Roger Federer: Switserse tennisspeler

Roger Federer (Duits: ; gebore 8 Augustus 1981 in Basel, Switserland) is ’n voormalige Switserse professionele tennisspeler en voormalige no. 1 op die wêreldranglys van mansenkelspelspelers volgens die ATP.

Baie kenners en tennisspelers glo Federer is moontlik die beste speler in die geskiedenis van tennis. Sy ma, Lynette Federer (née Durand), is ’n Suid-Afrikaner en hy het self ook Suid-Afrikaanse burgerskap.

Roger Federer
Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies
Roger Federer in 2015
Bynaam Swiss Maestro
Federer Express
Fed Express
FedEx
Land Vlag van Switserland Switserland
Woonplek Bottmingen, Switserland
Geboortedatum 8 Augustus 1981 (1981-08-08) (42 jaar oud)
Geboorteplek Basel, Switserland
Lengte 1,85 m
Gewig 85 kg
Afrigter Severin Lüthi
Ivan Ljubičić
Begin professioneel 1998
Afgetree 2022
Spelstyl Regshandig (eenhandig handrughou)
Loopbaan-wengeld $130 594 339 (soos op 12 Junie 2023) (3de van alle tye)
Amptelike webblad rogerfederer.com
Enkelspel
Loopbaanrekord 1251–275 (82,0%)
Loopbaantitels 103 (2de van die Ope-era)
Hoogste rang No. 1 (2 Februarie 2004)
Grand Slam-uitslae
Australiese Ope W (2004, 2006, 2007, 2010, 2017, 2018)
Junior HE (1998)
Franse Ope W (2009)
Junior 1R (1998)
Wimbledon W (2003, 2004, 2005, 2006, 2007, 2009, 2012, 2017)
VSA-Ope W (2004, 2005, 2006, 2007, 2008)
Groot toernooie
Toereindronde W (2003, 2004, 2006, 2007, 2010, 2011)
Olimpiese Spele Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies Silwermedalje (2012)
Dubbelspel
Loopbaan-rekord 131–93 (58,5%)
Loopbaantitels 8
Hoogste rang No. 24 (9 Junie 2003)
Australiese Ope 3R (2003)
Franse Ope 1R (2000)
Wimbledon KE (2000)
VSA-Ope 3R (2002)
Groot dubbelspeltoernooie
Olimpiese Spele Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies Goue medalje (2008)
Laaste opgedateer op: 13 Junie 2023.
Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies
Roger Federer tydens die Australiese Ope in 2014.
Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies
Roger Federer tydens die Australiese Ope in 2010.
Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies
Roger Federer tydens die Wimbledon-kampioenskap in 2009.

Federer het al 20 Grand Slam-titels gewen tydens mansenkelspeltoernooie (hy het al aan 79 deelgeneem). Hy het die Wimbledon-kampioenskapstoernooi agt keer gewen (’n rekord), die Australiese Ope ses keer, die VSA-Ope vyf keer (almal agtereenvolgens; ’n rekord) en die Franse Ope een keer. Hy is een van net agt mans met ’n loopbaan-Grand Slam agter sy naam. In 2004 het hy die eerste speler sedert Mats Wilander geword wat drie van die vier Grand Slam-enkelspeltoernooie in dieselfde jaar wen: die Australiese Ope, Wimbledon en die VSA-Ope. Hy het ook al ses Tennismeestersbekertoernooie en 27 ATP-meestersreekstitels gewen.

Federer het die ATP se no. 1-posisie vir ’n rekord van 310 weke beklee. Hy het ook van 2 Februarie 2004 tot 17 Augustus 2008 die no. 1-wêreldposisie vir ’n rekord van 237 agtereenvolgende weke beklee. Op 8 Julie 2007 het hy Björn Borg se rekord van vyf agtereenvolgende seges op Wimbledon geëwenaar.

Sy spel is veelsydig, en sy oënskynlik maklike en doeltreffende bewegings het hom gewild onder tennisaanhangers gemaak.

Persoonlike lewe

Vroeë lewe

Federer is in Basel, Switserland, gebore. Sy pa, Robert Federer, is ’n Duitssprekende Switser en sy ma, Lynette Federer (née Durand), is van Kempton Park in Gauteng, Suid-Afrika. Hy het ’n ouer suster, Diana, die ma van ’n tweeling.

Federer het Switserse en Suid-Afrikaanse burgerskap. Hy het in Birsfelden, Riehen en Münchenstein grootgeword en praat vlot Duits, Switserse Duits, Engels en Frans, asook Italiaans en Sweeds; sy huistaal is Switserse Duits.

Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies 
Federer se handtekening.

Soos alle Switserse burgers was Federer onderworpe aan diensplig in die Switserse weermag. Hy is egter in 2003 "ongeskik" verklaar en het nie sy diensplig gedoen nie. In die plek daarvan het hy in die burgerlike beskermingsmag gedien.

Gesin

Federer is getroud met ’n voormalige speler van die Vrouetennisvereniging, Mirka Federer (née Vavrinec). Hulle het mekaar in Sydney ontmoet terwyl albei Switserland verteenwoordig het op die Olimpiese Somerspele 2000. Sy het in 2002 uit die APT-toer getree weens ’n voetbesering. Hulle is op 11 April 2009 naby Basel getroud. In 2009 het Mirka die lewe aan identiese tweelingdogters geskenk. In 2014 het die Federers nog ’n identiese tweeling gehad, dié keer seuns.

Federer se byname is die Federer Express (verkort tot Fed Express of FedEx) en Maestro.

Filantropiese werk

Federer doen baie filantropiese werk, onder meer in Suid-Afrika (sy ma se vaderland). In 2003 het hy die Roger Federer-stigting begin om agtergeblewe kinders in dié land te help en toegang tot opvoeding en sport te gee.

Hy steun sedert Mei 2004 die Suid-Afrikaans-Switserse welsynorganisasie IMBEWU, wat kinders op sport-, sosiale en gesondheidsgebied help. Hy het Suid-Afrika in 2005 besoek om die kinders te ontmoet wat by sy steun baat gevind het.

Hy het al geld ingesamel vir onder meer slagoffers van die tsoenami in 2004 in die Indiese Oseaan, die aardbewing van 2010 in Haïti en die oorstromings in 2010-'11 in Queensland. Hy is in April 2006 as welwillendheidsambassadeur van Unicef aangestel en het al in openbare boodskappe van dié organisasie verskyn om mense bewus te maak van vigs.

