Pieter Willem Grobbelaar (*25 Desember 1930, Bloemfontein –† 19 Januarie 2013, Worcester) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer.
Hy verwerf meestal bekendheid vir sy kinder- en jeugverhale, maar lewer ook werke vir volwassenes.
Pieter Willem Grobbelaar is in 1930 in Bloemfontein gebore. Hy ontvang sy laerskoolopleiding tot standerd ses aan die Laerskool De Brug naby Bloemfontein en gaan dan na die Hoërskool Rouxville vir standerds sewe en agt. In 1947 matrikuleer hy aan die Sentraal Hoërskool in Bloemfontein. Sy verdere studies is aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar hy die B.A.-graad en baie later in 1974 die M.A.-graad in Wysbegeerte behaal. Vir 'n ruk gee hy onderwys. Hy begin sy loopbaan as joernalis by Die Burger en sit dit voort by Die Volksblad in Bloemfontein. Hierna word hy in 1956 omroeper-regisseur by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) in Johannesburg en Kaapstad, waar hy onder andere jeugprogramme soos By die boekrak en Skrywers van die toekoms behartig. Dan word hy in 1961 uitgewersredakteur by Tafelberg Uitgewers.
Sedert 1962 woon hy op die wyn- en vrugteplaas Uitkyk naby Franschhoek in die Kaap en boer eers voltyds totdat hy vanaf 1970 dosent is in Afrikaanse Kultuur- en Volkskunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Hier behaal hy in 1981 die D.Phil.-graad met 'n proefskrif oor Die volksvertelling as kultuuruiting met besondere verwysing na Afrikaans. Sedert 1982 is hy departementshoof en vanaf 1984 professor in die Departement van Afrikaanse Kultuur aan die Universiteit van Stellenbosch. Aan die einde van 1995 tree hy af. In hierdie tyd is sy vernaamste belangstelling die opspoor van ou Afrikaanse verhale en liedjies, waarvoor hy die land deurkruis om dit te vind en te dokumenteer. Sy nalatenskap in hierdie verband is 'n ryk kultuurhistoriese erfenis.
Hy is op 28 Februarie 1953 getroud met sy skoolvriendin Cornelia Joubert van Senekal en die egpaar het vier kinders, Erika, Johannes, Marina en Francois.
Hy was redakteur van 'n standaardreeks oor die Afrikaanse kultuur, naamlik Die Afrikaner en sy kultuur en aanbieder van die weeklikse radioprogram Ons erfenis wat ook oor die Afrikaanse volkskultuur handel. Saam met Randall Wicomb, bekende Afrikaanse sanger, was hy ook aanbieder van die radioprogram Die volk as digter, waarin hulle ou Afrikaanse liedjies aan die luisteraars bekend stel. Wicomb speel die liedjie en Grobbelaar vertel die agtergrond daarvan, waar hy dit opgespoor het, waaroor dit gaan en wat dit beteken. Later kry hulle soortgelyke televisieprogramme by, soos Daar staan 'n blom.
Sy vrou is in Desember 2012 in hulle huis in Wellington dood en op Saterdag 19 Januarie 2013 is hy in 'n ouetehuis in Worcester oorlede.
Sy eerste kortverhaal verskyn in Julie 1954 in Die Huisgenoot. Aanvanklik publiseer hy 'n paar kortverhale in tydskrifte, waarna hy vir 'n ruk uitsluitlik vir die radio kortverhale, vervolgverhale, hoorbeelde en hoorspele skryf. Hierna spits hy hom feitlik uitsluitlik toe op volksvertellings en ander verhale vir die jeug, terwyl hy ook gedigte vir hierdie mark en 'n meer volwasse gehoor skryf.
Sy eerste digbundel is Onder die skedelvlag, waarin hy 'n soort singvers skryf in klaarblyklike teenstelling met die spreektaalverse van hierdie tyd. Hy verklaar dan ook in Digter dat “ek moet sing, nie praat”. Aan die einde van sommige gedigte sluit hy “ 'n storie met lesse” in, soos by Ruk-en-roller.
Klawerjas se gedigte het 'n volkse inslag wat herinner aan die verse van Boerneef.
