Lewende en nie-lewende dinge

Lewende en nie-lewende dinge is twee uiteenlopende pole. Lewend beteken die toestand van ’n mens, dier of plant (organiese wese) waarin die funksies natuurlik werk. Die betrokke organisme bestaan of leef dus – ongeag of lewe op die oog af waargeneem kan word. Nie-lewende dinge besit onder meer geen groei- of ontwikkelingskrag nie en plant nie voort nie.

Dit is soms moeilik om onmiddellik te bepaal of dinge lewend of nie-lewend is. ’n Doeltreffende maatstaf is egter neergelê om bo alle twyfel vas te stel of iets lewend of nie-lewend is.

Sewe lewensfunksies

Iets lewe nie as dit nie aan ál sewe lewensfunksies voldoen nie. ’n Vloeiende rivier of ’n rots wat van ’n berghang afrol, beweeg wel maar voldoen nie aan al die ander lewensprosesse nie. Wolke kan van vorm verander en beweeg maar voer nie die ander lewensprosesse uit nie.

Dié lewensfunksies of -prosesse is kortliks die volgende:

1.Beweging. Dit is die verandering van plek of stand.

2.Asemhaling: Lewende organismes asem gasse in en uit.

3.Voeding. Lewe het voedsel nodig om aan die lewe te bly, hetsy dit self vervaardig word of van buite verkry word.

4.Groei. Organismes neem toe in omvang, lengte en grootte.

5.Sensoriese waarneming. Al is dié waarnemingsvermoë ook hóé primitief, is dit steeds aanwesig.

6.Voortplanting. Lewende organismes verseker dat daar ’n nageslag is.

7.Ontlasting of uitskeiding. Dit behels die ontslae raak van afvalstowwe (plante doen dit deur transpirasie).

Lewende dinge

Biologie is die wetenskap wat met lewende dinge handel en omvat alle vorme van lewe, insluitend soogdiere, insekte, plante, skimmel en selfs mikrobes (eensellige organismes soos bakterieë). Biologie is belangrik omdat dit aan die mens (wat self ’n dier is) verklaar hoe uiteenlopend die wêreld is waarin hy leef en hoe hy kan baat vind by dié kennis. Landbou en medisyne is maar twee van die vele gebiede wat deurlopend verbeter word deur kennis van die biologie toe pas.

 
Alge wat op boombas groei is 'n voorbeeld van een van die vyf groepe van lewende dinge wat aan al die lewensfunksies voldoen.

Geen lewende organisme, hetsy bakterieë of die mens, is in werklikheid eenvoudig nie. Laasgenoemde is wel baie meer kompleks, met organe soos ’n hart om sekere werk te verrig.

Lewende dinge word in vyf groepe verdeel, naamlik diere, plante, fungi (soos sampioene en skimmel) en nog twee eenvoudiger groepe wat alge en bakterieë insluit. Lewende dinge is voorheen as slegs diere of plante geklassifiseer.

Al is daar groot verskille tussen komplekse en eenvoudige lewende organismes, het hulle tog eienskappe wat hulle deel. Die eenvoudige sel is natuurlik nodig vir alle vorme van lewe. Selle verskil in struktuur en funksie en bevat gene, wat proteïenvorming deur die sel beheer.

 
Varings, wat deur spore voortplant, voldoen aan die sewe lewensprosesse wat met lewe saamhang.

Chemiese aktiwiteite, beter as metabolisme bekend, vind in alle lewende dinge plaas en alle organismes benodig ’n vorm van energie. Plante en alge vervaardig hul eie voedsel deur sonenergie deur die proses van fotosintese in te span.

Mens en dier neem voedsel van hul omgewing in.

Lewende organismes groei volgens ’n goed georganiseerde model: eenvoudige vorme soos bakterieë groei min en komplekse organismes, soos die mens en selfs bome, groei heelwat oor baie jare.

