Toring Van Babel

Die Bybelse verhaal van die toring van Babel (Hebreeus: מִגְדַּל בָּבֶל, Migdal Bavel) in Genesis 11:1-9 verduidelik hoekom die wêreld se volke verskillende tale praat.

Toring Van Babel
Die toring van Babel, deur Pieter Bruegel die Ouere (1563).

Volgens die verhaal het ’n verenigde volk wat een taal gepraat het ná die Sondvloed ooswaarts getrek en by Sinar aangekom. Hulle het besluit om ’n stad te bou, asook ’n toring waarvan die punt tot in die hemel sou reik. God het dit gesien en verwarring in hulle taal gebring sodat hulle mekaar nie meer kon verstaan nie. Hy het hulle toe oor die aarde verstrooi.

Sommige moderne geleerdes het al die toring van Babel met bekende strukture verbind, veral Etemenanki, ’n ziggoerat in Babilon wat aan die god Mardoek opgedra was. ’n Sumeriese storie met soortgelyke elemente word in Enmerkar en die god van Aratta vertel.

Bybelse verhaal

Toring Van Babel 
Duitse Laat Middeleeuse (c. 1370's) uitbeelding van die bou van die toring.
1 Die hele wêreld het net een taal gepraat.

2 Toe die mense ooswaarts getrek het, het hulle uitgekom by 'n vlakte in Sinar en daar gaan woon.

3 Hulle het op 'n keer vir mekaar gesê: “Kom ons maak stene en ons brand hulle hard.” Hulle het toe stene in plaas van klip gebruik en asfalt in plaas van klei.

4 Toe sê hulle: “Kom ons bou vir ons 'n stad met 'n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons 'n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie.”

5 Die Here het afgekom om te kyk na die stad en die toring wat die mense vir hulle gebou het,

6 en toe sê Hy: “Hier is hulle een volk en almal het een taal. Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie.

7 Kom laat Ons afgaan en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie.”

8 Die Here het hulle toe van daar af verstrooi oor die hele aarde, en hulle het opgehou met die bou van die stad.

9 Daarom het hulle die stad Babel genoem, want daar het die Here in die taal van die aarde verwarring gebring, en van daar af het Hy die mense oor die hele aarde verstrooi..

Genesis 11:1-9 (1983-vertaling)

Etimologie

Die frase "toring van Babel" kom nie in die Bybel voor nie; dit word "stad en toring" of net "stad" genoem. Die oorspronklike ontlening van die naam Babel (ook die Hebreeuse naam vir Babilon) is onseker. Die Akkadiese naam vir die stad was Bāb-ilim, wat beteken "poort van God". Dié vorm en vertolking kom egter vermoedelik uit ’n volksetimologie wat op ’n vroeëre naam, Babilla, toegepas is; laasgenoemde se betekenis is onbekend en dit het waarskynlik ’n nie-Semitiese oorsprong.

Volgens die Bybel is die stad "Babel" genoem, van die Hebreeuse werkwoord בָּלַ֥ל (bālal), wat beteken "deurmekaargooi" of "verwar".

Samestelling

Genre

Die verhaal van die toring van Babel is ’n etiologie (oorsaakleer). ’n Etiologie verduidelik die oorsprong van ’n gebruik, ritueel, naam of ander verskynsel.:426 Die storie van die toring verduidelik die ontstaan van verskeie tale. God was bekommerd dat die volk ’n toring wou bou om ’n tweede vloed te voorkom en daarom het Hy baie tale geskep.:51 Mense is dus in taalgroepe verdeel wat mekaar nie kon verstaan nie.

Temas

Die verhaal se tema van mededinging tussen God en die mens kom elders in Genesis voor, in die storie van Adam en Eva in die Tuin van Eden. Die 1ste-eeuse Joodse vertolking wat in Flavius Josephus voorkom, verduidelik die bou van ’n toring as ’n aanmatigende daad om God te tart, waarvoor die arrogante tiran Nimrod opdrag gegee het. Hierdie klassieke vertolking word egter soms betwis en klem word gelê op die eksplisiete motief van kulturele en linguistiese homogeniteit wat in verse 1, 4 en 6 genoem word. In hierdie vertolking van die verhaal word God se optrede nie beskou as ’n straf vir trots nie, maar as ’n etiologie van kulture verskille, en word Babel as die wieg van die beskawing beskou.

