Ethiopië: Landingeslote land in Oos-Afrika aan die Horing van Afrika

Ethiopië of Etiopië (Afar: Itiyoophiyaa; Amharies: ኢትዮጵያ, ʾĪtyōṗṗyā, luister (hulp·inligting); Ge'ez: ኢትዮጵያ; Oromo: Itoophiyaa; Somalies: Itoobiya; Tigrinya: ኢትዮጵያ), amptelik die Federale Demokratiese Republiek Ethiopië, is 'n landingeslote land in Oos-Afrika in die Horing van Afrika.

Ethiopië grens in die noorde aan Eritrea, in die ooste aan Djiboeti en Somalië, in die suide aan Kenia en in die weste aan Soedan en Suid-Soedan. Die land beslaan 'n oppervlakte van 1 104 300 km² en het in 2021 'n bevolking van meer as 117 miljoen gehad. Die hoofstad en grootste stad is Addis Abeba, wat sentraal in Ethiopië geleë is.

Federale Demokratiese Republiek Ethiopië
  • Ityoppiah Federalih Demokrasih Ummuno  (Afar)
  • የኢትዮጵያ ፌዴራላዊ ዴሞክራሲያዊ ሪፐብሊክ  (Amharies)
  • Rippabliikii Federaalawaa Dimokraatawaa Itiyoophiyaa  (Oromo)
  • Jamhuuriyadda Dimuqraadiga Federaalka Itoobiya  (Somalies)
  • ናይኢትዮጵያ ፌዴራላዊ ዴሞክራሲያዊ ሪፐብሊክ  (Tigrinya)
Vlag van Ethiopië Embleem van Ethiopië
Vlag Embleem
Volkslied: የዜግነት ክብር
(Amharies vir: "Maart vorentoe, Liewe Moeder Ethiopië")
Ligging van Ethiopië
Hoofstad Addis Abeba

9°1′N 38°45′O / 9.017°N 38.750°O / 9.017; 38.750

Grootste stad Addis Abeba
Amptelike tale Afar, Amharies, Oromo, Somalies en Tigrinya
Regering

President
Eerste minister
• Adjunkpremier
Etnofederale parlementêre
grondwetlike republiek
Sahle-Work Zewde
Abiy Ahmed
Demeke Mekonnen
Onafhanklikheid
Vorming
• Dʿmt
Koninkryk Aksoem
Keiserryk van Ethiopië
• Huidige grondwet


ca. 980 v.C.
ca. 100 n.C.
1137–1974
21 Augustus 1995
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
1 104 300 km2  (26ste)
426 400 myl2
0,7
Bevolking
 - 2021-skatting
 - 2007-sensus
 - Digtheid
 
117 876 227 (12de)
73 750 932
92,7 / km2 (123ste)
240,1 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2021-skatting

$293,485 miljard (58ste)
$2 973

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2021-skatting

$93,966 miljard (65ste)
$952

MOI (2019) Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 0,485 (173ste)  –  laag
Gini (2015) 35,0 –  medium
Geldeenheid Birr (ETB)
Tydsone
 - Somertyd
OAT (UTC+3)
nie toegepas nie (UTC+3)
Internet-TLD .et
Skakelkode +251

Die land se volle naam in sy vyf amptelike tale is: ityoppiah federalih demokrasih ummuno (Afar); የኢትዮጵያ ፌዴራላዊ ዴሞክራሲያዊ ሪፐብሊክ, yeʾĪtiyoṗṗiya Fēdēralawī Dēmokirasīyawī Rīpebilīk (Amharies), ; Rippabliikii Federaalawaa Dimokraatawaa Itiyoophiyaa (Oromo); Jamhuuriyadda Dimuqraadiga Federaalka Itoobyaa (Somalies); en ናይኢትዮጵያ ፌዴራላዊ ዴሞክራሲያዊ ሪፐብሊክ, nayi'ītiyop'iya fēdēralawī dēmokirasīyawī rīpebilīki (Tigrinya).

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek
Addis Abeba, die hoofstad van Ethiopië.

Ethiopië se nasionale identiteit is gewortel in die historiese en huidige rolle van die Christendom en Islam, asook die onafhanklikheid van die land van buitelandse heerskappy, soos die geval was in verskeie antieke Ethiopiese koninkryke. Van die oudste skelette van mense met moderne anatomie is in Ethiopië ontdek. Dit word algemeen beskou as die gebied van waar moderne mense eerste na die Midde-Ooste en verder plekke migreer het. Volgens linguiste het die eerste sprekers van Afro-Asiatiese tale hulle in die Neolitiese Tydperk in die Horing-gebied gevestig. Van die 2de millennium v.C. af was Ethiopië vir die grootste deel van sy geskiedenis ’n monargie. Volgens oorlewering is die monargie gestig deur die Salomoniese Dinastie van die koningin van Skeba, onder sy eerste koning, Menelik I. In die eerste eeue het die Koninkryk Aksoem die beskawing in die streek verenig gehou.

Gedurende die Wedloop om Afrika in die laat 19de eeu was Ethiopië en Liberië die enigste twee lande wat hulle soewereiniteit te midde van kolonialisme behou het, en baie nasies op die kontinent wat pas onafhanklik geword het, het die Ethiopiese vlagkleure, groen, goud en rooi, aangeneem. In dié tyd het Ethiopië sy moderne grense vasgestel deur middel van groot verowerings van gebiede in sy ooste, weste en suide. Ethiopië was die eerste onafhanklike Afrika-lid van die Volkebond en die Verenigde Nasies. Die land is in 1936 deur Italië beset en het Italiaans-Ethiopië geword as deel van Italiaans-Oos-Afrika, totdat dit vyf jaar later, in 1941 tydens die Tweede Wêreldoorlog, bevry is. Tydens die Italiaanse bewind het die regering die eeue oue praktyk van slawerny afgeskaf, en verstedeliking het stelselmatig toegeneem.

In 1974 is die langdurige Ethiopiese monargie onder Haile Selassie omvergewerp deur die Derg, ’n kommunisties-militêre regering wat deur die Sowjetunie gesteun is. In 1987 het die Derg die Demokratiese Volksrepubliek Ethiopië gestig wat in 1991 deur die Ethiopiese Rewolusionêre Demokratiese Volksfront omvergewerp is. Dit was die heersende politieke koalisie tot in 2019, toe dit deur Abiy Ahmed se Welvaartparty opgevolg is.

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek
'n Kaart van Ethiopië.

Ethiopië is ’n nasie met vele tale; daar is sowat 80 etnolinguistiese groepe – die grootse vier is die Oromo, Amhare, Somaliërs en Tigrinya. Die meeste mense in die land praat Afro-Asiatiese tale tale van die Koesjitiese of Semitiese tak. Verder word Omotiese tale deur etniese minderheidsgroepe in die suidelike streke gepraat. Nilo-Sahariese tale word ook deur Nilotiese minderheidsgroepe gepraat. Oromo het die meeste moedertaalsprekers, terwyl Amharies die meeste totale sprekers het. Ge'ez bly belangrik as ’n liturgiese taal vir beide die Ethiopies-Ortodokse Tewahedo-kerk en die Eritrees-Ortodokse Tewahedo-kerk en vir die Beta Israel. Die meeste bewoners is Christene (veral van die Ethiopies-Ortodokse Tewahedo-kerk en P'ent'ay), en die historiese Koninkryk Aksoem was een van die eerste state wat dié geloof aangeneem het. ’n Derde van die bewoners volg Islam, veral Soenni. Die land het die oudste Moslemnedersetting in Afrika, by Negash. ’n Aansienlike bevolking Jode, bekend as Beta Israel, het ook tot in die 1980's in Ethiopië gewoon.

Die land is vol geografiese teenstrydighede, van die uitgestrekte en vrugbare weste met sy woude en talle riviere tot die wêreld se warmste nedersetting, Dallol in die noorde. Die Ethiopiese Hoogland is die grootste aaneenlopende bergreeks in Afrika, en die Sof Omar-grotte het een van die kontinent se langste grotte (15,1 km). Ethiopië het ook die tweede grootste getal Unesco-wêrelderfenisgebiede in Afrika.

In die 1970's en 1980's het Ethiopië burgerlike onrus en die Rooi Terreur-suiwerings beleef, wat sy ekonomie geknou het. Die land het sedertdien herstel en het in 2010 die grootste ekonomie (volgens BBP) in Oos-Afrika gehad, maar bly een van die wêreld se armste lande. Armoede, hongersnood, korrupsie, ’n swak infrastrutuur, min respek vir menseregte en beperkte toegang tot gesondheid en opvoeding staar die land in die gesig – net 49% is geletterd.

Etimologie

Die Griekse naam Αιθιοπία (Aithiopia, van Αιθίοψ Aithiops, "Ethiopiër") kom van die woorde αἴθω (aitho, "ek brand") + ὤψ (ops, "gesig"). Volgens Liddell-Scott Jones se Greek-English Lexicon beteken dit as selfstandige naamwoord "gebrande gesig" en as byvoeglike naamwoord "rooibruin". Die historikus Herodotos het die term gebruik vir dié dele van Afrika suid van die Sahara wat toe aan die "bewoonde wêreld" bekend was. Die Griekse term kan ook ’n volksetimologie wees vir die Egiptiese term athtiu-abu, wat beteken "rowers van harte". Dié Griekse naam is deur Amharies geleen as ኢትዮጵያ, ʾĪtyōṗṗyā.

In Grieks-Romeinse inskripsies was Aethiopia ’n spesifieke toponiem vir antieke Nubië. Die naam Aethiopia verskyn ook in baie vertalings van die Ou Testament met verwysing na Nubië. Na aanleiding van die Hellenistiese en Bybelse tradisie lui die Monumentum Adulitanum, ’n 3de-eeuse inskripsie uit die Koninkryk Aksoem, dat Aksoem se destydse heerser regeer het oor ’n streek wat in die weste begrens is deur die gebied Ethiopië en Sasu. Koning Ezana van Aksoem het Nubië die volgende eeu geannekseer en die Aksoemiete het die naam "Ethiopiërs" vir hulleself aanvaar.

In die 15de-eeuse Boek van Aksum, in Ge'ez, kom die naam "Ethiopië" van ’n legendariese individu met die naam Itijopp'is. Hy was ’n seun van Kus, die seun van Gam, wat nie in die Bybel genoem word nie. Hy het glo die stad Aksoem gestig.

Buite die land was Ethiopië eens bekend as Abessinië. Dié toponiem is afgelei van die gelatiniseerde vorm van die antieke Ḥabashat, wat gebruik word in die Ge'ez-weergawe van die Ezana-inskripsie en in Arabies Ḥabasha is.

Geskiedenis

Voorgeskiedenis

Verskeie belangrike vondste het Ethiopië en die omringende gebied laat uitstaan in paleontologie. Die oudste hominiede wat tot dusver in Ethiopië ontdek is, is die 4,2 miljoen jaar oue Ardipithecus ramidus (Ardi), wat in 1994 deur Tim D. White gevind is. Die bekendste hominied wat ontdek is, is Australopithecus afarensis (Lucy). Die spesimen is plaaslik as "Dinkinesh" bekend en is in 1974 in die Awashvallei van Ethiopië se Afarstreek ontdek deur Donald Johanson. Dit is een van die volledigste en bes bewaarde fossiele van Australopithecus wat nog ontdek is. Lucy se wetenskaplike naam verwys na die streek waar die ontdekking gedoen is. Die hominied het na raming 3,2 miljoen jaar gelede gelewe.

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
’n Skedel van Homo sapiens idaltu.

