Eienaam

'n Eienaam is die naam van 'n persoon of plek, soos Daniël of Gauteng.

Eiename is spesifieke naamwoorde wat altyd met 'n hoofletter geskryf word en gebruik word om iemand of iets unieks te identifiseer.

Eiename onderskei hulle van selfstandige naamwoorde (spesifiek soortname) deurdat hulle:

  • na enkele, unieke sake verwys;
  • gewoonlik nie met die onbepaalde lidwoord ('n) gebruik kan word nie;
  • gewoonlik nie in die meervoud gebruik kan word nie; en
  • gewoonlik nie deur 'n byvoeglike naamwoord bepaal kan word nie.

Tipes eiename

Daar is baie verskillende tipes eiename: vanne, voorname, byname, toename (name wat 'n beskrywende element bygevoeg kry), name van bevolkingsgroepe, taalbenamings, geografiese name, straatname, geologiese tydperke, maand- en dagname, name vir geskiedkundige gebeurtenisse ensovoorts. Hier is 'n paar voorbeelde:

  • Arnold, Jan-Hendrik, Michelle
  • Marais, Botha, Van der Merwe
  • Kleinjan, Rooi Koos, Sarie Grootlieg
  • Athena, Nimrod, Zeus
  • Australiër, Griekwa, Khoi
  • Afrikaans, Engels, Suid-Sotho
  • Hoofstraat, Kerkstraat, Soutpansbergweg
  • Anglo-Boereoorlog, Tweede Wêreldoorlog
  • Dinsdag, Donderdag
  • Maart, November
  • Alexander die Grote, Elizabeth the Tweede, Modjadji die Reënkoningin
  • Gatjieponder, Tukkie
  • Klaas Vakie, Koning Leeu, Liewe Heksie, Moeder Aarde
  • Goeie Vrydag, Kersfees, Ramadaan
  • Moedersdag, Valentynsdag

Samestellings met eiename

Benewens eiename wat net uit een woord bestaan (Johan, Vrystaat), kan 'n eienaam ook uit twee of meer dele bestaan wat met hoof- en/of kleinletters in verskillende kombinasies geskryf word (Van Zyl, Dooie See, Kaap die Goeie Hoop). 'n Eienaam kan ook gevorm word deurdat twee soortname bymekaargevoeg word (Kerkstraat). Indien 'n eienaamverbinding as geheel aan die vereistes van eiename voldoen, tree die verbinding as eienaam op. So nie tree die verbinding as soortnaam op.

Daar kan tussen die volgende tipes eienaamverbindings onderskei word:

  • 'n Eienaamverbinding as eienaam: In so 'n geval word 'n eienaam aan 'n soortnaam of ander eienaam (of meer as een van elk) verbind en dit vorm dan 'n samestelling wat ook as eienaam optree, bv. die Nelspruithospitaal.
  • 'n Eienaamverbinding as soortnaam: In so 'n verbinding sluit die samestelling een of meer eiename in, maar die geheel tree nie as eienaam op nie, bv. 'n Toyota-onderdeel.
  • 'n Soortnaamverbinding as eienaam: In so 'n geval verkry die verbinding eers eienaamstatus wanneer soortnaamwoorde saamsmelt en 'n naam vorm, bv. Rietvlei. Baie straatname word so saamgestel, bv. Bloedstraat, Kerkstraat.

