Merwe Scholtz (gebore Hendrik van der Merwe Scholtz; 8 Julie 1924 – 12 Januarie 2005) was 'n professor in Afrikaanse letterkunde en taalwetenskap aan die universiteite van Pretoria, Amsterdam, Kaapstad en Stellenbosch.
Hy was ook 'n Afrikaanse digter en skrywer van verskeie letterkundige resensies en artikels.
Hendrik van der Merwe Scholtz is op 8 Julie 1924 in Utrecht, Nederland gebore terwyl sy vader besig was om aldaar te studeer aan sy doktorsgraad oor Angel-Saksies en Oud-Noors. Sy vader was Hendrik van der Merwe Scholtz en sy moeder Maria Johanna (Lily) Greeff. Hy keer in 1928 saam met sy ouers terug na Bloemfontein in Suid-Afrika, waar sy vader ’n lektoraat aan die Grey-Universiteitskollege aanvaar en later die eerste rektor word wanneer hierdie universiteitskollege in ’n volwaardige universiteit omskep word. Sy skoolopleiding ontvang hy aan die President Brandskool en hy matrikuleer daarna in die eerste klas aan die Sentraal Hoërskool in Bloemfontein. Hy studeer verder aan die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat, waar hy in 1943 ’n B.A.-graad behaal met onderskeidings in Afrikaans, Geskiedenis en Engels. Hierna gaan hy na die Potchefstroomse Universiteitskollege, waar hy onder leiding van Gerrit Dekker ’n M.A.-graad in Afrikaans-Nederlands met onderskeiding verwerf. Op grond hiervan ken die Universiteit van Suid-Afrika ’n buitelandse studiebeurs aan hom toe. In 1945 sluit hy hom aan by die redaksie van Die Volksblad in Bloemfontein, maar na ses maande neem hy ’n pos aan as lektor in die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat.
In Augustus 1947 vertrek hy na die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam, waar hy aan die einde van November 1949 sy doktorale eksamens cum laude aflê en in 1950 onder professor W.G. Hellinga promoveer met die proefskrif “Sistematiese verslag van ’n stilistiese analise (Eugène Marais ‘Die towenares’)”, wat later gepubliseer word. Hy tree in Januarie 1948 in Ede in Nederland in die huwelik met Rita Karstel, oudste dogter van mnr. en mev. O.A. Karstel van Bloemfontein. Die egpaar het drie seuns, Marius, Merwe en Mark.
By sy terugkeer in 1950 na Suid-Afrika is hy dosent, later senior lektor en vanaf 1955 medeprofessor aan die Universiteit van Pretoria en volg dan in 1959 vir N.P. van Wyk Louw op as hoogleraar in Amsterdam. Hy lewer sy intreerede onder die titel “In en om die gedig”, oor Jan F.E. Celliers se gedig “Dis al”, op Maandag 26 Oktober 1959 Onder sy studente hier is Roswitha Geggus, Rouston Gilfillan, Abraham H. de Vries en Leendert Dekker. In 1963 keer hy terug na Suid-Afrika en is hy hoogleraar in taalwetenskap, agtereenvolgens vanaf 1963 aan die Universiteit van Pretoria, vanaf 1966 aan die Universiteit van Kaapstad en vanaf 1979 aan die Universiteit van Stellenbosch.
In 1963 word hy deeltydse lid van die Publikasieraad en later ook voorsitter van komitees wat publikasies beheer en ’n voorsitter van deskundige komitees. In sy Kaapstadse en Stellenbosse periodes dien hy ook in die bestuur van die Kaapse Raad vir Uitvoerende Kunste (KRUIK) en in die Letterkundige Kommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, terwyl hy ook in die laat sewentigerjare voorsitter is van laasgenoemde komitee. Hy tree af in 1986 en bly in Higgovale in Kaapstad, teen die hange van Tafelberg, Saam met Adam Small, Jans Rautenbach en Pieter Fourie speel hy in Julie 1994 ’n leidende rol met die beplanning en oprigting van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn. Hy word later opgeneem in die Monte Rosa-tehuis vir bejaardes in Vredehoek in Kaapstad, waar hy op Woensdag, 12 Januarie 2005 aan beroerte oorlede is.
