Toilet

'n Toilet is waar die meeste mense van liggaamlike afvalstowwe, soos urine en ontlasting, ontslae raak.

Spoeltoilette gebruik water, maar droë toilette nie. Hulle kan ontwerp wees met 'n toiletsitplek vir mense wat sit, soos in die Weste, met aanpassings vir gestremdes, of vir mense wat hurk, wat gewilder in Asië is. In stedelike gebiede is spoeltoilette gewoonlik verbind met 'n rioolstelsel en in afgeleë gebiede met 'n verteerput. Droë toilette is verbind met 'n put, verwyderbare houer of ander toestel.

Toilet
Toilet
Toilet
Toilette oor die wêreld heen is in verskeie vorme te kry, insluitende (van links) spoeltoilette om op te sit of hurk, en droë toilette soos puttoilette.

Japan is bekend vir sy toilettegnologie. Vliegtuie het spesiaal ontwerpte toilette wat ontwerp is om in die lug te werk. 'n Toilet is gewoonlik toegerus met toiletpapier of 'n sitbadjie.

In privaat huise kan 'n toilet in dieselfde vertrek as 'n bad, stort of wasbak voorkom. 'n Ander opsie is om die toilet in 'n aparte vertrek te hê, veral vir gaste. Openbare toilette bestaan gewoonlik uit een of meer toilette vir gebruik deur die publiek, asook 'n urinaal in manstoilette vir gemeenskaplike gebruik. Produkte soos ontsmetblokkies help die reuk en higiëne in toom hou. Dikwels word draagbare toilette (gewoonlik chemiese toilette) gebruik vir groot, tydelike byeenkomste.

Sanitasie was histories 'n kommer sedert die vroegste menslike nedersettings. In baie arm lande gebruik mense egter steeds basiese, dikwels onhigiëniese toilette – en byna 'n miljard mense het geen toegang tot 'n toilet nie; hulle moet openlik ontlas en urineer. Dié kwessies kan lei tot die verspreiding van siektes wat van die anus tot die mond oorgedra word, of van siektes wat deur water versprei word soos cholera en disenterie. Daarom wil die Verenigde Nasies "toegang tot voldoende en billike sanitasie en higiëne bereik en 'n einde bring aan openlike ontlasting".

Oorsig

Die soorte toilette wat wêreldwyd gebruik word, is talryk, maar word gegroepeer as:

  • Met of sonder water (wat reuke verskans); kan gewoonlik verdeel word in spoel- en droë toilette;
  • Wat gebruik word in 'n sittende of hurkende posisie ('n sit- teenoor 'n hurktoilet)
  • Geleë in 'n privaat huis of in die openbaar (privaat versus openbare toilet)

Toilette kan ontwerp wees vir 'n sittende of hurkende posisie. Elkeen het sy voordele. Die sittoilet is egter noodsaaklik vir ouer mense en dié met gestremdhede. Daar word dikwels na verwys as "Westerse toilette".

Mense gebruik verskillende toilette na gelang van die land waarin hulle gebore word. In ontwikkelende lande hou toegang tot toilette ook verband met mense se sosiaal-ekonomiese status. Arm mense in lande waar die inkomste meestal laag is, het dikwels nie toegang tot toilette nie.

Met water

'n Tipiese spoeltoilet is 'n keramiekbak wat bo gewoonlik 'n tenk het wat vinnig met water gevul word en onder 'n dreineringspyp wat die water en afval wegvoer. Wanneer die toilet gespoel word, behoort die riool in 'n verteerput of rioolstelsel te vloei.

Nog 'n soort toilet is die kragspoeltoilet. Dié soort het nie 'n watertenk nie, maar word direk deur water uit 'n pyp gespoel.

Toilet 
'n Vakuumtoilet in 'n trein in Switserland.

Vakuumtoilet

'n Vakuumtoilet is 'n spoeltoilet wat aan 'n vakuumrioolstelsel gekoppel is en afval met 'n suigaksie verwyder. Hulle kan baie min water gebruik (minder as 'n kwartliter per spoel) of geen water nie (soos in waterlose urinale). Sommige word gespoel met 'n gekleurde ontsmettingsmiddel eerder as water.

Toilette op passasierstreine, vliegtuie, busse en skepe met loodgieterswerk gebruik dikwels vakuumtoilette. Die minder watergebruik bespaar water en keer dat water uit die bak spat weens beweging.

