Masai

Die Masai is ’n Nilotiese etniese groep wat in Suid-Kenia en Noord-Tanzanië voorkom.

Hulle is van die bekendste plaaslike bevolkings omdat hulle naby die Groot Mere van Afrika woon, asook danksy hul besonderse gebruike en kleredrag. Hulle praat Masai (ɔl Maa), ’n lid van die Nilo-Sahariese taalfamilie. Hulle kry ook onderrig in die amptelike tale van Kenia en Tanzanië, Swahili en Engels. Die bevolking in Kenia was in die 2009-sensus sowat 841 622, in vergelyking met 377 089 in die 1989-sensus.

Masai
Masai
’n Masai-dans, Kenia.
Totale bevolking: Sowat 1,64 miljoen
Belangrike bevolkings  in: Vlag van Kenia Kenia
Vlag van Tanzanië Tanzanië
Taal: Masai (ɔl Maa)
Geloofsoortuiging: Masai-mitologie, Christendom
Verwante etniese groepe: Ander Nilo-Sahariese volke soos Dinka, Kanuri, Luo en Nuer

Die Tanzaniese en die Keniaanse regering het programme ingestel om die Masai se tradisoneel semi-nomadiese leefstyl te ontmoedig, maar die groep verkies hul eeue oue gebruike. Die wêreldwye welsynorganisasie Oxfam het onlangs beweer die Masai se leefstyl moet aangemoedig word as ’n antwoord op klimaatsverandering vanweë hul vermoë om kos in woestyne en struikvelde te vervaardig. Baie Masai-stamme verwelkom besoekers aan hul dorpies sodat hulle hul kultuur, gebruike en leefstyl kan ervaar.

Geskiedenis

Masai 
Drie Volwasse Masai en Twee Kinders, deur Moses Wanyuki.

Die Masai praat ’n Nilo-Sahariese taal. Hulle woon in die gebied om die Groot Mere van Afrika nadat hulle via Suid-Soedan daarheen getrek het. Die meeste sprekers van Nilotiese tale in die gebied, insluitende die Masai, Samburu en Kalenjin, is veeboere en het ’n reputasie as vegters en veerowers.

Nes die Bantoevolke van die streek, het die Masai en ander groepe in Oos-Afrika gebruike aangeneem van die naburige sprekers van Koesjitiese tale, insluitende ouderdomsgebonde gemeenskapsorganisering, besnydenis en woordeskat.

Oorsprong, migrasie en assimilasie

Volgens hul eie mondelingse geskiedenis het die Masai in die Laer Nylvallei noord van die Turkanameer (Noordwes-Kenia) ontstaan en omstreeks die 15de eeu suidwaarts gemigreer.

Tussen die 17de en laat 18de eeu het hulle aangekom in ’n lang strook land wat strek van die huidige Noord-Kenia tot Sentraal-Tanzanië. Baie etniese groepe wat hulle reeds in die gebied gevestig het, is deur die Masai verdryf, terwyl ander soos die Suid-Koesjitiese groepe in die Masai-gemeenskap opgeneem is. Die Nilotiese voorouers van die Kalenjin en Samburu het op soortgelyke wyse sommige vroeëre Koesjitiese bevolkings geabsorbeer.

Vestiging in Oos-Afrika

Die Masai se grondgebied was in die middel 19de eeu op sy grootste toe dit feitlik die hele Groot Skeurvallei beslaan het, asook die omringende grond van Berg Marsabit in die noorde tot by Dodoma in die suide. Teen dié tyd het die Masai en die groter Nilotiese groep waartoe hulle behoort het, met beeste geboer tot so ver oos as die Tanga-kus van Tanganjika (nou Tanzanië). Stropers het spiese en skilde gebruik, maar hulle is veral gevrees vir die gooi van knuppels (orinka), wat tot so ver as 100 meter akkuraat kon tref. In 1852 was daar ’n verslag oor ’n groep van 800 Masai-vegters wat aan die trek was in wat nou Kenia is. In 1857, nadat hulle die "Wakuafi-wildernis" in wat nou Suidoos-Kenia is, ontvolk het, het Masai-vegters Mombasa aan die Keniaanse kus bedreig.

