'n Digvorm verwys slegs na 'n soort gedig wat 'n bepaalde stel reëls volg.
Die reël kan byvoorbeeld 'n bepaalde aantal lyne, die lengte of aantal strofes, 'n spesefieke rymskema of onderwerp, of enige ander reël wat 'n erkenbare vorm kan bepaal.
Die vorm van die teks kry by gedigte heelwat aandag. Tot die vorm behoort onder andere klank, rymskemas, tradisionele stylfigure soos die enjambement, strofes, beeldspraak, metrum, ritme en tipografie. Dit is egter nie noodsaaklik dat al hierdie elemente in ’n gedig gevind kan word nie. ’n Gedig hoef nie te rym nie, dit hoef nie ’n vaste metrum of rymskema te hê om ’n gedig te wees nie.
Die gedig word dikwels onderskei van prosa, omdat gedigte tradisioneel in versvorm geskryf word en dus nie ’n deurlopende verhaallyn het nie. Daar is egter wel sogenaamde prosagedigte en sommige gedigte het ook stukke prosateks. In die algemeen is poësie as genre daarom moeilik om te definieer en af te baken.
Ook oor die inhoud van gedigte is daar min wat in die algemeen gesê kan word. ’n Gedig kan emosies, toestande, gebeurtenisse, prosesse, idees, waarnemings, taal ens. oproep, beskryf, bevat en/of problematiseer. Die inhoud is in elk geval irrelevant om te bepaal of ’n taalteks ’n gedig is. Daar kan wel vasgestel word watter soort gedig ter sprake is.
Tog is dit duidelik dat digkuns wel ’n woordkunswerk is.
Die lengte van gedigte varieer: daar is gedigte wat slegs uit 1 woord bestaan, maar daar bestaan ook gedigte van honderde bladsye lank.
Sommige gedigte maak deel uit van ’n siklus.
Die skrywer van ’n gedig word ’n digter genoem. Daar moet duidelik onderskei word tussen die skrywer/digter en die spreker in die gedig.
Verder kan onderskei word tussen die volgende elemente van gedigte: genre, titel en tema, atmosfeer en gevoelens, klankherhaling (alliterasie en assonansie, rym en ritme), klanknabootsing, verskillende soorte beeldspraak (vergelyking, metafoor en personifikasie).
Voorbeelde:
Martie het geskryf dat sy graag Tafelberg sou wou uitklim omdat sy daar vry voel: |
’n Mens kan ook dieselfde doen met name van bekende sprokiekarakters om die spot te dryf:
Die naam RAPONSIE: |
3 reëls, geen vaste rym of ritme nie
Vaste vorm met 17 klankgrepe: 5 – 7 – 5
Haiku se inhoud het gewoonlik iets met die natuur te doen, impressionistiese waarneming, indrukke eerder as beskrywing.
Senryu se inhoud is meer persoonlik en het te make met mense, verhoudings, ook humor met deernis.
Voorbeelde van Haiku’s:
1.
Loop in die reën
kaalvoet oor die bergklippe
en paddastoeltjies
(C. Strand)
2.
Tyd, ons goeie fee
verander traan in glimlag.
Tikke-tak, tik tak …
(M. Langeveld)
3.
My tralies is my
woordeboeke en my slot:
die sleutel jou blik
(Ester)
4.
Bid vir my ’n blaai
want my pen reik nog verder
as woord in my mond
(Ester)
5.
Stil en ver duine
eindelose eggo’s wat
doofstom wonder … wag
(estelleke)
6.
Branders bars en breek
donderende skuim, pienkwit
klieker mossels uit
(estelleke)
7.
blink perlemoen glim
wit skip wuif op horison
vaar eindeloos voort
(estelleke)
8.
geroeste yster
gesketter deur storm en klip
pienk seewier wapper
(estelleke)
9.
Gedagtes in ’n
kleipot vasgevang; stommer
gepleit en geplet
(Digter onbekend)
Voorbeelde van Senryu’s:
1.
’n Senryu vir my ma:
’n wit aronskelk
na woedende weer en wind
fier, regop: vaarwel
(estelleke)
2.
