Turkse Betogings Van 2013

Die Turkse betogings van 2013 is ’n landwye, steeds voortdurende reeks betogings wat op 28 Mei in Istanboel, Turkye, begin het teen die sloping en ontwikkeling van Taksim Gezi-park, ’n klein park aan Taksim-plein wat beskou word as ’n klein groen eiland in die betonoerwoud.

Die betoging het wêreldwyd opslae gemaak toe foto's van polisiegeweld op veral sosiale media begin verskyn het.

Turkse Betogings Van 2013
Betogers in Junie 2013 op Taksim-plein.
Turkse Betogings Van 2013
Die polisie spuit die betogers met traangas in Istiklal Caddesi aan Taksim-plein.

Die opstand het sedertdien uitgebrei na tientalle ander Turkse stede en gaan nie net meer oor die sloping van Taksim Gezi-park nie, maar ook oor die hardvogtige houding van die eerste minister van die afgelope 10 jaar, Recep Tayyip Erdoğan, die reg om te vergader, vryheid van uitdrukking en die inbreuk wat die regering maak op Turkye se sekularisme.

Agtergrond

Turkse Betogings Van 2013 
Die Turkse eerste minister, Recep Tayyip Erdoğan.

Die Regs- en Ontwikkelingsparty onder eerste minister Recep Tayyip Erdoğan regeer sedert 2002 nadat hulle die verkiesing met ’n groot meerderheid gewen het. Hulle is in 2007 en 2011 herkies, weer met ’n groot meerderheid. Onder Erdoğan se bewind het Turkye herstel van die finansiële krisis en resessie van 2001. Veral sedert 2011 het dit ook die land, wat sedert sy stigting in 1923 sekulêr is, in ’n Islamitiese rigting laat beweeg. Beperkings op menseregte, die vryheid van spraak en van die pers, internetgebruik televisie-inhoud, en die reg om te vergader, het terselfdertyd toegeneem.

Turkse Betogings Van 2013 
2011-betogings teen internetsensuur.

In 2012 is Islamitiese elemente ook in die onderwysstelsel ingebring, die verbruik en verkoop van alkohol op universiteitskampusse is verbied en in 2013 het die parlement ’n wet goedgekeur wat alkoholgebruik in die algemeen beperk. Hulle het dit feitlik onmoontlik gemaak om ’n aborsie te kry, die uitbreiding van gayregte teengestaan en gevangenisstraf is aan mense opgelê vir godslastering.

Hoewel bouwerk in Turkye die hoogte ingeskiet en bygedra het tot ’n opswaai in die ekonomie, is die plaaslike bevolkings selde daaroor geraadpleeg en teenstanders van bouprojekte is gereeld herinner aan hoe gewild die regerende party in die verkiesings was. Kommer oor korrupsie het ook toegeneem.

Omgewingskwessies, veral sedert die besluit van die regering in 2010 om nog kernkragsentrales en ’n derde brug oor die Bosporus te bou, het gelei tot betogings in Istanboel en Ankara. In die Swartseegebied was daar ook tientalle betogings teen stortingsterreine, kernkragsentrales, snelweë, fabrieke en damme.

Die regering se standpunt oor die burgeroorlog in Sirië was vir baie Turke ook rede tot kommer. In 2011 is 34 burgers gedood toe Turkse vegvliegtuie bomme op Turkse grondgebied naby die grens met Irak gegooi het; vir baie was dit sprekend van die regering se houding jeens Koerdiese en buitelandse beleidskwessies. Erdoğan het geweier om verskoning te vra oor die voorval ondanks groot druk, en dit het gelei tot die Koerdiese opstande van 2011–'12 in Turkye.

Gezi-park

Turkse Betogings Van 2013 
Die Taksim- Militêre Kasernes wat in 1806 gebou en in 1940 gesloop is om plek te maak vir Taksim Gezi-park.

Die aanvanklike oorsaak van die 2013-betogings was die plan om Taksim Gezi-park, een van die min oorblywende groen ruimtes in Istanboel, te sloop vir die herbou van die Taksim- Militêre Kasernes uit die Ottomaanse era wat in 1940 gesloop is. In Januarie 2013 het ’n kultuurbewaringsraad wat onafhanklik van die regering is, die projek afgekeur synde nie in openbare belang nie. ’n Hoër raad het egter dié besluit op 1 Mei omgekeer, volgens aktiviste onder invloed van die regering.

