Latynonderrig geskied in verskeie lande wêreldwyd.
In Suid-Afrika is Latynse skole reeds in 1714 gestig, hoewel die Britse Ryk eers in 1822 die Latynse taal op eie bodem, saam met Engels, verpligtend gemaak het. Maar Latyn se status as verpligte universiteitstoelatingsvak het teen die middel van die 20ste eeu ten einde geloop.
Latyn het 'n lang aanloop, opbloei, blinktydperk en ondergang beleef wat oor min of meer 'n paar eeue strek.
Die ondersteuners van die Klassieke het egter ook teruggekap:
Dieselfde redes het min of meer dieselfde gebly in 1924 en 1943 (soos afgelei kan word by die American Classical League). Die leerling sal glo:
Op Suid-Afrikaanse bodem voer Gonin min of meer dieselfde standpunte in sy Latynse grammatika en leesboek: eerste jaargang, vierde druk van 1956:
Vir T.J. Haarhoff is van die vroegste onopgeklaarde lewensuitkyke in die Klassieke steeds aktueel:
Boonop is Latyn in wese onsterflik: die taal se grammatika het meer as tweeduisend jaar lank presies dieselfde gebly; iets waartoe die lewende moderne tale nie in staat is nie. Tekste in Latyn uit die Middeleeue is dus net so toeganklik soos Latynse tekste wat vanoggend nog geskryf is.
E. Christian Kopff beskou Latynonderrig as 'n wapen teen wat hy beskou as die afgewaterde opvoeding aan universiteite en op skole. Latynonderrig leer die leerling en student eerstens eksegese: om uit te vind wat die skrywer oorspronklik bedoel en beoog het, en nié, soos by die dekonstruksie, sielkunde en postmodernisme, om deur inlegkunde betekenisse aan 'n werk toe te dig wat suiwer op spekulasie gegrond is, wat die leser van die werk dink en ervaar, en dikwels uit die staanspoor bevooroordeeld teenoor tradisie staan en buite konteks waardeer word nie. Tweedens leer die student ook om 'n hele korpus werke wat vanaf voor Christus strek tot die hede te leer begryp, te deursoek en nuttig by die moderne samelewing in te span – dit is wat in sy oë tradisie behels: om nie blindelings om te gaan deur die eietydse feite en perspektiewe slegs in isolasie te beskou nie, maar op die ontwikkelingsgang te let.
Laastens word daar wel na 'n ander godsdienstaal gekyk wat presies dieselfde funksies vervul as Latyn. Hebreeus was slegs tot die godsdienskring beperk voordat hy in die 20ste eeu tot volwaardige lewende en akademiese taal uitgebou is. Benewens die publiek, sorg die Universiteit van Jerusalem dat die taal voortdurend met nuwe woorde verryk word. Niks keer Rome, studente en akademici om dieselfde te doen nie.
Sedert die 1960's is Latyn by die skole in die meeste Westerse lande nie meer 'n verpligte vak nie. Uiteindelik het Latyn, gelaai met simboliek en weinig pragmatistiese waarde, gesneuwel. Dit is nie die taal se skuld nie. Dit is ook nie noodwendig die doodvertaalde kurrikulum se skuld nie. Die taal het eenvoudig net nie meer vir die algemene samelewing waarde gehad nie. Die volkstale het die rol oorgeneem: boompie groot, plantertjie dood. Latyn was die plantertjie. Daar is ook vrugteloos in die laat-19de en 20ste eeu probeer om een of ander vereenvoudigde vorm van Latyn as wêreldtaal of ten minste in Europa as lingua franca op te hef (as keerwal teen Volapük).
Van hierdie vereenvoudigde Latynse kunstale (of kunstale wat grootliks van Latynse woordeskat gebruikmaak) is:
Van hierdie name lyk ook identies.
Waquet voer aan:
Om Latyn, net soos die Pruise van ouds gedoen het (sien bo), as "lewende taal" aan te bied, word in die 21ste eeu om agt redes weer oorweeg, bo die "doodvertaling":
Die nadele is egter ook uit te lig. Benewens die Pruise (soos hierbo genoem) wat nie so afgerond en genuanseerd die verse kon skryf soos die Franse nie [wat wel die grammatika en woordeboekgebruik ingehamer is], word die volgende probleme ook geopper:
Enkele waterskeidingsoomblikke kenmerk die ondergang van Latyn in België tussen 1830 en 1850.