’n Senryu vir my kinders:
met vlindervlerke
duik julle diep in my hart
sterliewelinge
(estelleke)
3.
’n Senryu vir my kleinkinders:
diewe steel my hart
net toe ek hulle kon vang
sien ek dis julle
(estelleke)
’n Uitgebreide haiku
5 rymlose reëls
31 klankgrepe: 5 – 7 – 5 – 7 – 7
Voorbeelde:
1.
Spierwit bergpieke
rivierwater verys koud
sneeu op grou rotse
bome is oral gevries
witste skitterende sneeu
(Digter onbekend)
2.
Die palet verkleur
as die herfswind begin waai
geel, oranje, bruin
die kleure van die blare
val stadig van die bome af
(Digter onbekend)
3.
Argentinië
Miskien roep jy my
as jy so eindeloos huil,
met jou voet fluister
saam met die musiek se dans
wat grypend om my lyf vou
(Andries Olivier)
4.
Braambessieplukker
in ekstase vreugdevol
hoe naiëf jou vrug
jou vreugde vervat
in jou kort seer vir ander
(André Müller)
5.
Hierdie jaar kweek ek
tulpe, ander bolplante
op spierwit klippers
om te bid, afskeid te neem
van my Bolandse vriende
(estelleke)
’n Samewerkingsgedig: 2 tot 4 mense nodig vir dié digtersdans. Die patroon word herhaal solank as wat die digters wil.
• haiku as begin (5 – 7 – 5 klankgrepe)
• word tanka (+ 7 + 7 klankgrepe)
Voorbeelde:
#1
bliksemstrale skiet (estelleke se haiku)
seemeeue in fladdervlug
donderweer sidder
reën dreun neer op teer gemoed (André se renga)
in klakkelose weersin
#2
’n Ystervrou knak (estelleke se haiku)
skarniere roes, kort olie,
voete steeds van klei.
Hier waai ’n soel wind; kruisbeen (André se renga)
wag die orakel: magies
#3
André se haiku :
suutjies op sokkies
skielike geur van jasmyn
waar die stilte sing
estelleke se haiku :
die takke hang swaar
gelouter deur die storm
wagtend vir die wind
Renga 1
die geur van jasmyn
gly met sokkies op die wind
hoog in die takke
waar die loutering wag vir
nog ’n naderende storm
Renga 2
takke hang swaar: wag
vir die loutering van wind
woedend, siedend: storm
skielik die geur van jasmyn
stilte, suutjies op sokkies
5 rymlose reëls, 22 klankgrepe:
reël 1: 2 klankgrepe, OF een woord wat die titel verskaf;
reël 2: 4 klankgrepe, OF 2 woorde wat beskryf;
reël 3: 6 klankgrepe, OF 3 woorde wat aksie weergee;
reël 4: 8 klankgrepe, OF 4 woorde wat gevoel weergee;
reël 5: 2 klankgrepe, OF ’n ander woord vir die titel.
Voorbeelde:
1.
Cornflakes
oop geel bloeisels
dryf saamgedrom in melk
rustig, wagtend op hul roeping:
ontbyt
(Alida van der Merwe)
2.
Jasmyn
witpienke broos
bloesend, fyne krag
innig en tevrede reinheid
sierplant
(Elzana du Toit)
3.
Varkjag
geesdriftige
duik, bollemakiesie, nael
desperaat, vasberade, moeg
moles
(Beverley Mahana)
4.
spaans
mexikaans vermom
blou brand berg
praat self met prent
kahlo
(Andries Olivier)
Soortgelyk aan die cinquin.
Vorm lyk soos ’n Japannese lantern.
Klankgrepe ingedeel in 1-2-3-4-1
Elke reël kan opsigself staan.
Soms is daar ’n titel wat as opsomming in die sesde reël staan.
Voorbeelde:
1.
by
die stroom
enkel-vlak
treur ’n wilger
sag
(Brian Strand)
2.
klein
verdwaal
sagte mis
in September
vroeg
’n voëlgesang
(Brian Strand)
7 rymlose versreëls
Die eerste en laaste selfstandige naamwoorde kan teenoorgesteldes wees, of op een of ander manier met mekaar verband hou (sinoniem of antoniem).