Ethiopië word ook beskou as een van die eerste plekke waar die anatomies moderne mens, Homo sapiens, gewoon het. Die oudste van dié plaaslike fossiele vondste, die Omo-oorblyfsels, is in die suidwestelike Omo Kibish-gebied opgegrawe en dateer uit die Middel-Paleolitikum van sowat 200 000 jaar gelede. Verder is skelette van Homo sapiens idaltu op ’n terrein in die Middel-Awashvallei ontdek. Hulle is sowat 160 000 jaar oud en kan dele wees van ’n uitgestorwe subspesie van Homo sapiens, of die onmiddellike voorouers van die anatomies moderne mens. Fossiele van argaïese mense wat in Marokko opgegrawe is, is sedertdien gedateer as uit ’n vroeëre tydperk, sowat 300 000 jaar gelede, terwyl Omo-Kibish I (Omo I) van Suid-Ethiopië sover bekend die oudste anatomies moderne menslike skelet is (196 000 jaar).

Volgens linguiste het die eerste Afro-Asiatiessprekende bevolkings tydens die Neolitikum in die streek aangekom uit hulle vermeende oorspronklike vaderland in die Nylvallei of die Nabye Ooste. Ander geleerdes glo die Afro-Asiatiese familie het in die Horing van Afrika ontstaan en dat die sprekers later van daar af versprei het.

In 2019 het argeoloë ’n 30 000 jaar oue rotsskuiling uit die Middel-Steentydperk by Fincha Habera in die Baleberge van Ethiopië ontdek – op ’n hoogte van 3 469 meter bo die seevlak. Op hierdie hoogte is mense aan beide hipoksie (’n gebrek aan suurstof) en ekstreme weer blootgestel. Volgens ’n studie wat in die tydskrif Nature gepubliseer is, is dit ’n bewys van die vroegste permanente menslike woonplek op groot hoogtes wat nog ontdek is. Duisende dierebene, honderde stukke steengereedskap en antieke vuurmaakplekke is ontdek, asook bewyse van ’n dieet van reusetandmolle.

Bewyse van die vroegste bekende projektiele met klippunte (’n tipiese wapen van Homo sapiens) is in 2013 op die Ethiopiese terrein Gademotta ontdek. Dit is sowat 279 000 jaar oud. In 2019 is nog bewyse van komplekse projektielwapens uit die Middel-Steentydperk by Aduma, ook in Ethiopië, ontdek wat sowat 80 000 tot 100 000 jaar oud is. Die punte was waarskynlik deel van pyle wat deur spieswerpers afgevuur is.

Oudheid

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Die Obelisk van Aksoem.

Omstreeks die 8ste eeu v.C. is ’n koninkryk met die naam Dʿmt in Tigray en Eritrea gestig. Die hoofstad was Jeha in Noord-Ethiopië. Die meeste historici dink dié beskawing was inheems Ethiopies, hoewel vroeër vermoed is dit was onder Sabese invloed vanweë laasgenoemde se heerskappy oor die Rooisee.

Ander geleerdes beskou Dʿmt as die resultaat van ’n vereniging van Afro-Asiatiessprekende kulture van die Koesjitiese en die Semitiese tak; naamlik plaaslike Agau-volke en Sabeërs van Suid-Arabië. Ge'ez, die antieke Semitiese taal van Ethiopië, het egter vermoedelik onafhanklik ontwikkel van Sabees, een van die Suid-Semitiese tale. Reeds omstreeks 2000 v.C. het ander Semitiessprekendes in Ethiopië en Eritrea gewoon waar Ge'ez ontwikkel het. Daar word nou vermoed die Sabese invloed was klein en beperk tot ’n paar plekke, en dat dit ná ’n paar dekades of ’n eeu verdwyn het. Dit kon ’n handels- of militêre kolonie gewees het in ’n alliansie met die Ethiopiese beskawing van Dʿmt of ’n ander proto-Aksoemitiese staat.

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Muntstukke van koning Endubis van Aksoem, 227-'35, in die Britse Museum. Die inskripsie in antieke Grieks lui: "ΑΧΩΜΙΤΩ ΒΑΣΙΛΕΥΣ" ("KONING VAN AKSOEM") en "ΕΝΔΥΒΙΣ ΒΑΣΙΛΕΥΣ" ("KONING ENDUBIS"). Grieks was teen dié tyd die lingua franca en die konings het dit op muntstukke aangebring om buitelandse handel te vereenvoudig.

Ná die val van Dʿmt in die 4de eeu v.C. is die Ethiopiese plato oorheers deur kleiner opvolgerkoninkryke. In die eerste eeu n.C. het die Koninkryk Aksoem ontstaan in wat nou Tigray en Eritrea is. Volgens die Middeleeuse Boek van Aksoem is die koninkryk se eerste hoofstad, Mazaber, gebou deur Itijopp'is, seun van die Bybelse Kus. Aksoem het later sy heerskappy uitgebrei na Jemen aan die ander kant van die Rooisee.

Die Persiese profeet Mani noem Aksoem in die 3de eeu saam met Rome, Persië en China as die vier groot magte van dié tydperk.

Omstreeks 316 n.C. het die twee broers Frumentius en Edesius van Tirus hulle oom op ’n reis na Ethiopië vergesel. Toe die skip aan die Rooiseehawe vasmeer, het die plaaslike mense al die reisigers buiten die broers doodgemaak. Die twee is as slawe na die koninklike hof geneem. Hulle het vertrouensposisies by die monarg gekry en het lede van die hof tot die Christendom bekeer. Frumentius het die eerste biskop van Aksoem geword. ’n Muntstuk uit 324 wys Ethiopië was die eerste land naas Armenië (in 301) wat die Christelike geloof aangeneem het, hoewel dit aanvanklik net tot hofkringe beperk was.

Die verswakkende Koninkryk Aksoem het in die 9de eeu tot ’n einde gekom toe Goedit die dinastie se laaste koning verslaan. Koningin Goedit, wat 40 jaar lank regeer het, wou die Christelike geloof afskaf deur kerke af te brand en Christene van die Ortodokse Tewahedo-kerk te laat kruisig; die kerk is in dié tyd as die staatsgodsdiens beskou. Sy het ook ’n groot deel van die nalatenskap van die Koninkryk Aksoem vernietig. Haar bewind het eindelik in 912 tot ’n einde gekom nadat sy deur die Zagwe-dinastie verslaan is.

Middeleeue

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Dawid II, keiser van Ethiopië van 1507 tot 1540 en lid van die Salomoniese Dinastie.

Die Zagwe-dinastie het tussen die 12de en 13de eeu oor groot dele van die hedendaagse Ethiopië en Eritrea regeer. Die dinastie se naam kom van die Koesjitiessprekende Agau-volk van Noord-Ethiopië. Die bewind van die Zagwe-dinastie is deur Jekoeno Amlak beëindig. Van 1270 tot met die Zemene Mesafint (Era van Prinse) het die Salomoniese Dinastie oor die Keiserryk Ethiopië regeer.

In die vroeë 15de eeu wou Ethiopië diplomatieke kontak met Europa maak, vir die eerste keer sedert die Koninkryk Aksoem. ’n Brief van Hendrik IV van Engeland aan die keiser van Abessinië het bewaar gebly. In 1428 het Isak I twee gesante na Alfonso V van Aragon gestuur. Dié het self twee gesante gestuur, maar hulle het nie weer na Aragon teruggekeer nie. Die eerste aaneenlopende betrekkinge met ’n Europese land het in 1508 met Portugal begin; dit was tydens die bewind van Dawid II (Lebna Dengel), wat pas die troon van sy pa geërf het. In 1487 het koning Johannes II van Portugal gesante na die ooste gestuur.

Zemene Mesafint

Tussen 1769 en 1855 het Ethiopië ’n tydperk van isolasie beleef wat die Zemene Mesafint, of "Era van Prinse", genoem word. Die keisers het skynhoofde geword wat deur streeksadellikes soos Ras Mikael Sehoel van Tigray beheer is. Net voor die Zemene Mesafint het keiser Joas I die taal Oromo aan die hof ingestel in die plek van Amharies.

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Keiser Tewodros II van Ethiopië.

Ethiopië se isolasie het geëindig ná ’n Britse sending om ’n verbondskap met Ethiopië te sluit, maar dit was eers in 1855 dat die Amhara-koninkryke van Noord-Ethiopië (Gondar, Gojam en Shoa) vir ’n kort rukkie verenig is nadat die mag van die keiser onder Tewodros II herstel is. Tewodros het die land gemoderniseer en die mag onder die keiser gesentraliseer. Ethiopië het weer aan wêreldsake deelgeneem. Tewodros het ook ’n proses van konsolidasie en staatsbou begin wat onder sy opvolgers voortgesit is. In dié proses is die mag van streekshoofde verminder, die ryk se administrasie gerestruktureer en ’n professionele weermag op die been gebring. Dié veranderings het die basis gevorm vir die doeltreffende soewereiniteit en territoriale integriteit van Ethiopië.

Daar was egter verskeie rebellies teen Tewodros. Noordelike Oromo-militante, Tigray-rebellies en konstante invalle deur die Ottomaanse Ryk en Egipte naby die Rooisee het Tewodros II se mag verswak en ’n einde aan sy bewind gebring. Hy het in 1868 selfmoord gepleeg tydens sy laaste veldslag, by Magdala, teen die Britse ekspedisie in Abessinië.

Van Menelik II tot Adoea (1889-1913)

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Gebiede wat van 1879 tot 1889 deur Ethiopië verower is.

Ethiopië in rofweg sy huidige vorm het begin tydens die bewind van Menelik II, wat van 1889 tot met sy dood in 1913 keiser was. Uit sy basis in die sentrale provinsie Shewa het Menelik streke in die suide, ooste en weste geannekseer – streke wat deur die Oromo, Sidama, Gurage, Welayta en ander volke bewoon is. Van dié streke was nooit tevore deur Ethiopië beset nie, maar ander wel.

Tydens die verowering van die Oromo het die Ethiopiese weermag groot gruweldade teen die Oromo-bevolking gepleeg, insluitende massaverminkings en -moorde en grootskaalse slawerny. Sommige raam dat miljoene mense tydens die verowering dood is. Grootskaalse misdade is ook teen die Dizi-volk en die mense van die Koninkryk Kaficho gepleeg. Menelik se veldtog teen die Oromo was grootliks uit weerwraak vir eeue van Oromo-ekspansionisme en die Zemene Mesafint, toe ’n reeks feodale Oromo-heersers die hooglanders oorheers het.

Menelik II het tydens sy bewind ook paaie, elektrisiteit en opvoeding verbeter; ’n sentrale belastingstelsel ontwikkel; en die stad Addis Abeba gestig en laat bou. Dit het in 1881 die hoofstad van die Shewa-provinsie geword. Nadat Menelik die troon in 1889 bestyg het, het dit die nuwe hoofstad van Abessinië geword. Menelik II word danksy sy leierskap in baie kringe as ’n held beskou.

Hy het die Verdrag van Wichale met Italië in Mei 1889 onderteken waarkragtens Italië Ethiopië se soewereiniteit sou erken, solank Italië ’n gebied noord van Ethiopië (nou deel van Eritrea) kon beheer. In ruil daarvoor sou Italië Menelik van wapens voorsien en hom as keiser steun. Voordat die verdrag deur die Italiaanse regering bekragtig is, het Italië sy grondgebied probeer uitbrei. Dit het gelei tot die Slag van Adoea op 1 Maart 1896 waarin Italië se koloniale magte deur Ethiopië verslaan is.