Op 24 November 2017 het Federer ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Basel ontvang uit erkenning vir sy rol in die verbetering van Basel en Switserland se internasionale reputasie en sy stigting se werk onder kinders van Afrika.

Bemarkingsaktiwiteite

Roger Federer is deur die Switserse onderneming Jura, 'n vervaardiger van outomatiese koffiemasjiene in die premiummarksegment, as handelsmerkambassadeur aangestel.

Loopbaan

Voor 1998

Federer se grootste oorwinnings as ’n junior speler was in 1998 op Wimbledon, waar hy beide die seunsenkelspeleindstryd teen Irakli Labadze en die dubbelspeleindstryd saam met Olivier Rochus teen Michaël Llodra en Andy Ram gewen het. Hy het in dié jaar ook die junior eindstryd van die Amerikaanse Ope gehaal, maar teen David Nalbandian verloor.

Hy het tydens sy junior loopbaan vier ITF-enkelspeltoernooie gewen, insluitende die prestigeryke Orange Bowl, waar hy Guillermo Coria in die eindstryd geklop het. Aan die einde van die jaar was hy no. 1 op die wêreldjuniorranglys en die ITF- junior wêreldkampioen.

1999–2002

Federer het op 20 September 1999 die eerste keer die top-100-ranglys gehaal. Hy het die jaar in die Marseille-Ope begin deur die heersende kampioen van die Franse Ope van 1998, die Spanjaard Carlos Moyá, te verslaan. Sy eerste eindstryd was in 2000 in die Marseille-Ope, waar hy teen die mede-Switser Marc Rosset verloor het. Hy het in 2001 die Hopmanbeker saam met Martina Hingis vir Switserland gewen. Hulle het die Amerikaners Monica Seles en Jan-Michael Gambill in die eindstryd geklop.

Sy eerste oorwinning as enkelspeler was in die Milanese Binnenshuise Toernooi van 2001, waar hy Julien Boutter in die eindstryd verslaan het. In dié jaar het hy sy eerste Grand Slam-kwarteindstryd in die Franse Ope gehaal, waar hy teen die wêreld se no. 2-speler, Alex Corretja, verloor het. Dit het hom vir die eerste keer onder die top-15 geplaas.

In dié jaar se Wimbledon-kampioenskap het die 19-jarige Federer te staan gekom teen die verdedigende kampioen en Grand Slam-voorloper, Pete Sampras. Federer het die no. 1-gekeurde Sampras in vyf stelle geklop en deurgedring tot die kwarteindronde. Hier het hy teen Tim Henman verloor.

Sy eerste eindronde in die ATP 1 000-meestersreeks was in 2002 op ’n harde baan teen die voormalige en toekomstige no. 1 Andre Agassi. Hy het sy eerste meestersreekseindstryd in 2002 se Hamburg-meesterstoernooi op klei gewen deur Marat Safin te klop; dit het hom vir die eerste keer onder die top-10 geplaas.

Federer het tussen 1998 en 2002 tot 10 eindrondes deurgedring, waarvan hy vier gewen het. Hy het ook ses dubbelspeleindrondes gehaal. Aan die einde van 2001 was hy no. 13 op die ATP-ranglys en aan die einde van 2002 no. 6.

2003

Federer het sy eerste Grand Slam-enkelspeltitel op Wimbledon gewen deur Andy Roddick in die halfeindstryd en Mark Philippoussis in die eindstryd te klop. In Augustus het hy die kans gehad om die no. 1-spelersposisie van Agassi af te neem as hy tot die Montreal-eindstryd kon deurdring. Hy het egter in die halfeindronde teen Roddick verloor en was daarna 120 punte agter Agassi.

Hy het sy eerste en tot dusver enigste ATP 1 000-dubbelspel in Miami verloor saam met Max Mirnyi en deurgedring tot een ATP 1 000-enkelspelwedstryd in Rome op klei, wat hy verloor het. Federer het nege eindstryde op die ATP-toer gehaal en sewe gewen, insluitende die 500-reekseindstryde in Doebai en Wene. Hy het ook die jaareindkampioenskap teen Agassi gewen. Hy het die jaar geëindig as no. 2-speler, met Roddick wat met 160 punte voorgeloop het.

2004

In dié jaar het Federer drie Grand Slam-enkelspeltitels gewen, die eerste persoon sedert Wilander in 1988. Ná sy oorwinning oor Safin in die Australiese Ope het hy vir die eerste keer die wêreld se no. 1-speler geword. Hy het Roddick op Wimbledon geklop vir sy tweede oorwinning in dié kampioenskapstoernooi. In die VSA-Ope het hy die kampioen, Lleyton Hewitt, geklop en sy eerste oorwinning daar behaal.

Federer het drie ATP 1 000-meestersreekswedstryde gewen, die een op klei in Hamburg en die ander twee op harde bane in Indian Wells en Kanada. Hy het ook die ATP 500-reeks in Doebai gewen, asook sy eerste toernooi op eie bodem in die Switserse Ope in Gstaad. Sy 11 enkelspeltitels was die meeste deur enige speler in twee dekades, en sy rekord van 74-6 was die beste sedert Ivan Lendl s'n in 1986.

2005

In 2005 kon Federer nie die eindstryd van die eerste twee Grand Slam-toernooie haal nie; hy het in die Australiese Ope teen die eindelike wenner, Safin, verloor en in die Franse Ope teen die eindelike wenner, Rafael Nadal. Hy het egter weer sy meersterskap op gras getoon deur Roddick op Wimbledon te klop. In die VSA-Ope het hy Agassi geklop in dié se laaste groot eindstryd.

Federer het ook vier ATP 1 000-toernooie gewen: in Indian Wells, Miami en Cincinnati op harde bane en Hamburg op klei. Die een in Miami was die eerste eindstryd tussen hom en Nadal. Hy het ook twee ATP 500-toernooie, in Rotterdam en Doebai, gewen. Van September af was hy vir feitlik die hele jaar buite aksie weens ’n voetbesering. Hy was die hele seisoen no. 1.

Federer het 11 enkelspeltitels gewen, nes in 2004. Sy 81 wedstrydoorwinnings was die meeste sedert Sampras s'n in 1993, en sy rekord van 81-4 (95,2%) is steeds die derde beste wenpersentasie in die Ope-era, naas dié van John McEnroe in 1984 en van Jimmy Connors in 1974.