Masai 
Masai-vegters in Duits-Oos-Afrika, omstreeks 1906–1918.

Vanweë dié migrasie is die Masai die mees suidelike sprekers van Nilotiese tale.

Die tydperk van uitbreiding is gevolg deur die Masai se Emutai van 1883–1902. Dit is gekenmerk deur epidemies van ’n aansteeklike lugwegsindroom onder beeste, runderpes en pokke. Die aanvanklike raming van ’n Duitse luitenant in die destydse Noordwes-Tanganjika was dat 90 persent van beeste en die helfte van wilde diere aan runderpes dood is. Duitse dokters in dieselfde gebied het geraam dat "elke tweede" Afrikaan se gesig deur pokke geskend is. In dié tyd was daar ook ’n droogte; in 1897 en 1898 het geen reën geval nie.

Die Oostenrykse ontdekkingsreisiger Oscar Baumann het tussen 1891 en 1893 in die Masai se grondgebied gereis. Hy het die ou Masai-nedersetting in die Ngorongoro-krater in die 1894-boek Durch Massailand zur Nilquelle beskryf. Daar was vroue wat soos geraamtes gelyk het en uit wie se oë die waansin van verhongering gestraal het, vegters wat skaars kon kruip en verswakte, apatiese ouer mense. Swerms aasvoëls het hulle gevolg en gewag dat hulle hulle ten prooi val. Volgens een skatting is omtrent twee derdes van die Masai in dié tydperk dood.

In ’n verdrag van 1904, en weer van 1911, is Masai-grondgebied in Kenia met 60 persent verklein toe Britte hulle uitgesit het om plek te maak vir plase vir setlaars; hulle is daarna in die huidige distrikte Kajiado en Narok ingeperk. Die Masai in Tanganjika is in die 1940's van die vrugbare grondgebied tussen Berg Meru en Kilimandjaro af verskuif, asook van die meeste vrugbare hooglande naby Ngorongoro. Nog grond is afgeneem om natuurreservate en nasionale parke te skep soos Amboseli, Maasai Mara, Nakurumeer, Tsavo en Serengeti.

Die Masai, wat veeboere is, weerstaan die Tanzaniese en die Keniaanse regering se pogings om hulle meer gevestig te laat raak en maak aanspraak op weiregte in baie van die nasionale parke van die twee lande.

Daar is 12 geografiese groepe onder die Masai wat elk sy eie gebruike, voorkoms, leiers en dialekte het. Hulle is die Keekonyokie, Damat, Purko, Wuasinkishu, Siria, Laitayiok, Loitai, Kisonko, Matapato, Dalalekutuk, Loodokolani en Kaputiei.

Kultuur

’n Masai-vrou (BO) en -man.

Die Masai-gemeenskap is uiters patriargaal; ouer mans neem die belangrikste besluite. ’n Mondelinge regskode bepaal baie gedragsaspekte. Amptelike teregstellings is onbekend – gewoonlik sal ’n betaling met beeste ’n groot genoeg straf wees. ’n Skikking buite die hof (amitu, "om vrede te maak") is ook moontlik; dit behels ’n groot apologie.

Die Masai is monoteïsties en aanbid ’n enkele godheid, Enkai of Engai. Engai het ’n dubbele aard: Engai Narok (Swart God) is goedhartig en Engai Nanyokie (Rooi God) is wraaksugtig. Die "Berg van God", Ol Doinyo Lengai, is in die noorde van Tanzanië geleë. Die sentrale menslike figuur in godsdienssake is die laibon, wie se rol insluit sjamaanse heling, waarsêery, voorspellings en om sukses in oorlog en genoeg reën te verseker. Baie Masai het ook die Christelike geloof en Islam aangeneem.

Die Masai is bekend vir hul ingewikkelde juweliersware.

’n Groot sterftesyfer onder babas het daartoe gelei dat kinders nie werklik erken word totdat hulle drie maande oud is nie. Vir die Masai wat ’n tradisionele leefwyse volg, breek die einde van die lewe feitlik sonder seremonie aan: Lyke word buite gelos vir roofdiere. As roofdiere nie ’n lyk eet nie, word geglo daar is iets mee verkeerd en dit kan tot sosiale vernedering lei. Dit is dus nie ongewoon dat lyke met die vet en bloed van ’n geslagte os bedek word nie. Net groot stamhoofde is in die verlede begrawe omdat geglo is dit is sleg vir grond om mense te begrawe.

