Die Slag van Blaauwberg, wat naby Kaapstad op 8 Januarie 1806 geveg is, was 'n klein maar deurslaggewende militêre botsing.
Twee Britse infanteriebrigades onder lt.genl. David Baird het ’n Nederlandse garnisoen en burgermageenheid onder lt.genl. Jan Willem Janssens verslaan en die Kaap finaal geannekseer. Dit het Britse heerskappy in Suid-Afrika gevestig wat menige gevolge gedurende die 19de en 20ste eeu sou hê. 'n Tweehonderdjarige herdenking is in Januarie 2006 gehou.
Slag van Blaauwberg | |||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|
Deel van die Tweede Britse besetting van die Kaap | |||||||
Die bestorming van die Kaap die Goeie Hoop | |||||||
| |||||||
Strydende partye | |||||||
Groot-Brittanje | Bataafse Republiek | ||||||
Bevelvoerders | |||||||
Luitenant-generaal sir David Baird | Luitenant-generaal Jan Willem Janssens | ||||||
Sterkte | |||||||
7000 | 2000 | ||||||
Ongevalle | |||||||
204 | 347 |
Die slag word gesien as deel van die Napoleontiese Oorloë in Europa. Op daardie stadium het die Kaapkolonie aan Nederland, wat toe as die Bataafse Republiek bekend gestaan het, behoort. Nederland was op daardie stadium onder Franse beheer. Weens die belangrikheid van die seeroete om die Kaap het die Britte besluit om die kolonie in besit te neem om te verhoed dat dit – en die seeroete – in Franse hande val. 'n Britse vloot is in Julie 1805 na die Kaap gestuur om te verhoed dat Franse troepeskepe wat deur Napoleon gestuur is die garnisoen in die Kaap kon versterk.
Die kolonie is deur luitenant-generaal Jan Willem Janssens bestuur, wat ook die hoof van die militêre magte was. Die magte was klein en van swak gehalte en het buitelandse eenhede ingesluit wat deur die Bataafse regering gehuur is. Hulle is deur plaaslike burgermageenhede gerugsteun.
Die eerste Britse oorlogskip het die Kaap op Oukersaand in 1805 bereik en twee voorraadskepe naby die Kaapse Skiereiland aangeval. Janssens het sy garnisoen op gereedheidsgrondslag geplaas. Toe die hoofvloot Tafelbaai op 4 Januarie 1806 binnevaar het hy die garnisoen gemobiliseer, krygswet afgekondig en die burgermag opgeroep.
Na 'n vertraging wat deur rowwe see veroorsaak is, het twee Britse infanteriebrigades, onder die bevel van luitenant-generaal sir David Baird, by Melkbosstrand, noord van Kaapstad, geland op 6 en 7 Januarie. Janssens het sy troepe verskuif om hulle af te sny. Hy was van mening dat 'n oorwinning as onmoontlik beskou kon word, maar dat die eer van die vaderland 'n geveg vereis het. Sy bedoeling was om die Britte op die strand aan te val en dan na die binneland te onttrek waar hy gehoop het hulle kon wag tot Franse troepeskepe sou opdaag.
Op die oggend van 8 Januarie, terwyl Janssens se stadigbewegende kolonne steeds deur die veld beweeg het, het Baird se brigades egter hulle opmars na Kaapstad begin en die hange van die Blaauwberg, tans "Blouberg" gespel, 'n paar kilometer voor Janssens bereik. Janssens het sy magte tot stilstand gebring en 'n lyn oor die veld gevorm.
Die slag het teen sonsopkoms begin met wedersydse kanonvuur. Dit is gevolg deur 'n aanval deur Janssens se berede burgermageenheid en sarsies musketvuur van beide kante. Een van Janssens se gehuurde buitelandse eenhede het uit die binnekolonne van die veld af gehardloop. 'n Britse bajonetaanval het ontslae geraak van die eenhede aan Janssens se regterflank en hy het die res van die troepe beveel om terug te val.
