Stadsregte het in Europa oorspronklik na die keiserlike of vorstelike voorreg verwys waardeur aan 'n nedersetting stadstatus toegeken is.
Later is die term dikwels sinoniem gebruik vir die besondere regte wat aan stadstatus verbonde is, veral in teenstelling met die reg van landelike gebiede wat deur die plaaslike heersers bepaal is.
Die stadsregte wat vanaf die Middeleeue in Sentraal-Europa aan nedersettings toegeken is, het hulle oorsprong in Italiaanse voorbeelde wat by die Romeinse tradisie van stedelike selfbestuur aangesluit het.
Die ontwikkeling van stedelike nedersettings was nou gekoppel aan die stigting van permanente handelsplekke op die basis van bepaalde voorregte:
Die reg om 'n nedersetting te versterk was oorspronklik 'n koninklike voorreg wat later ook aan ander wêreldlike en geestelike heersers toegeken is. So het in Europa talle stedelike nedersettings ontstaan wat onder gesag van konings, biskoppe of plaaslike wêreldlike heersers gestaan het.
Vanaf die 13de eeu het talle stede reeds oor 'n aansienlike mate van selfregering beskik - naas die permanente markvrede en die immuniteit, wat stede geniet het, kon hulle nou ook 'n stelsel van laer geregshowe bestuur wat in die loop van die Middeleeue tot hoër howe uitgebrei is. Daarnaas is ook ander voorregte, wat deur heersers aan stede verleen is, geleidelik uitgebou tot 'n omvattende stelsel van stadsregte.
Die stedelike selfregering is vanaf die 12de en 13de eeu deur stadsrade en burgemeesters waargeneem, en met die afkondiging van stedelike grondwette het die stede ook regspersoonlikhede geword. In die Heilige Romeinse Ryk is die regsstelsels van 'n aantal ouer stede soos byvoorbeeld Maagdenburg en Lübeck ook deur nuutgestigte nedersettings oorgeneem sodat 'n aantal "regsfamilies" ontstaan het wat bepaalde regte gedeel het. As "regtelike moederstede" het Maagdenburg groot invloed op stedelike nedersettings in Sentraal- en Oos-Europa uitgeoefen, Lübeck op stede in die Oosseegebied en Freiburg im Breisgau op stede in Suidwes-Duitsland.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Stadsregte, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.