Die woorde tussenin kan bou op die verskille en die onderliggende verbande.
Spesifieke woordsoorte:
Voorbeelde:
1.
Koperboom
grof geskud
borrel worstel skiet
bloeiend soekend loerend voelend
vind rus stil
alleen gedaan
mens
(Renate Wessels)
2.
grot
toegeval toegegroei
versmoor verlang vergaan
soekend vraend roepend smagtend
vergewe vergeet begrawe
moeg verslae
klag
(estelleke)
3.
Sondagkrale
koffieshop
gekunsteld onopgesmuk
redeneer konstrueer dartel
ondersoekend verlangend uitdagend vervangend
kantel wankel wandel
selfstandig afhanklik
teë-tempel
(André Müller)
’n Humoristiese versie met vyf reëls.
Spesifieke VORM, RYM en RITME.
Dit spot met ’n plek of ’n persoon.
Speel met woorde en betekenisse.
Daar’s ’n grappie in die laaste reël.
Rympatroon: aabba
Die Afrikaanse skrywer wat as die limeriek-koning bekend staan, is Philip de Vos. Hy sê as dit nie presies pas in die spesifieke vorm nie, is dit bloot ’n lawwe versie.
Philip de Vos se voorbeelde:
Daar’s vyf reëls in ’n limerick:
Hul’s snaaks of stout, of effens siek.
Hul het iets om die lyf
En die angel in vyf
Is die fyn draai van die briek
Vorm:
’n Tannie woonagtig in Bloem
Was bang toe ’n by om haar zoem.
Toe slaan sy hom plat
Dat heuning so spat
En spuit hom glo poegaai met Doom.
Ritme:
taTAM tataTAM tataTAM
taTAM tataTAM tataTAM
taTAM tataTAM
taTAM tataTAM
taTAM tataTAM tataTAM
Voorbeelde:
1.
Gebaseer op ’n ekologiese spotprent:
’n Jagter van Groot Buffelsbaai
Het stadig sy skietgoed gelaai
Toe trek iets hom plat
Sy koeëls het gespat
En nou kan ons almal net raai …
(estelleke)
2.
Gebaseer op die sprokie “Rooikappie”:
’n Girl met ’n rooie punthoed
het gou besef als is nie goed
Sy slaan met die kolf
en plat is ou Wolf
En nou is ons meisies meer soet
(estelleke)
12 reëls in 3 strofes met vaste vers- en reëlformaat.
Rym is opsioneel.
Opskrif is opsioneel.
Strofe 1: Reël 1 Nuut Reël 2 Nuut Reël 3 Nuut Reël 4 Nuut | Strofe 2: Reël 5 Herhaal reël 2 in strofe 1 Reël 6 Nuwe reël Reël 7 Herhaal reël 4 in strofe 1 Reël 8 Nuwe reël | Strofe 3: Reël 9 Herhaal reël 2 van strofe 2 Reël 10 Herhaal reël 3 van strofe 1 Reël 11 Herhaal reël 4 van strofe 2 Reël 12 Herhaal reël 1 van strofe 1 |
Voorbeelde:
1.
Versteekte woorde
hou op lees:
en krap in die sand…
die soet basiliekruid -
vars in jou hand
en krap in die sand…
’n knippie sout;
vars in jou hand
’n spoeldiamant
’n knippie sout;
die soet basiliekruid –
’n spoeldiamant
hou op lees:
(André Müller)
2.
hierdie is my hemel, my stukkie grond:
saffiere, smarag, blou doudruppels
purper strale val oor die berge
die nagtegaal se sang: eindeloos, weemoedig
saffiere, smarag, blou doudruppels
’n winterlandskap in wolke opgesluit
die nagtegaal se sang: eindeloos, weemoedig
lig in die donker – dagbreek kom
’n winterlandskap in wolke opgesluit
purper strale val oor die berge
lig in die donker – dagbreek kom
hierdie is my hemel, my stukkie grond
(Elizabeth Punt)
3.