Outeurskap

Tradisie gee Moses die eer vir die skryf van die hele Pentateug; in die laat 19de eeu is die dokumentêre hipotese egter deur Julius Wellhausen voorgestel. Daarvolgens word vier bronne vir die Pentateug voorgestel: J (Jahwisties), E (Elohisties), P (priesterlik) en D (Deuteronomisties). Aanhangers hiervan meen die verhaal van Babel kan toegeskryf word aan die Jahwistiese bron. Die etiologiese aard van die verhaal word as tipies van J beskou. Daarbenewens word die opsetlike woordspeling in verband met die stad Babel en die geraas van die mense wat "babbel", beskou as tipies van J.:51

Historiese konteks

Toring Van Babel 
Hangende Tuin van Babilon, ’n illustrasie uit die 19de eeu, wys die Toring van Babel op die agtergrond.

Bybelse geleerdes beskou die boek Genesis as mitologies en nie as ’n historiese weergawe van gebeure nie. Die storie van Babel kan nietemin in terme van sy konteks vertolk word. In Genesis 10:10 word Babel as deel van Nimrod se koninkryk verklaar. Die Bybel noem nie spesifiek dat Nimrod opdrag vir die bou van die toring gegee het nie, maar baie ander bronne verbind dit wel met Nimrod.

Genesis 11:9 skryf die Hebreeuse weergawe van die naam "Babel" toe aan die werkwoord balal, wat beteken om te verwar. Ook Flavius Josephus het verduidelik die naam kom van die Hebreeuse woord Babel (βαβὲλ), wat "verwarring" beteken.

Vernietiging

Die weergawe in Genesis maak geen melding daarvan dat die toring vernietig is nie. Die volk wat verskillende tale begin praat het, is bloot "verstrooi oor die hele aarde", sodat hulle kon ophou om die stad te bou. In ander bronne, soos die Boek van Jubileë (hoofstuk 10:18-27), Cornelius Alexander (frag. 10), Abudenos (frag. 5 en 6), Josephus (Antiquities 1.4.3) en die Sibillynse Orakels (iii. 117-129) waai God die toring met ’n sterk wind om.

In die midrasj word gesê die bopunt van die toring het afgebrand, die onderkant is ingesluk en die middelste deel is laat staan om mettertyd te verweer.

Etemenanki, die ziggoerat in Babilon

Toring Van Babel 
’n Voorstelling van Etemenanki, wat 91 m hoog was.

Etemenanki was die naam van ’n ziggoerat in die stad Babilon wat aan die god Mardoek gewy was. Dit is in die 6de eeu v.C. deur die Neo-Babiloniese konings Nabopolassar en Nebukadnesar II laat herbou. Volgens moderne geleerdes soos Stephen L. Harris is die verhaal van die toring van Babel waarskynlik beïnvloed deur Etemenanki tydens die Babiloniese gevangenskap van die Jode.

Nebukadnesar het geskryf die oorspronklike toring is in antieke tye gebou: "’n Vorige koning het die Tempel van die Sewe Ligte van die Aarde gebou, maar hy het nie die punt voltooi nie. Mense het dit lank gelede ontruim, sonder ’n verslag van hulle woorde. Sedertdien het aardbewings en weerlig sy songedroogde klei opgebreek; die stene aan die buitekant het gebars en die grond aan die binnekant is in hope versprei." Die sewe ligte was die planete, maan en son wat destyds geglo is om die aarde wentel.

In 2011 het geleerdes die oudste bekende voorstelling van Etemenanki ontdek. Dit is uitgekerf op ’n swart steen bekend as die "Toring van Babel-stele", wat dateer van 604 tot 562 v.C., die tyd van Nebukadnesar II.

Die Griekse historikus Herodotos (440 v.C.) het later van hierdie ziggoerat geskryf, wat hy die "Tempel van Zeus Belus" genoem het. Daarin skyf hy van sy enorme afmetings.

Die reeds vervalle Groot Ziggoerat van Babilon is eindelik deur Alexander die Grote vernietig in ’n poging om dit te herbou. Sy dood het egter ’n einde aan die projek gebring.

Toring se hoogte

In Genesis word nie genoem hoe hoog die toring was nie. Die frase wat gebruik word om die toring te beskryf, "punt tot in die hemel" (Genesis 11:4), was ’n idioom vir ’n indrukwekkende hoogte en beeld nie arrogansie uit nie.:37

Volgens die Boek van Jubileë was die toring 5 433 el en 2 palms hoog – of 2 484 m, sowat drie keer so hoog soos Burj Khalifa. Die Derde Openbaring van Barug noem die "toring van twis" was 463 el hoog – of 211,8 m, hoër as enige mensgemaakte struktuur tot met die oprigting van die Eiffeltoring in 1889. Die Eiffeltoring is 324 m hoog.