Sonder water

Puttoilet

'n Puttoilet is 'n toilet wat nie spoel nie. Die afval beland in 'n put in die grond en word met sekere tussenposes uitgepomp. In ander puttoilette sypel die afval in die grond in.

'n Puttoilet bestaan gewoonlik uit drie dele: 'n gat in die grond, 'n sement- of houtsitplek en 'n vertrek, wat dikwels 'n kleinhuisie genoem word. Die put is minstens 3 m diep en 1 m breed. Die sitplek moenie groter as 25 cm wees nie om te keer dat kinders inval. Geen lig moet in die put inkom nie om te keer dat vlieë inkom. Daarvoor kan 'n deksel gebruik word.

Die WGO beveel aan dat die puttoilet 'n redelike afstand van woonhuise af gebou word, sodat dit maklik bereik kan word, maar nie geruik kan word nie. Dit moet minstens 10 m van grondwater of waterputte af wees om besoedeling te voorkom.

Draagbare toilet

'n Draagbare of mobiele toilet is 'n soort toilet wat rondbeweeg kan word, óf deur een mens óf deur meganiese toerusting soos 'n vragmotor en hyskraan. Die meeste soorte verg nie vooraf bestaande dienste of infrastrukture soos 'n verteerput, rioolstelsel of loodgieterswerk nie, maar is heeltemal selfonderhoudend. Dit word in verskeie situasies gebruik, soos in 'n plakkerskamp of krotbuurt of op 'n fees-, kampeer- of bouterrein en op groot buitelugbyeenkomste waar geen vaste toilette beskikbaar is nie. Die meeste is vir albei geslagte en het 'n eenvoudige slot om privaatheid te verseker. Sommige is van plastiek of glasvesel.

Die algemeenste tipe is seker chemiese toilette. 'n Emmertoilet is 'n baie eenvoudige voorbeeld van 'n draagbare toilet.

Hurktoilet

'n Hurktoilet is 'n toilet wat iemand hurkend gebruik in plaas van sittend. Die voete word weerskante van die toiletgat geplaas en die persoon hurk oor die gat, gewoonlik in die vloer. Sommige is spoeltoilette en ander droë toilette.

Hurktoilette kan van porselein, vlekvrye staal of glasvesel gemaak wees, of in armer lande van sement, plastiek of hout. As dit van hout gemaak is, moet die hout geverf of met linoleum oorgetrek word om verrotting te keer en skoonmaak te vergemaklik.

Daar is twee ontwerpe: een waar die toilet op grondvlak is en die ander waar dit op 'n platvorm is of in die muur gebou is. Laasgenoemde is makliker om te gebruik vir mans wat staande urineer.

'n Hurkposisie is natuurliker vir die menslike liggaam, met minder stres op die spiere wat vir ontlasting gebruik word. Sittoilette is volgens kenners onnatuurliker en dit kan lei tot hardlywigheid, ongereelde ontlasting, aambeie en oormatige inspanning.

Hurktoilette is veral in Asië en Afrika algemeen, sowel as in sommige Moslemlande. In baie van dié lande word die anus met water gewas en dit is makliker om te doen in 'n hurkende posisie. Hulle word soms as tradisioneel beskou en word op baie plekke algaande deur sittoilette vervang.

Gebruik

Urinering

Toilet 
'n Man urineer in 'n staande posisie.

Daar is kulturele verskille in die aanvaarde en verkose maniere om te urineer: In die Midde-Ooste en Asië is die hurkende posisie algemener, terwyl die staande of sittende posisie gewoonlik in die Weste verkies word deur onderskeidelik mans en vroue.

Was ná ontlasting

Toilet 
'n Moderne sitbadjie, wat algemeen in Suid-Europa en Suid-Amerika is.

In die Weste is dit algemeen om die anus met toiletpapier af te vee ná ontlasting, of om 'n sitbadjie te gebruik. In baie Moslemlande is die geriewe so ontwerp dat Islamitiese toiletgebruike gevolg kan word. 'n Sitstort kan byvoorbeeld geïnstalleer wees. Die linkerhand word gebruik om die anus te was, en daarom word dié hand in baie Asiatiese lande as onrein beskou.