Haile Selassie (1916-1974) en Italiaans-Ethiopië

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Haile Selassie in sy paleis se studeerkamer.

Die vroeë 20ste eeu is gekenmerk deur die bewind van keiser Haile Selassie (Ras Tafari). Haile Selassie se ouers het etniese bande met drie van Ethiopië se Afro-Asiatiessprekende bevolkings gehad: die Oromo en Amhare, die land se grootste twee etniese groepe, en die Gurage. Hy het aan die bewind gekom nadat Lidj Josua afgesit is en het onderneem om ’n landwye moderniseringsveldtog te onderneem vanaf 1916, toe hy ’n Ras en ’n regent (Inderase) vir die regerende keiserin, Zauditu, en die de facto-heerser van die Keiserryk Ethiopië word. Met Zauditu se dood op 2 November 1930 het hy keiser geword. In 1931 het Haile Selassie aan Ethiopië sy eerste grondwet gegee, in navolging van keiserlike Japan se 1890-grondwet, waardeur die Sentraal-Europese model van ’n unitêre en homogene etnolinguistiese nasiestaat vir die keiserryk aanvaar is.

Ethiopië se onafhanklikheid is onderbreek deur die Tweede Italiaans-Ethiopiese Oorlog, wat begin het toe die land vroeg in Oktober 1935 deur fascistiese Italië binnegeval en van 1936 tot 1941 deur Italië beset is. In 1935 het Haile Selassie ’n beroep op die Volkebond gedoen en ’n toespraak gelewer wat hom ’n wêreldwye figuur gemaak het, asook 1935 se Time-persoon van die jaar. Haile Selassie het na Engeland in ballingskap gevlug. Mussolini het die land tot Italiaans-Ethiopië verklaar en die Italiaanse koning Vittorio Emanuele III het die keiserlike titel opgeëis.

In 1937 het die Italiaanse slagting van Yekatit 12 plaasgevind, waartydens tot 30 000 Ethiopiese burgerlikes vermoor en talle ander in hegtenis geneem is. Die slagting was uit weerwraak vir die poging tot ’n sluipmoord op Rodolfo Graziani, die onderkoning van Italiaans-Oos-Afrika. Die gebruik van chemiese wapens deur Italië, ’n oorlogsmisdaad, was algemeen tydens die inval en die besetting van Ethiopië.

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Ras Seyoum Mengesha, Ras Getachew Abate en Ras Kebede Gubret by Benito Mussolini op 6 Februarie 1937 in Rome, Italië, na die Italiaanse besetting van Ethiopië.

Die Italianers het tydens hulle besetting die Ethiopiese infrastruktuur verbeter. Hulle het die sogenaamde "Keiserlike Weg" tussen Addis Abeba en Massaua gebou. Spoorlyne van meer as 900 km, damme en hidroëlektriese aanlegte is gebou, en baie openbare en privaat maatskappye is gestig. Die Italiaanse regering het ook die eeue oue praktyk slawerny in die land afgeskaf.

Nadat Italië die Tweede Wêreldoorlog betree het, het die Britse Ryk magte en weerstandsoldate gestuur om Ethiopië se soewereiniteit in 1941 te herstel. ’n Italiaanse guerrillaoorlog het tot in 1943 geduur. Dit is gevolg deur Brittanje se erkenning van Ethiopië se volle soewereiniteit, sonder enige voordele vir Brittanje, toe die Anglo-Ethiopiese Ooreenkoms in Desember 1944 onderteken is. Kragtens die vredesooreenkoms van 1947 het Italië ook die soewereiniteit en onafhanklikheid van Ethiopië erken.

Op 26 Augustus 1942 het Haile Selassie ’n proklamasie uitgevaardig waarkragtens slawerny finaal afgeskaf is. Ethiopië het in die vroeë 20ste eeu tussen 2 miljoen en 4 miljoen slawe gehad, uit ’n totale bevolking van sowat 11 miljoen.

In 1952 het Haile Selassie ’n federasie met Eritrea georkestreer. Hy het dit in 1962 afgeskaf en Eritrea geannekseer, ’n stap wat tot die Eritrese Onafhanklikheidsoorlog gelei het. Haile Selassie het ’n leidende rol gespeel in die stigting van die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) in 1963.

Haile Selassie het ongewild geraak in Ethiopië ná die wêreldwye oliekrisis van 1973. Dit het ’n skerp styging in brandstofpryse op 13 Februarie 1974 veroorsaak, asook voedseltekorte, onsekerheid oor die opvolging, grensoorloë en ontevredenheid onder die middelklas weens modernisering. Taxidrywers en onderwysers het op 18 Februarie 1974 begin staak oor die hoë brandstofpryse, en studente en werkers in Addis Abeba het op 20 Februarie 1974 teen die regering begin betoog. Die kabinet van Akilou Habte Wolde is omvergewerp en ’n nuwe regering is gevorm met Endelkachew Makonnen as premier.

Die Dergtydperk (1974-1991)

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Die Ethiopiese Rewolusionêre Volksparty het tydens die Rooi Terreur met die Derg gebots.

Haile Selassie se bewind het op 12 September 1974 geëindig toe hy van die troon gesit is deur die Derg, ’n nie-ideologiese komitee wat bestaan het uit militêre en polisie-offisiere onder leiding van Aman Andom. Ná die teregstelling van 60 voormalige regerings- en militêre amptenare, insluitende Andom, in November 1974 het die nuwe Voorlopige Militêre Administratiewe Raad onder generaal Tafari Benti die monargie in Maart 1975 afgeskaf en Ethiopië as ’n Marxisties-Leninistiese eenpartystaat gevestig met die raad as die voorste party in ’n voorlopige regering. Die afskaffing van feodalisme, groter geletterdheid, nasionalisasie en groot grondhervormings, insluitende hervestiging vanaf die Ethiopiese Hoogland, het prioriteite geword. In 1987 het die Derg ontbind en die 1987-grondwet afgekondig wat op die 1977-grondwet van die Sowjetunie gegrond was.

Ná binnelandse konflik, wat gelei het tot die teregstelling van generaal Benti en verskeie van sy ondersteuners in Februarie 1977, en die teregstelling van kolonel Atnafu Abate in November 1977, het Mengistu Haile Mariam die onbetwiste leier van die Derg geword.

Die Derg het met verskeie staatsgrepe, opstande, ’n droogte en ’n groot vlugtelingprobleem te kampe gehad. In 1977 het Somalië, wat voorheen hulp en wapens van die USSR ontvang het, Ethiopië binnegeval in die Ogadenoorlog en ’n deel van die Ogadenstreek verower. Ethiopië het dit teruggewen nadat dit enorme militêre hulp ontvang het van die Sowjetbloklande die USSR, Kuba, Suid-Jemen, Oos-Duitsland en Noord-Korea. Dit het ingesluit sowat 15 000 Kubaanse strydende troepe.

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Die Ethiopiese leier Mengistu Haile Mariam (in sy amp 1977-1991) is ter dood veroordeel vir misdade wat deur sy regering gepleeg is. Hy het in 2018 nog in Zimbabwe in bannelingskap gewoon.

In 1976-'78 is tot 500 000 mense dood weens die Rooi Terreur, ’n gewelddadige politieke onderdrukkingsveldtog deur die Derg teen verskeie opposisiegroepe, veral die Ethiopiese Rewolusionêre Volksparty. Die Rooi Terreur was ’n antwoord op wat die Derg die "Wit Terreur" genoem het: ’n reeks gewelddadige voorvalle, sluipmoorde en moorde deur wat hy genoem het "klein bourgeois reaksionêre" wat ’n ommekeer van die 1974-rewolusie wou hê.

Die droogte van 1983-'85 het sowat 8 miljoen mense geraak, van wie ’n miljoen dood is. Opstande teen outoritêre heerskappy het voorgekom, veral in die noordelike streke Eritrea en Tigray. Die Volksbevrydingsfront van Tigray het in 1989 met ander etniesgebaseerde opposisiebewegings saamgesmelt en ’n koalisie gevorm bekend as die Ethiopiese Rewolusionêre Demokratiese Volksfront (ERDVF).

In dié tyd het die Sowjetunie onder Michail Gorbatsjof sy beleid van wêreldkommunisme vervang met een van glasnost en perestroika, en daar was ’n groot afname in hulp aan Ethiopië van die Sowjetblok. Dit het gelei tot groter ekonomiese probleme en die val van die militêre mag voor aanvalle deur vasbeslote guerrillas in die noorde. Die val van Marxisme-Leninisme oor die algemeen, en in Oos-Europa tydens die rewolusies van 1989, het saamgeval met die onttrekking van alle Sowjethulp aan Ethiopië in 1990. Om internasionale steun te kry het Mengistu ’n gemengde ekonomie ingestel en ’n einde gebring aan eenpartyregering, maar dit was te laat om sy regering te red.

ERDVF-magte het Addis Abeba in Mei 1991 genader en die Sowjetunie het nie ingegryp om die regering te help nie. Mengistu het uit die land gevlug en asiel gekry in Zimbabwe, waar hy steeds woon.

In 2006, ná ’n verhoor wat 12 jaar geduur het, het Ethiopië se federale hooggeregshof in Addis Abeba Mengistu in absentia skuldig bevind aan volksmoord. Talle ander topleiers van sy regering is ook in absentia aan oorlogsmisdade skuldig bevind nadat hulle gevlug het. Verskeie voormalige amptenare is ter dood veroordeel en dosyne ander het 20 jaar in die tronk deurgebring voordat hulle vonnisse van lewenslange gevangenisstraf verkort is.

In Julie 1991 het die ERDVF ’n nasionale konferensie saamgestel om die Oorgangsregering van Ethiopië daar te stel. Dit het bestaan uit ’n raad van verteenwoordigers met 87 lede, wat onderworpe was aan ’n oorgangsgrondwet. In Junie 1992 het die Oromo-bevrydingsfront aan die regering onttrek, en in Maart 1993 lede van die Suid-Ethiopiese Demokratiese Volkskoalisie. In 1994 is ’n nuwe grondwet opgestel wat Ethiopië gevestig het as ’n parlementêre republiek met ’n tweekamerwetgewer en ’n regstelsel.

Federale Demokratiese Republiek (1991-hede)

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Die voormalige premier Meles Zenawi in 2012 by die jaarvergadering van die Wêreld- Ekonomiese Forum.

Die eerste veelpartyverkiesing in Ethiopië het in Mei 1995 plaasgevind en is deur die ERDVF gewen. Die president van die oorgangsregering, die ERDVF-leier Meles Zenawi, het die eerste premier van die Federale Demokratiese Republiek Ethiopië geword, en Negasso Gidada is tot president verkies.

In Mei 1998 het ’n grensdispuut met Eritrea gelei tot die Eritrees-Ethiopiese Oorlog, wat tot Junie 2000 geduur en albei lande miljoene dollars gekos het. Dit het ’n negatiewe uitwerking op Ethiopië se ekonomie gehad. Middel 2011 het twee agtereenvolgende jare sonder reën die ergste droogte in 60 jaar in Oos-Afrika veroorsaak. Ethiopië het eers in 2012 hiervan herstel, danksy langtermynstrategieë deur die regering in samewerking met ontwikkelingsagentskappe.

Op 5 Augustus 2016 het betogings dwarsoor die land voorgekom en dosyne betogers is deur die polisie doodgeskiet. Die betogers het aangedring op die beëindiging van vergrype teen menseregte, die vrylating van politieke gevangenes, ’n regverdiger verdeling van rykdom wat uit meer as ’n dekade van ekonomiese groei ontstaan het en die teruggee van die Wolqayt-distrik aan die Amhara-streek. Dit was die gewelddadigste onderdrukking van betogings in Afrika suid van die Sahara sedert die Ethiopiese regering in November en Desember 2015 minstens 75 people mense gedood het tydens proteste in die Oromia-streek. Op 6 Oktober 2016 is ’n noodsituasie afgekondig, wat geduur het tot in Augustus 2017.

