Volksetimologie

Volksetimologie is die klankverandering (opsetlik of onopsetlik) van woorde wat betekenisloos is tot nuwe woorde wat verstaanbaarder is.

Die ongewone woorde is uitgespreek soos dit vir die sprekers (die gewone mens, breedweg die volk) geklink het en is soms verander of vervorm tot 'n woord wat bekend klink (hetsy deur klank-, hetsy deur begripassosiasie). Volksetimologieë is in Afrikaans eiegoed, en nie uit Nederlands oorgeërf nie. Dit het hetsy uit misverstand, hetsy uit onkunde, hetsy grappenderwys in die volksmond ontstaan. In wese speel volksetimologie nie 'n belangrike rol in die vorming van die nuwe Afrikaanse woordeskat nie. In die negentiende-eeuse Transvaalse koerante word veral met baie konsepte en eiename van Britse (imperialistiese) herkoms mee die spot gedryf.

Begrip

Volgens die taalkundige J.J. Smith is die begrip Volksetymologie in 1852 gemunt deur die Duitse taalgeleerde, "W. Förstemann" (d.i. Ernst Wilhelm Förstemann), wel gegrond op 'n ander taalopvatting. Förstemann en ander taalgeleerdes het destyds die wyse om 'n onbekende woordvorm meer "volks" of "eie" te maak as iets positiefs beskou, 'n uiting van die ware en gesonde volksgees. Hierdie volksgees het geen vrede met 'n woord wat hy nie begryp nie en omskep dit in iets wat vir hom iets beteken (byna soos 'n oester wat 'n pragtige nuwe pêrel skep uit 'n irriterende sandkorreltjie). Vir hierdie taalgeleerdes was volksetimologie dus werklik 'n etimologie wat die volk doelbewus beoefen het.

Die moderne taalkundiges is nie hiermee eens nie, want 'n volk is van nature lui en gaan slaan nie eers die woordherkoms van elke woord na waaroor hy struikel nie. Die gewone spreker besig elke dag duisende woorde en bekommer hom nie in die minste oor die oorsprong daarvan nie. Volksetimologie geskied daarom ook op 'n onbewuste wyse - en het werklik niks met die ware wetenskaplike aard van die etimologie (die navorsing van die woordherkoms) uit te waai nie. Tog bestaan "volksetimologie" letterlik sodra die volk spekuleer waar 'n woord vandaan kom, byvoorbeeld wanneer 'n seun die sabbat met bad in verband bring (omdat mens op die sabbat jou weeklikse bad inkry), of om koekmakranka as verbastering van goed vir krampe te beskou (as geneesmiddel vir maagaandoenings), maar dit is die uitsondering op die reël.

Self 'n goeie voorbeeld van hierdie tipe "volksetimologie" sou wees 'n naam soos Kapokberg, geleë in die Wes-Kaap. Omrede die woord "kapok" in die moderne Afrikaans geredelik verbind word met sneeu, sou die Afrikaanssprekende sonder meer dink die berg is so genoem omdat daar so baie sneeuneerslae in die wintermaande moet wees. Dit is 'n vergissing, want Nicolas-Louis de Lacaille skryf in sy joernaal op 16 Augustus 1752: ce nom lui vient d'une espece d'Arbuste qui porte une fleur qui est une forte de ouate, appellée Kapoc dans les Indes, on l'y cultive pour en faire des lits, comme sont nos lits de plumes. (hierdie naam is afkomstig van 'n struikspesie, wat 'n blom dra wat so sterk soos watte is, genaamd "Kapoc" in (Nederlands)-Indië, wat verbou word om beddens te maak (stop), soos ons verebeddens is.)

Self het Smith geen probleem met die ingeburgerde begrip nie, al is dit hoe misleidend, "mits ons op ons hoede is en geen verkeerde konklusies uit die naam trek nie". H.J.J.M. van der Merwe voer ook aan hierdie begrip is misleidend, "want die term gee dikwels aanleiding tot verwarring met 'etimologie', die taalwetenskap wat hom besighou met die herkoms van woorde". Hy stel 'n ander benaming voor, "iets soos verdraaiing".

Wenslikheid en standaardisering

Baie grappige vervorminge is eendagsvlieë wat nooit werklik deel van die blywende taalskat word nie. Die problematiek is die erkenning daarvan.