Sy gedigte word gebundel in “Vlugtige spore”, wat hy byna dertig jaar later opvolg met “Grimas” en nog later met “Mantessa”. “Vlugtige spore” is kennelik nog jeugwerk en mis oor die algemeen diepgang, maar munt tog uit met tegniese vaardigheid en gevoeligheid vir woordkeuse. Die bundel bevat hoofsaaklik stemmingspoësie, met die deurlopende tema van die ontstaan van lewe met die wete dat die dood die enigste moontlike einde is, wat reeds deur die bundeltitel gesuggereer word. Stemmingsverse soos “Laatherfs”, “Lente” en “Onrus” bevat suggestiewe beelding en gedigte soos “Die oproep”, “Beatrijs” en “Ulysses” is mooi beelding van die heimwee en leed van ander. “Elemente” is ’n hoogtepunt met sy vergelyking van die vele vreugdes wat die geliefde bied met die versplinterde ligstrale uit ’n kristal, waarin beeld en die verklaring dig met mekaar verweef is.
“Grimas” bevat verse wat tussen 1969 en 1973 ontstaan het. Die titel suggereer sinies-geamuseerde waarnemings, wat dan ook reg laat geskied aan die gedigte in die bundel. Effektief is die vernuftige taalspel en woordspel, waardeur veral die oomblik vasgevang word waartydens verskillende moontlikhede nog bestaan, voordat die besluit geneem word tot aksie. In die eerste afdeling word die mens binne die spel van die lewe geplaas, met ironie en sinisme oor veral die teenstelling tussen jeugdige opwinding en latere werklikheid. Die sjarmante “Tafelrym” ontgin die klank en betekenis van “radys”, “patrys” en “paradys”, terwyl “Sewejaartjie” eweneens klankspel is, met effektiewe progressie vanaf “droog” na “windpomp”. Illusies word gestroop in die tweede afdeling, waar die kringloop van geboorte en dood die tydelikheid van die lewe beklemtoon. Veral treffend is “Heilige Barbara” se taalspel en die geslaagde opbou deur die herhaling van motiewe. Hierdie verse gee ook ’n unieke aksent aan die verse oor die heiliges in die Afrikaanse poësie. “Ophelia” het hierdie karakter uit Shakespeare se “Hamlet” as onderwerp. Die ironie van die lewe is die sentrale gedagte in die derde afdeling. “Dagbreekdief” is die vernuftige uitbeelding van die jakkals na sy nagtelike vangs onder die hoenders, terwyl “Passeerde hings” die verhaal van Wolraad Woltemade na ’n kontemporêre tydperk verplaas. In “Boompraatjies” word die bome se gesprek oor ’n alkoholiese geval pragtig weergegee met behulp van klanke en woorde wat telkens by die karakter van elke boom aansluit. Die laaste afdeling bring al die voorafgaande in balans. Hier word die feit van die kringloop van die lewe, ook in die natuur, aanvaar en word hede en verlede in sinvolle samehang geskets. Hierdie balans is egter ook spel, sodat alles blywende teenspraak is. “Namib” dien byvoorbeeld paradoksaal as bron van water.
“Mantessa” se gedigte behandel veral die erotiese ervaring tussen man en vrou en hierdie tema word reeds deur die titel aangekondig, naamlik man + Tessa of die vroulike vorm van mantis, wat ’n bidsprinkaan of hotnotsgot is. In laasgenoemde verband is dit belangrik dat die hotnotsgot-wyfie die mannetjie na paring opvreet. Die bidsprinkaan suggereer ook iets van biddende heiligheid. Benewens die erotiese is reis ’n deurlopende tema, waar met nuwe oë na bekende plekke of die natuur gekyk word. Die spreker is dikwels die ouer man met sy bepeinsinge oor die dood en die dinge wat nog plesier verskaf, soos familie en plekke. Die gedigte sluit in toonaard aan by die “Klipwerk” gedigte van N.P. van Wyk Louw, terwyl ’n digte web van kruisverwysings (byvoorbeeld spinnerak en botterblom) die bundel in ’n eenheid bind.
Van sy gedigte word opgeneem in versamelbundels soos “Groot verseboek”, “Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte”, “Afrikaanse natuurpoësie”, “Die dye trek die dye aan”, “Goudaar”, “Miskien sal ek die wingerd prys”, “Woordpaljas”, “Verse vir Opperman”, “My Afrikaanse verseboek”, “Die goue vreugde” en “Uit ons digkuns”, terwyl hy ook gedigte in tydskrifte soos Standpunte publiseer.