Die grondverdieping van die kasernes sal waarskynlik ’n winkelkompleks huisves en die boonste verdiepings luuksewoonstelle, hoewel die moontlikheid van ’n museum pleks van ’n winkelkompleks genoem is in reaksie op die betogings. Die hoofkontrakteur van die projek, die Kalyon-groep, is in 2013 deur die BBC beskryf as ’n "maatskappy wat noue bande met die regerende Regs- en Ontwikkelingsparty het".

Teenstand het in Desember 2012 begin met ’n petisie en opstande het in April 2013 begin. Op 27 Mei het ’n groep van sowat 50 omgewingsbewustes die park beset. ’n Polisie-aanval op 29 Mei het gelei tot groter opstande. Hoewel Turkye ’n geskiedenis van polisiegeweld het, het die aanval op ’n vreedsame byeenkoms van omgewingsbewustes gelei tot ’n landwye woede en die grootste betoging in dekades in Turkye.

Terwyl die betogings versprei het na tientalle ander stede soos Anakara, Izmir, Bursa, Edirne, Antalya en Antakya, is verskeie mense dood en talle beseer in die aanvalle deur die polisie waarin onder meer traangas en waterkanonne gebruik is. Ook in ander dele van die wêreld met groot Turkse bevolkings is protesoptogte gehou.

Tydens die betogings het die eerste minister verskeie toesprake gehou wat die betogers as vyandiggesind beskou het, en op 3 Junie het hy op ’n beplande drie dae lange besoek aan Noord-Afrika vertrek – ’n stap wat opposisiepartye as onverantwoordelik beskryf het. Op 4 Junie het die onderpremier, Bülent Arınç, verskoning gevra vir die "buitensporige geweld" wat deur die polisie gebruik is aan die begin van die betogings, maar gesê hy sal nie verskoning vra vir die geweld later in die betogings nie. Op 6 Junie het Erdoğan gesê die planne vir die nuwe kompleks gaan voort ondanks die betogings.

Kamp in Gezi-park

Turkse Betogings Van 2013 
Van die vermaak in die park was ’n draaiende Soefi met ’n gasmasker.
Turkse Betogings Van 2013 
Betogers in Istiklal Caddesi by Taksim-plein.
Turkse Betogings Van 2013 
’n Plakkaat in Koerdies wat lees: "Geregtigheid vir Hrant Dink".
Turkse Betogings Van 2013 
’n Veeartskliniek in die park.

Nadat die polisie ophou probeer het om die betogers uit Gezi-park te verwyder, het die getalle geweldig toegeneem en is talle tente opgeslaan, in so ’n mate dat ’n kaart van die park by die ingang aangebring is om aan te dui waar sleutelpunte soos klinieke en koskombuise is. Die betoging het ’n soort feesgevoel ontwikkel, met selfs families met kinders wat kom deelneem het. Betogers het ekstra kos gebring, ’n biblioteek is opgerig met duisende boeke wat geskenk is, konserte is gehou ’n rolprentskerm is opgestel, asook ’n verhoog met luidsprekers en ’n kragopwekker. ’n Simboliese straat is genoem na Hrant Dink, ’n joernalis wat in 2007 vermoor is; die straat verbind Vredesplein met ’n speelterrein vir kinders. Teatermaskers teen die traangas en Guy Fawkes-maskers word verkoop en jogaklasse gehou. Saans groei die getalle aan wanneer mense van die werk af by die betogers aansluit.

Eise

Op 4 Junie het ’n solidariteitsgroep wat met die Beset Gezi-beweging verbind word, ’n lys eise uitgereik:

  • Die bewaring van Gezi-park;
  • ’n Einde aan polisiegeweld, die reg om te vergader en die vervolging van diegene wat verantwoordelik was vir die geweld teen die betogers;
  • ’n Einde aan die verkoop van "openbare ruimtes, strande, woude, waterstrome, parke en stedelike simbole aan private maatskappye, eiendomsbesitters en beleggers";
  • Die reg van mense om hul "behoeftes en klagtes uit te druk sonder vrees, inhegtenisnemings en marteling."
  • Dat die media, "wat die professionele plig het om die openbare belang te beskerm en korrekte inligting te versprei, optree op ’n etiese en professionele manier".