Volgens J.J. Smith is die skryftaal nie die getroue beeld van die spreektaal nie - juis omdat dialekte, streekstale en die idiolek in so 'n mate verskil dat ander Afrikaanssprekendes die konteks met moeite sal verstaan, of glad nie. Volgens hom moet die skryftaal so naby as moontlik aan Nederlands bly, "sodat Nederlanders sonder groot inspanning ons boeke kan lees en in ons literatuur kan belangstel"; dus, 'n groter afsetgebied vir die Afrikaanse boek. Wedersyds kan die Afrikaanssprekendes steeds met gemak deur Nederlandse tekste verryk word. Waar daar dus 'n keuse tussen twee woordvorme of spellinge bestaan, behoort die keuse te wees die een wat die naaste op die Nederlands lyk. Die beginsel bestaan om in 'n eenheidstaal alle vervorminge te vermy wat nie buite sekere kringe of streke bekend is nie. Die enigste uitsondering is waar die nuwe volksvorme wel op skrif mag verskyn, soos in romans en ander verhalende werke, "om sekere sprekers of klasse te kenskets, of om lokale kleur aan die vertelling te bied". Wat algemeen gesê word en oral as beskaafde taal geld (en nie neerlandisties onafrikaans voorkom nie, soos bv. nagskade ('nachtschade') in stede van nastergal; hoewel populier tog ook destyds onafrikaans gelyk het teenoor poplier, poppelier, paplier, pappelier, pampelier en tans die norm in die skryftaal is), verdien ook erkenning op skrif.

Onopsetlike verdraaiing

Van die woorde word as korrek in Afrikaans aanvaar, omrede dit nie opsetlik in Afrikaans verdraai is nie, maar uit onkunde (of misverstand) ontstaan het:

  • blaasbalk (blaasbalg; balg = sak, dierpens, buik)
  • aamborstig (ang- of engborstig; dit hou verband met angs)
  • balhorig (balorig of baloorig = onwillig, stuurs)
  • domkrag (duimkrag)
  • dronknes (Eng. drunkenness)
  • hangmat (hamaca)
  • kanferfoelie of kaperfoelie (capri folium (bokblare); Eng. caprifoil)
  • kappertjie (blomsoort, Tropaeolum majus) (kapusynerblom (meer Neerlandisties volgens WAT) < kapucijnbloem (Nederlands), vergelykbaar met Frans capucine (1694) en Duits Kapuzinerkresse, wat almal verwys na die kappie, soos gedra deur 'n spesifieke monnikorde)
  • katjiepiering (Maleisies katjoe-piring)
  • koperkapel (Port. cobra de cappello)
  • kothuis (Eng. cottage)
  • laksman (Mal. laksamana = skerpregter)
  • liddoring (likdoring < likdoorn: lik = lyf; vergelyk litteken < likteken of lijkteken)
  • muisneste (muizenissen = bepeinsinge, gedagtes; musen = om te peins oor kleinigheidjies)
  • nagmerrie (nachtmare of nagmare; mare = kennis, tyding, besoeking, kwelgees, spook, gedagte)
  • perlemoen (perlemoer < parelmoeder < leenvertaling van Middellatyn 'mater perlarum' (moeder van die pêrels) )
  • ribbok (reebok)
  • sondvloed of sonvloed (sinfluot = groot vloed, sind = altyd, voortdurend, aanhoudend)
  • spinnerak (spinnerag of spinrag; rag = netwerk, weefsel)
  • vabond (vagebond = rondloper)
  • vel(d)stoel (valtstoel; valt = vou)
  • weeluis, of weerluis (weegluis: weeg = wand, muur)
  • waatlemoen (waterlemoen < watermeloen < meloen met water)

Opsetlike verdraaiing

Die volgende woorde is opsetlike verdraaiing:

