Marié Blomerus (1931-) is 'n Afrikaanse digter en skrywer.
Sy verwerf die Perskor-prys vir haar werk.
Marié Blomerus | |
---|---|
Marié Blomerus in 1968 | |
Gebore | Helene Marié Blomerus 24 Desember 1931 |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | Digter, skrywer |
Helene Marié Blomerus is op 24 Desember 1931 op Keetmanshoop in Suidwes-Afrika (tans Namibië) gebore en sy word ook daar groot. Haar grootouers aan moederskant verhuis na die Eerste Wêreldoorlog van Vanrhynsdorp na ’n plaas in Otjiwarongo in Suidwes-Afrika. Haar ouma is oorspronklik van Hamburg in Duitsland en kom as vierjarige saam met haar gesin na Suid-Afrika, terwyl haar oupa afkomstig is van Tavistock in Devon, Engeland.
In die sestigerjare is sy saam met Phil du Plessis mederedakteur van die tydskrif Wurm en lewer bydraes tot verskeie tydskrifte soos Ophir, Izwe, Sestiger en die Tydskrif vir Letterkunde. Sy verhuis gereeld en bly op een of ander stadium in Namibië, die Kaapprovinsie, die Vrystaat en die Transvaal. Later aanvaar sy ’n betrekking by die Universiteit van Suid-Afrika se Departement van Onderrig en Tegnologie, waar sy as ’n draaiboekskrywer van opvoedkundige programme werk. Sy vestig haar saam met haar twee seuns in Silverton in Pretoria. Hier trou sy met die digter Chris Pelser. Sy is ’n lid van die Afrikaanse Skrywersgilde.
Haar gedigte verskyn van tyd tot tyd in letterkundige tydskrifte, insluitende Tydskrif vir Letterkunde, Wurm, Ophir, Izwe en Sestiger.
Fosforblom bevat veral natuurgedigte en liefdesverse. In navolging van die titel word verskeie blomme en hulle kleure beskryf, maar die gedigte mis oor die algemeen diepgang. Die titelgedig en Bome in die Namib is egter verdienstelik.
Blou as beginsel van duisternis maak ’n sterker indruk met veral die sintuiglike beskrywing van die barre wêreld van die Namib-woestyn. Die bundel bevat veral verganklikheidsverse waarin die vrees vir die dood ’n groot rol speel en die verganklikheid in die natuur naas die skoonheid daarvan bestaan. Daar is ook natuurverse, waar die natuur gesien word as verkieslik bo die onmenslikheid van die stad ten spyte van die verlatenheid daarvan. Daar is ook ’n aantal liefdesverse.
Ithaka se titel verwys na die eindbestemming van die Grieks-mitiese Odysseus se swerftog, waar hy uiteindelik na tien jaar vanaf Troje weer tuiskom by sy Penelope. Die bundel het dan ook reis as oorheersende tema, met die proses om ervarings tot woorde te bring ook ’n tipe reis. Aansluitend by die titel word die klassieke Griekse en Helleense wêreld in etlike verse verken. Baie van die persoonlike ervarings in die gedigte verwys na die liefde, terwyl die natuur ook op ’n besondere wyse ervaar word. Die Perskorprys word in 1986 aan Ithaka toegeken.
Seisoene van terreur is haar vierde digbundel, met die titel wat verwys na die onontkombare vyand, die dood. Weereens oorheers die liefde die tematiek (wat kortstondig en verganklik is en deur die dood bedreig word), met ook ’n aantal verse oor die skilder Van Gogh en Frankryk en oor die digterskap.
Haar gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, waaronder Land van sonlig en sterre (’n bloemlesing met gedigte oor Namibië), Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Goudaar, Digters en digkuns en Woordpaljas. Van haar gedigte verskyn in tydskrifte soos Yang, Poet, Izwe, Ophir, Sestiger, Tydskrif vir Letterkunde en Unisa English Studies. In 2020 word haar gedigte ‘Aries’ en ‘Die roos in elke spieël’ in Vers en vrou opgeneem. Sy vertaal ook gedigte van anderstalige skrywers soos Allen Ginsberg, Lawrence Ferlinghetti en George Dowden in Afrikaans.
Die novelle Soo-oo-oopwa se titel verwys na ’n woestynwind, simbool van die noodlot wat die groepie mense afsonder wat hulleself letterlik en figuurlik in die woestyn aan die eensame weskus van Suider-Afrika bevind. Op die klein kosmopolitiese dorpie Kaap Kruis het die geneesheer Rudolph Becker jare tevore daar gestrand, maar homself tog mettertyd met hierdie onherbergsame gebied verbind. Die Sweed Nils Gustafsson is hier om ’n ghwano-kontrak te vervul, saam met sy vrou Birgitta en seuntjie Otto. Birgitta vergaan stadigaan in die afwesigheid van Europa met sy ryk kultuur en raak betrokke by ’n ongeoorloofde liefdesverhouding met Rudolph. ’n Pokke-epidemie eis die lewe van Otto en Birgitta pleeg dan selfmoord. Ten spyte van haar verlange na Europa en haar land van herkoms word sy dan tog aan die einde deur die dood deel van Afrika.
Blomerus se kortverhaal Die ruiter verskyn in Mei 1974 in Tydskrif vir Letterkunde en word deur Hennie Aucamp in die versamelbundel Blommetjie gedenk aan my opgeneem.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Marié Blomerus, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.