In baie Christelike lande is dit vanweë Bybelse toiletetiket ook gebruiklik om die anus te was ná ontlasting. Die sitbadjie is algemeen in Katolieke lande, waar water vir dié doel gebruik word.In sommige tradisioneel Ortodokse en Lutherse lande soos Griekeland en Finland onderskeidelik, is sitstorte algemeen.

Daar is toilette op die mark met 'n ingeboude sproeimeganisme, soos in Japan. Dit is veral gerieflik vir ouer mense en gestremdes.

Toilet 
Die aanduiding van 'n openbare toilet in die Wes-Kaap, Suid-Afrika.

Toeganklike toilette

'n Toeganklike toilet is ontwerp vir mense met gestremdhede, soos verlamdes. Daar is gewoonlik meer plek vir rolstoele of versorgers asook handvatsels om aan vas te hou.

Openbare toilette

'n Openbare toilet of ruskamer is 'n klein geboutjie met toilette, 'n urinaal en wasbakke vir gebruik deur die publiek. Dit is beskikbaar vir gaste, reisigers, leerlinge en gevangenes. Dit is gewoonlik verdeel in geriewe vir mans en vroue, maar sommige geriewe is vir albei geslagte.

Openbare toilette kan aan die munisipaliteit behoort en is bereikbaar van die straat af. Ander is in 'n gebou en word privaat besit, soos in 'n winkel of restaurant. Sommige is gratis om te gebruik, terwyl 'n fooi by ander betaalbaar is. In 'n basiese vorm kan 'n straattoilet net uit 'n urinaal bestaan. In Frankryk word dit 'n pissoir genoem en in Nederland soms 'n plaskrul na aanleiding van die krulvorm van die afskorting.

Geskiedenis

Antieke geskiedenis

Toilet 
Riool- en toiletstrukture in die stad Lothal van die Indusvallei, omstreeks 2350 v.C. Dit is die eerste bekende rioolstelsel in die wêreld.
Toilet 
Openbare toilette van die Romeinse Ryk.

In die vierde millennium v.C. is kleipype, riole en toilette in Mesopotamië uitgevind. Die stad Uruk het teen omstreeks 3200 v.C. die eerste bekende puttoilet gehad. Die Neolitiese dorp Skara Brae in die huidige Skotland het voorbeelde uit omstreeks 3000 v.C. van klein kamers oor 'n gemeenskaplike drein, eerder as 'n put. Vloeiende water is gebruik om die afval te verwyder. Dié dorp is tussen omstreeks 3100 v.C. en 2500 v.C. bewoon. Die Indusvalleibeskawing in die huidige Noordwes-Indië en Pakistan was die tuiste van die eerste bekende stedelike sanitasiestelsels. In Mohenjo-Daro (omstreeks 2800 v.C.) is toilette in die buitemure van huise gebou. Hulle het vertikale stortgeute gehad waarmee afval na vuilputte of straatdreine vervoer is. Nog 'n tipiese voorbeeld was in die stad Lothal (omstreeks 2350 v.C.). Hier het huise privaat toilette gehad wat verbind was aan 'n bedekte rioolnetwerk van stene wat afval na waterwerke of vuilputte vervoer het. Dié is gereeld skoongemaak.

Omstreeks die 18de eeu v.C. het toilette begin verskyn in Minoïese Kreta, Antieke Egipte en Persië.

In 2012 het argeoloë vermoedelik Suidoos-Asië se eerste toilet ontdek tydens uitgrawings in Suid-Viëtnam. Die toilet, wat van 1500 v.C. dateer, het belangrike inligting onthul oor Suidoos-Asiatiese gemeenskappe. Meer as 30 stukke ontlasting, wat vis en verbryselde dierebene bevat het, het inligting verskaf oor die dieet van mense en honde, en die soorte parasiete waarmee hulle te doen gehad het.

In die Romeinse beskawing was toilette wat vloeiende water gebruik het soms deel van openbare badhuise. Romeinse toilette soos op die foto regs is waarskynlik in 'n sittende posisie gebruik. Hulle was vermoedelik geleë bo-oor oop rioolslote wat van tyd tot tyd met vloeiende water "gespoel" is. Romeine en antieke Grieke het ook kamerpotte gebruik wat hulle saamgeneem het na eet- en drinksessies. Volgens Johan J. Mattelaer "het Plinius die ouere beskryf dat daar groot houers in die strate van stede soos Rome en Pompeji was waarin kamerpotte vol urine leegemaak is". Die urine is dan versamel vir vollery (die verwerking van wolweefsels).