Op 16 Februarie 2018 het die Ethiopiese regering ’n ses maande lange landwye noodtoestand afgekondig ná die bedanking van premier Hailemariam Desalegn. Hy was die eerste leier in die moderne geskiedenis van Ethiopië wat bedank het; vorige leiers is almal in hulle amp dood of is omvergewerp. Hailemariam het gesê hy wil die geleentheid skep vir hervormings.

Abiy Ahmed en die Welvaartparty (2018-hede)

Die nuwe premier was Abiy Ahmed, wat in 2018 ’n historiese besoek aan Eritrea gebring en die 20 jaar lange oorlog tussen die twee lande beëindig het. Hy het daarvoor in 2019 die Nobelprys vir Vrede ontvang. Nadat hy sy amp in April 2018 aanvaar het, het die 47 jaar oue Abiy politieke gevangenes vrygelaat, regverdige verkiesings belowe en groot ekonomiese hervormings aangekondig. Sedert 2019 is al die voorheen gesensorde webtuistes weer toeganklik gemaak, meer as 13 000 politieke gevangenes vrygelaat en honderde administratiewe personeellede afgedank as deel van die hervormings.

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Premier Abiy Ahmed ontvang in 2019 die Nobelprys vir Vrede in Oslo.

Etniese geweld het saam met politieke onrus toegeneem. Daar was botsings tussen die Oromo, die grootste etniese groep in die land, en die etniese Somaliërs, wat daartoe gelei het dat 400 000 mense in 2017 ontwortel is. Botsings tussen die Oromo en die Gedeo in die suide van die land het in 2018 daartoe gelei dat Ethiopië die grootste getal mense in die wêreld gehad het wat uit hulle huis moes vlug: 1,4 miljoen. Van 2019 af was burgermagslede van die Gumuz-volk betrokke in gevegte teen Amhare en Agaus in die Metekel-sone van die Benishangul-Gumuz-streek. In September 2018 is 23 mense gedood in opstande in die spesiale sone van Oromia naby die hoofstad, Addis Abeba.

Op 22 Junie 2019 het faksies van die veiligheidsmagte van die Amhara-streek ’n mislukte staatsgreep op die streek se regering uitgevoer waartydens die streek se president vermoor is. ’n Lyfwag wat aan die kant van die nasionalistiese faksies was, het ’n sluipmoord uitgevoer op generaal Se'are Mekonnen, stafhoof van die Ethiopiese weermag, sowel as sy adjudant, generaal-majoor Gizae Aberra. Die premier se kantoor het brigadier-generaal Asaminew Tsige, hoof van die Amhara-streek se veiligheidsmag, daarvan beskuldig dat hy aan die hoof van die sameswering was, en Tsige is op 24 Junie naby Bahir Dar deur die polisie doodgeskiet.

Fano is ’n Amhaarse jeuggroep wat as óf ’n protesgroep óf ’n gewapende burgermag beskou word. Fano-eenhede word beskuldig van deelname aan etniese slagtings, onder meer op 10-11 Januarie 2019. Betogings het uitgebreek ná die sluipmoord op die Oromo-musikant Hachalu Hundessa op 29 Junie 2020, en dit het gelei tot die dood van minstens 239 mense.

Die dispuut tussen Ethiopië en Egipte oor die Groot Ethiopiese Renaissancedam het in 2020 in felheid toegeneem. Egipte is teen die bou van die dam gekant, omdat hy bang is dit verminder die hoeveelheid water wat hy uit die Nylrivier kry. Premier Abiy van Ethiopië het gesê: "Geen mag kan Ethiopië keer om ’n dam te bou nie. As ’n oorlog nodig is, kan ons miljoene gereed kry."

Die federale regering, onder leiding van die Welvaartparty, het die nasionale verkiesingsraad gevra om 2020 se verkiesings uit te stel weens vrese oor die Covid-19-pandemie, totdat ’n entstof ontwikkel is. Die Tigray- Liberale Volksfront, die regerende party in Tigray, het die besluit teengestaan en in elk geval op 9 September 2020 ’n verkiesing gehou. Hulle het saam met streekspartye gewerk en internasionale waarnemers in die verkiesingsproses betrek. Die betrekkinge tussen die federale regering en die Tigray-streeksregering het sedertdien kwaai versleg en op 4 November 2020 het Abiy met ’n militêre aanval op die Tigray-streek begin uit reaksie op aanvalle op weermageenhede wat daar gestasioneer is. Duisende mense het na die naburige Sudan gevlug. Dit was die begin van die Tigray-oorlog.

Regering en politiek

Ethiopië is ’n federale parlementêre republiek met ’n eerste minister as regeringshoof.

Die president is die staatshoof, maar het hoofsaaklik seremoniële magte. Die regering het die uitvoerende gesag. Federale wetgewende gesag lê by die regering en twee parlementskamers. Kragtens Artikel 78 van die Ethiopiese grondwet van 1994 is die regterlike gesag heeltemal onafhanklik van die uitvoerende en wetgewende gesag.

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Die Ethiopiese algemene verkiesing van 2005. Net partye met meer as 10 setels word gewys.
Rooi: ERDVF
Groen: KED
Pers: VEDM
Donkerblou: SDVP
Oranje: OFDB
Ligblou: Ander

Volgens die Demokrasie-indeks wat laat in 2010 deur die VK-gebaseerde Economist Intelligence Unit gepubliseer is, was Ethiopië ’n "outoritêre regime" wat op ’n lys van die demokratiesste lande nommer 118 van 167 was. Ethiopië het sedert 2006 ’n hele 12 plekke afgeskuif, en die 2010-verslag skryf dit toe aan die regering se onderdrukking van opposisiebedrywighede, media en die burgerlike gemeenskap voor die Ethiopiese algemene verkiesing van 2010. Dit het Ethiopië ’n de facto-eenpartystaat gemaak.

Regering

Die eerste verkiesing van Ethiopië se grondwetgewende vergadering van 547 lede is in Junie 1994 gehou. Dié vergadering het die nuwe Ethiopiese grondwet in Desember 1994 aanvaar. Die verkiesings vir die land se eerste algemeen verkose nasionale parlement en wetgewende streeksmagte is in Mei en Junie 1995 gehou. Die meeste opposisiepartye het die verkiesings geboikot. Die Ethiopiese Rewolusionêre Demokratiese Volksfront (ERDVF) het loshande gewen. Die eerste regering onder die nuwe grondwet is in Augustus 1995 saamgestel met Negasso Gidada as president. Die regering van Meles Zenawi onder die ERDVF het ’n beleid van etniese federalisme gevolg en aansienlike magte aan etniesgebaseerde streeksowerhede gegee. Ethiopië het vandag 10 semi-outonome administratiewe streke wat die mag het om hulle eie inkomste te genereer en bestee.

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Die voormalige Ethiopiese eerste minister Tedros Adhanom (regs) by die voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake John Kerry.

Ethiopiërs het min toegang tot ander media as die staat se eie netwerke. Die koerante in privaat besit het gesukkel om voort te bestaan en is periodiek deur die regering geteister. Sedert die 2005-verkiesing is minstens 18 joernaliste in hegtenis geneem wat kritiek jeens die regering uitgespreek het en is hulle van onder meer verraad aangekla. Die regering gebruik perswette oor laster om joernaliste te intimideer wat krities jeens sy beleide is.

Meles se regering is in 2000 verkies in Ethiopië se eerste veelpartyverkiesing; internasionale waarnemers het die uitslag egter gekritiseer en die opposisie het gesê daar was bedrog. Die ERDVF het in 2005 weer die verkiesing gewen en Meles teruggeplaas in sy amp. Hoewel die opposisiestemme toegeneem het, het beide die opposisie en waarnemers van die Europese Unie en elders gemeen die stemmery het nie aan internasionale standaarde vir vry en regverdige verkiesings voldoen nie. Volgens berigte het die polisie 193 betogers, die meeste in die hoofstad, Addis Abeba, doodgemaak in die geweld wat op die verkiesing van Mei 2005 gevolg het.

Die vyf belangrikste opposisiepartye in 2008 was die Eenheid vir Demokrasie en Geregtigheid (EDG) onder regter Birtukan Mideksa, die Verenigde Ethiopiese Demokratiese Magte (VEDM) onder dr. Beyene Petros, die Oromo- Federalistiese Demokratiese Beweging (OFDB) onder dr. Bulcha Demeksa, die Oromo-volkskongres (OVK) onder dr. Merera Gudina en die Verenigde Ethiopiese Demokratiese Party – Medhin (VEDP) onder Lidetu Ayalew. Ná die 2015-verkiesing was daar geen parlementslede van opposisiepartye in Ethiopië oor nie.

Weermag

Die grootte van die Ethiopiese Nasionale Weermag het sedert 2000, ná die oorlog teen Eritrea, aansienlik gewissel. In 2002 was daar sowat 250 000 tot 350 000 sodate. Dit is later verminder, en in 2012 is die getal soldate geraam op 135 000 grondmaglede en 3 000 lugmaglede.

Die weermag bestaan uit twee afdelings, ’n leër en lugmag. Omdat Ethiopië ’n landingeslote staat is, het dit geen vloot nie. Daar is verskeie weermagnywerheidsorganisasies, wat verskillende wapenstelsels vervaardig en opknap.

Diensplig is vrywillig vir mense bo 18 jaar oud, maar daar kan verpligtende oproepe tot militêre diens wees indien nodig.

Menseregte

Onlangse skendings van menseregte in Ethiopië sluit in die dood van 100 vreedsame betogers aan die hand van die regering in 2016 in die Oromo- en die Amhara-streek. Die VN het waarnemers in Ethiopië gevra om die voorval te ondersoek, maar die regering het nie gehoor gegee nie. Die betogings was teen grondbeslagleggings, skendings van menseregte en verkiesingsbedrog.

Merera Gudina, leier van die Oromo-volkskongres, het gesê die land is "by ’n kruispad. Mense maak aanspraak op hulle regte. Mense is moeg vir wat die regering ’n kwarteeu lank al doen," het hy in ’n onderhoud met Reuters gesê. "As die regering aanhou onderdruk terwyl miljoene mense hulle regte opeis, is dit (burgeroorlog) een van die moontlike scenario's."

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Mense van die Karo-volk in ’n multinasionale streek in die suide van Ethiopië.

Volgens peilings in 2003 deur die Nasionale Komitee oor Tradisionele Praktyke in Ethiopië lei bruidsontvoerings tot 69% van die land se huwelike – sowat 80% kom in die grootste streek, Oromiya, voor en tot 92% in ’n streek met gemengde etniese groepe in die suide van die land. Homoseksuele dade is onwettig in Ethiopië. Joernaliste en aktiviste is al gedreig en gearresteer vir hulle dekking van die Covid-19-pandemie in die land.

Onder die Karo- en Hamer-volk van Suid-Ethiopië word volwassenes en kinders met fisieke abnormaliteite as mingi, "ritueel onrein", beskou. Daar word geglo laasgenoemde het ’n bose uitwerking op ander; kinders met gebreke is tradisioneel vermoor en het geen behoorlike begrafnis gekry nie. Die Karo het die praktyk in Julie 2012 amptelik verbied.