2006

Die 2006-seisoen was statisties gesproke een van die bestes van Federer se loopbaan. Hy het 12 enkelspeltitels gewen (die meeste deur enige speler sedert Thomas Muster in 1995 en McEnroe in 1984) en het ’n wedstrydrekord van 92-5 gehad (die meeste wenslae sedert Lendl in 1982). Hy het in 16 van die 17 toernooie waarin hy gespeel het, die eindstryd gehaal.

In dié jaar het Federer drie Grand Slam-enkelspeltitels gewen en die eindstryd van die vierde een gehaal – sy enigste nederlaag was teen Nadal in die Franse Ope. Dit was sy en Nadal se eerste botsing in ’n Grand Slam-eindstryd. Hy was die eerste man wat die eindstryd van al vier Grand Slams gehaal het sedert Rod Laver in 1969. Federer het Nadal op Wimbledon geklop, Marcos Baghdatis in die Australiese Ope en Roddick in die VSA-Ope. Daarbenewens het hy ses ATP 1 000-eindstryde gehaal; hy het vier op harde bane gewen en twee op klei teen Nadal verloor.

Federer het in 2006 teen net twee spelers verloor: vier keer teen Nadal in eindstryde en een keer teen die 19-jarige Andy Murray in die tweede ronde van die Cincinnati-meesterstoernooi – dit was sy enigste nederlaag in dié jaar voordat hy die eindstryd gehaal het.

Na aan die einde van die seisoen het hy sy tuisstadtoernooi, die Switserse Binnenshuise Toernooi in Basel, Switserland, vir die eerste keer gewen nadat hy in 2000 en 2001 die naaswenner was en die toernooi in 2004 en 2005 misgeloop het weens beserings. Hy het die seisoen met 29 wedstrydoorwinnings afgesluit, en met oorwinnings in 48 van sy laaste 49 wedstryde sedert die Franse Ope.

2007

In 2007 het Federer die eindstryd van al vier Grand Slams gehaal en weer drie daarvan gewen. Hy het Fernando González in die Australiese Ope geklop sonder om ’n stel af te staan – hy was die eerste man wat dit in die 21ste eeu reggekry het nadat Borg dit laas in 1980 in die Franse Ope gedoen het. Nadat Federer sy vierde Doebai-kroon gewen het, het hy al 41 wedstryde agtermekaar gewen, die meeste in sy loopbaan en net vyf minder as die rekord.

Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies 
Aanhangers en kommentators het Federer "Darth Federer" gedoop by 2007 se VSA-Ope.

Hy het daarna in Indian Wells deelgeneem as die verdedigende kampioen, maar sy geluk het omstrede geëindig toe hy verslaan is deur die Argentyn Guillermo Cañas, wat nie ’n dwelmtoets kon slaag nie. Tydens die kleiseisoen was Federer se oorwinning in Hamburg veral indrukwekkend, want dit het Nadal se 81 agtereenvolgende oorwinnings op klei beëindig. By die Franse Ope is verwag Federer die eerste man in byna 40 jaar sou word wat al vier Grand Slams in ’n jaar wen, maar hy het teen Nadal verloor.

Op Wimbledon was hy die vierde keer die verdedigende kampioen nadat hy 48 keer agtermekaar op gras gewen het. Hy het Nadal weer geklop, nes die vorige jaar. Dit was sy vyfde agtereenvolgende Wimbledon-oorwinning, die eerste persoon sedert Borg wat dit reggekry het.

Federer het die eindstryd in Montreal gehaal, waar hy teen ’n jong en relatief onbekende Serwiër met die naam Novak Djokovic te staan gekom het. Djokovic het die wêreld se no. 1-speler geklop. Federer het daarna in Cincinnati sy vyfde titel van die jaar gewen. In die Franse Ope het hy weer teen Djokovic te staan gekom in die eindstryd, maar dié keer geseëvier. Tydens die VSA-Ope het die pers hom "Darth Federer" gedoop vanweë sy swart uitrustings, en elke keer wanneer hy vir ’n wedstryd aangekondig is, is "The Imperial March" uit Star Wars gespeel. Hy het dié jaar ook in Basel en Shanghai gewen.

Aan die einde van die seisoen was hy die vierde keer agtereenvolgens die wêreld se no. 1-speler nadat hy in dié vier jaar 11 Grand Slam-enkelspeltitels gewen het. Hy was die enigste speler in die geskiedenis wat drie keer drie Grand Slams in ’n jaar kon wen (2004, 2006 en 2007). Dit was die derde agtereenvolgende jaar dat hy 52 weke van die jaar no. 1 was.

2008

Federer se sukses in 2008 is in die wiele gery deur aanhoudende klierkoors, waaraan hy in die eerste helfte van die jaar gely het. Aan die einde van die jaar het hy ’n rugbesering opgedoen.

Hy het in dié jaar een Grand Slam gewen: ’n enkelspeltitel teen Murray in die VSA-Ope. Nadal het Federer in twee Grand Slam-eindstryde geklop: die Franse Ope en Wimbledon. In die Australiese Ope het hy in die halfeindstryd teen die eindelike wenner, Djokovic, verloor. Dit het die einde beteken van sy rekord van 10 agtereenvolgende eindstryde. Hy het in twee ATP 1 000-eindstryde teen Nadal verloor: in Monte Carlo en Hamburg.

Op die Olimpiese Spele het Federer en Stan Wawrinka die dubbelspel- goue medalje gewen deur die Sweedse paar Simon Aspelin en Thomas Johansson in die eindstryd te klop. As enkelspelspeler kon hy net die kwarteindstryd haal. Aan die einde van die jaar was hy die wêreld se no. 2-speler. Hy het die topposisie aan Nadal afgestaan nadat hy dit vir 'n rekord van 237 agtereenvolgende weke gehou het.

2009

Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies 
Federer wen die Franse Ope en voltooi sy loopbaan-Grand Slam.

Federer het die 2009-seisoen binnegegaan met 13 Grand Slam-titels agter sy naam, net een minder as Sampras se rekordgetal. Die seisoen het begin met ’n nederlaag teen Nadal in die eindstryd van die Australiese Ope.

Federer het in die finale meesterstoernooi van die kleiseisoen weer geluk behaal deur Nadal slegs die tweede keer op klei te wen in die Madrid-meesterstoernooi. In die Franse Ope het hy teen Robin Söderling te staan gekom. Hy het hom geklop en sy loopbaan-Grand Slam voltooi. Hy het hiermee ook Sampras se rekord van die meeste Grand Slam-enkelspeltitels geëwenaar.