Met die verbrokkeling van die Oostenrykse Ryk en die Franse revolusioniste wat aspirasies onder die Belge gekweek het om hul eie dominansie te vestig, het ook Napoleon bygedra om die nasionale geskiedenis van België in ere te herstel. Die Belgiese nasionale sentiment (en politici) bly egter lojaal aan die Franse Ryk. Hierdie lojaliteit duur voort toe Willem I, Prins van Oranje-Nassau die Nederlandssprekendes (alle dialekte) onder hom probeer verenig in die Verenigde Koninkryk der Nederlande wat vanaf 1814 sal voortduur tot 1830. Al slaag hy gedeeltelik daarin om die Nederlandssprekendes te verenig, span die Katolieke en Liberales in 'n verenigde front saam tot die Belgiese Revolusie uitbreek in 1830.
Al vanaf die Oostenrykse heerskappy het Frans ook tot die Vlaamse bourgeoisie as voorkeurtaal deurgedring, wat verder versterk is onder die daaropvolgende Franse regime. Al was die politici en die ryk self nie gekant teen die Vlaams nie, was hulle voorstanders vir die verspreiding en uitbou van Frans deur hom as taal van openbare instellings in die wet te veranker, en van die Belgiese skrywers voer aan die opgevoede Vlaming en die Waal het albei 'n geweldige hoë agting vir Frans gehad, die taal van die bevryding. Die hoi polloi hou hulle maar besig met dialekte. Willem van Oranje het, met die totstandkoming van die Verenigde Nederlande in 1814, sy volste reg uitgeoefen om Nederlands hier te bevorder. Al het die taalkundige eenwording misluk (die Katolieke Vlaming het hom onderskei van die Protestante Hollander op kulturele en godsdienstige en selfs taalgebied) het hierdie vereniging mettertyd 'n Vlaamse bewussyn laat ontwaak weens die voorreg om Nederlands by instellings onder die Koning van Nederland se bewind te geniet, asook die onderwys wat hy in hierdie streek laat ontwikkel het. Dit is ook Willem I wat Latyn versterk het aan die Vlaamse universiteite. Voorheen met die Franse anneksasie in die tydperk van Napoleon is die Universiteit van Leuven, toe nog die enigste instelling van hoër onderwys in Suid-Nederland, eenvoudig in 1797 deur die Directoire gesluit; in sy plek maak inrigtings van die tersiêre onderwys oop in Luik (wetenskappe) en in Brussel (letterkunde, wetenskap en regswese). Omtrent 'n derde van die dosente was afkomstig uit Frankryk, en dan was daar nog die nie-Franse dosente wat ook hul opleiding (gedeeltelik) in Frankryk gekry het.
Wat by sommige fakulteite opval is hoe goor party studente teen 1811 Latyn ken, vernaamlik omdat die voertaal nie meer Latyn was nie. Deur Latyn as voorvereiste te stel by die regsfakulteit, is party dekane besorg oor Latyn wat belangstellende studente sal ontmoedig. Van die toetse en eksamens word vergemaklik en vereenvoudig. Maar nog sal party professore 'n ekstra geldjie moet verdien deur proefskrifte in Latyn namens hul studente te skryf, wie se kennis daarvan, om dit sagkens te stel, bedenklik was. Toe Willem I van Oranje dus op 25 September 1816 sy nuwe onderwysbeleid aankondig wat drie universiteite in Leuven, Gent en Luik sal oprig en in 1817 ingehuldig word, was daar een puntjie wat lelik gekrap het - Latyn sal as voertaal heringestel moes word. Daarvoor was baie dosente glad nie te vinde nie, en party beskuldig die koning daarvan dat hy opsetlik met Frankryk wil breek deur hierdie anachronisme in te voer. Maar ander dosente vind dit heel billik in 'n tweetalige land, veral in 'n land waar die gebruik van Hollands (Nederlands-Nederlands) selfs deur Vlaminge skeef aangekyk word. Na afloop van die Revolusie en onafhanklikheid word Latyn as voertaal in 1834 onmiddellik afgeskaf by die onafhanklike universiteite te Mechelen en Brussel. Dwarsoor België word professore wat in Duitsland gebore en onder Willem I se bewind aangestel is om in Latyn te doseer op 'n streep afgedank. Nietemin gaan die Katolieke instellings voort om Latyn te beoefen tot en met die Tweede Vatikaanse Konsilie (1962-1965).