Hessie Kwedet is 'n versameling volksryme wat onder die hoofde Daggaryme, Dopryme en Dryfryme versamel word.
Van sy gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in 'n duisend en enkele gedigte, Goudaar, Die dye trek die dye aan en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Die rooi lappieskombers is 'n versameling van volkskwatryne opgeteken uit die volksmond, wat volgens tema in 29 afdelings verdeel word. Stories op rym en Die tweede gerf is beide versamelings van verhalende verse in Afrikaans, hoofsaaklik uit die ouer digters. In Kommandeer! bundel hy volksang uit die tyd van die Anglo-Boereoorlog.
Vir volwassenes skryf hy ook akademiese monografieë en kortverhale. Skrywers in beeld: C. Louis Leipoldt word deur hom versorg, waar hy deur middel van foto’s en verklarende aantekeninge hierdie digter en dramaturg se lewe en werk belig. As redakteur stel hy die boek Die Vrystaat en sy mense saam, waarin die Vrystaat se geskiedenis, mense en kultuur deur verskillende skrywers beskryf word. Waar die volk skep is 'n samestelling van Abel Coetzee se rubriek oor volkskultuurgoed uit die Brandwag, wat hy in boekvorm bestendig. Hy is ook redakteur van die reeks Die Afrikaner en sy kultuur. In Volkslewe van die Afrikaner gee hy 'n uiteensetting van die Afrikaanse volkskunde in vier afdelings: Die baanbrekers, Die eerste bloei, Die Genootskappers en Die nuwe bedeling. Hy bespreek aspekte soos volkstaal, geloof, wetenskap, lewensvorms, woningbou, volksbedrywe, kleredrag en handwerkkuns as alles voorbeelde van stoflike kultuur.
Poorters is 'n bundel met verhale oor die Vrystaat se mense wat uit sy eie pen kom. Hierin vertel hy, op 'n wyse wat aan Herman Charles Bosman se tegniek herinner, van die mense van De Poort, 'n stasiegemeenskap in die Wes-Vrystaat. 'n Swakheid van die vlees word deur Abraham H. de Vries in Die Afrikaanse kortverhaalboek opgeneem. Dit is 'n humoristiese variasie op die “hensopper”-tema vanuit die Anglo-Boereoorlog. Oom Schalkie word hierin deur sy makkers aangespoor om te gaan “hensop” (“vir ons Republiek”) as gevolg van die maagprobleme wat hy ondervind waarvoor geen kruierate werk nie en wat hulle kommando die bron van talle grappe van die ander Boere maak.
Die alsiende oog bevat nog verhale oor die mense van De Poort, met as verteller van die meeste verhale Wim, seun van die destydse skoolhoof Diem Verwerker. Die titel verwys na die afbeelding van die alsiende oog van God wat talle huise in die verlede tradisioneel versier het, met die implikasie dat niks sy aandag ontgaan nie, selfs al is hy onbetrokke. Kinders van die waterslang, wat deur Abraham H. de Vries in Uit die kontreie vandaan opgeneem word, is spesifiek vir hierdie publikasie geskryf. Ander versamelbundels waarin sy werk opgeneem word, sluit in Kleinbegin in die prosa en Vertellers.
Hy groepeer self sy werke vir kinders en die jeug as Afrikaanse sprokies, Afrikaanse kampvuurstories, Afrikaanse heldeverhale, Afrikaanse volksvertellings, volksrympies, verwerkings van ander lande se volksverhale, werke gebaseer op die volksrympie, kultuurhistoriese romans vir die jeug, rymbundels, kinderboeke, berymings vir kinders, oorspronklike prenteboeke en ander. Onder laasgenoemde tel Die groot nuwe Kinderbybel en die bundel kortverhale vir die jeug, Knapsak, wat hy saam met sy oom, J.J.G. Grobbelaar, versamel.