Op Wimbledon het hy teen sy ou teenstander Roddick te staan gekom in hul agtste en laaste stryd in ’n Grand Slam. Federer het sy 15de Grand Slam-enkelspeltitel gewen en daarmee Sampras se rekord verbeter. Daarna het hy Djokovic in die Cincinnati-meesterstoernooi geklop, maar hy is in die VSA-Ope deur ’n jong Juan Martín del Potro verslaan.

Die 2009-seisoen was histories vir Federer omdat hy sy loopbaan-Grand Slam behaal het deur vir die eerste keer die Franse Ope te wen. Hy het ook Sampras se rekord van 14 Grand Slam-mansenkelspeltitels by Wimbledon verbeter deur sy 15de titel daar te wen. Die Wimbledoneindstryd was ook histories omdat dit die langste Grand Slam-eindstryd was in terme van potte gespeel, met Federer wat met 16-14 in die vyfde stel gewen het. Hy het die jaar vir die vyfde keer as die wêreld se no. 1-speler geëindig.

2010

Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies 
Federer wen sy 16de Grand Slam in die Australiese Ope.

Federer het die jaar begin met ’n oorwinning in die Australiese Ope deur Murray in die eindstryd in drie stelle te klop. Hiermee het hy sy 16de Grand Slam-titel gewen en Agassi se rekord van vier Australiese Ope-titels geëwenaar. Sedert Wimbledon 2005 het Federer 18 van die 19 Grand Slam-eindstryde gehaal.

In die Franse Ope het hy vir die eerste keer sedert die Franse Ope van 2004 nie ’n Grand Slam-halfeindstryd gehaal nie deur in die laaste 8 teen Söderling te verloor. Hy het daarmee sy rang as no. 1 verloor, net een week voordat hy Sampras se rekord van 286 weke as no. 1 sou ewenaar. Op Wimbledon het hy weer in die laaste 8 verloor, dié keer teen Tomáš Berdych, en vir die eerste keer in ses jaar en agt maande tot no. 3 gedaal.

Teen middel Julie het Federer Sampras se ou afrigter, Paul Annacone, by wyse van proefneming in diens geneem om sy loopbaan weer op dreef te kry. In die VSA-Ope het hy die halfeindstryd gehaal, waar hy teen Djokovic verloor het. Federer het vier ATP 1 000-eindstryde gehaal en in die Cincinnati-meesterstoernooi teen Mardy Fish gewen.

Hy het ook in die binnenshuise toernooie in Stockholm en Switserland en die ATP-eindtoernooi in Londen gewen, en dit het sy loopbaantitels op 66 te staan gebring. Hy het in Londen geseëvier deur Nadal vir sy 15de titel op die byeenkoms te klop. Hy het in skoon stelle teen al sy teenstanders buiten Nadal gewen. Dit is die enigste toernooi in sy loopbaan waar Federer al die ander lede van die Groot Vier geklop het. Sedert Wimbledon 2010 was sy wenrekord 34-4. Aan die einde van die jaar was hy vir die agtste agtereenvolgender jaar een van die toptwee.

2011

2011 was nie ’n uitstekende jaar vir Federer nie, maar goed volgens die meeste spelers se standaarde. Hy is in die Australiese Ope deur die eindelike wenner, Djokovic, geklop. In die halfeindstryd van die Franse Ope het hy Djokovic se reeks van 43 agtereenvolgende oorwinnings beëindig deur hom te klop, maar hy het in die eindstryd teen Nadal verloor.

Op Wimbledon het Federer tot sy 29ste agtereenvolgende Grand Slam-kwarteindstryd gevorder, maar teen Jo-Wilfried Tsonga verloor. In die VSA-Ope het hy in die halfeindstryd teen Djokovic verloor. Dié nederlaag het beteken Federer het vir die eerste keer sedert 2002 nie een van die Grand Slam-titels gewen nie.

In September 2011 is Federer in ’n Suid-Afrikaanse meningspeiling gekies as die betroubaarste en mees gerespekteerde mens in die wêreld naas Nelson Mandela.

Federer het goed gevaar in die binnenshuise toernooie en die laaste drie gewen: in Switserland en Parys en die ATP-eindtoernooi. Hy het die jaar as die no. 3-speler geëindig.

2012

In die 2012-seisoen het Federer die meeste wedstryde sedert 2006 gewen. Hy het die eindronde van die Australiese Ope gehaal, waar hy teen Nadal verloor het. Hy het die Rotterdamse Ope vir die eerste keer sedert 2005 gewen deur Del Potro te klop. In die Doebai-tenniskampioenskapsbyeenkoms het hy Murray in die eindstryd geklop en die titel vir die vyfde keer in sy loopbaan gewen. In Indian Wells het hy Nadal in die halfeindstryd geklop en John Isner in die eindstryd.

Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies 
Federer wen sy 17de Grand Slam-titel, sy sewende op Wimbledon, en keer terug na no. 1.

In die Madrid-meesterstoernooi het hy Berdych in die eindstryd geklop en die no. 2-posisie by Nadal afgeneem. In die Franse Ope het hy in die halfeindstryd teen Djokovic verloor.

Op Wimbledon het Federer in die eindstryd ’n oorwinning oor Murray behaal en sy no. 1-posisie teruggewen. Dit was sy sewende Wimbledon-titel en daarmee het hy Sampras se Ope-era-rekord geëwenaar. Hy het ook Sampras se rekord van 286 weke boaan die ranglys verbeter.

Op die Olimpiese Spele het Federer in die halfeindstryd van 4 uur 26 minute teen Del Potro gewen. In die eindstryd het hy teen Murray verloor en ’n silwermedalje vir sy land gewen.

In die Cincinnati-Ope het hy Djokovic in die eindstryd geklop. In die VSA-Ope het hy in die kwarteindsryd teen Berdych verloor.

Ná sy oorwinning oor Wawrinka in die Shanghai-meesterstoernooi was hy 300 weke lank no. 1. Federer het die eindstryd van die ATP-eindtoernooi gehaal, waar hy teen Djokovic verloor het.

2013

Federer het in Maart en Julie met rugbeserings gesukkel en sy posisie het tot no. 6 gedaal. Dit was die eerste jaar sedert 1999 dat hy in die eerste vier maande van die jaar nie ’n enkele eindstryd gehaal het nie.

Sy eerste en enigste titel in 2013 was toe hy die Gerry Weber-Ope gewen het deur Mikhail Youzhny te klop. Op Wimbledon het hy sy grootste Grand Slam-nederlaag sedert 2003 gely toe hy in die tweede ronde deur Sergiy Stakhovsky geklop is. Nie net het dit sy rekord van 36 agtereenvolgende Grand Slam-kwarteindstryde kortgeknip nie; dit het ook meegebring dat hy vir die eerste keer sedert Julie 2003 nie onder die topvier-manstennisspelers getel het nie.

