Paul Opperman

Ds.

Paul Jacobus Opperman (12 Maart 1924 – 12 Oktober 2016) was leraar in ses gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, waarvan een in Noord-Rhodesië en een in Kenia.

Paul Opperman
P.J. Opperman

Naam Paul Jacobuis Opperman
Geboorte 24 Maart 1924
Sterfte 12 Oktober 2016 (op 92)
Kerkverband Gereformeerd
Gemeente(s) Lusaka/Nkana,
Noord-Rhodesië, 1951–1955
Vryburg 1955–1959
Eldoret 1959–1962
Steynsburg 1962–1967
Vaalharts 1967–1974
Johannesburg-Wes 1974–1988
Jare aktief 1951–1988
Kweekskool Potchefstroom

Noord-Rhodesië

Paul Opperman 
Vierdejaars aan die Teologiese Skool Potchefstroom, 1950. Eerste ry: D.J. van der Walt, E.J.G. Norval, G.L. van der Walt, I.J. van der Walt, J.M. Opperman. Tweede ry: J.C. Lessing, P.J. Opperman, L.S. Kruger, C.H. Smit, H.J. Kruger.

Nadat Opperman die grade B.A. en B.D. aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys verwerf het, aanvaar hy in 1951 ’n beroep na sy eerste werkkring, die kombinasie Lusaka-Nkana in die teenswoordige Zambië. Dié twee kerke, wat toe deel was van die Klassis Rustenburg, maar in later jare deel sou vorm van die Klassis Trans-Limpopo, het in daardie jaar onderskeidelik 120 en 85 belydende lidmate gehad. Lusaka se dooplidmate het 87 getel en dié van Nkana 80.

Vryburg, Kenia

In 1955 keer ds. Opperman terug na die Unie toe hy ’n beroep aanneem na die Gereformeerde kerk Vryburg. Ná andermaal ’n vierjarige bediening, aanvaar hy in 1959 weer ’n beroep na die buiteland, dié keer as laaste predikant van die Gereformeerde kerk Eldoret in Kenia. Eldoret en Skeurvallei, die ander gemeente in Kenia in kombinasie met wie Eldoret ds. Opperman beroep het, was toe reeds vyf jaar vakant. In die voorafgaande 50 jaar sedert Eldoret se stigting in 1909, was die Gereformeerde lidmate in Kenia 42 jaar sonder ’n vaste predikant. Al was ds. Opperman op die hoogte van sake wat die Gereformeerde kerke in Midde-Afrika betref en bewus daarvan dat die einde vir hulle in sig was, het hy die beroep aangeneem en is hy op Sondag 13 September 1959 deur ds. Hennie Kruger van Bulawayo/Gwelo-Gatooma in Salisbury bevestig tydens die Klassis Trans-Limpopo, wie se afgevaardigdes die geleentheid bygewoon het.

Van Salisbury af het ds. Opperman en oudl. Manie Engelbrecht na Nairobi gevlieg, en van daar is hulle in die geselskap van oudl. Botha Enslin na Naivasha in die Skeurvallei. Hoewel albei gemeentes toe reeds vinnig kleiner geword het namate lidmate teruggetrek het na Suid-Afrika en sommige na Suid-Rhodesië gegaan het, het ds. Opperman se werk volstoom voortgegaan. Hy en oudl. Faantjie Engelbrecht het byvoorbeeld besoek gebring aan die enkele Gereformeerdes in Tanzanië, van wie een gesin 14 jaar vantevore laas ’n ampsdraer van hul kerk in hul huis kon verwelkom. Die laaste klassis in Kenia is gehou op 6 September 1961 te Eldoret. Die afgevaardigdes kon aanvoel dis die laaste keer, aldus dr. V.E. d'Assonville in Kerk op die Wit Hooglande, waarin hy die verhaal van die Gereformeerde Kerk in Kenia vertel. Vier dae vantevore het Eldoret se kerkraad oudl. Stoffel Roets en diaken James Wheeler benoem om as trustees van die kerk se eiendom op te tree ingeval die politieke toestande dit vir die Gereformeerdes onmoontlik sou maak om langer in Kenia te woon. In die klassis van vier dae later is die volgende opgeteken: "Dit is vir die klassis bedroewend om te beraadslaag oor die moontlikheid dat die kerke van Eldoret en Skeurvallei miskien moet ophou om te bestaan gesien die uiters moeilike landsomstandighede en politieke verwikkelinge wat die kerk tegemoetgaan. Aan die ander kant stem dit tot blydskap dat die broeders en susters so sterk en volhardend in die geloof staan ..."