Langafstrand
Anderkant die horison:
Waar die see die strand ontmoet,
Trek die gety nou terug;
En in rotspoele krioel die lewe
Waar die see die strand ontmoet,
Daar spoel die seeslakkies uit –
En in rotspoele krioel die lewe
Soggens en saans teen ’n verre kus
Daar spoel die seeslakkies uit –
Trek die gety nou terug;
Soggens en saans teen ’n verre kus
Anderkant die horison:
(André Müller)
4.
die stap teen die berg op is altyd die moeite werd
klippetieklap, klippetieklap
by die stalle hyg ek na my asem
die swart hings runnik hardop
klippetieklap, klippetieklap
die wind in my hare jaag my hartklop
die swart hings runnik hardop
sy spiere span styf oor sy liggaam
die wind in my hare jaag my hardklop
by die stalle hyg ek na my asem
sy spiere span styf oor sy liggaam
die stap teen die berg op is altyd die moeite werd
(Charmé Agenbag)
5.
Rooi
teen die hange van die berg waar stekelrige fynbos nou-nog groei
hoor ek weer die klank van die brand toe dit naby was; die son was rooi en die vensterbanke vol roet
op die stoep waar ons gespeel het op die groen mat met sonpatrone oor alles
in ’n tyd vol haasbek-herinneringe en yslekkers taai om die mond
hoor ek weer die klank van die brand toe dit naby was; die son was rooi en die vensterbanke vol roet
ag, seerkry was skielik en sommer simpel soos kaalvoet op ’n bloublasie trap of ’n oop, teer knie
in ’n tyd vol haasbek-herinneringe en yslekkers taai om die mond
en die reuk van ryp koejawels wat swaar hang in die lug en soet
ag, seerkry was skielik en sommer simpel soos kaalvoet op ’n bloublasie trap of ’n oop, teer knie
op die stoep waar ons gespeel het op die groen mat met sonpatrone oor alles
en die reuk van ryp koejawels wat swaar hang in die lug en soet
teen die hange van die berg waar stekelrige fynbos nou-nog groei
(André Müller)
’n Kwatryn is ’n gedig met vier versreëls. Die rympatroon daarvan kan wissel van enige van die volgende:
Die Persiese kwatryn is ’n spesifieke digvorm met die volgende eienskappe:
Voorbeeld:
Kwatryne Agter die skerms, lank reeds gegrimeer aanskou ek die verhoog se glas en kleur en wag dat U my toelaat om oplaas my rol te gaan vertolk, O Regisseur As daar applous was vir die laaste maal en U die décor moeg na onder haal, sal U vir ons wat ons kostuums uittrek volgens ons moeite en geduld betaal? In hierdie klug vergeet soms ’n akteur heel onverwags sy reëls en loer versteur na die coulisses links en regs maar geen souffleur se stem dring tot hom deur Ofskoon die saal se ligte nie meer brand vra menigeen aan die verhoog se kant nog steeds: Is ek van hierdie klug die held of teen die agterdoek ’n figurant? (Ina Rousseau) | décor = versierings om die agtergrond voor te stel coulisses = beweegbare syskerms op ’n verhoog figurant = iemand op agtergrond met ’n rol sonder woorde |
Om ’n snelsonnet te wees, moet die gedig voldoen aan hierdie volgende kriteria:
Voorbeelde:
1.
Probeer is die beste geweer
Met moedersmelk, op skool en vadersknie
het ek geleer wat vorm jou murg en bloed:
staan vas, hou uit, hou aan, geduld en moed.
Geen vraag of dit aanwesig was of nie …
Ek hoop die ‘pledge’ van reënboognasieland
bring meer as mag, korrupsie, sent en rand.
(estelleke)
2.
Sabbatsjaar
Na ploeg by kwasi-akademici
kom handskoenjubelnuus en nuwe lus.
Swoeg sewe jaar hierna en snak na blus:
wie leer? wie onderrig? nie seker nie …
Die oes word ryp vir goue akkerblaar:
die rus is elders, dalk nóg hier nóg daar.