Hierna het hy sleg gevaar in Hamburg en Gstaad weens ’n ernstige rugbesering. In Oktober het hy aangekondig sy weë met sy afrigter van drie jaar, Paul Annacone, gaan skei. Federer het die eindstryd in Basel gehaal en teen Del Potro verloor. Hy het daarna erken dit was ’n fout om in sekere toernooie te speel terwyl hy aan ’n rugbesering ly.

Op 27 Desember 2013 het hy aangekondig dat Stefan Edberg by sy span sal aansluit as medeafrigter saam met Severin Lüthi.

2014

Federer het die seisoen begin deur vir die eerste keer in sy loopbaan van rakette te verander, van 90 tot 97 vierkante duim. Sy grootste mededingers soos Nadal en Djokovic het reeds kragtiger rame van tussen 95 en 100 vierkante duim gebruik.

In die Australiese Ope het Federer Jo-Wilfried Tsonga en Murray geklop en deurgedring tot sy 11de agtereenvolgende halfeindstryd in Melbourne voordat hy teen Nadal verloor het. In Doebai het hy Djokovic in die halfeindronde en daarna Berdych in die eindstryd geklop om sy sesde Doebai-kroon en sy eerste titel sedert Halle in 2013 te verower. Hy het tot die eindstryd deurgedring in Indian Wells, maar teen Djokovic verloor.

Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies 
Federer teen Richard Gasquet in die Davisbekerwedstryd van 2014 wat Switserland help wen het.

In Junie het Federer aangekondig dat hy aan die einde van sy derde termyn gaan bedank as voorsitter van die ATP-spelersraad, ’n posisie wat hy sedert 2008 beklee het. In die Halle-Ope het hy die enkel- en dubbelspeleindstryd gehaal en sy sewende Halle-enkelspeltitel gewen deur Alejandro Falla in die eindstryd te klop. Op Wimbledon het hy sy negende eindstryd gehaal, maar teen Djokovic verloor in ’n epiese vyfstelwedstryd.

Federer het in die Kanadese Ope tot die eindronde deurgedring, maar is deur Tsonga verslaan. Federer het daarna teen David Ferrer van Spanje gewen om sy sesde Cincinnati-kroon en 22ste ATP 1 000-titel te verower, sy eerste in Cincinnati sedert 2012. In die VSA-Ope het hy in die halfeindstryd teen die eindelike kampioen, Marin Čilić, verloor. By die Davisbekereindstryd het hy albei sy enkelspelwedstryde teen Italië gewen en Switserland na die eindstryd gelei, hul eerste keer sedert 1992.

In die Shanghai-meesterstoernooi het hy teen die Fransman Gilles Simon gewen en sy 23ste ATP 1 000-titel verower. Hy het daarmee teruggekeer na die no. 2-posisie, vir die eerste keer sedert Mei 2013. Hy het in Oktober aan die Switserse Binnenshuise Toernooi deelgeneem waar hy 'n rekord opgestel het deur sy sesde titel daar te wen, asook sy 82ste ATP-mansenkelspeltitel. Hy het ook deurgedring tot die ATP-eindtoernooi, waar hy weer teen Djokovic te staan sou kom, maar aan die eindstryd onttrek weens nog 'n rugbesering wat hy in sy halfeindstryd teen Wawrinka opgedoen het.

Ondanks sy besering het Federer die seisoen op ’n hoogtepunt geëindig deur teen Richard Gasquet van Frankryk te wen en Switserland te help om die Davisbeker vir die eerste keer in die geskiedenis te wen.

2015

Federer het die seisoen begin by die Brisbane- Internasionaal. Hy het Milos Raonic in die eindstryd verslaan en daardeur die derde man in die Ope-era geword met 1 000 of meer oorwinnings, naas Jimmy Connors en Lendl, asook die eerste man in die Ope-era wat in 15 agtereenvolgende jare minstens een titel gewen het. In Doebai het hy sy titel suksesvol teen Djokovic verdedig met 'n skoonsteloorwinning en daarmee sy sewende titel in dié toernooi gewen. Hy was slegs die vierde persoon sedert 1991 wat meer as 9 000 kishoue in sy loopbaan geslaan het. In Maart het hy die eindstryd in Indian Wells gehaal, maar teen die verdedigende kampioen, Djokovic, verloor.

Federer het sy derde titel van die seisoen in die Istanboel-Ope op klei behaal. In die Italiaanse Ope het hy die eindstryd gehaal, maar hy kon nie sy eerste titel daar wen nie; hy het teen Djokovic verloor. In die kwarteindstryd van die Franse Ope het hy verloor teen die eindelike kampioen, Wawrinka, wat in skoon stelle geseëvier het.

Aan die begin van die grasseisoen het hy sy agtste titel in die Gerry Weber-Ope behaal en slegs die derde man in die Ope-era geword wat ’n titel agt keer wen. Op Wimbledon was hy die no. 2-gekeurde en het hy Murray in die halfeindstryd in skoon stelle geklop en tot sy 10de Wimbledon-eindstryd deurgedring, maar hy het in vier stelle teen Djokovic verloor.

Hy het Murray en Djokovic in skoon stelle geklop om die Cincinnati-meesterstoernooi te wen. Dit was die eerste keer dat Federer in dieselfde toernooi teen die wêreld se twee topspelers wen. In die VSA-Ope het hy deurgedring tot sy eerste eindstryd daar sedert 2009, maar hy is in vier stelle weer deur die no. 1-gekeurde Djokovic verslaan. In die Switserse Binnenshuise Toernooi in Basel het Federer sy sesde enkelspeltitel van die jaar gewen, asook sy 88ste ATP-titel, deur sy ou teenstander Nadal in die eindstryd te klop. Dit was die sewende keer dat hy die titel in sy tuisstad verower het.

2016

Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies 
Federer in 2016.

Federer het die seisoen in die Brisbane Internasionaal as die verdedigende kampioen begin, al het hy ’n virus gehad. Hy het egter verloor teen Milos Raonic, wat in skoon stelle gewen het. In die Australiese Ope het hy die halfeindronde gehaal, maar in vier stelle teen die eindelike kampioen, Djokovic, verloor. Die volgende dag het Federer ’n kniebesering opgedoen en vroeg in Februarie het hy ’n operasie ondergaan om ’n kraakbeenskyf te herstel. Hy het dus in Februarie en Maart die toernooie in Rotterdam, Doebai en Indian Wells misgeloop. Hy sou in Miami terugkeer, maar moes weens ’n maagvirus onttrek.