Sensoriese waarneming en reaksie daarvolgens is ook interessant: die stamme van plante kan byvoorbeeld na ’n ligbron draai (soos sonneblomme na die son) en diere kan vinnig reageer wanneer hulle van gevaar naby hulle bewus word.

Voortplanting is ook een van die eienskappe van lewende organismes. Selfs saadlose plante, soos varings en mos, het lewensiklusse wat die produksie van spore insluit. Dié spore word in die lug vrygestel en kan verder in gunstige toestande ontwikkel om uiteindelik nuwe plante te vorm.

Nie-lewende dinge

Verskeie nie-lewende dinge het die een eienskap van lewe in gemeen wat mense soms kan verwar: beweging. Bewegende wolkformasies, die see en riviere en selfs aktiewe kraters is voorbeelde.

Laasgenoemde is van die heel opvallendste nie-lewende dinge wat vir beweging en selfs “groei” sorg wanneer lawa en as afkoel, verhard en nuwe keëls kan vorm en selfs tot ’n nuwe berg kan groei.

Een van die bekendste vulkaanuitbarstings was Krakatoa, wat op 27 Augustus 1883 naby Java uitgebars het en vir oorverdowende lawaai gesorg het wat oor 8% van die aardbodem gehoor is – tot op die eiland Rodriguez, sowat 4 800 km ver aan die ander kant van die Indiese Oseaan. Minstens 36 000 mense is dood weens die uitbarsting en die gevolge daarvan.

 
Vuurwarm lawa in aktiewe kraters beweeg maar word as nie-lewend geag omdat dit nie aan die ander lewensprosesse voldoen nie.

Vesuvius “die verwoester” in Italië het al nege keer uitgebars, die laaste keer in 1944.

’n Vulkaan is in werklikheid ’n gat in die aardkors, waardeur strome gesmelte rots bars en dan rotse en as die lug inblaas. Sommiges kan dalk in die toekoms uitbars en word as “sluimerend” genoem. Ander, wat lankal uitgeput is, word “uitgedoof” genoem.

Die drukking in die kern van die aarde is ontsaglik hoog en die temperatuur is sowat 6 000 grade Celcius, wat veroorsaak dat gesmelte rots (magma genoem) na die kors van die aarde vloei en uiteindelik uitbars. ’n Beter voorbeeld van ’n nie-lewende ding wat kan beweeg, kan moeilik gevind word.

Praktiese biologie

Deur die studie van lewe (biologie) en kundige aanpassings van die natuur het die mens oor die jare verskeie deurbrake gemaak wat sy eie behoeftes, insluitend voeding en gesondheid, bevredig. Enkele voorbeelde word genoem:

1. Voedselproduksie is verhoog deur beter beeste en mielies te teel en grond te bemes om beter oeste te verseker.

2. Louis Pasteur se ontdekking in die laat negentiende eeu dat infeksies deur bakterieë veroorsaak word, het die grondslag vir verskeie middels gelê om dit doeltreffend te beveg.

3. Genetika het tot baie nuwe plante en die beter beheer van insekte en plae gelei.

4. Die studie van biochemiese prosesse sedert die tagtigerjare van die vorige eeu het vir verskeie deurbrake gelei wat onder meer geheue, veroudering, verdowingsmiddelverslawing en geestesversteurings betref.

Bronne

  • Carton, Steven. Science Encyclopedia. Dorling Kindersley Limited. 2004. ISBN 978-1-40534-212-4.
  • Labuschagne, F.J. & Eksteen, L.C. Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Agtste hersiene en uitgebreide uitgawe. J.L. van Schaik. 1993. ISBN 0 627 01740 1
  • Odendal, F.F. & Gouws, R.H. HAT. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Vyfde uitgawe. Pearson Education. 2010. ISBN 978-1-77025-665-1
  • Paneel redaksielede. New Standard Encyclopedia, Vol 3. Ferguson Publishing Company. 1999. ISBN 0-87392-103-8
  • Steele, Philip. Vulkane. Jacklin Uitgewers. 1999. ISBN 1 86904 560 2.