Onderpremier Arınç het ’n vergadering met die groep gehou, maar later hulle eise verwerp.

Die regering se reaksie

Op 29 Mei, ná die aanvanklike betogings, het Erdoğan weer eens sy steun aan die bou van die derde brug oor die Bosporus bevestig en gesê: "Wat julle ook al doen, ons het klaar besluit en ons sal dit deurvoer." Op 31 Mei het die burgemeester van Istanboel, Kadir Topbaş, gesê die omgewingsveldtog "is geplooi deur politieke agendas".

Op 1 Junie het Erdoğan in ’n TV-toespraak die betogers veroordeel en gesê "vir elke 20 mense wat hulle bymekaarmaak, sal ek 200 000 mense bymekaarmaak. Vir elke 100 000 wat hulle bymekaarmaak, sal ek ’n miljoen van my party bymekaarmaak." Op 2 Junie het hy die betogers beskryf as "plunderaars" en "leeglêers".

Op 1 Junie het onderpremier Arınç die gebruik van traangas teen die betogers veroordeel en gesê: "Dit sou beter gewees het om die mense wat sê hulle wil nie ’n winkelkompleks hê nie, te probeer oortuig, in plaas daarvan om hulle met traangas te spuit."

Op 2 Junie is berig dat pres. Abdullah Gül ander senior leiers gekontak het en gesê het om "matigheid" te gebruik. Daarna het die minister van binnelandse sake, Muammer Güler, die polisie gelas om aan Taksim te onttrek en betogers toe te laat om die plein weer te beset. Op 3 Junie het Gül die reg om te betoog verdedig en gesê: "Demokrasie beteken nie net verkiesings nie."

Op 8 Junie het burgemeester Topbaş aan verslaggewers gesê: "Ons oorweeg dit beslis nie om ’n winkelsentrum of ’n hotel of woonstelle daar te bou nie. Dit kan ’n stadsmuseum of uitstallingsentrum wees.

Turkse media

Die betogings het veral aan die begin (tot 2 Junie) min dekking gekry in die Turkse media. Volgens die BBC steun sommige media die regerende party of is hulle na aan die eerste minister, terwyl ander nie die regering wil kwaad maak nie omdat van die eienaars se sakebelange soms van regeringshulp afhang.

Weens die min dekking in die Turkse media is die sosiale media soos Twitter gebruik om oor die voorvalle te berig. In die 12 uur ná 16:00 op 31 Mei was daar meer as twee miljoen twiets. Erdogan het in ’n toespraak gesê: "Daar is nou ’n bedreiging wat Twitter genoem word. Die grootste leuens kan daar gevind word. Vir my hou die sosiale media die grootste bedreiging vir die gemeenskap in."

Sestien mense is in Izmir in hegtenis geneem vir hul twiets. Daar was berigte dat die 3G-seine in sommige gebiede afgeskakel is. In reaksie het sommige winkels en kantore sekuriteit van hul Wifi-netwerke verwyder. Die gerugte het ook gelei tot ’n groter gebruik van virtuele private netwerke deur Turkse mobiele-internetgebruikers.

Impak

Kritiek

Volgens die politieke ontleder Koray Çalışkan van Istanboel se Boğaziçi-universiteit is die betogings ’n keerpunt vir die regerende party. "Erdoğan is ’n baie selfversekerde en outoritêre leier en hy luister nie meer na enigiemand nie. Hy moet egter verstaan dat Turkye nie ’n koninkryk is en dat hy nie Istanboel op sy eie uit Ankara kan regeer nie."

Belangrike stemme het ook uit konserwatiewe en Islamitiese kringe teen die regering opgeklink. İhsan Eliaçık beweer Erdoğan is ’n diktator en Fatma Bostan Ünsal, een van die medestigters van die regerende party, het haar steun aan betogings toegesê. Mustafa Akyol, ’n liberale Islamitiese joernalis, het gesê die gebeure is ’n reaksie van die volk wat opbou teen Erdoğan.

Faruk Birtek, ’n sosiologieprofessor aan die Boğaziçi-universiteit, het die optrede van die polisie veroordeel en dit vergelyk met dié van die SS van Nazi-Duitsland. Daron Acemoglu, ’n ekonomieprofessor, het in die New York Times geskryf as die stembus nie die regte keuses oplewer nie, "vind demokrasie plaas deur middel van direkte aksie."