Hy het eindelik sy terugkeer in die Monte Carlo-meesterstoernooi gemaak en in die kwarteindstryd teen Tsonga verloor. In Madrid het hy tydens ’n oefensessie ’n rugbesering opgedoen en kort ná sy aankoms onttrek. Hy het daarna aan die Internazionali BNL d'Italia deelgeneem, maar in die derde ronde teen Dominic Thiem verloor. Hy het ook aan die Franse Ope onttrek.

In die grasseisoen het hy steeds las van sy knie gehad en in die halfeindronde in Stuttgart en Halle verloor. Op 6 Julie het hy op Wimbledon in die kwarteindronde teen Marin Čilić gewen en Jimmy Connors se rekord van alle tye van 11 Wimbledon-halfeindstryde en 84 wedstrydoorwinnings geëwenaar. Twee dae later het hy sy eerste nederlaag in ’n Wimbledon-halfeindstryd gely toe hy in vyf stelle teen Raonic verloor. Hy het in die vyfde stel weer sy knie beseer.

Op 26 Julie het Federer aangekondig hy sal die Olimpiese Spele en die res van die 2016-seisoen misloop om ten volle van sy kniebesering te herstel. Die skielike onttrekking het nie net beteken dit sou die eerste jaar sedert 2000 wees waarin hy nie ’n titel wen nie, maar ook dat hy vir die eerste keer in 14 jaar nie onder die top-10 was nie. Dit en ’n gebrek aan Grand Slam-titels in vier jaar het baie ontleders verkeerdelik laat glo sy loopbaan het eindelik tot ’n einde gekom en dat hy nie weer enige groot titels sou wen nie.

2017

Federer se 2017-seisoen is gekenmerk deur sy eerste Grand Slam-titel sedert 2012, die meeste titels sedert 2007 en die hoogste wenpersentasie sedert 2006. Statisties gesproke was dit sy beste seisoen sedert 2007.

Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies 
Die eindstryd tussen Federer en Nadal in die Australiese Ope van 2017.

In Januarie het hy in die Hopmanbekertoernooi en Australiese Ope gespeel. Sy posisie het intussen tot no. 17 gedaal, die laagste in meer as 15 jaar. In die Australiese Ope het hy die eindstryd gehaal en daardeur die oudste man sedert Jimmy Connors in 1991 geword wat aan ’n Grand Slam-halfeindstryd deelneem. Hy het Wawrinka in vyf stelle geklop en die oudste man geword sedert Ken Rosewall in 1974 wat in ’n Grand Slam-eindstryd speel. Hy het Nadal geklop en die Australiese Ope gewen. Dit was sy 100ste wedstryd in dié ope en die eerste keer dat hy ’n Grand Slam-wedstryd teen Nadal wen sedert die eindstryd in 2007 op Wimbledon. Verder was dit sy eerste Grand Slam-oorwinning teen Nadal weg van die grasbane van Wimbledon. Hiermee het hy weer die top-10 gehaal.

In Maart het Federer sy 25ste meesterstitel in Indian Wells gewen deur Wawrinka in die eindstryd te klop. Dit was sy 90ste loopbaantitel en hy het tot no. 6 geklim op die ATP-ranglys. Hy het sy 26ste meesterstitel behaal deur Nadal in die eindstryd van die Miami-meesterstoernooi te klop. Hiermee het hy tot die no. 4-posisie op die ATP-ranglys geklim.

Weens kommer oor sy ouderdom het Federer besluit om die hele kleiseisoen mis te loop. Hy het in die grasseisoen sy terugkeer gemaak in Stuttgart, waar hy in die tweede ronde ’n skoknederlaag teen Tommy Haas gely het; Haas was die speler met die laagste posisie (no. 302) wat hom geklop het sedert Bjoern Phau (no. 407) in 1999. Die volgende week het hy sy eie rekord verbeter deur in Halle te wen sonder om ’n stel te verloor.

Op Wimbledon het hy die eindstryd gehaal sonder om ’n stel af te staan. Hy het Marin Čilić geklop en sy agtste Wimbledon-mansenkelspeltitel en 19de algehele groot titel gewen. Hy was die oudste manspeler wat in die Ope-era op Wimbledon geseëvier het. Federer was ook slegs die tweede man in die Ope-era wat Wimbledon wen sonder om ’n stel af te staan, ná Borg in 1976. Dit was die tweede keer in sy loopbaan dat hy ’n Grand Slam-titel wen sonder om ’n stel af te staan; die vorige keer was in 2007 in die Australiese Ope. Hy het tot die no. 3-posisie opgeskuif op die ATP-ranglys en vir die 15de keer (’n rekord) vir die ATP-eindtoernooi gekwalifiseer.

Aan die begin van die hardebaanseisoen is Federer in die eindstryd van die Montreal-meesterstoernooi deur Alexander Zverev geklop nadat hy sy rug tydens die wedstryd beseer het. Weens die besering het hy aan die Cincinnati-meesterstoernooi onttrek sodat hy fiks kon wees vir die VSA-ope. Hy het egter in die kwarteindronde teen Del Potro verloor.

Federer se volgende deelname was in September aan die Laverbekertoernooi, waarin hy span Europa verteenwoordig het. Hy het albei sy enkelspelwedstryde, teen Sam Querrey en Nick Kyrgios, gewen en met die laaste oorwinning die beker vir Europa verseker. Hy het ook vir die eerste keer saam met sy ou teenstander Nadal in ’n dubbelspelwedstryd gespeel; hulle het teen Sam Querrey and Jack Sock gewen.

In die Shanghai-meesterstoernooi het Federer sy derde meesterstitel van die seisoen gewen deur die no. 1-gekeurde Nadal in die eindstryd te klop. Dit was sy vyfde skoonsteloorwinning oor Nadal en die 94ste titel van sy loopbaan.

In die Switserse Binnenshuise Toernooi in sy tuisstad het Federer Del Potro in die eindstryd geklop en sy agtste titel daar gewen (’n rekord), asook die 95ste titel van sy loopbaan; daarmee het hy Lendl se rekord van 94 loopbaantitels verbeter. Hy is in die halfeindronde van die ATP-eindtoernooi deur David Goffin verslaan.