In 2013 het die dinksentrum Oakland-instituut ’n verslag uitgereik waarin hy die Ethiopiese regering beskuldig van die gedwonge verskuiwing van "honderdduisende lede van inheemse volke van hulle grond af" in die Gambela-streek. Volgens verskeie verslae deur die organisasie is mense wat nie wou gehoor gee nie, blootgestel aan ’n verskeidenheid intimidasietegnieke, onder meer fisieke en seksuele aanranding, wat soms tot die dood gelei het. ’n Soortgelyke verslag deur Human Rights Watch het in 2012 die Ethiopiese regering se hervestigingsprogram in Gambela beskryf, met soortgelyke planne in ander streke. Die Ethiopiese regering het die beskuldigings van grondbeslagleggings ontken en die positiewe groei van die land se ekonomie genoem as bewys van die voordele van die ontwikkelingsplan.

’n Landwye reeks gewelddadige betogings het op 23 Oktober 2019 uitgebreek wat in die Oromia-streeks gekonsentreer was, nadat die aktivis en mediaeienaar Jawar Mohammed beweer het die veiligheidsmagte het hom probeer aanhou. Volgens amptelike verslae is 86 mense dood. Op 29 Mei 2020 het Amnestie Internasionaal ’n verslag uitgereik waarin hy die Ethiopiese weermag beskuldig van massa-aanhoudings en buitegeregtelike teregstellings. Volgens die verslag is minstens 25 mense wat daarvan verdink is dat hulle die Oromo-bevrydingsleër steun, in 2019 in die Oromia-streek deur die weermag gedood. Verder is minstens 10 000 mense onder verdenking tussen Januarie en September 2019 aangehou, van wie die meeste "onderwerp is aan ’n wrede slanery".

Administratiewe verdelings

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
’n Kaart van Ethiopië se streke en sones.

Voor 1996 was Ethiopië verdeel in 13 provinsies, waarvan baie uit historiese streke gevorm is. Die land het nou ’n regeringstelsel met lae wat bestaan uit ’n federale regering, streekstate, sones, distrikte (woreda) en buurte (kebele).

Daar is 10 etniesgebaseerde en politiek outonome streekstate (kililoch, enkelvoud: kilil) en twee charter-stede (astedader akababiwoch, enkelvoud: astedader akababi). Laasgenoemde is Addis Abeba en Dire Dawa. Die kililoch is onderverdeel in 68 sones en dan verder in 550 woreda en verskeie spesiale woreda.

Die streekstate het aansienlike mag kragtens die grondwet. Hulle kan hulle eie regering en demokrasie saamstel solank dit in lyn met die federale regering se grondwet is. Aan die hoof van elke streek is ’n streeksraad met lede wat regstreeks verkies word om die distrikte te verteenwoordig. Die rade het wetgewende en uitvoerende gesag en kan die streke se interne sake bestuur. Die 10 kililoch, met hulle hoofstad tussen hakies, is: Afar (Semera), Amhara (Bahir Dar), Benishangul-Gumuz (Asosa), Gambela (Gambela), Harari (Harar), Oromia (Addis Abeba), Sidama (Awasa), Somali (Jijiga), Suidelike Nasies, Nasionaliteite en Volke (Awasa) en Tigray (Mek'ele).

Geografie

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
'n Nasa-satellietbeeld van Ethiopië.
Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Die begin van die Blou-Nyl in die Tanameer.

Ethiopië het ’n totale oppervlakte van 1 104 300 km², waarvan 1 119 683 km² land en 7 444 km² water is. Dit is die 28ste grootste land ter wêreld en omtrent so groot soos Bolivia.

Die grootste deel van die land lê in die Horing van Afrika, die oostelikste deel van die kontinent Afrika. Die lande wat aan Ethiopië grens, is Eritrea in die noorde en daarna, kloksgewys, Djiboeti, Somaliland, Somalië, Kenia, Suid-Soedan en Soedan. Ethiopië het ’n uitgespreide hooglandkompleks van berge en plato's wat deur die Groot Skeurvallei geskei word – laasgenoemde loop meestal van suidwes tot noordoos en word omring deur laaglande, steppe of halfwoestyn. Daar is ’n groot verskeidenheid terreine met groot wisselings in klimaat, grond, natuurlike plantegroei en woonpatrone.

Ethiopië is ’n ekologies uiteenlopende land, met woestyne aan die oosgens tot tropiese woude in die suide tot berge in die noorde en suidweste. Die Tanameer in die noorde is die bron van die Blou-Nyl. Dit het ook baie endemiese spesies, soos die gelada, die bergbok Walia ibex en die Ethiopiese wolf, Simien fox. Die groot wisselings in hoogte gee die land verskeie ekologies unieke gebiede, en dit het die evolusie van endemiese spesies in ekologiese isolasie aangehelp.

Klimaat

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Die Köppen-klimaatklassifikasie van Ethiopië.

Die oorheersende klimaatsoort is tropiese moeson, met die wisselings wat deur die topografie veroorsaak word. Die Ethiopiese Hoogland strek oor die grootste deel van die land en het ’n klimaat wat gewoonlik beskou word as koeler as ander streke wat net so naby aan die ewenaar is. Die meeste van die stede lê op hoogtes van sowat 2 000 tot 2 500 m bo die seevlak, en dit sluit historiese hoofstede soos Gondar en Aksoem in.

Die hedendaagse hoofstad, Addis Abeba, is aan die voorheuwels van berg Entoto geleë, op ’n hoogte van sowat 2 400 m. Dit het dwarsdeur die jaar ’n matige klimaat. Omdat die temperature deur die jaar redelik gelykmatig is, word die seisoene in Addis Abeba grootliks deur die reënval bepaal: ’n droë seisoen van Oktober tot Februarie, ’n ligte reënseisoen van Maart tot Mei en ’n swaar reënseisoen van Junie tot September. Die gemiddelde jaarlikse reënval is sowat 1 200 mm.

Daglig is gemiddeld sewe uur per dag. Die droë seisoen is die sonnigste deel van die jaar, hoewel daar selfs in die middel van die reënseisoen in Julie en Augustus steeds ’n paar uur helder sonskyn is. Die gemiddelde jaartemperatuur in Addis Abeba is 16 °C, en die daaglike maksimum deur die jaar gemiddeld 20 tot 25 °C. Snags is die minimum sowat 5 tot 10 °C.

Die meeste groot stede en toeristeterreine in Ethiopië lê op dieselfde hoogte as Addis Abeba en het ’n soortgelyke klimaat. In laer streke, veral die gras- en struiklande in die ooste van die land, kan die klimaat aansienlik warmer en droër wees. Dallol, in die middel van die Danakillaagte in die ooste, het die hoogste gemiddelde jaarlikse temperatuur ter wêreld: 34 °C.

Ethiopië is kwesbaar vir ’n groot deel van die uitwerking van klimaatsveranderings. Dit sluit in hoër temperature en veranderings in reënval. Sulke klimaatsveranderings bedreig voedselsekuriteit en die ekonomie, wat op die landbou gebaseer is.

Biodiversiteit

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Bergnjalas in die Balegebergte- Nasionale Park, een van verskeie natuurreservate in Ethiopië.

Ethiopië het 31 spesies inheemse soogdiere. Die wildehond het prehistories wydverspreid in die gebied voorgekom, maar is vermoedelik plaaslik uitgesterf. Die Ethiopiese wolf is seker die bedreigde spesie wat die beste in Ethiopië nagevors is.

Ethiopië is ’n wêreldwye sentrum van diversiteit in voëls. Meer as 856 voëlspesies is al hier aangeteken, waarvan 20 inheems is. Sestien spesies word bedreig of kritiek bedreig. Baie van dié voëls se vernaamste kos is skoenlappers, soos die Bicyclus anynana.

Nes deur die hele Afrika is natuurlewebevolkings vinnig aan die afneem weens ontbossing, burgeroorloë, besoedeling, wilddiefstal en ander menslike faktore. Baie van die Ethiopiese spesies is bedreig, kritiek bedreig en kwesbaar, volgens IUBN-ramings.

Ontbossing veroorsaak gronderosie, minder voedingstowwe in die grond, ’n verlies aan habitats vir diere en ’n afname in biodiversiteit. Aan die begin van die 20ste eeu was sowat 420 000 km2 (of 35%) van Ethiopië deur bome bedek, maar volgens onlangse navorsing het dit nou afgeneem tot net 11,9%. Die land verloor ’n geraamde 1 410 km2 natuurlike woude per jaar. Huidige regeringsprogramme om ontbossing te beheer bestaan uit opvoeding, reklame vir omkeerprogramme en die verskaffing van rou materiale wat hout kan vervang. Op die platteland verskaf die regering ook ander brandstofbronne as hout en bevordering dit landbou wat nie die woudhabitat vernietig nie.

Demografie

Oromo
  
34.4%
Amhare
  
27%
Somaliërs
  
6.2%
Tigrayane
  
6.1%
Sidama
  
4%
Gurage
  
2.5%
Welayta
  
2.3%
Afar
  
1.7%
Hadiya
  
1.7%
Gamo
  
1.5%
Ander
  
12.6%
Etniese groepe in Ethiopië

Ethiopië se totale bevolking het gegroei van 38,1 miljoen in 1983 tot 109,5 miljoen in 2018. In die 19de eeu was die bevolking maar sowat 9 miljoen. Volgens die resultate van die Bevolkings- en Behuisingsensus van 2007 het die bevolking van 1994 tot 2007 met ’n gemiddelde tempo van 2,6% per jaar toegeneem, 2,8% minder as van 1983 tot 1994. Die tempo is tans onder die 10 hoogstes ter wêreld. Die bevolking sal na raming in 2060 meer as 210 miljoen wees, wat ’n toename met ’n faktor van 2,5 is van ramings in 2011. Volgens ramings van die VN het die lewensverwagting in onlangse jare aansienlik toegeneem; dit staan nou op 56 jaar vir mans en 60 jaar vir vroue.

Bevolking in Ethiopië
Jaar Miljoen Verskil
1950 18,4
1960 22,5 4,1
1970 29,0 6,5
1980 35,4 6,4
1990 48,3 12,9
2000 65,6 17,3
2010 82,9 17,3
2013 93,8 10,9
2018 107,5 13,7

Die land se bevolking is uiters uiteenlopend, met meer as 80 verskillende etniese groepe. Volgens die nasionale sensus van 2007 is die Oromo op 25,4 miljoen (34,4% van die totaal) die grootste groep, die Amhare is 19,9 miljoen (27% van die bevolking) en Somaliërs en Tigrayane onderskeidelik 4,59 miljoen (6,2%) en 4,49 miljoen (6,1%).

Ander prominente etniese groepe is soos volg: Sidama 2,95 miljoen (4%), Gurage 1,86 miljoen (2,5%), Welayta 1,68 miljoen (2,3%), Afar 1,28 miljoen (1,7%), Hadiya 1,27 miljoen (1,7%) en Gamo 1,1 miljoen (1,5%).

Afro-Asiatiessprekende gemeenskappe maak die meerderheid van die bevolking uit. Die Semitiessprekende deel van die bevolking verwys dikwels na hulleself as die "Habesja-volk". Die Arabiese vorm van die term (al-Ḥabasha) is die etimologiese basis van die naam "Abessinië," ’n ou naam vir Ethiopië.

Daarbenewens bewoon Nilo-Sahariessprekende minderheidsgroepe die suidelike streke van die land, veral gebiede in die Gambela-streek, wat aan Suid-Soedan grens.

