Susan Kruger was ’n Afrikaanse skryfster van liefdesromans.
Susan Kruger is op ’n plaas in die distrik Ermelo gebore, waar sy haar kinderjare deurbring en haar skoolopleiding ondergaan. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Ermelo en sluit daarna by ’n rondreisende toneelgeselskap aan om vir ’n jaar of wat toneel te speel. In 1943 trou sy met Jimmy Kruger, advokaat in Pretoria en later politikus. Haar man is eers Provinsiale Raadslid vir Sunnyside in Pretoria en later lid van die Volksraad en ook die Kabinet, onder andere as Minister van Justisie. In hierdie pos word hy uiters omstrede nadat hy in ’n televisie-onderhoud te kenne gee dat die dood van Steve Biko in polisiebewaking hom koud laat. Terwyl haar man besig is om hom as advokaat te bekwaam volg sy ’n tuisonderrigprogram in joernalistiek en letterkunde. Haar gemeenskapsdiens is onder andere as lid van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie, in wie se hoofbestuur sy ’n tyd lank dien, terwyl sy ook voorsitter is van die Parlementêre vrouevereniging. Sy maak ook ’n dokumentêre rolprent oor “Die sestig jaar van John Vorster”. Benewens Afrikaans en Engels is sy ook Zoeloe en Frans magtig.
Haar eerste kortverhaal word teen die einde van 1949 gepubliseer en daarna publiseer sy gereeld kortverhale in Die Huisgenoot, Die Brandwag, Sarie Marais en Rooi Rose. Dan waag sy haar hand aan vervolgverhale en later ook liefdesromans. “Die kus van eensaamheid” word uitgegee in die Waterlelie-reeks en vertel van die onbeheerbare omstandighede wat ’n rooikopnooi teen die kus van eensaamheid wou laat strand. Sy skryf ook die liefdesromans “Kind van die winde”, “Duif van haar hart”, “Groenakkers”, “Slingerpaaie”, “Gebreekte vlerke”, “Vrou in die skadu”, “Vreemdeling op Eikedal”, “Bloureën en sonneskyn”, “Die sonnimf”, “Gelag teen die wind”, “Die toegewyde hart”, “Ligte wat immer wink” en “Die swart swaan”. Van haar gedigte is in die Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer.
Die veerboot wat passasiers na Robbeneiland neem word na haar vernoem.
Jaar | Publikasie |
---|---|
1955 | Kind van die winde |
1957 | Duif van haar hart |
Groenakkers | |
Slingerpaaie | |
1958 | Gebreekte vlerke |
Die kus van eensaamheid | |
1960 | Vrou in die skadu |
Vreemdeling op Eikedal | |
1961 | Bloureën en sonneskyn |
Die sonnimf | |
1962 | Gelag teen die wind |
1966 | Die toegewyde hart |
1982 | Ligte wat immer wink |
Die swart swaan |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Susan Kruger, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.