2018

Federer het die seisoen begin deur die Hopmanbeker saam met Belinda Bencic te wen. Dit was sy tweede Hopmanbekertitel nadat hy en Hingis in 2001 gewen het. In die Australiese Ope het hy die eindstryd gehaal sonder om ’n stel af te staan en Čilić geklop. Dit was sy sesde titel in dié ope en daarmee het hy Roy Emerson en Novak Djokovic se rekord geëwenaar. (Djokovic het die rekord in 2019 verbeter.) Federer was ook die eerste man wat 20 Grand Slam-titels kon wen.

In Februarie het Federer sy derde titel in die Rotterdam-Ope gewen en weer opgeskuif tot no. 1 op die ATP-ranglys. Hy het Grigor Dimitrov in die eindstryd in skoon stelle geklop. Op 36 jaar en 195 dae was hy die ATP se oudste no. 1-speler (met meer as drie jaar).

In Maart is hy as verdedigende kampioen na die Indian Wells-meesterstoernooi. Hy is in die eindstryd deur Del Potro geklop. In die Miami-Ope is hy in die tweede ronde uitgeskakel en daardeur het hy sy no. 1-posisie op 2 April aan Nadal afgestaan. Hy het aangekondig hy sou die kleiseisoen, insluitende die Franse Ope, vir die tweede agtereenvolgende jaar misloop. Hy het sy no. 1-posisie in Mei teruggekry nadat Nadal nie sy titel in die Madrid-Ope suksesvol kon verdedig nie. Die volgende week het hy die topposisie weer verloor nadat Nadal die Italiaanse Ope gewen het.

Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies 
Federer aan die oefen tydens die VSA-Ope van 2018.

In Junie het Federer weer die no. 1-posisie teruggekry nadat hy Kyrgios in die halfeindstryd van die Stuttgart-Ope in skoon stelle geklop het. Hy het die toernooi gewen deur Raonic in die eindronde te verslaan. Hy kon egter die volgende week nie sy titel in die Halle-Ope suksesvol verdedig nie; hy het in drie stelle teen Borna Ćorić verloor en ook sy no. 1-posisie.

Op Wimbledon was Federer die verdedigende kampioen. Dit was die eerste keer sedert die VSA-Ope in 2012 dat hy die no. 1-gekeurde in 'n Grand Slam was. Hy is egter in die kwarteindstryd in vyf stelle deur die Suid-Afrikaner Kevin Anderson verslaan. Federer het daarna in Cincinnati gespeel waar hy teen Djokovic verloor het. In die VSA-Ope was hy die no. 2-gekeurde, maar is in die vierde ronde deur John Millman uitgeskakel. Hy het gesê die uiterse hitte en humiditeit het hul tol op sy liggaam geëis. Hy het daarna in die Laverbekertoernooi gespeel, waar hy span Europa gehelp het om hul titel suksesvol te verdedig. Hy het albei sy enkelspelwedstryde, teen Kyrgios en John Isner, gewen. Hy het ook vir die eerste keer saam met Djokovic in ’n dubbelspelwedstryd gespeel; hulle het in drie stelle teen Jack Sock en Kevin Anderson verloor. In die Shanghai-meesterstoernooi was hy die verdedigende kampioen, maar hy het in die halfeindronde in skoon stelle teen Ćorić verloor.

In die Switserse Binnenshuise Toernooi in Oktober het Federer aangekondig hy het ’n handbesering opgedoen in ’n oefensessie voor die grasseisoen en dat dit kwaai pyn in sy arm veroorsaak. Hy het gesê die besering het sy spel sedert die Stuttgart-Ope nadelig beïnvloed. Hy het egter sy titel teen Marius Copil in skoon stelle in die eindstryd verdedig en sy negende titel in dié toernooi en sy 99ste algehele enkelspeltitel verower. In die halfeindstryd van die Paryse Meesterstoernooi en die ATP-reekseindstryd het hy onderskeidelik teen Djokovic en Alexander Zverev verloor.

2019

Federer het die seisoen begin deur die Hopmanbeker weer saam met Belinda Bencic te wen. Hy het daardeur die eerste speler geword wat die gemengdedubbelspeltitel drie keer wen.

Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies 
Federer in die Australiese Ope van 2019.

In die Australiese Ope was Federer die no. 3-gekeurde en verdedigende kampioen. In ’n skokwedstryd is hy in die vierde ronde deur die no. 14-gekeurde Stefanos Tsitsipas uitgeskakel. Federer het daarna aangekondig hy sou vir die eerste keer sedert 2016 in die kleiseisoen speel.

In Doebai het Federer sy 100ste loopbaanenkelspeltitel gewen deur Tsitsipas in die eindronde in skoon stelle te klop. Dit was sy agtste titel in Doebai en hy was die eerste man in die Ope-era benewens Jimmy Connors wat die driesyfermerk gehaal het. In die eindstryd van die Indian Wells-meesterstoernooi het hy in drie stelle teen Dominic Thiem verloor. In die Miami-Ope het hy sy vierde titel daar en sy 28ste ATP 1 000-titel gewen deur Isner in die eindstryd in skoon stelle te verslaan. In die Madrid-Ope het hy sy eerste kleiwedstryd in drie jaar gespeel en die 1 200ste oorwinning van sy loopbaan behaal toe hy Gael Monfils in die derde ronde klop. In die kwarteindronde is hy deur Dominic Thiem uitgeskakel.

Federer het daarna in die Italiaanse Ope gespeel, maar moes aan sy kwarteindstryd onttrek weens ’n regterbeenbesering.

Hy het daarna vir die eerste keer in vier jaar aan die Franse Ope deelgeneem, waar hy die no. 3-gekeurde was, en vir die eerste keer sedert 2012 tot die halfeindronde deurgedring het. Hy het egter in skoon stelle teen Nadal verloor.

Federer het die grasseisoen in Halle begin waar hy sy 10de titel daar gewen het deur David Goffin in die eindstryd in skoon stelle te klop. Dit was die eerste keer dat hy ’n enkelspeltoernooi 10 keer of meer gewen het. Op Wimbledon het Federer die eindstryd die 12de keer gehaal nadat hy Nadal in vier stelle geklop het. Dit was die eerste keer sedert 2008 dat hy op Wimbledon teen Nadal gespeel het. Federer het daarna in die eindstryd teen Djokovic te staan gekom, teen wie hy verloor het in ’n rillerwedstryd van vyf stelle wat vier uur 57 minute geduur het. Dit was die langste manseindstryd op Wimbledon en die eerste keer dat ’n vyfdestel-valbylpot gespeel is ná 12 potte elk.