'n Standbeeld wat (al op 15 Augustus 1848) ter ere van Godfried van Bouillon ingewy is, was 'n taal soek: dit moes een wees wat die hele land sou saambind en verenig - dit moet dus verstaanbaar en patrioties wees. Voorstanders van Latyn het uit historiese korrektheid beswaar gemaak en aangevoer Godfried sou beslis nie die moderne Frans en Vlaams op sy standbeeld kon verstaan en waardeer nie, terwyl nog aangevoer het mens sou nie Frans alleen kon uitsonder ten koste van die Vlaams (wat die oorgrote meerderheid van die bevolking uitmaak en met onverskilligheid behandel word) nie - Latyn is sommer twee vlieë met een klap en niemand sal daardeur verbitterd voel nie. 'n Vertaling is 'n verbastering van die waarheid, die oerteks, en boonop neem Frans te veel ruimte in beslag met sy woord- en letteroortolligheid - niks kan so rein en edel van gedagtes, skoonheid, bondigheid, eenvoud en helderheid weergee soos in die ou Latynse inskripsies nie. Ook in Italië is daar 'n monument in die Florentynse kerk van Santa Croce toegewy aan Dante, die beroemde Italiaanse skrywer, wat ironies genoeg nie in Italiaans is nie, maar in Latyn. 'n Italianer kap egter terug dat Italië teen 1850 tog besluit het om voortaan alle nuwe monumente met Italiaans op te luister. Buitendien, die Grieke, Romeine en selfs die Egiptenare het hul monumente in hul eietydse tale uitgedruk - die Belge kan na hartelus maar moderne tale gebruik. 'n Monument is daar om mense mee te voer tot diepe oorpeinsing en besinning, en hierdie doel misluk wanneer 'n taal gebruik word wat Jan Publiek nie verstaan nie.
Die Akademie het op Latyn besluit, maar die Belgiese regering het die besluit geveto en uiteindelik in Desember 1874 is die Franse en Vlaamse inskripsies ingewy, in die guns van die breër publiek wat nie Latiniste was nie. Die plaatjie met Frans ('Godefroid de Bouillon') word onderaan die kopkant van die perd voor aangebring, Vlaams ('Godevaart van Bullioen') agter aan die stertkant: 'n alte duidelike teken van Vlaams se onderwerping en minderwaardigheid teenoor Frans.
Wat aanvanklik 'n alledaagse besluit sou wees in 1847 (die publikasietaal van 'n artsenyboek vir aptekers binne 'n land) het in 'n polities oorlade onderwerp ontaard wat groot spanning vir die Akademie besorg het: want nou het dit ook gehandel oor die identiteit van die nasionale taal, amptelike publikasies bestem vir Vlaandere en die Vlaminge, tradisie vs. moderniteit, die belang van Latyn in die onderwys en selfs die geheimhouding van die geneeskunde wat slegs vir die ingewydes beskore moet bly.