Daar was ook meer as 75 000 Italiaanse setlaars tydens die Italiaanse besetting van die land. Nadat Ethiopië onafhanklik geword het, het baie Italianers nog dekades lank in die land gebly nadat hulle deur keiser Haile Selassie begenadig is, want hy het die geleentheid vir verdere modernisering gesien. Ná die Ethiopiese Burgeroorlog van 1974 het byna 22 000 Italianers in Ethiopië egter die land verlaat.

In 2009 was daar sowat 135 000 vlugtelinge en asielsoekers in Ethiopië, veral van Somalië (sowat 64 300), Eritrea (41 700) en Soedan (25 900). Hulle het amper almal in vlugtelingkampe gewoon.

Tale

Tale van Ethiopië (2007) ██ Oromo (33.8%)██ Amharies (29.3%)██ Somalies (6.3%)██ Tigrinya (5.9%)██ Sidamo (4.0%)██ Wolaytta (2.2%)██ Gurage (2.0%)██ Afar (1.7%)██ Hadiyya (1.7%)██ Gamo-Gofa-Dawro (1.5%)██ Ander (11.6%)

Volgens Ethnologue word 90 individuele tale in Ethiopië gepraat. Die meeste mense praat tale van die Koesjitiese en die Semitiese tak van die Afro-Asiatiese tale. Eersgenoemde sluit in Oromo, wat deur die Oromo-volk gepraat word, en Somalies, wat deur die Somaliërs gepraat word. Laasgenoemde tak sluit in Amharies (Amahare) en Tigrinya (Tigrayane). Saam word dié vier groepe deur sowat driekwart van die bevolking gepraat. Ander Afro-Asiatiese tale met ’n aansienlike aantal sprekers sluit in die Koesjitiese Sidamo, Afar, Hadiyya en Agau, en die Semitiese Gurage, Harari, Silt'e en Argobba. Arabies, wat ook tot die Afro-Asiatiese taalfamilie behoort, word ook in sommige gebiede gepraat.

Verder word Omotiese tale deur Omotiese minderheidsgroepe in die suidelike streke gepraat. Daaronder tel die tale Aari, Bench, Dime, Dizin, Gamo-Gofa-Dawro, Maale, Hamer en Wolaytta. Tale van die Nilo-Sahariese familie word deur minderheidsgroepe gepraat wat in die suidwestelike dele van die land gekonsentreer is. Dit sluit in Nuer, Anuak, Nyangatom, Majang, Suri, Me'en en Mursi.

Engels is die buitelandse taal wat die meeste gepraat word, en is die onderrigmedium in sekondêre skole en alle tersiêre inrigtings. Alle federale wette word ook in Engels in die Federal Negarit Gazeta gepubliseer. Alle tale geniet gelyke status in die grondwet, maar Oromo is die taal wat deur die meeste moedertaalsprekers gepraat word, terwyl Amharies in totaal die meeste sprekers het. Italiaans word nog deur sekere dele van die bevolking gepraat, veral die ouer mense, en word in baie skole geleer. Die verskeie streke van Ethiopië en charter-stede mag self hulle werkstale bepaal.

Skrif

Ethiopië se belangrikste skryfstelsel is die Ge'ez-skrif. Dit word as abugida deur verskeie van die land se tale gebruik en word al sedert die 6de of 5de eeu v.C. as abjad gebruik om die Semitiese taal Ge'ez te transkribeer. Ge'ez is nou ’n liturgiese taal van die Ethiopies- en die Eritrees-Ortodokse Kerk. In die 1980's is die Ethiopiese letters vir die rekenaar verwerk; dit is vandag deel van Unicode as "Ethiopic", "Ethiopic Extended", "Ethiopic Supplement" en "Ethiopic Extended-A".

Godsdiens

Godsdiens in Ethiopië (2016) ██ Ethiopies-Ortodoks (43%)██ Islamities (31%)██ Protestants (23%)██ Tradisionele gelowe (1%)██ Katoliek (1%)██ Ander (1%)

Ethiopië het noue historiese bande met al drie die wêreld se grootste Abrahamitiese gelowe. In die 4de eeu was die Keiserryk Ethiopië een van die eerstes in die wêreld wat die Christendom amptelik as ’n staatsgodsdiens aangeneem het. Vanweë die besluite van die Konsilie van Chalcedon is die miafisiete, wat die oorgrote meerderheid van Christene in Egipte en Ethiopië ingesluit het, in 451 beskuldig van monofisitisme en as ketters aangewys onder die algemene naam Koptiese Christendom (sien Oriëntale Ortodoksie). Hoewel dit nie meer as ’n staatsgodsdiens beskou is nie, het die Ethiopies-Ortodokse Tewahedo-kerk die grootste Christelike denominasie gebly. Daar is ook ’n aansienlike groep wat Islam aanhang – sowat ’n derde van die bevolking. Ethiopië het die bestemming van die "Eerste Hidjra", ’n groot migrasie in die Islamitiese geskiedenis. ’n Dorp in die Tigray-streek, Negash, is die oudste Moslemse nedersetting in Afrika.

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Die ondergrondse rotskerk van sint Joris in Lalibela is ’n Unesco-wêrelderfenisgebied.

Volgens die nasionale sensus van 2007 maak Christene tot 62,8% van die land se bevolking uit (43,5% Ethiopies-Ortodoks en 19,3% ander denominasies), Moslems 33,9%, aanhangers van tradisionele gelowe 2,6% en ander godsdienste 0,6%. Dit stem ooreen met die CIA World Factbook, waarin staan die Christendom is die grootste godsdiens in Ethiopië. Soenniete maak die grootste deel van die Moslems uit, met niedenominasionele Moslems as die tweede grootste groep en Sjiiete en Ahmadiyyas as minderheidsgroepe. Daar is ook baie Soefiste. Die groot Moslembevolking in die noordelike Afar-streek het gelei tot ’n Moslemse seperatistegroep bekend as die "Islamitiese Staat van Afaria" – hulle wil ’n grondwet hê wat aan die sjaria voldoen.

Sommige kritici meen die Haile Selassie-regering het die sensus gekook om Ethiopië as ’n Christenland aan die wêreld voor te hou. Hulle sê Islam het in 1991 altesaam 50% van die totale bevolking uitgemaak, gebaseer op die 1984-sensus deur die Derg-regering. Verskeie Moslem-waarnemers en -bloggers beweer Moslems is in die meerderheid en stem nie met bogenoemde sensussyfers saam nie, hoewel hulle nie feite verskaf om hulle bewerings te staaf nie.

Die Koninkryk Aksoem was een van die eerste state wat die Christelike geloof aangeneem het, in die 4de eeu. Volgens die Nuwe Testament het die Christendom Ethiopië nog vroeër bereik, toe ’n amptenaar wat die koningin se geldsake beheer het, deur Filippus die evangelis gedoop is (Handelinge 8:26-39).

Tot in die 1980's het daar ook ’n aansienlike bevolking Beta Israel (Ethiopiese Jode) in die land gewoon.

Verstedeliking

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
’n Straattoneel in Addis Abeba.

Die bevolkingsgroei, migrasie en verstedeliking plaas alles spanning op beide die regering en die ekostelsel se vermoë om basiese dienste aan mense te verskaf. Verstedeling neem geleidelik toe, met twee tydperke van vinnige groei. Die eerste was in 1936-1941, tydens die Italiaanse besetting onder Mussolini se fascistiese regering, en die tweede in 1967-1975, toe die bevolking in stedelike gebiede verdriedubbel het.

Ná Italië se besetting van Ethiopië in 1936 het dit ’n infrastruktuur gebou om groot stede met mekaar te verbind, asook ’n dam om krag en water te verskaf. Dit, tesame met die invloei van Italianers en werkers, was die grootste rede vir die vinnige verstedeliking in dié tydperk. Die tweede groeitydperk van 1967 af was toe plattelanders na die stede gestroom het ter wille van beter werk en lewenstoestande.

Dié patroon is verlangsaam deur die regering se grondhervormingsprogram, wat mense aangespoor het om in plattelandse gebiede te bly. Meer kos was vir meer mense in die stede nodig en die grondhervormingswet was bedoel om landbou te verbeter en kosproduksie te verhoog. Die program het gelei tot die stigting van boereverenigings: groot dorpe wat op landbou gebaseer was. Hoewel die kosproduksie verhoog is, word oor die rede gedebatteer: Dit kon danksy weerstoestande gewees het eerder as die hervormings. Stedelike bevolkings het van 1975 tot 2000 steeds met 8,1% gegroei.

Plattelandse en stedelike lewe

Migrasie na stedelike gebiede word gewoonlik gemotiveer deur die geleentheid op ’n beter lewe. In Ethiopië se boereverenigings is oorlewing ’n daaglikse stryd. Sowat 16% van die bevolking oorleef op minder as ’n dollar per dag (2008). Net 65% van plattelandse huishoudings kry die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se minimum standaard van 9 200 kJ kos per dag in; 42% van kinders onder vyf jaar oud is ondergewig.

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
’n Plattelandse gebied in die Simienberge- Nasionale Park.

Sowat 75% van arm gesinne deel hulle slaapplek met diere en 40% van kinders slaap op die vloer, waar die temperatuur in die koue seisoen snags tot gemiddeld 5 °C daal. Die gemiddelde gesin bestaan uit ses tot sewe lede wat in ’n modderhut van 30 m2 met ’n strooidak woon, met minder as 2 ha grond om te bewerk.

’n Siklus van armoede staar boere in die gesig. Omdat hulle landerye so klein is, kan die boere dit nie braak laat lê nie, wat die vrugbaarheid van die grond laat afneem. Dit verminder die gehalte van veevoer, wat weer lae melkproduksie tot gevolg het. Omdat die diere se mis as brandstof gebruik word en nie as voedingstof in die grond teruggeploeg word nie, neem die gehalte van die gewasse af. Die lae produktiwiteit lei tot ’n onvoldoende inkomste, honger, ondervoeding en siektes. Dié ongesonde boere kry swaar om die landerye te bewerk, en dit lei tot nog laer produktiwiteit.

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
’n Straattoneel in Adigrat.

Hoewel toestande baie beter in stede is, ly alle Ethiopiërs onder armoede en swak sanitasie. Armoede het egter van 2000 tot 2011 met 44% tot 29,6% afgeneem, volgens die Wêreldbank. In die hoofstad, Addis Abeba, het 55% van die inwoners vroeër in krotbuurte gewoon.

’n Opbloei in bouwerk in beide die privaat en openbare sektor het egter gelei tot drastiese verbeterings in die lewenstandaarde in groot stede, veral Addis Abeba. Die regering het ook kondominiumkomplekse dwarsdeur die stad gebou, wat byna 600 000 individue bevoordeel het. Sanitasie is die dringendste behoefte in die stad. ’n Gebrek aan toegang tot behoorlike geriewe lei tot die verspreiding van siektes deur middel van besoedelde water.

Opvoeding is ook veel beter in die stede. Sowat 69% van stedelike kinders woon ’n laerskool by, en van hulle gaan 35% na ’n hoërskool. Addis Abeba het ook ’n universiteit. Sowat 82% van die bevolking is geletterd.

Baie nieregeringsorganisasie werk aan die probleme in verband met opvoeding, maar hulle is min en werk afsonderlik. Daar is tans ’n poging om die werk te konsolideer.

Gesondheid

Volgens die WGO se wêreldgesondheidsverslag van 2006 was daar in 2003 altesaam 1 936 dokters in Ethiopië, wat sowat 2,6 per 100 000 van die bevolking is. Baie beroepslui verlaat die land vir beter geleenthede in die Weste.

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
’n Hospitaal in Addis Abeba.