Prestasies

Roger Federer: Persoonlike lewe, Loopbaan, Prestasies 
Federer was altesaam 310 weke (237 daarvan agtereenvolgens) boaan die ATP-ranglys, meer as enige ander speler.

Federer het op sy hoogtepunt die spel oorheers en meer Grand Slam-titels (20) as enige ander mansenkelspelspeler gewen. Hy is ook die eerste mansenkelspelspeler wat 10 agtereenvolgende Grand Slam-eindstryde gehaal het (altesaam 31). Hy het op die Olimpiese Spele van 2008 en 2012 onderskeidelik ’n goue medalje vir ’n mansdubbelspeloorwinning en ’n silwermedalje vir ’n mansenkelspelsege gewen.

Hy het in die Ope-era die meeste tyd boaan die ATP-ranglys deurgebring (310 weke). Hy hou ook die rekord vir die meeste titels (6) by die ATP-eindtoernooi, waaraan net die jaar se agt spelers boaan die ranglys deelneem. Federer was 14 jaar en twee weke lank – van 14 Oktober 2002 tot 31 Oktober 2016 – aaneenlopend onder die wêreld se topagtspelers, totdat beserings hom gedwing het om die grootste deel van die 2016-seisoen mis te loop.

Federer was vyf keer die ATP se speler van die jaar (2004-'07, 2009) en vyf keer die ITF-wêreldkampioen (2004-'07, 2009). Hy was vir ’n rekord van 16 agtereenvolgende jare die wenner van die gunstelingprys van die ATPWorldTour.com-aanhangers (2003-'18) en vir ’n rekord van 13 keer die wenner van die Stefan Edberg-sportmanskapprys, waarvoor die spelers stem (2004-'09, 2011-'17). Albei pryse is ’n aanduiding van respek en gewildheid. Hy het ook twee keer die Arthur Ashe-filantroop van die jaar-prys gewen (2006, 2013), vyf keer die Laureus-wêreldsportman van die jaar-prys (2005-'08, 2018) en een keer die Laureus-wêreldterugkeer van die jaar-prys, ná sy terugkeer in 2017.

Federer is deur sy bestuursmaatskappy TEAM8 een van die stigters van die Laverbeker, die jaarlikse spantennistoernooi tussen Europa en die res van die wêreld.

In 2018 het hy na die Australiese Ope teruggekeer om sy titel van 2017 te verdedig, en sy 20ste Grand Slam-toernooi gewen. Nadal is met sy oorwinning in die Franse Ope van 2019 twee agter Federer.

Grand Slam-rekord

Die tabel toon Federer se prestasie in elk van die Grand Slam-toernooie in mansenkelspel waaraan hy deelgeneem het:

Jaar Australiese Ope Franse Ope Wimbledon VSA-ope
1999 Nie gekwalifiseer nie Ronde 1 Ronde 1 Nie gekwalifiseer nie
2000 Ronde 3 Ronde 4 Ronde 1 Ronde 3
2001 Ronde 3 Kwarteindstryd Kwarteindstryd Ronde 3
2002 Ronde 4 Ronde 1 Ronde 1 Ronde 4
2003 Ronde 4 Ronde 1 Wenner Ronde 4
2004 Wenner Ronde 3 Wenner Wenner
2005 Halfeindstryd Halfeindstryd Wenner Wenner
2006 Wenner Eindstryd Wenner Wenner
2007 Wenner Eindstryd Wenner Wenner
2008 Halfeindstryd Eindstryd Eindstryd Wenner
2009 Eindstryd Wenner Wenner Eindstryd
2010 Wenner Kwarteindstryd Kwarteindstryd Halfeindstryd
2011 Halfeindstryd Eindstryd Kwarteindstryd Halfeindstryd
2012 Halfeindstryd Halfeindstryd Wenner Kwarteindstryd
2013 Halfeindstryd Kwarteindstryd Ronde 2 Ronde 4
2014 Halfeindstryd Ronde 4 Eindstryd Halfeindstryd
2015 Ronde 3 Kwarteindstryd Eindstryd Eindstryd
2016 Halfeindstryd Nie deelgeneem nie Halfeindstryd Nie deelgeneem nie
2017 Wenner Nie deelgeneem nie Wenner Kwarteindstryd
2018 Wenner Nie deelgeneem nie Kwarteindstryd Ronde 4
2019 Ronde 4 Halfeindstryd Eindstryd Kwarteindstryd
2020 Halfeindstryd Nie deelgeneem nie Toernooi nie gehou nie Nie deelgeneem nie
2021 Nie deelgeneem nie Ronde 4 Kwarteindstryd Nie deelgeneem nie

Verwysings

Verdere leesstof

Eksterne skakels

Tags:

Roger Federer Persoonlike leweRoger Federer LoopbaanRoger Federer PrestasiesRoger Federer Grand Slam-rekordRoger Federer VerwysingsRoger Federer Verdere leesstofRoger Federer Eksterne skakelsRoger Federer19818 AugustusBaselDuitsSuid-AfrikaSwitserlandTennis

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

EskomDooie SeeMahatma GandhiMaanMartin Luther King jr.WelwitschiaLys van Suid-Afrikaanse kunstenaarsJan-Willem BreureHoërskool Sentraal, BloemfonteinNatuurbewaringPad na jou hartWikimedia-stigtingWoudBestuiwingMerinoWes-IndiëVulvaTierEkotoerismeTafelbergHipertensieCalviniaKasterolieAgtervoegselBoomEkonomiese geskiedenis van Suid-AfrikaKarakteriseringSeksuele penetrasieSamestellende afleidingSamestellingPizzaFamilie (verwantskap)Koekie (rekenaarwetenskap)StadTuisbladBosvarkTaalMetafoorJavaScriptKunsmatige algemene intelligensieGasVerenigde KoninkrykZenobia KockOmgewingskwessies in Suider-AfrikaBiologieBoer Soek 'n VrouVerkleinwoordDirekte en Indirekte redeHormoonsiekteMusieksimboleEnkelvoudige sinVlinderAkademiaKlimaatRumatiekDuitse maselsWet op NaturellengrondEnergieLatynAkroniemVaginale kankerOplossing (chemie)Toestand van materieUitwerking van klimaatsveranderingBeroerteMagneetSteve BikoMohammedSwangerskapStam (taalkunde)GeslagsgelykheidMierSeksueel oordraagbare infeksieTienerGeskiedenis van Suid-Afrika🡆 More