Rolprent Once Were Warriors

Once were warriors is 'n Nieu-Seelandse dramarolprent van 1994 wat geskoei is op die topverkoperroman van Alan Duff.

Dit vertel die verhaal van die Hekes, 'n stedelike Maorigesin en hulle probleme met armoede, alkoholisme en huishoudelike geweld, hoofsaaklik weens die optrede van die patriarg, Jake.

Once were warriors
Regisseur Lee Tamahori
Vervaardiger Robin Scholes
Draaiboek Riwia Brown, geskoei op Once were warriors deur Alan Duff
Met Rena Owen
Temuera Morrison
Cliff Curtis
Musiek deur Murray Grindlay
Murray McNabb
Kinematografie Stuart Dryburgh
Redigeerder Michael J. Horton
Verspreider Fine Line Features
Uitgereik Mei 1994
Speeltyd 102 minute
Land Nieu-Seeland
Taal Engels
Maori
IMDb-profiel

Die rolprent is geregisseer deur Lee Tamahori en geskryf deur Riwia Brown. Van die akteurs is Rena Owen, Temuera Morrison en Cliff Curtis. Dit het die meeste geld van alle prente verdien in Nieu-Seeland en het talle pryse gewen.

Intrige

Beth verlaat haar klein Maori-dorpie en trou tot haar ouers se ontsteltenis met Jake "The Muss" Heke. Ná 18 jaar woon hulle in 'n slordige staatshuis in Suid-Auckland en het vyf kinders. Hulle idee van die lewe en om Maori's te wees word getoets.

Jake verloor sy werk, maar is tevrede met sy werkloosheidstoelae en om die meeste dae saam met sy vriende dronk te raak by 'n plaaslike kroeg. Hy nooi dikwels 'n klomp mense van die kroeg na sy huis vir dronkpartytjies. Toe sy vrou "astrant" raak, rand hy haar gewelddadig aan voor die groep, wat te geïntimideer is om in te meng. Beth begin ook drink wanneer dinge skeefloop en openbaar self per geleentheid woedende uitbarstings en geweld op 'n kleiner skaal. Haar kinders moet die bloedbevlekte huis skoonmaak nadat hulle pa haar aangerand het.

Nig, die Hekes se oudste seun, trek uit en sluit by 'n bende aan wie se rituele insluit om gesigtatoes te kry. Nig gee om vir sy sibbes, maar haat sy pa. Hy word woedend wanneer sy ma geslaan word, maar meng nie in nie. Nig se jonger broer, Mark, ook bekend as "Boogie", word in 'n tugskool geplaas weens sy ouers se huislewe. Jake is min gepla en hoop die ondervinding sal hom taaier maak. Ondanks sy aanvanklike woede vind Boogie 'n nuwe nis vir homself nadat die tugskool se hoof, mnr. Bennett, hom gehelp het om sy Maori-erfenis te omarm.

Grace, die Hekes se 13-jarige dogter, hou 'n dagboek waarin sy alles aanteken wat gebeur, asook alles wat sy aan haar jonger sibbes vertel. Haar beste vriend is 'n hawelose seun, Toot, wat in 'n wrak woon. Sy sien op teen 'n toekoms wat sy glo onafwendbaar is en word voortdurend daaraan herinner dat sy moet trou en die rol van 'n eggenote moet vertolk. Sy glo dit beteken om na 'n man se pype te dans en geslaan te word. Sy droom daarvan om 'n onafhanklike lewe as 'n ongetroude persoon te lei.

Grace word deur oom Bully, 'n vriend van haar pa, verkrag. Sy raak baie depressief en soek die steun van Toot, saam met wie sy vir die eerste keer dagga rook. Toot soen haar, maar sy reageer gewelddadig en storm uit. Sy glo hy is "nes die res van hulle". Die verwarde Grace keer eindelik huis toe na 'n woedende Jake en sy vriende. Bully vra 'n nagsoentjie om sy mag oor haar te toets. Sy weier en Jake beskou dit as 'n teken van minagting; hy skeur haar dagboek middeldeur en slaan haar byna. Beth kom terug by die huis nadat sy na Grace gesoek het, en sy skree histeries toe sy sien haar dogter het haar aan 'n boom in die agterplaas opgehang.

Jake hanteer die tragedie deur kroeg toe te gaan terwyl die res van die gesin Grace se liggaam na 'n tangihanga neem. Beth staan hom die eerste keer teen toe hy weier dat Grace na die marae geneem word. Die tonele wissel tussen die rouery, Jake se drinkery en die gesin op die marae. Boogie beïndruk Beth met sy Maori-sang op die begrafnis. Toot groet Grace en vertel vir haar die sagte soen wat hy haar gegee het, was om hulle mantra "beste vriende vir altyd" te bevestig. Boogie verseker Toot dat Grace hom liefgehad het en Beth nooi hom om by hulle te kom woon.

Toe Beth later die dag Grace se dagboek lees, vind sy van die verkragting uit en konfronteer Bully by die kroeg. Jake dreig Beth aanvanklik omdat sy sy vriend beskuldig, maar Nig tree tussenbeide en beskerm sy ma. Nadat Jake self na die dagboek gekyk het, ontplof hy van woede en slaan Bully amper dood. Hy kastreer hom met 'n gebreekte bottel. Beth, wat Jake net soveel soos Bully kwalik neem weens sy gewelddadige lewenstyl, besluit om haar kinders terug te neem na haar Maori-dorpie en -tradisies. Sy vertel Jake haar erfenis gee haar die krag om sy beheer oor haar te weerstaan. Jake skree op haar buite die kroeg toe die gesin vertrek, terwyl polisiesirenes op die agtergrond loei.