Gregorius van Tours haal omstreeks 594 ’n vroeëre skrywer, Orosius (omstreeks 417), aan wat gesê het die toring was "vierkantig, op ’n baie gelyk vlakte. Sy muur, wat van gebakte stene gemaak was en met pik gemessel is, was 50 el breed, 200 el hoog en 470 stadions in omtrek." ’n Stadium het destyds ’n omtrek van sowat 176 m gehad. Aan elke kant was 25 poorte, dus altesaam 100. Die groot deure was van brons. "Dieselfde historikus vertel baie stories oor die stad en sê: 'Hoewel sy gebou so glorieryk was, is dit steeds verower en verwoes.'"

’n Tipiese Middeleeuse weergawe word deur Giovanni Villani (1300) gegee: Dit was reeds 130 km in omtrek, 4 000 treë (5,92 km) hoog en 1 000 treë dik. Die 14de-eeuse reisiger John Mandeville gee ook ’n beskrywing van die toring en sê dit was volgens plaaslike bewoners 64 furlong (13 km) hoog.

In sy boek Structures: Or Why Things Don't Fall Down (Pelican 1978–1984), skryf prof. J.E. Gordon oor die hoogte van die toring. Volgens hom weeg stene en klippe 2 000 kg per m3. Elementêre rekenkunde wys ’n toring met parallelle mure kon 2,1 km hoog gewees het voordat die onderste stene deur die gewig inmekaargedruk word. As die mure nouer geloop het na bo, kon hulle so hoog gewees het dat die mense van Sinar se suurstof sou opraak en hulle moeilik sou asemhaal voordat die stene onder hulle eie gewig sou instort.

Spraakverwarring

Toring Van Babel 
Die Spraakverwarring, deur Gustave Doré, ’n houtsneewerk wat die toring van Babel uitbeeld.

Die spraakverwarring (confusio linguarum) is die ontstaansmite vir die fragmentasie van die menslike tale wat in die Bybel beskryf word en wat gevolg het op die bou van die toring van Babel.

Bybelse weergawe

In Genesis 11 word beweer alle mense het voor die bou van die toring een taal gepraat. Dit bots met ’n vroeëre vers, Genesis 10:5. ("Uit hulle het die mense wat nou die kusstreke bewoon, daarnatoe versprei, volgens hulle stamme en nasies, elkeen met sy eie taal.")

Latere vertolking

Tydens die Middeleeue is Hebreeus algemeen deur Joodse, Christelike en Moslemse geleerdes beskou as die taal wat God gebruik het om in die Paradys met Adam te praat, en deur Adam self.

Dante Alighieri raak die onderwerp aan in sy De vulgari eloquentia (1302-1305). Hy sê daarin die taal van Adam is van goddelike oorsprong en dus onveranderlik. Hy sê verder die eerste een wat volgens Genesis praat, is Eva toe sy met die slang praat, en nie Adam nie.

In sy Goddelike Komedie (omstreeks 1308-1320) verander Dante egter sy mening en beskou hy Adam se taal as ’n produk van Adam. Dit het die gevolg gehad dat dit nie meer as onveranderlik beskou kan word nie, en daarom kan Hebreeus nie die taal van die Paradys wees nie. Dante kom tot die gevolgtrekking (Paradiso XXVI) dat Hebreeus van Adam se taal afstam, en dat die belangrikste Hebreeuse naam vir God in skolastiese tradisie, El, moet kom van ’n ander naam wat Adam God genoem het, wat Dante meen I was.

Voor die aanvaarding van die Indo-Europese taalfamilie is hierdie tale deur sommige geleerdes beskou as "Jafetities" (afkomstig van Jafet, seun van Noag). In die Europa van die Renaissance het die sogenaamde Jafetitiese tale voorrang geniet bo Hebreeus, want hulle het na bewering nooit vervorm nie omdat die mense wat dié tale gepraat het, nie aan die bou van die toring van Babel deelgeneem het nie. Onder die kandidate vir tale wat van Adam se taal sou afgestam het, was: Gaelies, Toskaans, (Giovanni Battista Gelli, Piero Francesco Giambullari), Nederlands (Goropius Becanus, Abraham Mylius), Sweeds (Olaus Rudbeck) en Duits (Georg Philipp Harsdörffer, Justus Georg Schottel).

