy plaasgrond. Tot in die 1940’s was hier nog 'n lewendige kerkgemeenskap. Daarna is die Groepsgebiedewet streng toegepas. Gevolglik word die skool in 1953 onder beheer van die Departement van Bantoe-onderwys geplaas en in 1963 is alle jongmense na Thaba Nchu verskuif. Deur 'n geslaagde grondeis in die 1990's is die kerk en sy grond aan die Griekwas toegeken. Dit was die eerste suksesvolle grondeis in die Vrystaat.
Verskeie van die sendelinge wat op hierdie sendingpos gewerk het, het daar of later in ander werkkringe baie bekend geraak. Onder hul nageslag is daar ook verskeie bekende Suid-Afrikaners.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Bethanie, Vrystaat, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.