Ierland (Iers: Éire, , luister (hulp·inligting); Engels: Ireland, , luister (hulp·inligting); Ulster-Skots: Airlann, ) is die derde grootste eiland van Europa en die mees westelike van die Britse Eilande, met 'n lengte van 450 kilometer, 'n breedte van 260 kilometer en 'n totale oppervlak van 84 421 vierkante kilometer.
Die eiland, wat dikwels ook die "Groen Eiland" genoem word, lê tussen die Atlantiese Oseaan in die weste en die Ierse See in die ooste.
Ierland Inheemse naam: Éire / Ireland Bynaam: Die Groen Eiland | |
---|---|
Kaart van Ierland | |
Geografie | |
Ligging | Noord- of Wes-Europa |
Koördinate | 53°20′N 08°00′W / 53.333°N 8.000°W 08°00′W / 53.333°N 8.000°W |
Argipel | Britse Eilande
|
Oppervlakte | 84 421 vk km |
Hoogste punt | Carrauntoohil 1 041 m |
Administrasie | |
Republiek van Ierland | |
Land | Ierland
|
Hoofstad | Dublin |
Grootste stad | Dublin (553 165)
|
Verenigde Koninkryk | |
Land | Noord-Ierland |
Hoofstad | Belfast |
Grootste stad | Belfast (333 000)
|
Demografie | |
Bevolking | 6 572 728
|
Bevolkingsgroepe | Iere, Ulster-Skotte |
Die wêreld se 20ste grootste eiland en die derde grootste eiland van Europa |
Die onverwagte uitkoms van Ierland se rewolusionêre periode tussen 1912 en 1925 was die vestiging van twee Ierse state op die eiland. Die onafhanklike Republiek Ierland met 4,7 miljoen oorwegend Rooms-Katolieke inwoners beslaan vyf-sesdes van Ierland se oppervlak, terwyl Noord-Ierland met 'n histories merendeels Protestantse bevolking van 1,8 miljoen van Ierse, Skotse en Engelse afkoms een van die Verenigde Koninkryk se vier lande is. In Noord-Ierland is ongeveer 41,6% van die bevolking lidmate van Protestantse kerke en 40,7% Rooms-Katoliek.
Beide die woorde "Ierland" en Éire is ontleen aan die Ou Ierse Ériu, 'n godin in die Ierse mitologie waarna in die negende eeu vir die eerste keer verwys is. Die woordherkoms van Ériu word betwis, maar dit is dalk afgelei van die Proto-Indo-Europese wortel *h2uer, wat verwys na vloeiende water.
Die Laat-Latynse woord Scotia ("land van die land of the Gaele") is oorspronklik gebruik om na Ierland te verwys, en eweneens is die Ou Engelse Scotland gebruik vir Ierland.
Die Keltiese Ierland het teen die eerste eeu n.C. ontstaan. Die eiland is vanaf die 5de eeu gekersten. Ná die Anglo-Normandiese inval in die 12de eeu het Engeland soewereiniteit geëis. Die Engelse heerskappy strek egter eers oor die hele eiland in die 16de-17de eeu met die verowering deur die Tudors, wat gelei het tot kolonisering deur setlaars uit Brittanje. In die 1690's is 'n stelsel van Protestantse Engelse bewind ontwerp om die Katolieke meerderheid en Protestantse andersdenkendes wesenlik te benadeel, en is gedurende die 18de eeu uitgebrei. Met die Acts of Union 1800 het Ierland deel geword van die Verenigde Koninkryk. 'n Onafhanklikheidsoorlog in die vroeë 20ste eeu is gevolg deur die verdeling van die eiland, wat die Ierse Vrystaat tot stand gebring het, wat oor die daaropvolgende dekades steeds meer soewerein geword het, en Noord-Ierland, wat 'n deel van die Verenigde Koninkryk gebly het. Noord-Ierland het baie burgerlike onrus beleef vanaf die laat 1960's tot die 1990's. Dit het bedaar ná 'n politieke ooreenkoms in 1998. In 1973 het die Republiek Ierland by die Europese Ekonomiese Gemeenskap aangesluit, terwyl die Verenigde Koninkryk en Noord-Ierland, as deel daarvan, dieselfde gedoen het.
Die laagliggende vlaktes van Sentraal-Ierland met hulle groot aantal mere, waaronder die bekende Lough Neagh in Noord-Ierland, word deur bergreekse langs die kusgebiede omsluit. Carrauntuohill (Iers: Corrán Tuathail) in die Macgillicuddy's Recks van Suidwes-Ierland is die hoogste bergpiek op 1 041 meter bo seevlak. Die Shannon is met 'n lengte van 386 kilometer die langste rivier van Ierland. Die gematigde klimaat en gelykmatige reënval bevorder die plantegroei, en danksy die sappige groen weivelde staan Ierland ook as die "Groen Eiland" bekend. Ierland beskik oor 'n aantal nasionale parke dwarsoor die eiland.
Ierland het oor die algemeen 'n kleiner aantal spesies as byvoorbeeld sy oostelike buureiland Groot-Brittanje of die Europese vasteland, aangesien die eiland ná die einde van die Ystydperk deur die stygende waterpeil van die Atlantiese Oseaan baie vinnig geïsoleer is. Daar is net 31 inheemse soogdierspesies, waaronder dasse, vosse en krimpvarkies. Bepaalde spesies soos die edelhert word egter slegs in die nasionale parke aangetref. Ierland is ook een van min gebiede waar geen inheemse slangspesies voorkom nie.
Die Ierse kultuur het 'n beduidende invloed op ander kulture gehad, veral op die gebied van letterkunde. Benewens die hoofstroom Westerse kultuur bestaan daar 'n sterk inheemse kultuur, soos uitgedruk deur Gaeliese speletjies, Ierse musiek, Ierse taal en Ierse dans. Die kultuur van die eiland deel baie kenmerke met dié van Groot-Brittanje, insluitend die Engelse taal, en sport soos sokker, rugby, krieket, veldhokkie, perdewedrenne, gholf en boks.
Die meeste sportsoorte in Ierland word onder 'n beheerliggaam vir die hele eiland organiseer, dit wil sê spelers uit albei dele van dié eiland mag vir 'n gemeenskaplike Ierse span optree. Bekende voorbeelde sluit in die Ierse nasionale hokkiespan, die Ierse nasionale krieketspan en die Ierse nasionale rugbyspan. In teenstelling met krieket, rugby en veldhokkie stur die Republiek Ierland en Noord-Ierland vir netbal en sokker-toernooie aparte spanne.
Keltiese gebiede in Europa | ||
---|---|---|
Bretagne | Ierland | Wallis | Cornwall | Man | Skotland | ||
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Ierland, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.