As samesteller en versamelaar doen hy waardevolle werk deur veral kinder- en jeugverse en -stories in bundels saam te stel en so te sorg dat dit vir opeenvolgende geslagte behoue bly. Trompettertjie is versies vir 4-6 jariges, Wieliewalie is gemik op 6-8 jariges en Mallemeule bevat verse vir 8-10 jariges. Volksrymelaars soos C.W. Joubert, G.A. Hahnekom, Willem Versfeld, W.H. Boshoff en F.W. Reitz se werk word naas van sy eie versies en gediggies van digters soos A.G. Visser, Pirow Bekker, Ronnie Belcher, Tienie Holloway en Helena J.F. Lochner in hierdie versamelings opgeneem. Met Straatryme bundel hy versies wat nie tot die tradisionele volksrympies behoort nie, maar met hierdie rympies dikwels as bron deur hoofsaaklik tieners omvorm word tot 'n stouter en blatanter weergawe. Turkse tapyt en Hopla Hans bevat oorspronklike stories en kinderverse. Van sy kinderverse word opgeneem in Nuwe klein verseboek. Hy doen ook tientalle vertalings, terwyl van sy eie werk ook in Engels vertaal word.
Hy verwerk vele sprokies in Afrikaans en skryf self 'n aantal oorspronklike Afrikaanse sprokies. Verhale oor Uilspieël (Die vermaaklike lewe van Tyl Uilspieël, Uiltjie, uiltjie in die spieël), die Swape (Die Swaaplanders, Die avonture van die sewe swape) en Dom-Jan en Slim-Jan (onder andere in Eendag was daar 'n Domjan) kom wyd verspreid in sy oeuvre voor, in die gemelde en ook ander bundels. Die mense is bang vir Petrus Alsander is 'n soort Afrikaanse Uilspieël, terwyl Die hoë land 'n Afrikaanse variasie is van Jan en die boontjierank. Die troue in die poppekas is 'n fantasieverhaal waarin die marionette vermenslik word. Die mooi danseressie Anjenette en die soldaat Joors is verlief op mekaar. Die Groot Rot besoek egter die poppekas en saai verwoesting onder die marionette, maar die twee verliefdes word tog eindelik met mekaar herenig.
Hy bundel ook Afrikaanse sprokies in Die mooiste Afrikaanse sprokies, Klaas Luiaard, Hasie Musikant, Die dief in die nag, Die lui skoenmaker, Ou Waarsêer, Vlerkvoet, Lanterntjie brand, Ouvrou Rooimus, Die rob-vrou en ander bundels.
Dierverhale oor Jakkals en Wolf soos Wolf en Jakkals in die lang pad en Jakkalsdraf en Wolwedans, asook ander dierverhale (Klaas Naald-hulle en Doer in Dierlandy) is ook volop. In Koning Leeu se verjaarsdag kry ons uitlegte oor verskeie diere se eienskappe, soos byvoorbeeld waarom Krokodil se bek so wyd is, hoe Leeu 'n wilde snorbaard gekry het en hoe die eerste Seekoei ontstaan het. 'n Koning genaamd Leeu bevat Afrikaanse oustories oor diere. In 2012 is Jakkals en wolf op die kortlys vir die toekenning van die M.E.R.-prys vir die beste geïllustreerde kinderboek.
Sy kampvuurstories is van uiteenlopende aard en word gebundel in onder meer Die laaste leeu van die Karoo, 'n Man genaamd Mot, Slang! Slang!, Die twee broers en Die vurige wa. Hierdie bundels bevat dierverhale, jagverhale, spookstories en historiese vertellings, waar die klem grotendeels op die storie val.
Wensfontein is 'n versameling Afrikaanse oustories van diverse aard. Heldeverhale verskyn eers verspreid in verskeie bundels en word later versamel in “Die groot Afrikaanse heldeboek”. Hierin vertel hy die verhale van Racheltjie de Beer, Klara Majola, Wolraad Woltemade, Paul Kruger, Japie Greyling, Dick King, Tsjaka, Dirkie Uys en vele meer. Fabels hoort streng gesproke nie by sprokies nie en kan selfs beskou word as leesstof eerder vir volwassenes as kinders weens die moraliserende en lerende aard daarvan. In Die groot Afrikaanse fabelboek versamel hy fabels van ons bekendste skrywers, insluitende Dr. O’Kulis en C.J. Langenhoven.
