Die uMgenivlei-natuurreservaat is 'n reservaat in KwaZulu-Natal met die doel die beskerming van en navorsing oor sekere bedreigde voëlspesies.
Hierdie voëlreservaat is 22 km suidwes van Nottingham Road, suidwes van Fort Nottingham en die Fort Nottingham-natuurreservaat, wesnoordwes van Pietermaritzburg, oos van die Maloti-Drakensbergpark en suidoos van die uMkhomazi-natuurreservaat. Dit is by 29°30′S 29°50′O / 29.500°S 29.833°O en lê by 1840 m bo seespieël.
Die reservaat is nie vrylik toeganklik vir die publiek nie. Dit lê tussen plase en die toegang is moeilik. Besoeke kan slegs plaasvind as betyds die nodige toestemming daartoe verkry is. Permitte word gewoonlik slegs aan navorsers uitgereik.
Dit is 958ha groot, waarvan die helfte bestaan uit permanente vleie, poele en moerasse. Die ander deel is bedek met riete, gras en bosagtigheid. Mis en wolke is alledaags en dit weerlig hier die meeste in die land. Reënval van tussen 800 en 1 000 mm per jaar is normaal en die meeste hiervan val in die somer. Dit is die oorsprong van die Umgenirivier wat via die Midmardam, Albert Falls-dam, Nagledam en die Inandadam water aan Durban en Pietermaritzburg verskaf. In 1987 het die destydse Natlase parkeraad die gebied in besit geneem om die lelkraanvoël te beskerm en in 2013 het die park Ramsar-status verkry. Weens die goeie samewerking met die aangrensende boere wei die boere se beeste en skape op ooreengekome tye op die grasvelde van die reservaat. Wilddiewe en uitheemse plante skep ‘n probleem. Ook bedreig die rooijakkals die lelkraanvoël.
Die volgende voëls kom in die reservaat voor: lelkraanvoël, mahem, bloukraanvoël, witvlerkvleikuiken, grasuil, geelborskoester, Afrikaanse vleivalk, sekretarisvoël, grondspeg, bergklipwagter, langtoonkliplyster, Oranjeborsberglyster, kransaasvoël, baardaasvoël en die bleekkopgrassanger. Onder die soogdiere is daar die bedreigde oorbietjie. Die inheemse medisinale plant Merwilla natalenis en verskeie vuurpyl-spesies is inheems, maar die Amerikaanse braambos is ‘n indringerplant.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article UMgenivlei-natuurreservaat, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.