Peter Ackroyd
Britse biograaf, skrywer en kritikus
Alma mater
Universiteit van Cambridge
Yale-universiteit
Literêre genres
Biografieë, dramatiese werke, essays, fiksie, literêre kritieke, nie-fiksie, digkuns, kortverhale
Tydperk
Tweede helfte van die 20ste en vroeë 21ste eeu
Onderwerpe
Londen en sy bewoners, geskiedenis en kultuur van Engeland; geskiedenis en kultuur van Venesië
Peter Ackroyd (* 5 Oktober 1949 in East Acton, Wes-Londen) is 'n Britse biograaf, skrywer en kritikus met 'n besondere belangstelling in die geskiedenis en kultuur van Engeland. Hy staan bekend vir sy omvangryke werk, die verskeidenheid style en uitgangspunte daarvan, die diepte van sy navorsing en die groot verskeidenheid onderwerpe wat menige spesialis-akademikus in die skadu stel en van Charlie Chaplin en Edgar Allan Poe tot die Engelse skilder J.M.W. Turner se waterverftegniek, die oorspronge van Engels-wees en die geskiedenis, boukuns, musiek en toneelkuns van Venesië strek. Maar dit is veral die Britse hoofstad Londen, die plek waar hy gebore en grootgemaak is en waar hy die meeste tyd van sy lewe gebly het (tans in Knightsbridge in Sentraal-Londen), wat hom die meeste boei en wat alles deurdring wat hy gedoen en geskryf het. 'n Omvangryke biografie van sy geboortestad is in 2000 gepubliseer.
Vir sy biografieë van onder meer William Blake, Charles Dickens, T.S. Eliot en Sir Thomas More het hy die Somerset Maugham-prys en twee Whitbread-pryse ontvang. In 1984 is hy as lid van die Royal Society for Literature verkies. Hy is daarnaas in 2003 as Commander of the Order of the British Empire (CBE) vereer.
Peter Ackroyd is as enkelkind in Londen gebore en het sy kinder- en jeugjare in 'n munisipale behuisingsblok in die stadsdeel East Acton deurgebring. Nadat sy vader die gesin verlaat het toe Peter nog 'n baba was, is hy deur sy moeder en grootmoeder grootgemaak in wat hy later as 'n "streng" Rooms-Katolieke huishouding sou beskryf. Dit was sy grootmoeder wat saam met hom die strate van Londen verken en sodoende sy groot liefde en belangstelling vir die Britse hoofstad gewek het.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Peter Ackroyd, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.