Die tradisionele Masai-leefstyl sentreer om hul beeste, wat hul vernaamste voedselbron is en aan al hul eetbehoeftes voldoen. Hulle eet die vleis en drink die melk, soms ook die bloed. ’n Man se rykdom word aan sy hoeveelheid beeste en kinders gemeet. ’n Trop van 50 beeste word as respektabel beskou, en hoe meer kinders hoe beter. ’n Man wat baie van die een maar nie van die ander het nie, word as arm beskou. ’n Godsdiensgeloof is dat God al die beeste op aarde vir die Masai gegee het – om ander stamme se beeste te steel is dus net ’n kwessie van terugneem wat regmatig hulle s’n is. Dié gebruik het egter taamlik afgeneem.

Deesdae, vanweë ’n afname in beeste se getalle, maak die Masai ook staat op ander kossoorte soos sorghum, rys, aartappels en kool (laasgenoemde is onder die Masai bekend as "bokblare").

Invloed van die buitewêreld

Masai 
Besoekers word welkom geheet op ’n Masai-dorpie.

Om ’n tradisionele leefstyl te handhaaf word al hoe moeiliker vanweë die invloed van die moderne wêreld. ’n Algemene geloof dat die Masai skade aan die graslande aanrig met hul veeboerdery, het daartoe gelei dat Britse koloniale beleidmakers al die Masai in 1951 uit die Serengeti Nasionale Park verskuif het na gebiede in en om die Ngorongoro-bewaringsgebied. Van die belofte om die Masai se belange eerste te stel, het nie veel gekom nie.

Weens die toename van die Masai-bevolking en ’n afname in die getalle van beeste, asook die gebrek aan genoeg weiding weens nuwe parkgrense, moes die Masai noodgedwonge nuwe maniere vind om hulself te onderhou. Baie het mielies en ander gewasse begin plant. In 1975 het die Ngorongoro-bewaringsgebied egter verbouing verbied. Om te oorleef moes die Masai aan Tanzanië se markekonomie deelneem. Hulle moes hul beeste en tradisionele medisyne verkoop om kos te kon koop. Die verbod is in 1992 opgehef en verbouing het weer ’n belangrike deel van die Masai-leefwyse geword.

Parkgrense en die privatisering van grondgebied plaas steeds ’n groot beperking op die beskikbaarheid van weiveld. Deur die jare is baie projekte begin om die Masai te help om hul tradisies te bewaar terwyl in die kinders se opvoedingsbehoeftes voorsien word. Al hoe meer mense word boere, sakemanne, veiligheidswagte, kelners en toeristegidse, terwyl ander in die openbare en die privaat sektor betrokke raak.

Die gemeenskap

Masai 
’n Jong Masai-vegter met ’n hoofbedekking en verfmerke.

Die gemeenskap bestaan uit ouderdomsgebonde groepe. Jong seuns word veewagters sodra hulle kan loop en het ’n sorgelose bestaan, buiten rituele pakke slae om moed en uithouvermoë te toets. Meisies is vroeg reeds verantwoordelik vir kos maak en koeie melk. Elke sowat 15 jaar word ’n nuwe geslag Morans of Il-murran (vegters) ingewy onder seuns en jong mans tussen 12 en 25 jaar oud wat puberteit bereik het en nie deel van die vorige ouderdomsgroep is nie. Een van die rituele wat ondergaan word om ’n jong vegter te word, is ’n pynlike besnydenis (emorata) wat sonder verdowingsmiddels uitgevoer word. Dit word deur ouer mans gedoen; hulle gebruik ’n skerp gemaakte mes en beesvelverbande. Die seuns moet die operasie in stilte verduur. Uitdrukkings van pyn kan vernedering veroorsaak. Enige uitroep kan ’n fout in die delikate prosedure veroorsaak wat lewenslange gevolge kan hê. Die helingsproses duur drie tot vier maande; in dié tyd is urinering pynlik en soms feitlik onmoontlik. Jong mans dra vier tot agt maande lank swart klere en verf hul gesig.