  • baiesukkel (Eng. bicycle)
  • Bakkely [ou Transvaals wat sinspeel op baklei] (Sir Henry Barkly)
  • binnevet of die binnevet van die boud (Eng. benefit (of the doubt))
  • Blou Armaans (Fr. blanc mange)
  • Bottelbier (Bartle Frere)
  • vir botter of vir wors (Eng. for better or for worse)
  • bromkatjies of bromkaatjies (Eng. bronchitis)
  • De Malle Boch (Malaboch, kaptein)
  • Die ou duiwel se slypsteen (Eng. Sir Theophilus Shepstone)
  • duisendtree of -treë (Eng. dysentery)
  • eendjiebyter (Eng. incubator)
  • Francies (Eng. franchise)
  • 'n Ingesuurde paartjie - 'n Gesensureerde paartjie (wat deur die kerk onder sensuur geplaas is, bv. vir ontug; en dus in die pekel sit)
  • Gladsteen (Eng. Gladstone)
  • godliewerolie (Eng. codliver oil)
  • halsband (Eng. husband)
  • katteskeer (katkiseer)
  • Keet (Eng. Keate)
  • kosmyniks (Eng. cosmetics)
  • Krisjan Kaiings (Eng. Christian Science)
  • leek (Eng. league)
  • Lord Roberts van Kan-daar (Lord Roberts van Kandahar; maar nie Kan-hier nie)
  • Martjie Louw (Eng. Martial Law)
  • merrie-korhaan (Eng. merry-go-round)
  • mieliekopter (helikopter)
  • modderkar (Eng. motor car)
  • Mosdop en Gaarland (Eng. Mossop and Garland)
  • neusbek (Eng. nosebag - van 'n perd)
  • oliekolonie (Fr. eau de Cologne; Keulse water / water van Keulen)
  • Ou Soudie (Henry Southy)
  • Oujan-Langjan (Eng. Owen Lanyon)
  • rek hom pens (Eng. recompense)
  • Rooiversbul (Eng. sir Redvers Buller)
  • rypatrys (Eng. repatriation)
  • Saalsak, Meelsak en Appel-in-die-een-oog of Saalsak, Meelsak en Appel-eenoog (Sadrag, Mesag en Abednégo)
  • Spaanse vlooi (Eng. Spanish flu)
  • Trippelmerrie (Tipperary)
  • witstippelmerrie (Eng. vegetable marrow)

Ander voorbeelde

  • aalwyn, alwyn (alwee, alewee)
  • advokaatpeer (avokado)
  • afgrond (affront)
  • afskort, afskorting (afskot)
  • aspaai (Eng. I spy)
  • Australiese voëls (Eng. starlings, spreeus)
  • bankrotwurm (Eng. bancroft's filariasis)
  • Bloukop die leeu (Fr. Beaucoup de L'eau, 'n Franshoekse plaasnaam vir 'volop water' )
  • bromkos (bronkors)
  • buggerygars (budgerigars, budgies)
  • burgermeester* (burgemeester [burg + meester]; meester van 'n burg (oorspronklik kasteel, later stad), nie van mense/burgers nie)
  • deur-die-bos-pere (Fr. beurré Bosc-pere)
  • deur die mat val (door de mand vallen)
  • dikstertmerrie (skertsend, Eng. dictionary)
  • eengaal (egaal)
  • ellieroos (Eng. Early Rose)
  • engeltjie verlaat ons (encephalartos (blom))
  • goeiechristenpeer (Fr. bonchretienpeer)
  • gops (galery of agterste sitplekke, Eng. gods)
  • hartomlyning* (verkeerdelike gebruik vir hartomleiding)
  • hasie-ablou (kinderspel, Eng. castles are blue)
  • Hy is 'n man van toet; was hy beter, dan was hy goed (Maleisies: bantoet)
  • janloers (jaloers; vergelyk ook: Jan se baadjie aanhê, jaloers wees)
  • kaiingpeper (Cayenne-peper)
  • kiewiete (kuwe of kieue)
  • Kinders is 'n seën van die Here, maar hul hou die motte uit die klere (Nederlands: Kinderen zijn een zegen des Heren, maar zij houden de noppen van de kleren; noppen = pluis op wolstof)
  • koetemplaar ['afskaffer'] (Eng. good templar)
  • koringduif (horingkuif)
  • iemand se lof afsteek (iemand die loef afsteek)
  • in die kluis, in die pluis (inkluis)
  • Piston Brommers (Eng. Western Province)
  • sy moses teëkom (Mal. musak, moesoek = vyand, teenstander, meerdere)
  • Oom Kosie sukkel baie in Afrika / Oom Kosie sukkel lekker in Afrika / Kosie sukkel in (die) Afrika (Xhosa, Nkosi Sikelel' iAfrika (God seën Afrika))
  • op sint/op sent (absent)
  • pietersieliekompleister (Eng. basilicon ointment)
  • polgraspille (Eng. polychrest pills)
  • pynkelder (Eng. pain killer)
  • ramnak (almanak)
  • rofkas (rough cast)
  • roubord (robot)
  • samboksalf (sambuksalf > Eng. Zam-Buk ointment)
  • skotskar (Duits Schuttkarren)
  • skuinspan (skuimspaan)
  • soveel van iets weet as 'n kat van sy van (soveel van iets weet soos kat van saffraan)
  • dit gaan ou traan (dit gaan ou trant)
  • steentjieskweek, eendjieskweek, uintjieskweek (Oos-Indiese kweek)
  • Stywe Fisante (Peter Stuyvesant-sigarette)
  • tweespalk (tweespalt)
  • in iemand se vaalwater kom (in iemand se vaarwater kom)
  • voet by stuk hou (voet by stek (grens) hou)
  • 'n waak neem* (Eng. to take a walk; 'n entjie gaan stap, loop, wandel)
  • weergal (weerga)