Afleidings van eiename

  • Afgeleide byvoeglike en selfstandige naamwoorde van eiename (uitgesonderd multiwoordeiename, saamgestelde eiename wat met 'n koppelteken vas geskryf word, geografiese eiename en taalbenamings) kan met 'n hoofletter of 'n kleinletter begin. Bv. Boeddhisties of boeddhisties; Bybels of bybels; Darwinisties of darwinisties; Gregoriaans of gregoriaans; Hertzogiet of hertzogiet; Marxisties of marxisties.
  • Afgeleide byvoeglike en selfstandige naamwoorde van multiwoordeiename, saamgestelde eiename wat met 'n koppelteken vas geskryf word, geografiese eiename en taalbenamings behou die hoofletter(s), spasie(s) en/of koppelteken(s) van die basis. Bv Suid-Afrikaner, Nuwe Testamentikus, Gautenger, Anglo-Amerikaas, Brits.
  • Wanneer so 'n byvoeglike naamwoord saam met 'n soortnaam 'n woordgroep vorm, begin die tweede deel van die woordgroep met 'n kleinletter. Bv Belgiese sjokolade, Duitse masels, Kaapse wyn, Switserse knipmes.
  • Werkwoorde wat van eiename afgelei is, uitgesonderd multiwoordeiename en saamgestelde eiename wat met 'n koppelteken vas geskryf word, begin met 'n kleinletter. Bv. amerikaniseer, google, pasteuriseer, verafrikaans, verwesters.
  • Indien 'n werkwoord afgelei word van 'n multiwoordeienaam (bv. New York) of 'n saamgestelde eienaam wat met 'n koppelteken vas geskryf word (bv. Suid-Afrika), word die skryfwyse van die basis behou. Bv. ver-Suid-Afrikaans; Suid-Afrikaniseer, New Yorkifiseer.
  • Indien byvoeglike en selfstandige naamwoorde met behulp van voorvoegsels soos on-, ont-, en ver- en/of agtervoegsels soos -asie en -ing afgelei word van 'n werkwoord wat op 'n eienaam berus, word die voor- en/of agtervoegsel sonder 'n koppelteken vas aan die stam geskryf en begin die eienaamelement met 'n kleinletter. Bv herverfransing, verafrikaanste, afrikanisasie, anglisering.

Soortname as eiename

Soortname wat as eiename of as dele van meerledige eiename optree, kry aanvangshoofletters:

  • Nuwe Testament
  • Departement van Buitelandse Sake, Fakulteit Geesteswetenskappe
  • Hooggeregshof van Suid-Afrika
  • Afrikaanse Hoër Seunskool
  • Grieks-Ortodokse Kerk
  • Kommissie vir Waarheid en Versoening
  • Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
  • Arbeidersparty, Christen-Demokratiese Unie
  • Uniegebou, Administrasiegebou
  • Hoëveld, Langeberge
  • Melkweg, Suiderkruis
  • Vrede van Vereeniging, Eerste Wêreldoorlog
  • Hervorming, Middeleeue, Nasionale Hartweek
  • Derde Wêreld, die Ooste, Noordpool

Eiename as soortname

Eiename wat as soortname optree, behou gewoonlik die hoofletters van hul eienaamekwivalente.

  • Volkswagens, Corollas, Klipdrift, Lux, Stuyvesants
  • 'n Stel Van Wyk Louws, sewe Oscars

Eienaamverbleking

'n Eienaamverbleking begin gewoonlik met 'n kleinletter:

  • adonis (aantreklike man) teenoor Adonis (mitologiese figuur)
  • amasone (strydbare vrou) teenoor Amasone (mitologiese figuur)
  • bosbou (aanplant van bosse) teenoor Bosbou (departementsnaam)
  • moederaarde (grond) teenoor Moeder Aarde (personifikasie)
  • 'n blinkstefaans, 'n plaasjapie, braille, cutex, mauser of mouser, vaseline.

Meervoude van eiename

  • Eiename wat op die uitgespreekte konsonantletters s, x of z of die konsonantgroepe sch, sh of tz eindig, kry 'n meervoudsvorm met -e. Bv. Buyse, Strausse, Marxe, Scholtze.
  • Eiename wat op die konsonantletters c, d, f, g, h, k, l, m, n, q, r of t of die konsonantgroepe ch of gh eindig, kry 'n meervoudsvorm met -s. Bv. Lombards, Boshoffs, Bosmans, Rautenbachs, Hattinghs.
  • Eiename wat op 'n onbeklemtoonde a, e, ie of oo eindig, kry 'n meervoudsvorm met -s. Bv. Bothas, Reynekes, Zeelies, Naidoos, Prinsloos.
  • Eiename wat op 'n y eindig, kry 'n meervoudsvorm met -s. Bv. Kays, De la Reys, Roys, Barrys, Reddys.
  • Eiename wat op 'n beklemtoonde a of op i, o of u eindig, kry 'n meervoudsvorm met -'s. Bv. Van Breda's, Buthelezi's, Hugo's, Mahlangu's.
  • Eiename wat op 'n vokaalletter met 'n diakritiese teken eindig, kry 'n meervoudsvorm met -s. Bv. Andrés, Kotzés, Naudés.
  • Eiename wat op 'n onuitgespreekte e of s eindig, kry 'n meervoudsvorm met -'e of -'s. Bv. Estelle'e, Suzette'e, Terblanche'e, Celliers's, Du Plessis's.
  • Eiename wat op 'n onuitgespreekte t, w, x of z eindig, kry 'n meervoudsvorm met -s. Bv. Du Toits, Rossouws, Rouxs.