Toe die slag begin het, het Janssens 2 049 troepe gehad. Sy totale verliese en weggevlugtes was 353. Baird het die slag met 5 399 begin, en het 212 verliese gely.
Van Blaauwberg af het Janssens binnelands beweeg na 'n plaas in die Tygerberg gebied, en vandaar het sy troepe binnelands na die Elandskloof in die Hottentots Hollandberge, omtrent 50 km van Kaapstad beweeg.
Die Britse magte het die buitewyke van Kaapstad op 9 Januarie bereik. Om te verhoed dat Kaapstad en sy burgerlike bevolking aangeval word het die kommandant van Kaapstad, luitenant-kolonel Hieronymus Casimir von Prophalow, 'n wit vlag uitgestuur. Hy het die buitefortifikasies aan Baird oorhandig, en later in die dag is die terme van oorgawe onderhandel.
Die formele "Articulen van Capitulatie" t.o.v. Kaapstad en die Kaapse Skiereiland is die volgende namiddag, 10 Januarie, by 'n huis te Papendorp (vandag die woonbuurt Woodstock) onderteken. Die huis het later as "Treaty Cottage" bekend gestaan, en alhoewel die huis lankal gesloop is, dra die straat langsaan nog die naam "Treatystraat". 'n Ou Witmelkhoutboom in die tuin staan as die Verdragboom bekend en is as 'n nasionale monument verklaar.
Die Bataafse Goewerneur van die Kaap, lt genl Janssens het egter nog nie homself en sy oorblywende troepe oorgegee nie en het sy plan gevolg om vir so lank moontlik uit te hou in die hoop dat die Franse troepeskepe waarvoor hy soveel maande gewag het sou opdaag en hom red.
Hy het slegs 1 238 troepe met hom gehad, en oor die volgende paar dae het 211 van hulle gedros.
Janssens het vir 'n week in die berge uitgehou. Baird het Brig Gen William Beresford gestuur om met hom te gaan onderhandel. Op 16 Januarie het die twee generaals by Gerhard Croeser se plaas naby die Hottentots-Hollandberge konferensie gevoer, maar hulle kon nie beslissing bereik nie. Later, na verdere oorweging, en oorleg met sy senior offisiere en raadgewers, het Janssens toe besluit om die bitter pil te sluk. Hy het ingestem om oor te gee, en die finale Artikels van Kapitulasie is op 18 Januarie onderteken.
Waar die ondertekening van die finale artikels plaasgevind het is nie seker nie. Vir baie jare word dit aanvaar dat dit op die plaas Goedeverwachting was, en 'n afskrif van die Artikels van Kapitulasie word wel daar vertoon. Maar meer onlangse navorsing, wat in dr Krynauw se boek Beslissing by Blaauwberg gepubliseer is, dui aan dat Croeser se plaas (vandag die Somerset-Wes gholfbaan) die eintlike lokaal was. 'n Artikel wat die destydse dominee van Stellenbosch, dr Borcherds, in die 1820s gepubliseer het, wys ook na Croeser se plaas.
Die voorwaardes van die oorgawe-ooreenkoms was redelik gunstig ten opsigte van die Bataafse soldate en die Kaapse burgers. Janssens, en die Bataafse amptenare en troepe is in Maart van die jaar na Nederland teruggestuur.
Die Britse magte het die Kaap beset tot 13 Augustus 1814, toe Nederland die kolonie as 'n permanente besitting aan Brittanje oorgegee het. Dit het 'n Britse kolonie gebly totdat dit opgeneem is in die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910.
Opsomming van die Articulen van Capitulatie onderteken deur lt kol Von Prophalow, genl maj Baird en kdoor Popham op 10 Januarie 1806:
Opsomming van die Articulen van Capitulatie wat deur lt genl Janssens en brig gen Beresford op 18 Januarie 1806 onderteken en deur genl maj Baird op 19 Januarie bekragtig is:
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Slag van Blaauwberg, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.