(estelleke)
Hierdie kort wense in eenlyn-versvorm is geskep deur estelleke (2009–2016) terwyl sy in die Boland gewoon het. Hier het sy bewus geraak van die gesprek tussen die natuur en haar eie lewe. Sy is geïnspireer deur Ierse wense en die Engels-Ierse digters en filosowe John O’Donohue en David Whyte.
Hieronder is wat sy sê oor die proses:
Voorbeelde:
(estelleke)
Die volgende kort Facebook-gedigte is geskep deur André Müller (2008) in Stellenbosch. Hier is wat hy daaroor te sê het om jong digters aan te moedig:
Hoekom?
Want die cliché “Happy B-day!!!” en “Geluk met jou verjaarsdag” voeg nie waarde toe tot die leser of die skrywer se lewens nie.
Wat?
Dit is verwysings na enige soort gedeelde herinnering, ’n Facebook-foto of ’n verbeelding van die huidige lewe van die ontvanger (gewoontes, uitdagings, die weer of die plek). Dit kan ’n wens wees, ’n eenvoudige rympie, ’n haiku of ’n akrostigon (naamgedig).
Hoe?
’n Goeie begin is “Mag jou dag ...”, maar daar is nie regtig reëls nie. Laat jou herinnering aan die persoon jou lei.
Leef poëties:
Skryf ’n eerste poging, neem ’n sluk koffie en laat die woorde speel in jou gedagtes. Skep iets kort, iets treffend.
Voorbeelde:
(André Müller)
’n Pryslied het nie ’n vaste vorm nie, maar dit besit wel die volgende kenmerke:
Voorbeelde:
1.
pryslied (vir Madiba)
in die sandkliphart
vandag
staan hy
kop en skraal skouers staan hy bo almal uit
houtskool en as is sy hare
hy, die sandkleurige seun van uNosekeni
uNosekeni die ma van Mandela
hy, die man met die vlesige palmkussings
hier staan hy
uit die gevestigde familie van uNgubengcuka
die seun van Dalindyebo
die seun van Mandela
hy van die rivieroewers by iNqunu
heelmaker uit die Thembu-stam
’n klein swart ster priem sy bolip
ons prys hom
hy wat nie lag nie en nie huil nie
eerste ratelaar van Umkhonto we Sizwe
die swart pimpernel
hy wat nie lag nie en ook nie huil nie
hier staan hy dan nou voor ons
Nelson Rolihlahla Mandela
getrokke tak van lank gelede
die sleepsel van sy blare lê wyd
legendaries is hy – opspoorder van harte
hy maak die pante bymekaar
van ’n verskeurde land
hy draai ons na mekaar toe vir mekaar
hy, heelmaker van mense
hy stig vrede
vrede, wat die ma is van groot nasies
(Antjie Krog, 1994)
2.
Loflied vir Kaap van storms
O wonderlike Muizenberg
Jou sagte golfies werk elke keer –
honderde branderryers het daarop geleer
O wonderlike Kalkbaai
Met jou aantrekhuisies vol helder kleure
Jou vissershawe met geelstert en sardientjie geure
Terwyl die trein stadig deur jou vleg
O wonderlike Simonstad
Met jou blou-groen water en pikkewyn
Jou graniet wolkekrabbers
Waar tyd verdwyn
O wonderlike Kaappunt
Waar die twee oseane groet
Wat die woeste storms voed
O wonderlike Houtbaai
Met jou oulike robbe
Wat knibbel en kou
aan die duikers se vinne
In die diep-diep blou
O wonderlike Kampsbaai
Die Twaalf Apostels hou jou dop
Terwyl jy wegkruip agter die leeu se kop
Maar o wonderlike Tafelbaai
Wat Robbeneiland in jou arms hou
Jy word as een van die mooiste op die aarde beskou
(Christina Monteiro: Gr.7, Laerskool Jan van Riebeeck , 2013)
Wanneer ’n gedig nie ’n spesifieke dissipline soos ’n vaste rymskema, versreëllengte of strofebou het nie, word dit vrye vers genoem. Daar kan selfs afgewyk word van die gewone toepassing van hoofletters, leestekens en sinskonstruksie. So ’n gedig moet egter ander bindende elemente bevat, byvoorbeeld herhaling van klanke, woorde, beelde, gedagtes of versreëls.