Van die vraagstukke wat geopper en druk deur die Akademie bespreek is, sluit in:
Teen die 19de eeu het Frans al hoe meer veld gewen en Latyn in vele vakgebiede uitgestof. Latyn het egter gedeeltelik dié taal van die geneeskunde gebly. Die vraag was dus of Latyn hierdie rol moet bly vervul en of Frans dit ook nou maar moet vervang en klaarkry. Die voorstanders van Frans hou vol dat Latyn 'n dooie taal is wat nie meer die nuwe samelewing kan beskryf soos net 'n lewende kan nie; daardie Latyn in ander farmakopeë is deurspek met barbarismes en byna onverstaanbare terminologieë, 'n soort "Latyn van Molière". Frans versprei al hoe meer oor die res van die wêreld en is nou "die ware akademiese taal" en die "taal van die diplomasie" en van die wetenskap, selfs in nie-Franssprekende lande. Die verdedigers van Latyn hou egter voet by stuk: die Sweedse skeikundige, Berzelius, kon chemiese nomenklatuur munt; farmakopeë uit Londen, Pruise en Denemarke is steeds in Latyn geskryf - daarom is dit steeds moontlik om 'n farmakopee in Latyn saam te stel. Latyn dien ook steeds as kommunikasiemiddel tussen wetenskaplikes in alle beskaafde lande aan die uithoeke van die wêreld, dis dié "seël", die toonbeeld, van 'n afgeronde, sterk en grondige onderwys, en dit is in hierdie taal waarin die geneeshere die mediese erfenis aan hul opvolgers nagelaat het. Frans is hoegenaamd nie so ryk, kort en bondig soos Latyn nie; terminologie soos selenium, silicium, cadmium, ens. is géén Franse vindingrykheid nie, laasgenoemde moet hierdie woorde maar gedwee uit Latyn leen. Hierdie Franse gewoonte ten spyt, voer die teenstanders van Latyn aan, iemand uit oud-Rome sou beslis geen kop of stert kon uitmaak wat begrippe soos morphina, strychina, alcoholatum, chloruretum beteken nie.
Daar is van die standpunt uitgegaan dat die meeste aptekers glad nie goed onderleg is in die Latynse taal nie. Frans is daarenteen "min of meer" by iedereen bekend. 'n Farmakopee moet nie ly onder 'n gebrek aan verstaanbaarheid nie. Die vraag het wel ook ontstaan waarom aptekers in die eerste plek daar moet wees as hulle nie die pyp kan rook nie - deel van hul werk is, soos hul voorgangers, om Latyn goed te ken. Die teenantwoord hierop is die kompleksiteit van die vaaggeskrewe voorskrifte en farmakopeë wat die aptekers hoofbrekens eerder as uitkoms kan besorg. Die kommer bestaan wel ook: sodra die farmakopee nie meer in Latyn geskryf is nie, gaan die aptekers laks word en hul studie van Latyn verwaarloos - en dit sou 'n jammerte wees. Ander voer aan hierdie kommer is ongegrond, ten dele omdat Akademie die vereiste gestel het dat toekomstige aptekers voortaan 'n graad in die Natuurwetenskappe moet behaal, wat Grieks en Latyn vereis, en ten dele omrede daar steeds ander (eietydse en ouer) bronne bestaan wat almal nog in Latyn geskrywe staan en met vrug gelees kan word.
Sodra die geneesheer die diagnose sou maak, kon die publikasie in Frans daartoe lei dat die pasiënt behandeling weier en sommer self sy eie brousel aan mekaar slaan. Met hierdie kennis nou sommer tot iedereen se beskikking, kan die hierdie brousels deur kwakke op ander siekes misbruik word vir eie gewin.
Die een kamp voer aan Frans is die amptelike taal en voertaal aan universiteite; in hierdie taal, deur middel van Franse boeke, word die student van die aptekerswese opgelei; waarom nou hierdie onnodige beslommernis in die lesgee met Latyn? Die teenvraag is of die farmakopee dan nie 'n leerboek is nie. Die antwoord daarop is nee, dit is 'n naslaanwerk, 'n reëlboek, 'n wetlik bekragtigte kode wat nageleef moet word. Die teenstelling daarop is: as die grammatikas 'n naslaanbron en leerboek is, dan is 'n farmakopee alte sekerlik ook, want albei stel die reëls vir 'n goeie voorbereiding - wat die opleiding van apteekstudente ook insluit.