In dié tyd woon die mans in ’n manyatta, ’n "dorpie" wat deur hul ma's gebou is. Daar is geen beskerming nie, wat die vegter se rol as beskermer beklemtoon. Geen kraal word gebou nie, want vegters besit nie beeste nie. Nog rituele word ondergaan voordat iemand ’n senior vegter kan word. Hierna volg die eunoto- of "mondigwording"-seremonie.

Wanneer ’n nuwe geslag vegters ingehuldig word, word die bestaande vegters junior oudstes; hulle is verantwoordelik vir politieke besluite totdat hulle senior oudstes word. Die voormalige vegters se hare word afgesny; oudstes se hare moet kort wees.

Masai 
’n Masai-oudste.

Vegters word nie toegelaat om seks met besnyde vroue te hê nie – hulle mag wel meisies hê wat onbesny is. Hulle bestee die grootste deel van hul tyd om deur die Masai-grondgebied te loop, ook buite hul seksiegrense. Hulle leer ook om beeste te koop en verkoop in plaas daarvan om hulle soos voorheen te steel.

Jong vroue ondergaan ook besnydenis as deel van ’n uitgebreide volwassewordingseremonie bekend as emuratare; hierna gaan hulle gereëlde huwelike aan. Die Masai glo vroulike besnydenis is noodsaaklik en mans kan vroue verwerp wat dit nie ondergaan het nie. Daar is egter kampvegters daarteen, soos die Masai-aktivis Agnes Pareiyo. In sommige gevalle word dit vervang deur ’n "woordelike besnydenis", wat sing en dans behels in plaas van die werklike operasie. Die praktyk word egter steeds hoog aangeslaan in die Masai-gemeenskap. Vroue dra daarna, nes die mans, swart klere en verf hul gesigte. Vroulike besnydenis is onwettig in beide Kenia en Tanzanië.

Die Masai is tradisoneel poligamiste, of veelwywers; daar word geglo dit is ’n manier om die hoë sterftesyfer onder babas en vegters teen te werk. Veelmannery word ook toegepas. ’n Vrou trou nie net met haar man nie, maar met sy hele ouderdomsgroep. Van ’n man word verwag om sy bed af te staan aan ’n besoeker van sy ouderdomsgroep. Die vrou mag egter self besluit of sy by die besoeker wil slaap. Enige kind wat so verwerk word, word beskou as haar man se kind.

Musiek en dans

Masai 
’n Tradisionele "sprongdans".

Masai-musiek bestaan tradisioneel uit ’n koor wat harmonieë sing terwyl ’n sangleier (olaranyani) die melodie sing. Die olaranyani begin met die sing van ’n reël of die titel (namba) van ’n lied. Die groep reageer met ’n eenparige keelsang, terwyl die olaranyani voortgaan om ’n vers te sing. Elke lied het ’n spesifieke struktuur en die liriek gaan oor ’n spesifieke tema. Saam met die sang word nekbewegings uitgevoer.

Die inhuldigingseremonie van die vegters kan gepaardgaan met 10 dae of meer van sing en dans. Die vegters voer ’n soort verbymars uit, asook die adumu, of aigus, wat ook deur buitestanders die "sprongdans" genoem word.) Die mans vorm ’n sirkel en een of twee sal op ’n keer na die binnekant van die sirkel beweeg en begin spring terwyl hulle hul hakke van die grond af hou. Lede van die groep kan hul stemtoon verhoog na gelang van die hoogte van die sprong.

Huise

As ’n histories nomadiese en daarna semi-nomadiese volk het die Masai op plaaslike, volop beskikbare materiale en inheemse tegnologie staatgemaak om hul huise te bou. Omdat hulle voortdurend rondgetrek het, was die huise tydelik van aard. Die bomba (huise) is stervormig of rond en word deur vroue gebou. Die raamwerk bestaan uit pale wat in die grond staangemaak en met fyner takke deurvleg word. Daarna word dit met ’n mengsel van modder, stokke, gras, beesmis, menslike urine en as gepleister. Die beesmis maak die dak waterdig. Die enkaj is klein en is die deel waar die gesin kook, eet, slaap en kuier. Kos, brandstof en ander besittings word ook daarin gestoor en soms word klein soorte vee daar aangehou. Die dorpies word omring deur ’n ronde heining (enkang) wat deur die mans gebou word. Dit bestaan gewoonlik uit takke met dorings. Snags word alle diere in die omheining veilig gehou.