Minder as vier maande later, op Maandag 1 Januarie 1962, het ds. Opperman sy tasse en laaste paar los goed in sy Peugeot-stasiewa gelaai en afskeid geneem van die lidmate wat vir oulaas hul predikant kom bystaan het. Kenia se laaste Gereformeerde predikant het op pad suide toe eers Naivasha aangedoen waar hy by oudl. Botha Enslin oornag het. Die volgende dag het verder gery op pad na Steynsburg in die Noordoos-Kaap waarheen hy ’n beroep aangeneem het. Dr. D'Assonville skryf dit was nie die eerste beroep wat hy in Kenia gekry het nie, maar "hy het gewag tot op die laaste, totdat die gemeente so drasties uitgedun was dat instandhouding van die kerk feitlik onmoontlik geword het." Tien jaar vantevore, toe albei die gemeentes in Kenia tot die Klassis Waterberg het, het Eldoret ’n sieletal van 163 gehad en Skeurvallei 54. Tien jaar later, by sy vertrek, toe Eldoret, Skeurvallei, die twee Noord-Rhodesiese kerke waar hy sy bediening begin het en die twee in Suid-Rhodesië (Bulawayo en Salisbury) die Klassis Trans-Limpopo gevorm het, het Eldoret se sieletal afgeneem tot 85 en Skeurvallei s’n tot 28. Lusaka het toe nog ’n sieletal van 240 gehad, Nkana 225, Salisbury 280 en Bulawayo 221. Terwyl die kombinasie Eldoret-Skeurvallei met ds. Opperman se vertrek tot hul ontbinding Eldoret in 1966; Skeurvallei in 1963) vakant sou bly, het elkeen van die ander kerke nog sy eie predikant gehad. Eldoret se laaste kerkraadsvergadering waarvan die notules opgeteken is, was op 19 en 20 Oktober 1963: Die laaste gelde gaan na verskillende fondse in Suid-Afrika en die orrel na Salisbury. Die kerkeiendomme is verkoop en die laaste klompie boeke in die konsistorie bymekaargemaak. Op 16 Februarie 1964 het Stoffel en Nonnie Roets, wat in 1908 na Oos-Afrika gekom het, die sleutels van die kerkgebou aan die nuwe eienaar oorhandig. Twee en ’n half jaar later, op 28 Augustus 1966, het hulle die land verlaat nadat Stoffel Roets die laaste inskrywing in die kerk se notuleboek gemaak het: "Laaste nuus ... C.J. Roets vertrek per boot van Mombasa na Durban op 28/8/66. Laat nog sewe lidmate agter in Kenia met attestasies."

Steynsburg, Vaalharts, Johannesburg-Wes

Paul Opperman 
Opperman en sy gesin.

Vroeg 1962 is ds. Opperman as die Gereformeerde kerk Steynsburg se elfde predikant in die gemeente se 90-jarige bestaan bevestig. Hier sou die vrygesel-predikant van by die 40 jaar in die huwelik tree met Magdalena Elizabeth Bekker. Twee dogters en ’n seun is uit die huwelik gebore, van wie die seun en oudste dogter op Steynsburg gebore is.