Latyn was internasionaal bekend, waaronder vele volke kon verenig, terwyl Frans maar 'n nasionale taal was, en ook maar net-net: die Vlaminge sou aanstoot neem as die farmakopee slegs in één enkele nasionale taal, naamlik Frans, uitgegee word. Terselfdertyd is die vraag bespreek of Frans nou werklik dié nasionale taal van België is. Frans is nou wel die taal van die owerheid en gesag en elite, maar nie soseer die taal van die meeste Belgiese burgers nie. Frans is 'n taal wat uit 'n naburige volk geleen is, d.w.s. uit Frankryk. Latyn is volgens sy voorstaanders ook nie onversoenbaar met die nasionale sentiment nie - daarvoor dien Oostenryk en Pruise wat geen afstand van Latyn gedoen het nie as sprekende voorbeeld. Die voorstanders van Frans voer weer aan die farmakopee is in die eerste plek vir eie benutting (hier te lande in België) bedoel en die aptekers van Vlaandere sal 'n farmakopee in Frans veel beter verstaan as in Latyn "want elkeen ken Frans", terwyl die aantal wat Latyn perfek ken maar min is. Op die argument van farmakopeë in landstale soos Italiaans, Duits, Persies, Grieks en Frans (laasgenoemde in Frankryk self, 'n boek wat sonder moeite maklik ingevoer kon word), spaar Latyn weer tyd omdat vertaling nie nodig is nie - 'n argument wat die voorstanders van Frans eweneens ook gebruik omdat 'n beëdigde vertaling (uit Latyn in Frans) bloot om 'n teks op eie bodem te gebruik, wat in België geskryf is, onsinnig is.
Selfs 'n tweetalige publikasie (of afsonderlike vertaling) in Latyn en Frans het kritiek uitgelok - van die akademici het aangevoer dit is onsinnig om die onnodige onkoste aan te gaan om 'n teks in Latyn gepubliseer te kry, net sodat die apteker 'n afsonderlike een in Frans ook moet aankoop. Dit bring dus ekstra kostes vir die apteker mee. Boonop is dit 'n implisiete toegewing van die staat sodat Frans bevoordeel kan word, maar Vlaams nie.
Vir jare is geneeshere van sowel Vlaamse as Waalse provinsies daaraan gewoond om in Latyn te skrywe. As Frans nou ingespan word, verbreek jy die laaste skakel wat hierdie stralend gelukkige Belgiese "mediese familie" bymekaar hou. Ander akademici voer aan die nuwe samelewing se behoeftes het verander en daarby moet eenvoudig aangepas word.
Op die ou end is die farmakopee in twee tale uitgegee om almal tevrede te stel: Latyn én Frans.
Die eer van die eerste Westerse taal waarin die teks uit Chinees vertaal is, kom Latyn nie toe nie, maar wel Spaans. Die Dominikaan Juan Cobo vertaal in sy sterftejaar (1592) die Míngxīn bǎojiàn ( 明心寶鑑 , die voorwoord van dié Chinese teks is in 1393 deur Fàn Lìběn 範立本 onderteken), getiteld Espejo rico del claro corázón, in Manilla, op die Spaanse Filippyne. Die manuskrip word in 1595 aan koning Filips II van Spanje aangebied, waarna die vertaalwerk vir eeue lank stof op die rak bly vergader, totdat dit uiteindelik in 1959 in boekvorm uitgegee is.
Die kontak met die Latynse taal is wel véél ouer.
Hoewel die Christendom in China veel ouer is, is die kontak met die Weste ook wel vroeër as die 1500's, en hier moet die leser in gedagte hou dat China nog onder die Yuan-dinastie van die Mongoolse Ryk is, vanaf 1271 tot en met 1368.