Dit gebeur selfs dat postmoderne digters hierdie soort gedig gebruik om vertellende prosa in versvorm te giet, met die wit tipografie van die bladsy en enjambemente om dit na gedigte te laat lyk/voel/klink. Breyten Breytenbach is bekend vir sy praatpoësie.
Hierdie soort gedigte kan maklik vorm mis, en “die wanbegrip dat die vrye vers sommer kan aanbeweeg sonder enige inherente spanning of interne skakels, skep die indruk van verse sonder vormtug. Die vrye vers behoort net deur ’n geoefende digter geskryf te word. Dit is immers, soos Robert Frost opgemerk het, soos om tennis te speel sonder ’n net.” (digter en letterkundige Joan Hambidge).
Die bekroonde digter Danie Marais het ’n ander mening oor vrye vers:
“Die digkuns laat hom, net soos skoonheid, nie netjies definieer nie, maar miskien is die mees beduidende formele verskil tussen prosa en poësie enjambement, soos Giorgio Agamben sê. Die ware toets is egter myns insiens ’n subjektiewe, praktiese een, want as jy kragtige poësie gelees het, weet jy dit. Daar is, in die woorde van Owen Barfield, ’n “gevoelde verandering in bewussyn”, ’n diep resonansie. Wanneer ’n verhalende of anekdotiese gedig daarin slaag om ’n reël, ’n beeld of ’n paar gewone woorde so te raam dat dit begin galm en spook in die binneste van die leser, is dit poësie.”
Voorbeelde:
1.
HANSIE EN GRIETJIE
daar was eendag ’n woud
aan die kant van die son,
die maan is ’n flou olielamp,
saans brand honderde kersies,
die volgende môre word die kindertjies
afgelaai by die heks se huisie
hulle huil tot vanaand
na-vyf, na-werk kom die
stiefmammies en -pappies hulle haal
met ’n ysterswaan
die nuutste model blaas rook
en jaag oor riviere teer
tot by kelders parkering
dan word hulle opgehys
gebad en gevoer in ’n hok
moet hulle soet gaan slaap
eennag het hansie en grietjie
weggeloop, bo-oor die tralies geklim
en fyn en flenters geval
op die paadjies sement
ver van die huis af
(Eveleen Castelyn)
2.
met ’n bossie bergblomme
nederige blomme van ’n vreemde berg
vir jou verjaarsdag
sodat jy berghelder kan lag
en jou hande kan klap by die venster
pers blomme — die angeliere van dwerge -
om ons huis se skaduwees te terg,
skurwe klein kelkies van kyk
wat die wind en die vog in hul dra
hulle brand net vir jou
want jy is mos jarig,
hulle geur net vir jou
hulle berge soet geur
oeillets du poète: klein oë van die digter,
en as jy lank genoeg daarín kan kyk
sal hulle nog dieper en vuriger blom, verryk
tot die vlerke waarmee jy óór skaduwees gaan vlieg
na die vreemde berge deur die venster
(breyten breytenbach)
3.
’n Gedig na aanleiding van Christopher Reeve (“Superman”) se dood.
Reeve
Ek het die perd leer ken as Vronsky:
vier hoewe, vaart en Anna.
En hy het my gegooi, ’n swarte,
af aarde toe. Déúr swaartekrag.
En nog word ek gedryf: vier wiele, battery
en droom. Wat kan my keer – miskien die stoom
(Petra Müller)
In die Middeleeue het minnesangers rondgereis en ballades gesing. Dit is dus ’n lied met vaste rym en ritme. Ook is daar gewoonlik ’n refrein.
Hoewel die Franse en Engelse ballades ’n ingewikkelde struktuur het, kan leerders doodgewoon ’n storie in vaste rym en ritme skryf en sorg dat daar ’n refrein is.
Die voorbeelde is bekende gedigte in die Afrikaanse letterkunde en is baie lank. Leerders se ballades hoef natuurlik nie so lank te wees nie.
Voorbeelde:
1.