Ethiopië se grootste gesondheidsprobleme is aansteeklike siektes, wat deur swak sanitasie vererger word, en ondervoeding. Meer as 44 miljoen mense (amper die helfte van die bevolking) het nie toegang tot skoon water nie. Toestande in die stede is beter. Sterftes onder babas is hier laer danksy beter geriewe en medisyne, hoewel sowat 41 babas per 1 000 geboortes in die land sterf. Die lewensverwagting is ook hoër as op die platteland, hoewel daar landwyd ’n toename was. Die gemiddelde lewensverwagting in 2016 was sowat 62,2 jaar, volgens ’n verslag van die VN.

Daar is 119 hospitale in die land (12 in Addis Abeba) asook 412 gesondheidsentrums.

MIV/vigs in Ethiopië was 1,1% in 2014, ’n groot afname teenoor vyf jaar gelede. Veral vroue word geraak weens ’n gebrek aan inligting, bemagtiging en sosiale welsyn. Die regering en baie internasionale organisasies soos die WGO en die VN voer veldtogte en werk aan die verbetering van Ethiopië se gesondheidsprobleme en -opvoeding.

’n Algemene praktyk in Ethiopië, ongeag godsdiens of ekonomiese status, is vroulike genitale verminking (VGV), ’n prosedure waardeur ’n deel van of al die buitenste geslagsdele van ’n vrou verwyder word, of enige ander verminking van die geslagsdele om 'n niemediese rede. Die praktyk is sedert 2004 onwettig in die land. Dit word voor die huwelik uitgevoer. VGV kom by 74% van vroue tussen 15 en 49 jaar voor, volgens ’n Ethiopiese gesondheidsverslag. Dit is feitlik algemeen in die streke Dire Dawa, Somali en Afar. In die streke Oromo en Harari ondergaan meer as 80% van meisies die prosedure, in Tigray 29% en in Gambela 27%.

Besnydenis is ook algemeen onder mans; sowat 76% van Ethiopiese mans is besny.

Volgens die nasionale geestesgesondheidstrategie van 2012 is die regering se beleid om geestesgesondheid by primêre gesondheidsorg te integreer. Die sukses van die strategie is egter beperk; depressie het byvoorbeeld tussen 2007 en 2017 met 34,2% toegeneem.

Ekonomie

Deel van wêreld-BBP (KKP)
Jaar Deel
1980 0,08%
1990 0,07%
2000 0,07%
2010 0,10%
2017 0,16%

Volgens die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) was Ethiopië een van die vinnigs groeiende ekonomieë in die wêreld, met ’n groeikoers van meer as 10% van 2004 tot einde 2009. Dit was van 2007 tot 2008 die vinnigs groeiende Afrika-ekonomie wat nie van olie afhanklik was nie. In 2015 het die Wêreldbank gesê Ethiopië het ’n vinnige ekonomiese groei ondervind met ’n groei in BBP van gemiddeld 10,9% tussen 2004 en 2014.

In 2008 en 2011 is die land se groei belemmer deur hoë inflasie en ’n moeilike betalingsbalanssituasie. Inflasie het in Augustus 2011 tot 40% opgeskiet weens ’n losse monetêre beleid, ’n groot verhoging in staatsdienssalarisse vroeg in 2011 en hoë kospryse.

Ondanks ’n vinnige groeikoers in onlangse jare is Ethiopië se BBP per kapita een van die laagstes in die wêreld en ’n paar ernstige probleme staar die ekonomie in die gesig. Die land belê egter in openbare infrastruktuur en nywerheidsparke om ’n belangrike sentrum vir vervaardiging in Afrika te word.

Energie en hidroëlektrisiteit

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Die uitleg van die Groot Renaissancedam.

Ethiopië het 14 groot riviere wat van die hoogland af vloei, insluitende die Nyl. Dit het die grootste waterreserwes in Afrika. Groot hidroëlektriese aanlegte maak sowat 88,2% van die totale kragopwekking uit. Die res word vervaardig uit fossielbrandstowwe (8,3%) en herwinbare bronne (3,6%). In 2016 het 42% van die land elektrisiteit gehad: 85% van die stedelike gebiede en 26% van die platteland.

Ethiopië verskaf sowat 81% van die watervolume van die Nyl deur die rivierkomme van die Blou-Nyl, Sobat en Atbara. In 1959 het Ethiopië en Soedan ’n verdrag onderteken waarkragtens albei lande eksklusiewe maritieme regte op die Nyl het. Egipte het sedertdien feitlik alle projekte in Ethiopië ontmoedig wat gebruik sou maak van die plaaslike sytakke van die Nyl. Dit het die gevolg dat eksterne finansiering van hidroëlektriese en besproeiingsprojekte in Wes-Ethiopië ontmoedig en watergebaseerde ekonomiese-ontwikkelingsprojekte belemmer word. Ethiopië bou egter ’n groot hidroëlektrisiteitsdam van 6 450 MW in die Blou-Nyl. Die Groot Ethiopiese Renaissancedam sal by voltooiing die grootste hidroëlektriese kragstasie in Afrika wees.

Landbou en uitvoer

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
’n Tefland naby Mojo in Sentraal-Ethiopië.
Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Ethiopiese koffie in die VSA.

Landbou verteenwoordig sowat 85% van die arbeidsmag. Die dienssektor verteenwoordig egter die grootste deel van die BBP. Baie ander ekonomiese bedrywighede is van die landbou afhanklik, insluitende die bemarking, prosessering en uitvoer van landbouprodukte. Kleinboere en ondernemings is verantwoordelik vir verreweg die grootste deel van die vervaardiging. Die belangrikste gewasse sluit in koffie, peulvrugte, oliesade, graan, aartappels, suikerriet en groente.

Ethiopië is ook Afrika se tweede grootste vervaardiger van mielies. Tef is ’n gras wat inheems is aan die Horing van Afrika, veral Ethiopië.

Uitvoerprodukte is feitlik geheel en al op landbou aangewese (met die uitsondering van goud), en koffie is die grootste verdiener van buitelandse valuta. Uitvoer in die boekjaar 2009/'10 was $1,4 miljard. Ander uitvoerprodukte is khat, leerprodukte en oliesade. Danksy ontwikkelings in die blomkwekerysektor beplan Ethiopië ook om een van die grootste blom- en plantuitvoerders in die wêreld te word.

Die privaat sektor groei stadigaan en leerprodukte soos handsakke raak ’n gewilde uitvoerproduk, met Taytu wat die land se eerste luukse-ontwerphandelsmerk geword het. Ander goedere wat op klein skaal uitgevoer word, is graan, katoen, suikerriet, aartappels en velle. Met die bou van verskeie nuwe damme en die toename in hidroëlektriese elektrisiteitsaanlegte landwyd beplan Ethiopië om ook elektrisiteit na sy bure uit te voer.

Baie mense beskou Ethiopië se groot waterbronne en -potensiaal as sy "wit olie" en sy koffiebronne as sy "swart goud". Die land het ook groot mineralebronne en oliepotensiaal in sommige van die yler bewoonde gebiede. Politieke onstabiliteit daar belemmer egter ontwikkeling.

Vervoer

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
’n Ligte passasierstrein in Addis Abeba.
Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
’n Boeing 787-8 van Ethiopian Airlines.

Ethiopië het geëlektrifiseerde spoorlyne van 926 km – 656 km tussen Addis Abeba en Djiboeti se hawe en 270 km tussen Addis Abeba en die tweelingstede Dessie/Kombolcha. Teen 2017 was albei spoorlyne nog in aanbou of onder toetsing, maar die verwagting was dat wanneer hulle ten volle operatief is, albei passasiers met ’n spoed van 120 km/h en vrag met ’n spoed van sowat 80 km/h sou vervoer.

Nog twee spoorlyne is in aanbou, maar dit is onseker wanneer hulle in gebruik geneem sal word. Al die lyne is deel van ’n beplande netwerk van altesaam 5 000 km.

As die eerste deel van ’n tienjaarplan het Ethiopië tussen 1997 en 2002 die land se infrastruktuur van paaie verbeter. In 2015 was daar paaie van altesaam 100 000 km.

Die land het in 2012 altesaam 58 lughawens gehad en in 2016 altesaam 61. Twee van hulle, een in Addis Abeba en een in Dire Dawa, onderneem internasionale vlugte. Ethiopian Airlines is die land se vlagskiplugdiens en word ten volle deur die Ethiopiese regering besit. Die lugdiens vlieg na 102 internasionale passasiers-, 20 binnelandse passasiers- en 44 vragbestemmings.

Kultuur

Name

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Die Hager Fikir-teater in Addis Abeba. Dit is in 1935 geopen.

Ethiopiërs gebruik ’n ander naamstelsel as die Weste. Kinders gebruik die voornaam van hulle pa en oupa aan vaderskant ná mekaar agter hulle eie voornaam. Vir doeleindes van versoenbaarheid, soos in paspoorte, word die oupa se voornaam as die gesin se van gebruik, terwyl die persoon en sy pa se voorname hulle eie voorname vorm.

Almal word by hulle voorname genoem. In amptelike situasies word die voorvoegsels Ato (አቶ) vir mans gebruik, Weyzero (ወይዘሮ) vir getroude vroue en Weyzerīt (ወይዘሪት) vir ongetroude vroue.

Kalender

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
’n Model wat die Obelisk van Aksoem se terugkeer na Ethiopië uit Italië gedenk. Dit toon die datum toe die obelisk die land verlaat en weer binnegekom het volgens die Ethiopiese kalender.

Ethiopië het verskeie plaaslike kalenders. Die bekendste een is die Ethiopiese kalender, ook bekend as die Ge'ez-kalender. Dit is geskryf in die antieke Ge'ez-skrif, een van die oudste alfabette ter wêreld wat nog gebruik word. Dit is geskoei op die Alexandriese of Koptiese kalender, wat weer op die Egiptiese kalender geskoei is. Nes die Koptiese kalender het die Ethiopiese kalender 12 maande van presies 30 dae elk plus vyf of ses ekstra dae, wat ’n 13de maand vorm.

Nes met die Juliaanse kalender word die sesde ekstra dag, wat eintlik ’n skrikkeldag is, elke vier jaar op 29 Augustus van die Juliaanse kalender bygevoeg, ses maande voor die Juliaanse skrikkeldag. Die kalender is sowat sewe jaar en drie maande agter die Gregoriaanse kalender vanweë ’n alternatiewe berekening om die dag van Jesus se Hemelvaart te bepaal.

’n Ander kalender is omstreeks 300 v.C. deur die Oromo geskep. Dit is ’n maansterkalender. Dit is geskoei op sterrekundige waarnemings van die maan in konjunksie met sewe spesifieke sterre of sterrebeelde.

Oromo-maande (sterre/maanfases) is Bittottessa (Iangulum), Camsa (Plejades), Bufa (Aldebaran), Waxabajjii (Bellatrix), Obora Gudda (Saiph), Obora Dikka (Sirius), Birra (volmaan), Cikawa (bolmaan), Sadasaa (kwartmaan), Abrasa (groot sekelmaan), Ammaji (medium sekelmaan) en Gurrandala (klein sekelmaan).

Tyd

Tyd in Ethiopië werk anders as in feitlik alle ander lande. Die Ethiopiërs beskou 06:00, wanneer die son dwarsdeur die jaar opkom omdat die land so naby aan die ewenaar is en die dag en nag feitlik ewe lank is, as die begin van die dag in plaas van 00:00. Hulle werk met ’n twaalfuursiklus; die nag duur van sonsondergang tot sonsopkoms en daarna begin die twaalfuursiklus weer vir die dag. Om die tydsverskil tussen ’n Ethiopiese en Westerse horlosie te bereken, moet ses uur bygetel of afgetrek word. Voorbeeld: 08:00 Westerse tyd in Addis Abeba word "tweeuur die oggend" genoem (letterlik twee uur ná sonsopkoms), terwyl 20:00 "tweeuur die aand" genoem word (twee uur ná sononder).