Postklassieke geskiedenis

"Garderobes" is toilette wat in die postklassieke geskiedenis gebruik is, veral in die huise van die hoër stande. Dit was plat stukke hout of stene wat van een muur tot die volgende gestrek het en een of meer gate gehad het om op te sit. Dit was bo stortgeute of pype geleë wat die afval na buite die gebou vervoer het. Garderobes is in dele van die huis weg van die slaapkamers geplaas om die reuke te vermy en naby kombuise of vuurherde om die kamers warm te hou.

Die ander belangrike manier om van menslike afval ontslae te raak was die kamerpot, of koos, 'n houer van keramiek of metaal. Dié metode is duisende jare lank gebruik; vorms, groottes en versierings het deur die eeue gewissel. Kamerpotte was van antieke tye in Europa in gebruik en ook in die Middeleeue. Dit word vandag steeds in dele van die wêreld gebruik.

Moderne geskiedenis

Toilet 
Bourdaloue-kamerpotte uit die Oostenrykse keiserhuishouding.

Teen die vroeë moderne tydperk was kamerpotte dikwels gemaak van keramiek of koper en is dit ryklik versier. Hulle is in die straatvoor die naaste aan die huis leeggemaak.

In die voormoderne Denemarke het mense gewoonlik in die landerye en ander plekke ontlas waar die ontlasting bymekaargemaak is vir bemesting. In Oudnoors is daar verskeie terme vir dié plekke, onder meer garðhús ("werfhuis"), náð-/náða-hús ("rushuis") en annat hús ("die ander huis"). Oor die algemeen het toilette in die plattelandse Denemarke nie bestaan tot met die 18de eeu nie.

Toilet 
'n Britse driesitplektoilet uit die 18de eeu.
Toilet 
'n 19de-eeuse veldtoilet van hout.

Teen die 16de eeu is vuilputte toenemend in die grond naby huise in Europa gegrawe, want die stedelike bevolkings het toegeneem en straatvore het geblokkeer geraak met die groter volume menslike afval. Reën was nie meer voldoende om die afval uit die straatvore weg te spoel nie. 'n Pyp het die toilet met die vuilput verbind en soms is 'n klein hoeveelheid water gebruik om die afval weg te spoel. Vuilputte is deur spesiale werkers skoongemaak. Hulle het die vloeistof uitgepomp en die soliede afval in die nag uitgegrawe. Dié afval, wat eufemisties as "nagvuil" bekend was, is as bemesting vir landboudoeleindes verkoop.

In die vroeë 19de eeu het openbare amptenare en kenners van openbare higiëne sanitasie dekades lank bespreek en bestudeer. Die bou van 'n ondergrondse netwerk pype om menslike afval te verwyder het eers in die middel 19de eeu begin. Die vuilputte is geleidelik vervang, hoewel vuilputte tot in die 20ste eeu steeds in dele van stede soos Parys gebruik is. Selfs Londen, wat toe die wêreld se grootste stad was, het nie binnetoilette tot ná die Eerste Wêreldoorlog in sy bouregulasies vereis nie.

Die spoeltoilet, wat in die Tudortydperk ontstaan het, het sy huidige vorm met 'n spoelbak, S-vormige pyp en kleppe eers omstreeks 1770 aangeneem danksy die werk van Alexander Cumming en Joseph Bramah. Watertoilette het eers omstreeks 1850 van buite na binne die huis verskuif. Die volledige watertoilet is eers in die 1860's en 1870's in middelklashuise gebou, eers op die verdieping van die hoofslaapkamer en in groter huise in die bediendekamers, en teen 1900 nog een in die gang. 'n Toilet sou ook buite die agterdeur geplaas word vir gebruik deur tuiniers en perdehanteerders. Die spoed waarmee dit toegeneem het, het gewissel; in 1906 het die oorwegende werkersklasdorp Rochdale 750 watertoilette gehad vir 'n bevolking van 10 000.