Afrikaanse volksverhale sluit in stories oor Klein Duimpie (Pinkie en Duimeling). Blou-ogies,'n plaaslike soort Aspoesterverhaal vir dogters van ses tot agt jaar. Blou-ogies is deur die mensvreter Ou Voetoog gevang om vir hom, sy vrou Eenoog en hul twee dogters, Rooi-Een en Rooi-Twee, huis te hou. Na die fee-peetma tussenbeide kom, word Blou-ogies met haar pa herenig.
Die maanklip is 'n toekomsverhaal wat ontstaan na aanleiding van die aardbewings in Tulbagh in die Boland in 1969, waar ruimtereisigers 'n klip van die maan na die aarde bring, met rampspoedige gevolge. In “Keiser keiser Karelyn” word 'n ryk man en 'n arm dogter teen mekaar afgespeel.
Kabouterman bevat sestien Maleierverhale en ook drie verhale oor Toon Prens, 'n karakter wat ook in die prosa van Minnie Postma voorkom.
In Towerlantern versamel hy dertien volksverhale.
Sy eerste boek, Ou Mi’kai vertel hoe die melkweg sy vuur gekry het, is gebaseer op volksverhale van die San en hy skryf nog Ou Mi’kai-boeke soos Tafelberg se karos, Die storie van die Kangogrotte en Uit Ou Mi’kai se dae. Ou Mi’kai is 'n ou San-vrou. Die wit pyl (wat verduidelik waar die suidewind vandaan kom) en Die drie wonderdogters (waarin eggo, lugspieëling en water as vroue voorgestel word) het ook hulle oorsprong by die San.
Volksverhale hoofsaaklik uit ander lande verskyn in Aandstories vir kleuters (wat ook sprokies soos Rooikappie en Gouelokkies bevat) en Aandstories vir kinders, waarin hy onder andere die verhaal vertel van koning Arthur en die held Siegfried.
Die aarde moet vry wees is een van sy bekendste kinderverhale. Die karakters Jorse, Morse, Luie en Lakke ondertrou in Walhal met rampspoedige gevolge. Hierdie luilakke is ook morsjorse en die verhaal het die eksplisiete natuurbewaringsboodskap dat ons afhanklik is van die aarde en verantwoordelik daarmee moet omgaan.
In Die goue appel is daar 'n wonderboom wat 'n goue appel dra. Tania neem die appel na die stad om dit daar te gaan verkoop en ontmoet verskeie vriendelike karakters op pad daarheen. Elkeen het 'n onskuldige versoek, maar sy jak hulle af, want sy wil die goue appel vir haarself toe-eien. Sy verloor dan die appel, wat die gevolge van selfsug illustreer.
Die ontvoering van Gawie Gans is 'n aanlasverhaal wat vertel hoe die tou mense wat agter die gansdief aanhardloop al hoe langer word, terwyl Lank lewe Leeuhart gebaseer is op die ou resep waar die monster eintlik 'n vermomming is van 'n prins.
Berymings vir kinders sluit in die Moesan-boeke, Moesan die Muisman (later herdruk as Moesan die muis) en Moesan die president. Moesan is 'n kordate muis wat sy stryd op onverwagte wyse wen, in die eerste verhaal om kos vir sy muisgesin te verskaf en in die tweede verhaal om muise van die bedreigings van honde, katte en muisvalle te verlos.
Met sy volksrympies lewer hy belangrike werk deur eerstens bestaande volksrympies te versamel en te laat publiseer en ook daartoe by te voeg deur eie oorspronklike werk. Die aanvang van hierdie werk is die lywige bundel Trippe trappe trone, wat hy daarna opvolg met Varkies in die bone en Koeitjies in die klawer. Trippe trappe trone bevat hoofsaaklik bestaande volksrympies, waarna Varkies in die bone benewens bestaande rympies ook nege gediggies van W.H. Boshoff en nege van W. Versfeld insluit, tesame met twaalf van sy eie rympies wat onder die invloed van die volksrympie ontstaan het. In drie volumes versamel hy vanaf 1989 Die groot Afrikaanse kinderversekeur. Van sy kinderversies word opgeneem in Nuwe Kleinverseboek en Nuwe Kleuterverseboek.