Rolverdeling

  • Rena Owen as Beth Heke, die matriarg van die Heke-gesin. Sy gee om vir haar gesin en betoon die liefde aan hulle wat Jake nie kan nie. Nes Jake is sy egter 'n alkoholis, maar sy is minder mishandelend.
  • Temuera Morrison as Jake "the Muss" Heke. Die mishandelende, alkoholiese man van Beth Heke. Benewens dat hy sy gesin mishandel, is hy 'n lui, selfsugtige en arrogante man wat enigeen sal platslaan wat hy voel in sy pad staan. Hy bring baie tyd in die kroeg deur en word dronk saam met sy vriende. Hy sal enigiemand slaan wat hy voel verkeerd optree.
  • Julian Arahanga as Nig Heke, die oudste Heke-seun. Hy haat sy pa en sluit by 'n bende aan om op te maak vir die afwesige pafiguur in sy lewe, maar eindelik is die bende net so wreed soos Jake.
  • Mamaengaroa Kerr-Bell as Grace Heke, die siniese dogter van Beth en Jake. Sy geniet dit om stories te skryf om op te maak vir al die malligheid in haar lewe. Eindelik hang sy haarself nadat oom Bully haar verkrag het.
  • Taungaroa Emile as Mark "Boogie" Heke, die middelste Heke-seun. Hy is in 'n mate 'n jeugmisdadiger en word na 'n tugskool gestuur toe nie een van sy ouers by sy hofsaak opdaag nie, hoewel Grace teenwoordig was. In die tugskool vind hy 'n nuwe nis vir homself namate hy al hoe trotser raak op sy Maori-erfenis.
  • Cliff Curtis as oom Bully, Jake se vriend wat onthul word as 'n pedofiel nadat hy Grace verkrag het op een van Jake se dronkpartytjies.
  • Shannon Williams as Toot, Grace se beste vriend.

Produksie en ontvangs

Once Were Warriors is die eerste rolprent wat deur Communicado Productions vervaardig is. Dit het die prys as beste rolprent gewen op die filmfeeste in Durban, Montreal en Rotterdam, asook die New Zealand Film & Television Award. Dit was die prent wat die meeste geld by die loket in Nieu-Seeland verdien het.

Once were warriors het in Mei 1994 in vier teaters in Auckland en Hamilton, Nieu-Seeland, geopen. Die prent het goeie resensies gekry. Op Rotten Tomatoes het dit op grond van 45 resensies 'n telling van 93% gekry. Daar is konsensus dat dit nie maklik is om na die prent te kyk nie, "maar die rou krag van sy storie – en die spel van die uitstekende akteurs – beloon kykers wat dit wel doen". Op Metacritic het die prent 'n telling van 77% behaal, gebaseer op 20 resensies.

Roger Ebert het drie en 'n half sterre aan die prent toegeken en gesê hy dink nie iemand hoef die prent te sien om te weet hoe nadeling huishoudelike geweld is nie. Hy prys egter die prent veral om twee ander redes: hoe dit wys dat alkohol skielike veranderings in persoonlikheid teweegbring, en die uitstekende toneelspel van Morrison en Owen. "Jy sien nie dikwels toneelspel soos dié nie. Hulle plaas die Academy Awards in perspektief."

In 'n Nieu-Seelandse meningspeiling in 2014 is Once were warriors gekies as die beste Nieu-Seelandse rolprent van alle tye.

Verwysings

Skakels

  • Rolprent Once Were Warriors  Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wiki vertaal.

Tags:

Rolprent Once Were Warriors IntrigeRolprent Once Were Warriors RolverdelingRolprent Once Were Warriors Produksie en ontvangsRolprent Once Were Warriors VerwysingsRolprent Once Were Warriors SkakelsRolprent Once Were WarriorsAlkoholismeArmoedeGeweldMaoriNieu-SeelandPatriargie

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

AfrikanersDansBywoordRenteBaardskeerder-spinnekopSterAntoniemMensDonker materieVarkgriepLys van openbare vakansiedae in Suid-AfrikaDissipel vir wie Jesus baie lief wasGNU-lisensie vir vrye dokumentasieSuurstofVolhoubaarheidKoos BekkerWaldimar PelserBreinDundermLys van Afrikaanse skrywersDermpoliepBreinvliesontstekingGeboorteTonnels van Củ ChiRolprentKoöperasiestoriesSwedeNetaji Subhas Chandra Bose Internasionale LughaweDie Stem van Suid-AfrikaEnsiklopedieWikipediaSigaretJaco du PlessisTweede WêreldoorlogLMarga van RooyKleinkolmuskeljaatkatGeelsugRina HugoRugbywêreldbeker 1987MiddeloorontstekingLys van kleureHartversakingZuid-Afrikaansche RepubliekSelfstandige naamwoordAasblomTikTokEngelsSuid-Afrikaanse InkomstediensAfrikaLibiëKappie (skryfteken)JudaïsmeKonjunktivitisNieu-SeelandGriekelandGebande muishondHennie MaasModernismeMarita NapierMagda van BiljonGoeie VrydagBTWUnited Democratic FrontSteenkoolTuisbladSixtynse kapelKlankverskynselsSlag van BloedrivierVermaakPerd🡆 More