As literator lewer hy ’n belangrike bydrae. Sy proefskrif,“Sistematiese verslag van ’n stilistiese analise (Eugène Marais ‘Die towenares’)” ondersoek hierdie bekende gedig van Marais aan die hand van die stilistiese metode, waarvolgens die styl van die gedig, eerder as die grammaties-sintaktiese, die vernaamste ondersoekmiddel word. Hy slaag daarin om die skoonheid van die gedig self uit te lig op ’n besondere wyse. Kritiek kan egter ingebring word teen praktiese waarde van die stilistiese metode as sodanig, aangesien die omvangrykheid van hierdie benadering dit moeilik of selfs onmoontlik sal maak om meer as ’n beperkte aantal gedigte so te ontleed. Saam met professor W.G. Hellinga gee hy ’n meer uitvoerige uiteensetting van die metodes van die stilistiek op linguistiese grondslag in “Kreatiewe analise van taalgebruik”. Sy belangrikste kritiese opstelle word gebundel in “Die herout van die Afrikaanse poësie en ander opstelle” (waar die titel verwys na ’n opstel oor Pulvermacher) en “Die teken as teiken”. In hierdie essays blyk sy besondere gerigtheid op die wyse waarop taal funksioneer en sy belangstelling in literêr-teoretiese aangeleenthede, waar hy telkens op polemiese wyse standpunt inneem teen ander kritici. Die opstelle beïndruk verder met die skerpsinnige blootlê van patrone in die struktuur van die kunswerk en onverwagte maar telkens deurdagte interpretasies.
Hy lewer bydraes tot ’n verskeidenheid van publikasies, insluitende “Wyn en wysheid”, waarin ook opstelle van Marthinus Versfeld en I.L. de Villiers opgeneem is. As redakteur is hy verantwoordelik vir “Wynland”, ’n verkenning van die Wes- en Suid-Kaapse wyndistrikte met die hulp van ’n aantal medewerkers. Hy stel ook die “Versamelde prosa” van Boerneef, “Versamelde gedigte” van A.G. Visser (beide voorsien van ’n insiggewende inleiding), en die twee kortverhaalbundels “Vertellers” saam, waarin werke van ouer en jonger skrywers opgeneem word en hy ook verhale uit die vergetelheid opdiep. In “Die lewende Totius” is hy redakteur van ’n bundel met literêr-wetenskaplike opstelle oor die werk van Totius en hy skryf ’n inleiding en versorg die uitgawe van “Joernaal van ’n Trek: Uit die dagboek van Erasmus Smit”. Hy redigeer ook “Leipoldt 100”, ’n bundel met studies oor C. Louis Leipoldt wat tydens die eeufees van hierdie digter verskyn. As vertaler lewer hy ’n bydrae deur Aristophanes se “Die paddas” in Afrikaans oor te sit met gebruik van die Engelse en Duitse vertalings.
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ken in 1979 die Gustav Prellerprys vir Literatuurwetenskap en Letterkundige Kritiek aan hom toe.
Jaar | Publikasies |
---|---|
1947 | Vlugtige spore |
1950 | Kreatiewe analise van taalgebruik (saam met W.G. Hellinga) |
1955 | Sistematiese verslag van ’n stilistiese analise: Eugène Marais ‘Die towenares’ |
1975 | Herout van die Afrikaanse poësie en ander opstelle |
1976 | Herout van die Afrikaanse poësie en ander opstelle |
1978 | Die teken as teiken |
Munt en kruis | |
1986 | Mantessa |
Vertalings | |
1978 | Die paddas – Aristophanes |
Redakteur en samesteller | |
1960 | ’n Keur uit sy gedigte – D.J. Opperman |
1969 | Wynland |
1970 | Wine country: journeys along the Cape wine-routes |
1971 | Red wine in South Africa – Barrie Biermann |
1977 | Die lewende Totius |
1979 | Versamelde prosa – Boerneef |
1980 | Leipoldt 100 |
Slampamperliedjies – C. Louis Leipoldt | |
1981 | Versamelde gedigte – A.G. Visser |
1986 | Sestigers in woord en beeld: Abraham H. de Vries |
1988 | Joernaal van ’n trek: uit die dagboek van Erasmus Smit |
1990 | Vertellers 1 |
1991 | Vertellers 2 |
1994 | Meesterverhale van Eugène Marais |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Merwe Scholtz, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.