Hoewel meeste van sy werke op die kleiner kinders gerig is, skryf hy ook romans vir die jeug, veral van kultuurhistoriese aard. Die nagberg (wat hy saam met sy oom, J.J.G. Grobbelaar, skryf) vertel die verhaal van Louw Wepener.
Geliefde generaal is die verhaal van generaal J.B.M. Hertzog in romanvorm.
Die seun in die pad is 'n verhaal oor die Vryburgertyd aan die Kaap, soos gesien uit die oogpunt van 'n jong seun.
Langkappie is haar naam is 'n Voortrekkerverhaal oor bygelowe, spoke en die bonatuurlike in hierdie tyd. Langkappie was die spookvrou van die Trek en na oorlewering 'n duiwel of verlore siel uit die hel en die verhaal is gegrond op geskrifte uit hierdie tyd en ook latere koerantberigte.
Die kinders en die veldkornet (later heruitgegee onder die titel Tyd van die penkoppe) vertel van veldkornet Röhm en sy kinderbataljon se spannende wedervaringe tydens die Anglo-Boereoorlog, gebaseer op ware gebeurtenisse.
Korporaal Woltemade is 'n verhaal oor die Kaap van die agtiende eeu, met die seun van Wolraad Woltemade as die hoofkarakter.
Avontuurkamp, wat hy saam met Marius du Plooy skryf, handel oor 'n groep jong seuns wat op 'n oorlewingskamp gaan en daar baie van die veld en die natuur leer.
Die verlore stad skryf hy saam met J.J.G. Grobbelaar. Reinette gaan saam met haar pa, die beroemde argeoloog dr. Heinrich Haller, na die Kalahari op 'n soektog na die geheimsinnige verlore stad. Terwyl Reinette uitsien na die avontuur, is die stadseun Lafras Vermaak, wat ook die soektog saam met sy pa deurmaak, minder beïndruk en sou hy verkies het om in die stad agter te bly. In die Kalahari beleef hy egter 'n ander stel waardes en ervaar ook wat ware kameraadskap beteken wanneer hy en Reinette ontvoer word en die geselskap deurmekaar raak met 'n bende terroriste wat na Suid-Afrika op pad is.
Hy verower in 1968 die C.P. Hoogenhout-prys vir Die mooiste Afrikaanse sprokies en in 1971 die Tienie Holloway-medalje vir Trippe trappe trone en al sy kleuterboeke wat geskik is vir hardop voorlees. Die Genootskap vir Afrikaanse Volkskunde en die ATKV vereer hom in 1972 en 1975 onderskeidelik met 'n oorkonde vir sy werk oor die Afrikaanse volksvertelling en met 'n erepenning vir sy volkskundige geskrifte. In 1976 kry hy 'n toekenning van die Federasie van Rapportryerskorpse vir sy werk oor die Afrikaanse volksrympie en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing gee in die jare 1982–1984 'n toekenning aan hom om veldnavorsing oor die Afrikaanse volksliedjie in afgeleë dele van die land te doen. Hy word in 1984 vereer met die Katrine Harries-toekenning vir Die aarde moet vry wees en weer in 1988 vir Moesan Muis en Lank lewe Leeuhart. In 1986 verower hy 'n Artes-toekenning vir die beste radioprogram met sy reeks programme oor Afrikaanse volksliedjies getiteld Die volk as digter. Hoera vir Moesan is in 1992 naaswenner van 'n ATKV-kinderboekprys vir ouderdomsgroep 6-7 jaar. Hy is medewerker aan verskeie ensiklopedieë, waaronder Die skatkis, Ensiklopedie van die wêreld, Die Afrikaanse Kinderensiklopedie en Die Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. In 2011 ken die Stellenbosse Woordfees hulle Woordtrofee-medalje aan hom toe vir sy lewenswerk.
1963
1964
1965
1966
1967
1968
1969
1970
1971
1972
1973
1974
1975
1976
1977
1978
1979
1980
1981
1982
1983
1984
1985
1986
1987
1988
1989
1990
1991
1992
1993
1997
1999
2001
2002
2003
1962
1980
1994
2000
1963
1964
1968
1969
1972
1974 * Maerland die minstreel – William Steig
1975
1976
1988
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Pieter W. Grobbelaar, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.