Voor die bou van binnenshuise toilette was dit algemeen om 'n kamerpot onder die bed snags te gebruik en dan soggens van die inhoud ontslae te raak. In Britse tronke het gevangenes tot in 2014 nog hulle eie kamerpotte leeggemaak, en in Julie 2017 was dit nog die gebruik in 85 selle in die Republiek Ierland.

Ontwikkeling van spoeltoilette

Voor die wydverspreide aanvaarding van spoeltoilette was daar ontdekkers, wetenskaplikes en gesondheidsbeamptes wat die gebruik van droë toilette voorgestaan het.

Hoewel 'n voorloper van die spoeltoilet wat vandag algemeen gebruik word in 1596 deur John Harington ontwerp is, was sulke stelsels nie in algemene gebruik tot die laat 19de eeu nie. Met die begin van die Nywerheidsomwenteling en verwante vooruitgang in tegnologie, het die spoeltoilet in sy moderne vorm sy verskyning gemaak. 'n Belangrike stap in die ontwikkeling was die S-pyp wat in 1775 deur die Skot Alexander Cummings ontwerp is en vandag steeds gebruik word. Die meganisme gebruik die staande water om die opening van die bak te seël en die ontsnapping van lug met 'n slegte reuk te keer. Die spoeltoilet het eers in die middel 19de eeu in algemene gebruik geraak. Veral in Londen was die stelsel om gesondheids- en sanitêre redes besonder gewild.

WCs (water closets) het in die 1880's in Londen begin verskyn en het gou na die res van Europa versprei. In die 1890's is kettingtoilette in die huise van die rykes en in hotelle in Amerika begin installeer.

Hoëtegnologietoilette

"Hoëtegnologietoilette", wat in lande soos Japan ontwikkel word, sluit in tegnieke soos outomatiese spoelmeganismes, waterstrale, droërs of kunsmatige spoelgeluide om klanke uit te skakel. Ander tegnieke sluit in die mediese monitering van urine- en ontlastingsontledings, en die neem van bloeddruk-, temperatuur- en bloedsuikerlesings. Sommige toilette het outomatiese dekselbewegings, verhitte sitplekke, reukwerende waaiers of die outomatiese vervanging van papiertoiletsitplekke. Interaktiewe urinale is in verskeie land ontwikkel wat voorsiening maak vir die speel van videospeletjies. Die "Toylet" gebruik druksensors om die vloei van urine te meet en om te skakel in 'n skermaksie.

Ruimtevaarders op die Internasionale Ruimtestasie gebruik 'n ruimtetoilet wat urine in water kan omskakel.

Name

Verskillende name bestaan in Afrikaans vir verskillende soorte toilette en kamerpotte. Sommige daarvan is eufemismes of leenwoorde, soos ruskamer, gemakhuisie, kleinhuisie, latrine en koos, terwyl ander as vulgêr beskou word.

Galery

Verwysings

Skakels

  • Toilet  Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wiki vertaal.

Tags:

Toilet OorsigToilet Met waterToilet Sonder waterToilet HurktoiletToilet GebruikToilet GeskiedenisToilet NameToilet GaleryToilet VerwysingsToilet SkakelsToiletAsiëOntlastingUrineWeste

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

WaterstofKolonoskopieDoopFanie ViljoenDesmond TutuJansenvilleOseaanCarike KeuzenkampAfkortingOlifantNazi-DuitslandInternetLangste woordWet op Bantoe-onderwysSekondêre sektor van die ekonomieSarel Jacob PretoriusDataverwerkingCheslin KolbePaddaAtlantis, Wes-KaapVakbondItaliëGeskiedenis van Suid-AfrikaBreinkaartPlastiekMielieDeelwoordOorstromingChris HaniMiltRooibokCleopatra VIIBrittany Ashton HolmesKangaroeToekoms van die AardeKewerSirkusMagneetGriepMiskruierAntoniemAntjie SomersGalblaasParkinson se siekteTafelbergViëtnamoorlogGloeilampKoue OorlogRobbeneilandPaulus van TarsusKostuumsSirkelDemi Lee MooreAppelRassisme in AfrikaSpinnekopSoortnaamSpringbokkeAngssteuringLys van elemente volgens simboolIndustriële RevolusieLys van Afrikaanse digtersBiologieDundermPeter SnydersSelfieAspoestertjieErns GrundlingSoweto-opstand2001Tweede Nuwe JaarSikloonWetenskaplike metodeDans🡆 More