Eiename uit Afrikatale

Eiename uit die Afrikatale behou in Afrikaans die spelling en skryfwyse wat hulle in die brontaal het, behalwe dat die klasvoorvoegsel gewoonlik weggelaat word.

  • Geografiese name: Bophuthatswana, Burundi, Lesotho, Malawi
  • Persoonsname: Dingane, Mpande, Shaka, uMzilikazi (in Zoeloe)
  • Groepsname: Dlamini, Ndebele, Qwabe
  • Sibbename: Gumede, Khumalo, Ngwe
  • Regimentsname: Gobamakhosi, Thulwana
  • Taalbenamings: Ndebele, Sotho, Swati of Swazi, Tsonga, Tswana, Venda, Xhosa, Zoeloe of Zulu.

Soms kan 'n selfstandige naamwoord van 'n eienaam afgelei wees, maar dan verloor dit sy hoofletter. 'n Goeie voorbeeld is die lugskip "zeppelin" wat na 'n persoon "Zeppelin" genoem is: die Duitse graaf Ferdinand von Zeppelin. In Duits is die reëls nogtans anders. Daar word alle selfstandige naamwoorde met 'n hoofletter geskryf en heet die lugskip ook "Zeppelin".

Kyk ook

Eksterne skakels

Bronne

Afrikaanse woordelys en spelreëls, 2017.

Tags:

Eienaam Tipes eienameEienaam Samestellings met eienameEienaam Afleidings van eienameEienaam Soortname as eienameEienaam Eiename as soortnameEienaam verblekingEienaam Meervoude van eienameEienaam Eiename uit AfrikataleEienaam Kyk ookEienaam Eksterne skakelsEienaam BronneEienaamDaniëlGautengHoofletterSelfstandige naamwoord

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

KatoenKunselementeMediese diagnoseSwawelSuid-Afrikaanse algemene verkiesing van 1994MuskeljaatkatGlobaliseringSelfvertroueSteenkool in Suid-AfrikaWhatsAppVlag van Suid-AfrikaHorlosieGedigPretoriaNeurenberg-verhorePriemgetalWinnie Madikizela-MandelaPrimêre sektor van die ekonomieVloeistofDesimale breukeWesterse filosofieTweede WêreldoorlogRosa ParksGautengD.J. OppermanErfenisJeanette FerreiraMynbouVierkantswortelPaasfeesNasionaal-Sosialistiese Duitse ArbeiderspartyGoudkus (streek)7de LaanSkrywerAtoomHartaanvalNasionale VrouedagNatuurbewaringKonsentrasiekampVoorvoegselSoortnaamVergelykings (taalkunde)SeisoenVoortrekkermonumentBeleggingYstertydperkSpringbokRobbeneilandSeegolfLys van Afrikaanse skrywersLys van Afrikaanse televisiereeksePlae van EgipteSamestellende afleidingLangste woordGasBlaarSmaakOu Apostoliese KerkNicole StraussKoorsHemelvaartsdagProstaatkankerPornografiese subgenresToringVioolAnti-inflammatoriese middelWikiquoteWater (molekuul)AfrikanerweerstandsbewegingKatKlavierSeksueel oordraagbare infeksieSpinnekopDwelmmiddelVerkleurmannetjieBybel🡆 More