Ondanks druk om internasionale standaarde te volg, bly dié twaalfuurstelsel algemeen in Ethiopië.

Voedsel

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Tipiese Ethiopiese geregte: injera (pannekoekagtige brood) en verskeie soorte wat (bredie).

Die bekendste Ethiopiese kos is verskeie soorte dik bredies, bekend as wat, en bykosse van groente wat op ’n injera, ’n groot platbrood van tefmeel en suurdeeg, voorgesit word. Dit word nie met ’n mes en vurk geëet nie – die injera word gebruik om die kos mee te skep. Dit is algemeen dat ’n paar mense saam uit een bak in die middel van die tafel eet. Dit is ook algemeen om ander in die groep met jou hande te voer, ’n tradisie wat gursha genoem word. Tradisionele Ethiopiese geregte bevat geen varkvleis of skulpvis van enige aard nie, want die eet van albei word verbied deur Ortodokse Christene, Jode én Moslems.

Chechebsa, Marqa, Chukko, Michirra en Dhanga is die Oromo se gewildste kosse. Kitfo, wat onder die Gurage ontstaan het, is een van die land se gewildste lekkernye. Ook Doro wot en Tsebehi derho uit Noordwes-Ethiopië is gewild. Tihlo het in die Tigray-streek ontstaan en is ’n soort kluitjie; dit word berei van geroosterde gortmeel en raak al hoe gewilder.

Media

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Die hoofkwartier van die Ethiopiese Uitsaaikorporasie in Addis Abeba.

EBC (die Ethiopiese Uitsaaikorporasie), voorheen bekend as ETV, is die nasionale TV-kanaal in regeringsbesit terwyl Kana TV die gewildste kanaal is. Laasgenoemde is veral bekend vir buitelandse inhoud wat in Amharies oorgeklank is.

Die koerante met die grootste sirkulasie is Addis Fortune, Capital Ethiopia, Ethiopian Reporter, Addis Zemen en Ethiopian Herald. ’n Groot deel van die land besoek die internet op mobiele toestelle. Die enigste diensverskaffer is die nasionale telekommunikasiemaatskappy Ethio telecom. In Julie 2016 was daar sowat 4,29 miljoen mense met toegang tot die internet tuis, in vergelyking met ’n kwartmiljoen in die dekade vooraf. Tydens tydperke van politieke onrus het die regering al toegang tot sekere sosiale media geblokkeer, soos vir twee dae in Augustus 2016 ná protesoptogte in Oromia.

Musiek

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Mahmoud Ahmed, ’n Ethiopiese sanger van Gurage-herkoms.

Ethiopië se musiek is baie uiteenlopend en elk van die 80 etniese groepe word met sy eie klanke verbind. Ethiopiese musiek gebruik ’n unieke modale stelsel wat pentatonies (met vyf tone per oktaaf) is, met kenmerkende lang intervalle tussen sommige note. Net soos ander aspekte van die Ethiopiese kultuur en tradisie, stem smaak in musiek en lirieke baie ooreen met dié in die naburige Eritrea, Somalië, Djiboeti en Soedan. Tradisionele sang in Ethiopië verteenwoordig uiteenlopende style van polifonie (heterofonie, boerdon, imitasie en kontrapunt). Lirieke hou tradisioneel verband met patriotisme of nasionale trots, romanse, vriendskap en ’n unieke soort memoires bekend as Tizita.

Sport

Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek 
Die atleet Abebe Bikila.

Die gewildste sportsoorte in Ethiopië is atletiek (veral lang afstande) en sokker. Ethiopiese atlete het al baie goue medaljes op die Olimpiese Spele gewen. Abebe Bikila was die eerste atleet van Afrika suid van die Sahara en die eerste swart atleet uit Afrika wat ’n Olimpiese goue medalje gewen het: in die marathon op die Olimpiese Somerspele 1960 in Rome, met ’n wêreldrekordtyd van 2:15:16. Haile Gebrselassie, Kenenisa Bekele en Tirunesh Dibaba is almal wêreldbekende langafstandatlete, elk met verskeie goue Olimpiese en Wêreldkampioenskap-medaljes. Letesenbet Gidey en Almaz Ayana hou die wêreldrekord in onderskeidelik die 5 000 en 10 000 meter vir vroue. Ander noemenswaardige atlete is Mamo Wolde, Miruts Yifter, Derartu Tulu, Meseret Defar, Birhane Adere, Tiki Gelana, Genzebe Dibaba, Tariku Bekele, Gelete Burka en Yomif Kejelcha.

Die nasionale sokkerspan van Ethiopië, met die bynaam "Walayia Antelopes", het in 2012 geskiedenis gemaak deur vir die Afrikanasiesbeker te kwalifiseer. Hulle het ook die laaste 10 Afrika-sokkerspanne gehaal in die laaste kwalifikasiefase vir die Sokkerwêreldbekertoernooi van 2014.

Fotogalery

Addis Abeba

Res van die land

Verwysings

Algemene bronne

  • Abir, Mordechai (1968). Ethiopia: The Era of the Princes; The Challenge of Islam and the Re-unification of the Christian Empire (1769–1855). Londen, Engeland: Longmans.
  • Beshah, Girma; Aregay, Merid Wolde (1964). The Question of the Union of the Churches in Luso-Ethiopian Relations (1500–1632). Lissabon: Junta de Investigações do Ultramar and Centro de Estudos Históricos Ultramarinos.
  • Lyons, Terrence (1996). "Closing the Transition: the May 1995 Elections in Ethiopia". The Journal of Modern African Studies. 34 (1): 121–42. doi:10.1017/S0022278X00055233.
  • Munro-Hay, Stuart (1991). Aksum: An African Civilization of Late Antiquity (PDF). Edinburgh: University Press. ISBN 978-0-7486-0106-6. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 23 Januarie 2013. Besoek op 3 Maart 2012.
  • Valdes Vivo, Raul (1977). Ethiopia's Revolution. New York, NY: International Publishers. ISBN 978-0-7178-0556-3.
  • Mauri Arnaldo (2009), "The re-establishment of the national monetary and banking system in Ethiopia (1941–1963)", The South African Journal of Economic History, Vol. 24, n. 2, bl. 82-130.
  • Mauri Arnaldo (2003), "The early development of banking in Ethiopia", International Review of Economics and Business, Vol. L, N. 4, bl. 521-543.

Nog leesstof

  • Zewde, Bahru (2001). A History of Modern Ethiopia, 1855–1991 (2nd uitg.). Athene, OH: Ohio University Press. ISBN 978-0-8214-1440-8.
  • Selassie I., Haile (1999). My Life and Ethiopia's Progress: The Autobiography of Emperor Haile Selassie I. Translated by Edward Ullendorff. Chicago: Frontline. ISBN 978-0-948390-40-1.
  • Deguefé, Taffara (2006). Minutes of an Ethiopian Century, Shama Books, Addis Abeba, ISBN 99944-0-003-7.
  • Hugues Fontaine, Un Train en Afrique. African Train, Centre Français des Études Éthiopiennes / Shama Books. Édition bilingue français / anglais. Traduction : Yves-Marie Stranger. Postface : Jean-Christophe Belliard. Avec des photographies de Matthieu Germain Lambert et Pierre Javelot. Addis Abeba, 2012, ISBN 978-99944-867-1-7. Engels en Frans. UN TRAIN EN AFRIQUE
  • Henze, Paul B. (2004). Layers of Time: A History of Ethiopia. Shama Books. ISBN 978-1-931253-28-4.
  • Marcus, Harold G. (1975). The Life and Times of Menelik II: Ethiopia, 1844–1913. Oxford: Clarendon. Reprint, Trenton, NJ: Red Sea, 1995. ISBN 1-56902-009-4.
  • Marcus, Harold G. (2002). A History of Ethiopia (updated uitg.). Berkeley: University of California Press. ISBN 978-0-520-22479-7.
  • Mauri, Arnaldo (2010). Monetary developments and decolonization in Ethiopia, Acta Universitatis Danubius Œconomica, VI, n. 1/2010, pp. 5–16. Monetary Developments and Decolonization in Ethiopia and WP Monetary developments and decolonization in Ethiopia
  • Mockler, Anthony (1984). Haile Selassie's War. New York: Random House. Reprint, New York: Olive Branch, 2003. ISBN 0-902669-53-2.
  • Murphy, Dervla (1968). In Ethiopia with a Mule. Londen: Century, 1984, cop. 1968. N.B.: An account of the author's travels in Ethiopia. 280 p., ill. ISBN 0-7126-3044-9
  • Rubenson, Sven (2003). The Survival of Ethiopian Independence (4de uitg.). Hollywood, CA: Tsehai. ISBN 978-0-9723172-7-6.
  • Siegbert Uhlig, et al. (reds.) (2003). Encyclopaedia aethiopica, Vol. 1-5 en addendums: A–C. Wiesbaden: Harrassowitz Verlag.
  • Keller, Edmond (1991). Revolutionary Ethiopia From Empire to People's Republic. Indiana University Press. ISBN 9780253206466.

Skakels

  • Ethiopië: Etimologie, Geskiedenis, Regering en politiek  Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wiki vertaal.

Tags:

Ethiopië EtimologieEthiopië GeskiedenisEthiopië Regering en politiekEthiopië GeografieEthiopië DemografieEthiopië EkonomieEthiopië KultuurEthiopië FotogaleryEthiopië VerwysingsEthiopië Algemene bronneEthiopië Nog leesstofEthiopië SkakelsEthiopiëAddis AbebaAfarAmhariesDjiboetiEritreaGe'ezHoofstadHoring van AfrikaItyopya.oggKeniaLandingeslote landLêer:Ityopya.oggOos-AfrikaOromoSoedanSomaliesSomaliëSuid-SoedanTigrinyaWikipedia:Mediahulp

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

Geskiedenis van die Verenigde State van AmerikaGrondbesoedelingYslandVarkgriepAfro-AmerikanersNederlandsSomer7de LaanWeskusKondensasieWolfTuberkuloseGawes van die Heilige GeesOrale seksIdioomSuikersiekteOos-KaapDemi Lee MooreKunstenaarDie ontstaan van die dramaEufemismeMielieKlavierRobbeneilandGeskiedenis van die Britse Ryk en StatebondRuslandWet op Bantoe-onderwysMIVNasionale erfenisterreine van Suid-AfrikaIslamitiese Staat – Khorasan ProvinsieWolkPaasfeesGeelsugWitbloedselLys van Afrikaanse rolprenteIndiëLys van bekende Suid-AfrikanersPredikante van die Gereformeerde Kerke in Suid-AfrikaSelfoonVerenigde State van AmerikaKlem-in-die-kaakKoolstofdioksiedKoperRooibokNedersettingNatuurwetenskapTrigeminale neuralgieYstervarkStadWitrenosterDundermPoesRefentse MorakeRassisme in AfrikaDiepaartromboseHondElektroniese of digitale mediaMantisMuskietBreinkaartJansenvilleSkaapEkostelselBruto binnelandse produkBoor (element)Abstraksie (rekenaarwetenskap)EmosieWortelKatoenStrykyster2001Lys van myne in Suid-AfrikaGautengSosiale ordeKolonialismeSinkBTWVrat🡆 More