Die eerste Latynonderrig deur 'n instansie word vermeld in die brief van Broeder Giovanni (of, in Latyn, Iohannes) da Montecorvino, van die Heilige Franciskusorde, wat op 8 Januarie 1305 (of 1306) geskryf is aan die vikaris-generaal van die Krim. Giovanni da Montecorvino word deur Rome in 1289 na Beijing ("civitate Cambaliech") gestuur om hierdie Nestoriaanse Christene terug by die Katolieke Kerk te verenig (lees: in te lyf), en om van die Mongole te bekeer. Moontlik het die Rooms-Katolieke Kerk te hore gekom van Marco Polo (of ander handelaars) wat Christene in Wes-China teengekom het. Die Pous Nicolaas IV rig self 'n brief aan die Grootkeiser die Koeblai Khan, waarvan Da Montecorvino as die gesant moet optree. Dit is nou nadat hy 'n tydjie in Indië deurgebring het. Die Nestoriane stel nie belang om saam te smelt nie, en alle valse gerugte word oor Da Montecorvino versprei aan die Keiser, soos dat hy 'n spioen is. Sy pogings om die Mongoolse elite tot bekering te bring het gemengde welslae. Maar dit keer nie Da Montecorvino om op eie houtjie die eerste Rooms-Katolieke kerk daar te bou in 1299, en in 1305 'n tweede nie. En dit in die 12 jaar waarin Da Montecorvino geen woord van die Vatikaan of die Weste ontvang het nie, omrede daar die berig ontvang is dat Da Montecorvino dood is. Dieselfde Broeder Da Montecorvino skryf in sy eerste brief hy het veertig 7- tot 11-jarige seuns van heidenouers gekoop (item emi successive XL pueros, filios paganorum etatis infra VII et XI annorum) en vir hulle Latyn geleer (et informavi eos licteris latinis), dikwels maar uit hoofde. Hy vra dan ook net 'n paar boeke waarmee sy studente dan as kopiiste kan optree. Daardeur wou hy duidelik geestelikes kleintyd al vir die Rooms-Katolieke Kerk werf en oplei om die plaaslike bevolking later te bearbei, om sodoende die Katolisisme verder in die streek te verbrei. Sy doel was skynbaar nie om die Chinese bevolking self te bekeer nie, maar hoofsaaklik net die Nestoriaanse Christene wat daar reeds was (en ander Christengroepe, soos die Armeense Christene). Dit is te sien in die werke wat opgestel is in veral Persies en Oeigoers.
'n Mens moet in gedagte hou dat in hierdie eeu die Keiserlike mag nie toegelaat het dat buitelandse leke permanent in die binneland kon vertoef nie. Hierdie voorreg om die mondelinge en geskrewe taal te bemeester en te beheers, is slegs die godsdiensgroepe toegestaan.
As mens deur die Katholieke Universiteit Leuven se Sinologiese databasis blaai, is dit dan ook nie verwonderlik dat die heel eerste Latynse geskrifte oor China deur 'n hele paar Jesuïetiese sendelinghande neergepen is nie. In die tyd toe Michele Ruggieri in 1584 die eerste klein kategismus in Chinees uitgegee het (die eerste boek wat deur 'n Europeër in China gedruk is), en Ruggieri, Matteo Ricci & Fernandez omstreeks 1583–88 aan 'n Portugees-Chinese woordeboek gewerk het, is die naam wat in hierdie eeu wat volg sekerlik die meeste opval die Duitse Jesuïetiese sendeling, Athanasius Kircher, se boek, China illustrata, wat in Latyn gepubliseer word in 1667, wat onder andere ook die werk opneem van sy medewerker, 'n Poolse Jesuïetiese sendeling, Michał Piotr Boym. Boym se bydrae lewer die vertaling van 'n Chinese teks (gevind in 1625 op 'n monument), wat as klinkklare bewyse dien dat dat die Nestoriaanse Christendom reeds in die 8ste eeu (781) in China bestaan het. Die eerste Christene het trouens in 635 n.C. in China aangekom. Die Nestoriaanse stele se inskripsie begin met: 景教流行中國碑頌 Jingjiao liuxing Zhongguo song bing xu ("Monument van die stralende godsdiens in China"). Op die monument is die letters uitgekerf in Chinees én Siries, en vertel min of meer die verhaal en etiek van die Christendom.
Aanvanklik speel Latyn in Denemarke 'n groot rol in die kerk, onderwys en tot 'n mindere mate ook in die regswese en administrasie. Platduits was op hierdie tydstip die taal aan die hof, maar ook die taal van die handwerk en die rondreisende toneelgeselskap. Hoogduits het weer sy rol as die diplomatieke taal vervul, totdat hy later vervang is deur Frans (wat 'n hoër status geniet het en afronding en gesofistikeerdheid by die spreker daarvan uitgestraal het).
Die eerste Deense universiteit, die Universiteit van Kopenhagen, is gestig in 1479. Die onderwystaal was uit die staanspoor in Latyn. Feitlik eers teen die helfte van die 1700's het Latyn die wind van voor begin kry. Aanvanklik het Duits en Frans vernaamlik die botoon gevoer; van die Deense taal was daar eintlik nog weinig sprake, deels omdat die meeste onderwysers in die 17de en 18de eeu nie 'n woord Deens kon praat nie - hulle is in hul hordes uit Sleeswyk-Holstein en vanuit ander Europese lande ingevoer.