Ná ’n vyfjarige bediening op Steynsburg het ds. Opperman en sy gesin in 1967 na die kombinasie Vaalharts-Christiana vertrek, waar hulle sewe jaar sou vertoef. Op 24 September 1975, nagenoeg ’n jaar na ds. Opperman na sy laaste gemeente, is die eerste sooi van Vaalharts se nuwe kerkgebou op Hartswater gespit. Dit was ’n hoogtepunt ná jare lange beplanning, hoofsaaklik in ds. Opperman se tyd, maande lange onderhandelings met die argitek en die afhandeling van die planne. Die tender is toegeken aan V.N.B. Bouers en die bouaannemer was W.J. van Niekerk. Die hoeksteen is op 1 Mei 1976 gelê waarna die ingebruikneming op 12 en 13 Maart 1977 kon plaasvind. Luidens die program van dié geleentheid het ds. Opperman nie aan die verrigtinge deelgeneem nie. Dis nie bekend of hy die geleentheid bygewoon het nie. Hy het wel sy beste wense oorgedra in die feesuitgawe van die gemeentenuusbrief by die inwyding van die nuwe kerk. "Mooi is ons herinneringe van die omtrent sewe bedieningsjare vanaf 1967. 'n Gemeenskap met min krulle en skadukolle, vol verkwikkende menslikheid en liefde. Lekker het ons gewerk, soms selfs saamgesweet (toe die sendingkerk te Pampierstad opgerig is). Heerlik om te mag sien: die God van die hemel het u dit laat geluk. Eintlik is dit 'n uitstaande bergspits in 'n hele reeks baie mooi dinge wat die Here hierdie oor 'n wye gebied verspreide en in getalle beperkte gemeente gedurende die afgelope jare laat doen het."

In sy laaste gemeente, Johannesburg-Wes, sou ds. Opperman staan van 1974 tot hy sy emeritaat in 1988 aanvaar het. Met sy koms daarheen, was dit ’n sterk gemeente met 471 belydende en 202 dooplidmate, maar tydens sy 14-jarige bediening het die getalle gedurigdeur afneem weens die wegtrek van lidmate na ander dele van die Rand sodat die getalle 10 jaar ná sy aftrede 105 en 22 was en die kerk dan ook in daardie jaar ontbind het. So het dit gebeur dat van al die gemeentes of kombinasies waarin hy gestaan het, net Vryburg, Vaalharts en Christiana hom oorleef het, maar Lusaka, Nkana, Eldoret, Skeurvallei en Johannesburg-Wes al vyf voor sy dood ontbind het.

Hy is ’n lang rustyd van 28 jaar gegun tot sy oorlye op 12 Oktober 2016.

Bronne

  • (af) D'Assonville, prof. dr. V.E. 1984. Kerk op die Wit Hooglande (Geskiedenis van die Gereformeerde Kerke Eldoret en Skeurvallei). Potchefstroom: Marnix.
  • (af) Opperman, ds. P.J. in 1977. Feesuitgawe Gemeente Nuusbrief. Vaalharts: Gereformeerde kerk.
  • (af) Gereformeerde Kerk Steynsburg 1872–1972. Steynsburg: Gereformeerde Kerkraad.

Tags:

Paul Opperman Noord-RhodesiëPaul Opperman Vryburg, KeniaPaul Opperman Steynsburg, Vaalharts, Johannesburg-WesPaul Opperman BronnePaul Opperman12 Maart12 Oktober19242016Gereformeerde Kerke in Suid-AfrikaKeniaNoord-Rhodesië

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

WaterRudi ClaaseFiksieVlagterminologieAngssteuringSlag van BloedrivierVerkoueNatuurbewaring2024 Chinese Grand PrixPlaasjapieHondSeksHeupvervangingKrapBetonMensHartPêrelPuberteitJeuksiekteSamestellingLeon KrugerVoëlgriepOntbossingSigaretLianie MayBrongitisHeupLys van Suid-Afrikaanse musikantePesachFinale OplossingNaboomArgitektuurGasNasionaal-Sosialistiese Duitse ArbeiderspartySpysverteringstelselRamsar-vleilande in Suid-AfrikaGoudShakaJan CombrinkSaldanhaHokkieTsoenamiGeskiedenis van AfrikaansSeksuele penetrasieAssonansieSirkusSkildklierHartversakingArmoedeverligtingLys van bekende Suid-AfrikanersSowjetunieSuid-Afrikaanse WeermagBesoedelingIngrid JonkerPols-oksimeterKommunikasieViëtnamSprokieOu Apostoliese KerkDataverwerkingJanie du PlessisMichael JacksonKindersiektesReënPlae van EgipteGawes van die Heilige GeesJodeJohannesburgDroogteErns GrundlingHoërskool OuteniquaGrondbesoedelingRenosterVleilandPapegaaie🡆 More