Nederlands

  • appelflauwte (apoplexie)
  • appelkoos (abrikoos)
  • in je knopjes zijn (in je nopjes zijn)
  • jeukdoos (skertsend) (Eng. jukebox (1939) < jook organ (1937, ouer benaming), afgelei uit jook joint (1935, "hoerhuis, bordeel") < juke/joog (boos, onbetaamlik, ongeorden, uit Gullah, kreool-Engels uit die kusgebied van Suid-Carolina, Georgia en noord-Florida).)
  • klapper (Maleisies: kelapa)
  • kwast (Eng. squash)
  • op sluit (absoluut)
  • ruiterzalf (ruitezalf)
  • scheurbuik (Lat. scorbutus)

Suid-Afrikaanse Engels

  • Cape cart (kapkar)
  • Scotch cart (skotskar > D. Schuttkarren)

Suider-Afrikaanse plekname

Vervorming Oorspronklik Betekenis
Cannaan's Land Kannaland
Cheridouws Poort Tsoaridoas (Khoinaam) “agterpoort”
Committees Flats Kommetjiesvlakte
Goodhouse Gūdaos (Khoinaam) “skaapdrif”
Gousrivier
Goudsrivier
Goudrivier
Gouritsrivier
Grappies Xorabes (Khoinaam) “graafwaterplek”
Gous ≠Goas (Khoinaam) “modder(plek)”
Kaap
Kaapseberg
Ghaap → !hab "plato", "platoberg"
Kraairivier Grey's River vernoem na genl. sir Henry George Grey
Oubees !Khobes (Khoinaam) “kalkfontein”
Ouhoop Auob → uo-!ab "Bitterrivier"
Slangapiesberg Hlangampisi, 'n verkorting van IDlangampisi "Plek of berg van die hiëna"
Sneesvlakte
Sneeze Flats
Sineesvlakte "Sjineesvlakte"
Sous Tsaus (Khoinaam) “put”

Verwysings

Tags:

Volksetimologie BegripVolksetimologie Wenslikheid en standaardiseringVolksetimologie Onopsetlike verdraaiingVolksetimologie Opsetlike verdraaiingVolksetimologie Ander voorbeeldeVolksetimologie NederlandsVolksetimologie Suid-Afrikaanse EngelsVolksetimologie Suider-Afrikaanse pleknameVolksetimologie VerwysingsVolksetimologie

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

EufemismeEienaamHipertensieVoorvoegselGeskiedenis (vakgebied)TussenwerpselHolocaustPerdBosluisLys van bekende Suid-AfrikanersVolhoubare ontwikkelingGeelsugBlaarWinnie Madikizela-MandelaKarakteriseringHartVerenigde KoninkrykTelevisieMobutu Sese SekoLabia (geslagsdele)BosvarkPad na jou hartSeevlakstygingGetalLys van Suid-Afrikaanse voëls (alfabeties)Narsistiese persoonlikheidsteuringVerlede tydWerwelkolomTekstielGroot TrekSkoenlapperNederlandsSlangMenseregtedagSeeAfleiding (taalkunde)RekenaarE-posUitwerking van klimaatsveranderingVoortrekkermonumentBywoordLys van medisinale kruieDrakensbergeKlaviersonate No. 18 in G majeur, D 894 (Schubert)DwelmonttrekkingMangelontstekingRobbeneilandVlekvrye staalSeestroomKappie (skryfteken)BysteekKondensasieSuid-AfrikaProteïenOnderwysKlimaatsverandering in AfrikaNarsismeMateriaalAfkortingCovid-19-pandemie in Suid-AfrikaLenteMIV/vigs in Suid-AfrikaHemelvaartsdagBeaufortskaalKitaarBuck AngelPornografiese akteurWaterstofWet op NaturellengrondLuiperdParlement van Suid-AfrikaSimfonie-orkesVlag van Suid-AfrikaDoelwitRusland🡆 More