Gister is ’n ver land (ballade vir Mary-May)
Vér in die verre verlede
op ’n dag in 1910
het die mooiste kleine baba
haar eerste lewenslig gesien
en wyl sy wieg in moedersarms
was haar pa so trots en bly
hy sing vir haar ’n lullaby
en hul noem haar, Mary-May.
In die herfs van 1930
stap Mary langs die strand
en ontmoet toe daar ’n jong man
van ’n ver en vreemde land.
’n Ring met diamante
het sy kort voor lank gekry
en hy vra haar om te trou
want hy was lief vir Mary-May.
Die dag toe hul kom groet
het haar ma se hart gebreek
hul sou haar nooit weer sien nie
dit het sy goed geweet.
Haar pa was byna woordeloos
daar’t ’n traan oor sy wang gegly
maar hy sing vir haar ’n lullaby
en sê "vaarwel, my Mary-May."
Veel jare het verby gegaan
voor haar beeld begin vervaag.
Hy koop ’n klompie planke ~
en toe begin die ou man saag.
Hy bou vir hom ’n skuitjie
wat deur seewaters kan sny
maar die bootjie moes ’n naam hê
en hy doop haar, Mary-May.
Maar nimmer kon hy vrede vind
wyl hy oor blou, blou waters staar
tot anderkant die horison ~
en dink aan lande ver van daar.
Dan droom hy van ’n groot skip
wat haar terug bring om te bly
en hy neurie weer ’n lullaby
vir sy mooiste, Mary-May
O, hoe onverwags die stormsee
en dat sy skuit hom só moes faal.
Hoe hy ookal spook en spartel
die strand kon hy nooit haal.
Met nuwe dag se eerste lig
het ’n sonstraal haar gekry
waar die wind suis soos ’n lullaby
alom die wrak van Mary-May.
Oor die see sweef soms ’n droewe stem
soos van ’n siel met seer belas.
Party sal sê dis net ’n meeu
wat sy eensaamheid so kras,
maar ieder wat die storie ken
wis ~ dis die ou man wat so ly
en hy sing nog steeds ’n lullaby
vir sy liefkind, Mary-May
(C. Shaw)
2.
die koning opgestaan
En almal luister nou:
O, howelinge hoor my aan
Die Blom van my huis gaan trou!
Met ’n ra, ta, ratatata
En die swaai van ’n rooi banier
Het die hoë besoeker uitgetree
O Koning ek is hier!
En bleek het die koning se dogter geword
En wild was haar oë nou
My laaste druppel bloed sal ek stort
Eer ek met die ridder trou!
Met ’n fa, la falalala
En die sang van ’n silwer basuin
Het die koning se bode gaan staan by sy blom
Gepluk uit die koning se tuin
O wreed het die koning se oë gevlam
En hoog het sy sabel geblink
Soos die kruin van ’n wilker, gesny van sy stam
Het die bode neergesink
Met ’n tra, la, tralalala
En ’n kilte wat kruip oor haar hart
Het die koning se dogter gesing en gelag
Gesing en gelag
Met die singende stem van die smart
(Woorde: I.D.du Plessis)
(Musiek: Laurika Rauch)
3.
Die ruiter van Skimmelperdpan
Op die pad wat verdyn in die Skimmelperdpan,
by ’n draai in die mond van die kloof,
het ’n bom in die oorlog ’n vlugtende man
op ’n perd soos ’n swaardslag onthoof.
Aand die saalboom krampagtig die hande verstyf,
met ’n laaste stuiptrekkende krag,
en die bene geklem soos ’n skroef om sy lyf,
op die perd sit die grusame vrag.
Met sy neusgate wyd en die ore op sy nek,
soos die wind yl verbysterd die dier,
met die skuim in wit vlokke wat waai uit sy bek,
en gespan soos ’n draad elke spier;
by die huisie verby waar ’n vrou staan en kyk …
in die afkopding ken sy haar man …
met ’n onaardse gil val sy bleek soos ’n lyk …
perd en ruiter verdwyn in die Pan!
Wee die reisiger wat daar onwetend kom skuil
waar bouvallig die huisie nog staan,
en vreesagtig by wyle ’n nagdiertjie huil
by die newelige lig van die maan!
