Die NG gemeente Kaapstad (of Groote Kerk soos hy na sy kerkgebou genoem word) is die oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, alhoewel kerkhistorici van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika beweer dat die kerk vanaf 1652 tot en met 1824, die Nederlandse Hervormde Kerk geheet het.
Dit is egter nie histories korrek nie, aangesien die benaming "Hervormde Kerk" eers in die tweede helfte van die 18de eeu geleidelik begin posvat het via die Nederlanse letterkunde wat voorkeur verleen het aan die benaming Hervormde eerder as Gereformeerde. Dit is dus die moedergemeente van al die NG gemeentes.
Aan die begin moes die koloniste, wat sedert 1652 aan die Kaap die Goeie Hoop geland het, verlief neem met die dienste van 'n godsdiensonderwyser (sieketrooster), Willem Wylant. Hy het gereeld godsdiensoefeninge in die Fort gehou, kinders onderrig en die evangelie aan die inboorlinge verkondig. Die eerste nagmaal is op 12 Mei1652 deur 'n besoekende predikant, ds. Johannes Backerus, bedien, terwyl die eerste doop op 24 Augustus1653 bedien is. Ander sieketroosters wat hier diens gedoen het, was Pieter van der Stael, Ernestus Back en Jan Joris Graaf.
Eerste leraar
Die klein gemeente het verlang na 'n eie leraar tot die Here XVII in Amsterdam besluit om die eerste vaste predikant na die Kaap te stuur. Hy was Joan van Arckel, wat op 18 Augustus 1665 in Tafelbaai geland het. In sy tydperk het dit nodig geword om 'n houtgebou as kerk te gebruik en dit is in Desember 1665 van 'n steengewel en -vloer voorsien. In 1672 is diens gehou in "De Kat" van die Kasteel die Goeie Hoop, met die fondament van die eerste kerkgebou wat in 1678 gelê is. Eers op 6 Januarie 1704 is die eerste kerkgebou ingewy in die dienstyd van ds. Petrus Kalden. Dit het £2 200 gekos.
Die eerste gebore Afrikaner wat leraar van die gemeente was, was ds. Petrus van der Spuy (1746 tot 1752). Gedurende die dienstyd van ds. Johannes Petrus Serrurier (1760 tot 1802) is besluit om die kerk van 1704 te vergroot. Dit is teen 'n koste van £4 000 gedoen en in 1781 ingewy. Die huidige preekstoel, wat deur die beeldhouer Anton Anreith uit die beste Indiese hout teen 'n koste van £708 vervaardig is, is in November 1789 ingewy. Later is dié kerkgebou afgebreek en die nuwe kerkgebou, die huidige Groote Kerk, in 1841 ingewy.
Een van die beroemdste leraars in die gemeente se geskiedenis was dr. Abraham Faure, wat die gemeente bedien het van 1822 tot 1867. Hy het 'n besondere belangstelling in die onderwys getoon en buiten sy ander prestasies was hy ook verantwoordelik vir die stigting van die eerste Sondagskool in 1844.
'n Ander beroemde leraar in die 19e eeu was dr. William Robertson, wat hierheen gekom het van Swellendam af.
Groote kerk, klein gemeente
Van die wyke waaraan eie leraars afgestaan is, het mettertyd afgestig: NG gemeente Drieankerbaai (Seepunt), Observatory, Woodstock en Maitland, terwyl die gemeente Tafelberg van Tamboerskloof (die indertydse Nieuwe Kerk) afgestig het. In 'n onafrikaanse omgewing het die lidmaattal van die dogtergemeentes met die jare kwaai afgeneem. Woodstock is later ontbind, terwyl Drieankerbaai, Observatory, Maitland en Tamboerskloof in 2007 tussen hulle vier net 659 volwasse lidmate gehad het en in 2008 646, vergeleke met (Woodstock ingereken) 1 816 in 1985.
Die gemeente het in 1952, toe sy 300-jarige bestaan gevier is (later is die stigting meer korrek aangegee as 1665), meer as 2 000 lidmate gehad en drie predikante. In 1979 was hier nog 1 971 volwasse lidmate, maar in 1995 1 403 en in 2009 net 810. Einde 2014 het dit afgeneem tot 585.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article NG gemeente Kaapstad, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses. ®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.