Skubaduik is 'n aktiwiteit waar mense (skubaduikers, of net duikers genoem) 'n lang tyd onderwater deurbring.
Skubaduik word vir ontspanning beoefen en is 'n groeiende tydverdryf. Die woord skuba is afgelei van die Engelse woord scuba wat die afkorting is vir: Self-Contained Underwater Breathing Apparatus.
Umkomaas en Sodwanabaai is gewilde bestemmings vir skubaduikers langs die Suid-Afrikaanse kus. Verder op teen die ooskus is Ponta do Ouro in Mosambiek ook gewild. In die binneland word varswaterduiktogte by Miracle Waters en Bass Lake onderneem.
Noodsaaklike toerusting sluit in:
Vir veiligheid moet daar op die volgende gelet word:
Borrelsiekte kan by duikers voorkom wat te vinnig vanuit die diepte na die oppervlak opskiet. Stikstofborrels kan in die liggaamsweefsel vorm weens die skielike verandering in omgewingsdruk. Dis soortgelyke bruiseffek as wanneer 'n blikkie gaskoeldrank geskud en dan oopmaak word.
Hoe dieper die duiker is, hoe hoër is die druk en hoe meer gas word (volgens Henry se wet) in die bloed opgelos. Die borrels vorm omdat die duiker se liggaam nie genoeg kans kry om die gas wat in die bloed opgelos is, geleidelik deur sy asemhalingstelsel vry te stel nie.
Die simptome van borrelsiekte word soms eers 'n ruk na die duik waargeneem. Dit sluit gewrigspyn, duiseligheid, kortasemrigheid, moeg- en lamheid, swak sig en bewusteloosheid in. In erge gevalle kan die duiker selfs sterf.
Om borrelsiekte te voorkom moet die duiker stadig na die oppervlak beweeg en indien nodig, gereelde stoppe vir dekompressie doen. As dit wel voorkom, moet die duiker in 'n dekompressiekamer behandel word.
Stikstofnarkose vorm as die duiker dieper as ongeveer 30 m duik. Die stikstof wat onder hoë druk in die bloed oplos het 'n verdowende effek. Dit kan veroorsaak dat die duiker hallusineer, sy begrip van tyd verloor en paniekerig raak. Die toestand is nie fisies skadelik nie, maar die duiker se reaksie hierop kan gevaarlik wees.
Suurstofvergifting kom voor as die parsiële druk van suurstof groter word as ongeveer 1,6 bar. Met gewone lug kan dit nie gebeur teen normale duikdieptes, maar dit kan gebeur as gevolg van die gebruik van Nitrox gasmengsels met hoë suurstofinhoud wat gewoonlik gebruik word om langer duike te kan onderneem sonder dekompressiestoppe. Die duiker loop egter die gevaar dat die suurstof by hoë omgewingsdruk (dieper water) toksies kan raak.
Duikers wat afduik kan paniekerig of kloustrofobies raak. Uit paniek kan hulle dan sonder dekompressie na die oppervlak opskiet. In die proses kan hulle borrelsiekte opdoen of selfs hulle longe ooreis of skeur as hulle hul asems ophou.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Skubaduik, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.