Want by middernag waai daar ’n wind deu rdie kloof,
waai en huil soos ’n kindjie wat kerm,
en dan jaag daar ’n perd met ’n man sonder hoof …
wie dit sien, roep verskrik: “Heer, ontferm!”
Want die vuurvonke spat waar die hoefslae dreun,
en dit vlam uit sy neus en sy oog;
styf en stram sit die ruiter na vore geleun,
en die bloed uit sy nek spuit ’n boog;
en dan eensklaps vanuit die vervalle gebou
kom ’n vreeslike skrikbeeld gevaar,
al die hare orent – ’n waansinnige vrou
met ’n hande-verwringend gebaar:
“Waarom rus jy nie, rus jy nie, Jan van der Meer?
Waarom jaag jy my elke nag op?
Sal daar nimmer ’n einde kom … altyd maar weer
die galop … die galop … die galop?”
Die afgryslike klank – nóg gehuil nóg gelag –
en die perd met die romp van ’n man …!
Dis geen plek vir ’n Christenmens daar in die nag
langs die pad na Skimmelperdpan!
(AG Visser)
4.
Op die pad na Nooitgedacht
Op ’n donker aand, diep in Juliemaand,
op die pad na Nooitgedacht,
waar drie rotse staan teen die sekelmaan,
het ek lank gewag die nag,
het ek lank gewag die nag.
Want ’n skurk vanouds het ’n sak vol goud
daar begrawe langs die pad
en elke donker aand, met die sekelmaan,
kom hy terug en soek sy skat,
kom hy terug en soek sy skat.
In die verte hoor ek vier hoewe,
soos ’n hartpols diep in die nag.
Dis of die duiwel hom jaag
want die maan sit al laag
op die pad na Nooitgedacht.
Dis of die duiwel hom jaag
want die maan sit al laag
op die pad na Nooitgedacht.
By die Spookklippe naby Nooitgedacht,
so’t die mense my vertel,
kan geen man dit waag op ’n donker nag –
hy begeef hom in die hel,
hy begeef hom in die hel.
Maar ek het vasgestaan en gesê ek gaan
man-alleen een donker nag.
Ek’t my self gestaal en my perd laat haal,
maar ek het so iets nooit verwag,
ek het so iets nooit verwag.
Want die vuurvonke spat uit sy hoewe
en tien vlamtonge speel in die nag
en die ruiter lê plat,
want sy perd ken die pad
na die skat van Nooitgedacht.
En die ruiter lê plat,
want sy perd ken die pad
na die skat van Nooitgedacht.
Ek het te veel gesien en ek dog miskien
is die beste plek die huis.
Want ek ken gevaar, maar ek trap onklaar
en ek wens ek was al tuis,
en ek wens ek was al tuis.
Maar die huis is ver en die môrester
hang spookagtig oor die veld.
Dis geen plek vir my; ek wil liewer ry –
gee die kêrel maar sy geld,
gee die kêrel maar sy geld.
Maar die hoefslae dreun in my ore
en n skim skiet stil uit sy saal;
en die vuurvonke spat soos hy grou langs die pad,
want hy kom om sy skatte te haal.
Maar die burgers gun hom geen rus nie;
soos ’n veldbrand kom hulle aan.
En die Mauser-vuur dreun en looddruppels reën –
en ek dog die einde breek aan.
Maar twee kole gloei in sy oë;
met een haal is hy weer in die saal,
en sy perd ploeg die lug in sy ylingse vlug,
want hy weet die dood kom hom haal,
en sy perd ploeg die lug in sy ylingse vlug,
want hy weet die dood kom hom haal,
want hy weet die dood kom hom haal.
Op ’n donker aand diep in Juliemaand,
op die pad na Nooitgedacht,
waar drie rotse staan teen die sekelmaan,
het ek lank bly lê die nag,
het ek lank bly lê die nag.
En ek weet geeneen sal my glo nie.
Dit klink alles so gek in die dag.
Maar wees elkeen wat lag
een maal daar in die nag
op die pad na Nooitgedacht.
Maar wees elkeen wat lag
een maal daar in die nag
op die pad na Nooitgedacht.
(Koos du Plessis)
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Digvorm, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.