'n Swembad is 'n mensgemaakte dam met water waarin mense kan swem of duik.
'n Swembad kan vir ontspanning, die beoefening van sport of terapeutiese doeleindes ingespan word.
Daar is verskillende soorte swembaddens. Swembaddens kan in die grond ingesink wees, of bo op die grond uitstaan. Die mees algemeenste tipes is die speelbad, vryvormbad, geometriese bad, lentebad, duikbad, oneindigheidsbad, spabad en oorloopbad.
Dit is belangrik dat swembaddens skoon en higiënies gehou word om die verspreiding van siektes te voorkom en die water aanloklik vir swemmers te maak.
Chemikalieë soos chloor word gewoonlik gebruik om bakterie en alge te dood. Soutwater kan as plaasvervanger vir chloor gebruik word om saam met soutelektrolise die nodige chloor te vervaardig soos dit benodig word.
'n Sandfilter word ook meestal geïnstalleer om deeltjies uit die water te verwyder. Die sandfilter moet periodies (meestal weekliks) teruggespoel word om dit skoon te maak.
Ander toerusting sluit in 'n skepnet om blare en goggas van die wateroppervlak te verwyder, 'n borsel om die kante mee skoon te skrop, 'n toetsapparaat om die waterkwaliteit mee te toets, en 'n outomatiese skoonmaker soos 'n Kreepy Krauly om vuilgoed vanaf die bodem op te suig.
Swemmers dra gewoonlik swemdrag wanneer hulle swem. Mans dra gewoonlik 'n swembroek of "speedo" terwyl vroue 'n swempakkie of bikini sal dra. 'n Handdoek is ook noodsaaklik om na die tyd af te droog. Sekere afgemerkte swembaddens en strande laat swemmers toe om naak te swem, of vrouens om bostukloos te swem.
Die water in swembaddens kan verhit word om dit meer aangenaam vir swemmers te maak en die swembad vir 'n groter deel van die jaar te kan gebruik. Tipiese stelsels wat hiervoor gebruik kan word is 'n hittepomp, sonpanele op die dak en selfs elektriese verwarmers. Groen tegnologieë soos sonpanele word gewoonlik bo tradisionele elektriese metodes verkies.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Swembad, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.