’n Panoramiese uitsig op ’n Masai-dorpie, van binne gesien.
’n Panoramiese uitsig op ’n Masai-dorpie, van buite gesien.

Klere

Klere wissel van ouderdom tot ouderdom en van plek tot plek. Jong mans dra byvoorbeeld maande lank swart ná hul besnydenis. Rooi is andersins die gewildste kleur, maar blou, swart, strepe, blokke en gekleurde Afrika-motiewe word ook aangetref.

Die stukke lap wat om die lyf gedraai word, word in hul taal shúkà genoem. Dit is gewoonlik rooi, maar vegters dra ook blou en hulle skrik nie eens vir pienk met blompatrone nie. Masai naby die kus kan ’n kikoi dra – ’n soort sarong wat in verskeie kleure en materiale beskikbaar is.

Baie Masai in Tanzanië dra eenvoudige sandale, wat tot onlangs van beesvel gemaak was. Hulle het deesdae sole. Die vroue dra gevlegte en kraaljuwele. Krale speel ’n belangrike rol in die verfraaiing van hul liggaam. Hoewel die betekenis van die krale se kleure verskil, is van die algemeenste betekenisse: wit vir vrede, blou vir water, rooi vir vegters/bloed/dapperheid.

Kralewerk kom ’n lang pad saam met die Masai, wat hul identiteit en posisie in die gemeenskap beklemtoon met liggaamsversierings en -verf.

Hare

Die afskeer van hare is algemeen by baie rituele, want dit stel ’n nuwe begin voor. Net vegters dra lang hare en hulle vleg dit in dun vlegsels.

Wanneer ’n kind drie maande oud is, kry hy of sy ’n naam en die hare word afgeskeer buiten ’n streep van die agterkant van die nek tot die voorkop. Seuns se hare word weer geskeer twee dae voordat hulle besny word. Daarna laat hulle hul hare groei en bestee baie tyd aan die stilering daarvan. Katoen- en wolgarings kan gebruik word om die vlegsels te verleng. Die vlegsels kan los hang of met leer vasgebind word. Wanneer vegters junior oudstes word, word hul gevlegte hare afgeskeer.

Omdat mans hul hare afskeer wanneer hulle ’n nuwe lewensfase binnegaan, sal ’n toekomstige bruid ook haar hare afskeer en twee ramme sal geslag word om dit te vier.

Verwysings

Eksterne skakels

Tags:

Masai GeskiedenisMasai KultuurMasai Die gemeenskapMasai Musiek en dansMasai HuiseMasai KlereMasai HareMasai VerwysingsMasai Eksterne skakelsMasaiEngelsGroot Mere van AfrikaKeniaMasai (taal)Nilo-Sahariese taleNylrivierSwahiliTanzanië

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

Guillain-Barré-sindroom1991KoedoeRussiese inval in Oekraïne sedert 2022Liturgiese jaarEthiopiëSkaapPankreasAlfabetiese lys van Suid-Afrikaanse bomeGenesisChristo WieseAnale seksDemensieCarles PuigdemontHottentot (vis)SwangerskapSlag van Cuito CuanavaleEerste WêreldoorlogHeilige SaterdagNuwe TestamentDemi Lee MooreOrthopteraAgter Elke ManBoet TroskieSeksposisieEuropaE-posBywoordOraniaLys van kleureEuropese RugbykampioenskapSeksSarah Rose KarrPublieke domeinGeurmiddelNarkoseMusieksimboleBorsteAppendiksLettergreepAfkortingSkildklierVerkleinwoordAfrikanersMoslemBakterieDeon MeyerZack du PlessisOnderwys in Suid-AfrikaOsoonlaagSenuweestelselKoekie (rekenaarwetenskap)DigvormMangelontstekingTaalLeeuGoogle MapsSuid-Afrikaanse PolisiediensSuurstofAngssteuringWikipediaVolumeAsiëProstaatklierNamibiëBloemfonteinDundermWes-KaapAardbewingKomeetKlitorisSkrikkeljaar🡆 More