Toerisme

In 2011 het meer as 51,5 miljoen buitelandse toeriste Turkye besoek, wat dit die sesde gewildste toerismebestemming ter wêreld gemaak het. Toerisme is een van die belangrikste bronne van inkomste vir die land en daar is kommer dat die betogings ’n groot negatiewe invloed daarop sal hê. Op 4 Junie het hotel- en toerisme-ondersoekers van Istanboel gesê "meer as 40 persent van hotelbesprekings" in die stad is gekanselleer.

Mark Almond, ’n professor in internasionale verhoudings van Ankara, het op Russia Today gesê: "Dit is ’n stad met ’n groot getal buitelandse toeriste – baie van hulle is geraak, baie moes mediese sorg kry. Dit is ’n ramp met groot ekonomiese implikasies."

Op 1 Junie het die regering van die Verenigde Koninkryk ’n waarskuwing uitgereik waarin gesê is reise na Turkye moet tot noodsaaklike besoeke beperk word. Soortgelyke waarskuwings is uitgereik deur Kanada en Nieu-Seeland, en volgens ’n woordvoerder het die Amerikaanse departement van buitelandse ook ’n waarskuwing oorweeg. Ook Duitsland het Duitse reisigers in Turkye gewaarsku om nie gebiede te besoek wat deur die betogings geraak word nie.

Olimpiese Spele 2020

Istanboel se burgemeester, Kadir Topbaş, het sy kommer in ’n onderhoud uitgespreek dat die geweld Istanboel se bod vir die Olimpiese Somerspele in 2020 sal benadeel. Hy het gesê die feit dat die hele wêreld dit sien, maak hom hartseer. "Hoe sal ons dit verduidelik? Watter aansprake sal ons hê om die 2020- Olimpiese Spele aan te bied?"

Ekonomie

Op 3 Junie het die Istanboelse Effektebeurs op een dag ’n verlies van 10,5% ondervind – die grootste dagverlies in ’n dekade."

Erdoğan het op 6 Junie gesê die ontwikkeling van Gezi-park sal voortgaan ondanks die betogings. Kort daarna het die Turkse aandelemarkte 5% gedaal.

Verwysings

Eksterne skakels

Tags:

Turkse Betogings Van 2013 AgtergrondTurkse Betogings Van 2013 Kamp in Gezi-parkTurkse Betogings Van 2013 EiseTurkse Betogings Van 2013 Die regering se reaksieTurkse Betogings Van 2013 Turkse mediaTurkse Betogings Van 2013 ImpakTurkse Betogings Van 2013 VerwysingsTurkse Betogings Van 2013 Eksterne skakelsTurkse Betogings Van 2013IstanboelSosiale mediaTaksim Gezi-parkTaksim-pleinTurkye

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

StadVrystaatSuiwelprodukKatLys van Suid-Afrikaanse voëls (alfabeties)KnieBysteekGoogleAfrikaanse WikipediaVraag en aanbodBek-en-klouseerLettergreepGemeenskapsorganisasieTatoeëermerkGrondwet van Suid-AfrikaWerkersdagThe CranberriesPerdEmfiseemNiersteenTydsoneSeksismeMasturbasieKorrupsieKaliumAkroniemVerantwoordelikheidSmaakLetterkundeMona LisaWet op NaturellengrondApostoliese GeloofsbelydenisSonkragYstertydperkVroueregteAtoomHartaanvalJohannes MeintjesLys van politieke partye in Suid-AfrikaSuid-Afrikaanse algemene verkiesing van 1994RegeringSeptimius AwardsSonHoofstadHolocaustLuiperdKasteel die Goeie HoopKolorektale kankerSuid-Afrikaanse randLys van bekende Suid-AfrikanersBreinvliesontstekingLeeuNiemetaalVrymesselaryAsiëZack du PlessisRuslandAfrikanerweerstandsbewegingMediese diagnoseOopbroninhoudAardbewingSkisofrenieEkonomiese geskiedenis van Suid-AfrikaRelatiwiteitsteorieKoolhidraatFiela se kind (rolprent)Kaapse VlakteKommunismeMeeueBloeddrukBesoedelingDriedimensioneelNatuurlike hulpbronLente🡆 More