Die Sweedse arts Andreas Kempe het in 1688 ’n satire geskryf waarin hy spot met die sprekers van verskillende Europese tale wat beweer het hulle moedertaal is die taal van Adam. Daarin praat Adam Deens, God Sweeds en die slang Frans.

Linguistiek

Historiese linguiste worstel al lank met die idee van ’n enkele, oorspronklike taal. In die Middeleeue, en tot in die 17de eeu, is pogings aangewend om ’n bestaande afstammeling van die taal van Adam te vind.

Toring Van Babel 
Die Toring van Babel, deur Endre Rozsda (1958).

Die letterlike geloof dat al die tale van die wêreld hulle oorsprong by die toring van Babel het, is skynlinguistiek en bots met die bekende feite oor die oorsprong en geskiedenis van tale.

In Genesis 11 word gesê almal het een taal gepraat, maar soos reeds gesê, bots dit met die Bybelse beskrywing van die wêreld ná Noag in Genesis 10:5, waar vertel word die afstammelinge van Sem, Gam en Jafet het verskillende volke gevorm, elk met sy eie taal.:26

Verskeie ander tradisies in die wêreld beskryf ’n goddelike verwarring waar een taal gelei het tot baie, al is dit sonder ’n toring. Benewens die Griekse mite waarin Hermes die tale verwar het, noem die Skotse folkloris James George Frazer verskeie volke wat ’n soortgelyke verhaal vertel.

Verskeie pogings is in die Middeleeue aangewend om ’n lys saam te stel van tale wat by Babel ontstaan het. ’n Lys name van al die afstammelinge van Noag in Genesis 10 (LXX) sluit 15 name vir Jafet se afstammelinge in, 30 vir Gam s’n en 27 vir Sem s’n – hierdie getal kom op 72 te staan en dit is beskou as die tale wat uit die verwarring by Babel voortgespruit het. Die presiese lys tale verskil egter van tyd tot tyd. ’n Paar van die vroegste bronne wat 72 (soms 73) tale noem, is die 2de-eeuse Christelike skrywers Clemens van Alexandrië (Stromata I, 21) en Hippolitus van Rome (Oor die Psalms 9). Dit word deur talle latere bronne herhaal, soos sint Augustinus se Stad van God 16.6 (omstreeks 410), die Persiese historikus Muhammad ibn Jarir al-Tabari (omstreeks 915), die Russiese Primêre Kronieke (omstreeks 1113), die Joodse kabbalawerk Bahir (1174) en die Siriese Boek van die By (omstreeks 1221).

Die kronieke van Hippolitus (omstreeks 234) bevat een van die eerste pogings om elk van die 72 volke te noem wat glo hierdie tale praat. Die tradisie van 72 tale het nog lank daarna voortbestaan.

Verwysings

Tags:

Toring Van Babel Bybelse verhaalToring Van Babel EtimologieToring Van Babel SamestellingToring Van Babel Historiese konteksToring Van Babel VernietigingToring Van Babel Etemenanki, die ziggoerat in BabilonToring Van Babel Toring se hoogteToring Van Babel SpraakverwarringToring Van Babel LinguistiekToring Van Babel VerwysingsToring Van BabelBybelGenesisHebreeusTaal

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

VoortrekkersRooibokCovid-19-pandemie in Suid-AfrikaXenofobieWekkerBreingewasSteenkoolVerkleinwoordN.P. van Wyk LouwSkoolJodeKuberkrakerOmtrek, oppervlakte en volumeBosluisbytkoorsGrondwet van Suid-AfrikaAdolf HitlerAfrikaanse taalleerAppelLien se lankstaanskoeneMondBreinkaart23 AprilBlack SashSendelingposisieMuishondWet op NaturellengrondSuurstofPlastiekAnneli van Rooyen2001PerdGrondbewerkingKlein-KarooDuitsSowjetunieKonflik (proses)TennisOorkruipersNasionale erfenisterreine van Suid-AfrikaWet op Verbod van Gemengde HuwelikeLys van bekende Suid-AfrikanersConsolidated B-24 LiberatorDriedimensioneelFanie ViljoenByvoeglike naamwoordFrederik Willem de KlerkDataverwerkingWieg van die MensdomOu Apostoliese KerkDroomIslamitiese Staat – Khorasan ProvinsieLionel PetersonKrokodilBeaufortskaalApostoliese GeloofsbelydenisMaagsweerDigvormDepressie (gemoedstoestand)KunsKunsmisCovid-19-pandemieElon MuskGedigHartFiela se kindWolkPaasfeesRymIntensiewe vormMark (ekonomie)LewerMensMartin Luther King jr.Koors🡆 More