Pieter Smit is ’n Afrikaanse digter.
Pieter Smit is in 1946 op Rustenburg gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Kaapstad, vertoef ’n ruk in Stellenbosch en verhuis dan na die Transvaal. Hier is hy ’n tyd lank verbonde aan die Vaktaalburo en word daarna taaladviseur in Pretoria. Daarna bemark hy tegnologiese produkte. Hy trou met die bekende digter Rosa Smit en hulle woon vir ’n ruk langs die Hartbeespoortdam aan die voet van die Magaliesberg. Hulle het twee seuns, maar is later geskei.
Hy skryf sy eerste gedig reeds in standerd drie, oor ’n fluitspeler wat ’n voël ontdek wat mooier sing as wat hy kan speel. Later publiseer hy gedigte in tydskrifte soos Standpunte en Donga en debuteer dan met die digbundel “Visum vir die vreemde”. Die eerste afdeling (“Visum vir die vreemde”) bevat wetenskapgedigte met volop ruimtelike verwysings en wetenskapsjargon, met die doel om die ontmensliking en meganisering van die mens te belig. Die tweede afdeling (“Paspoort”) bevat hoofsaaklik belydenisverse en liefdesverse, wat in hulle eenvoudiger beelding en vorm sterker kommunikeer. Hier maak hy in teenstelling met die eerste afdeling met sy paspoort die deure na ’n meer bekende wêreld oop.
“Witskrif” bevat verse oor Afrika, die politiek, wetenskap en die liefde. Dwarsdeur die bundel word besondere klem op die woord “wit” gelê en dit word in al sy variasies gebruik om politiese implikasies, gestroop, bleek tot suiwer maagdelikheid, dood, rein en klinies voor te stel en te impliseer, terwyl hy ook die teenstellings van wit ontgin. Die bekoring van hierdie verse lê in die eenvoud daarvan, wat dit vir die gewone leser toeganklik maak. Sy verse word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende “Groot verseboek”, “Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte”, “Voorspraak” en “Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte”.
Hy spandeer ook baie tyd in navorsing vir ’n drama oor die Franse Hugenote aan die Kaap, maar dit word nie opgevoer nie. Hierin veg ’n Hugenoot vir die waarheid aan die Kaap, maar sterf ’n grusame dood.
Jaar | Publikasies |
---|---|
1977 | Visum vir die vreemde |
1987 | Witskrif |
Gibson, Erika “Pieter se ‘Witskrif’ ryk aan besinning deur vers en formule” “Die Transvaler” 25 Augustus 1987
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Pieter Smit, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.