Die veranderinge is gelei deur die tydgees (soos opgesom en getabuleer deur Mortensen & Haberland):
Universiteitstipe | Tydperk | Beginsel | Voertaal |
Die Middeleeuse Universiteit | 15de tot 16de eeu | auctoritas (gesag) | Latyn |
Die Universiteit tydens die Verligting | 17de tot 18de eeu | ratio (rede) | Latyn, Europese tale (waaronder ook Deens) |
Die Nasionale Universiteit | 19de tot 20ste eeu | Die Nasionale staat | Deens |
Die Postnasionale Universiteit | 20ste tot 21ste eeu | Markgerigtheid | Engels en Deens |
Die Middeleeuse Universiteit was sterk veranker in die kerkgesag. Die godsdienstige doel van die universiteit was in daardie jare vanselfsprekend, en daarom is dit ook niks snaaks dat Latyn, die kerktaal, die vernaamste universiteitsvoertaal in hierdie tydperk is nie.
In die daaropvolgende periode speel die kerk steeds 'n belangrike rol, maar na afloop van die Hervorming speel Latyn 'n mindere rol in die Deense Nasionale Kerk. Teen die einde van die 17de eeu en veral die 18de eeu begin die universiteite al meer wegbeweeg van die kerk [en die geestelike waardes wat met Latyn vereenselwig word] en toenemend fokus op die Verligting en die Rede.
Tog was die hoër onderwys in die 1600's in Denemarke nie noodwendig in Latyn nie: Die Sorø Akademi se voertaal was van die begin af Duits, terwyl die Universiteit van Kopenhagen s'n wel Latyn was. Teen die 18de eeu het sake egter verander: Sorø Akademi het oorgeskakel van Duits na Deens, en die Universiteit van Kopenhagen se voertaal het meer op ander tale begin fokus: hoofsaaklik Duits en Frans, maar ook tot op 'n sekere hoogte Deens.
In die 19de eeu boer die stand van Latyn al hoe meer by die Universiteit van Kopenhagen agteruit; dit wil voorkom of die dosente die taal nie langer voldoende kon beheers nie. Teen die aanvang van die 20ste eeu is die rol van Latyn so te sê heeltemal uitgedien, behalwe by die plegtige (seremoniële) funksies.
Dit is wat betref hoe die voertaal daar uitsien. Wat die ondersoek-/navorsings- en publikasietaal betref, lyk dinge bietjie anders. Latyn word tot in die 1800's nog gebruik as navorsingstaal, maar dit is nie meer die oorheersende taal soos in die onderwys nie. Deens word sedert die 1600's al hoe meer as boeketaal by uitgewers gebruik, net soos te sien by Duits en Frans. Dit kan ook toegeskryf word omdat Latyn nie, soos met die godsdiens en regstaal, tradisioneel gebruik is in die omskrywing van die natuurwetenskap, die digkuns of die Deense of ander moderne tale nie.
Die Kongelige Danske Videnskabernes Selskab (Die Koninklike Deense Akademie vir Wetenskap) is in 1742 gestig en die publikasietaal was van meet af aan Deens (hoewel die universiteit op daardie tydstip nog Latyn verkies het). Deens was egter nog geen taal met internasionale reikwydte nie.
In die 1800's verloor Latyn ook sy status as vooraanstaande navorsings- en publikasietaal.
Latyn word in Duitsland meestal by gimnasia aangebied; ook by party Gesamtschulen. Latyn kan as eerste, tweede (wat meestal die geval is), derde of by uitsondering vierde vreemde taal gekies word. In die klasse is die hoofuitkomste om te leer hoe om Latynse tekste in Duits te vertaal en nie om Latyn te leer praat nie. Die taalvak word dikwels as basisvak vir party studiegeoriënteerde vakrigtings aan die universiteite beskou sodra die Abitur by die middelbare skole afgehandel is. Die Latinum word hier as toelatingsvereiste deur die Departemente van Kultuur en Onderwys in die sestien Duitse deelstate, Oostenryk en Switserland onderskeidelik ondersteun.
Latyn word in die meeste Duitse gimnasia (middelbare skole vir universitêre voorbereiding) vanaf die 7de klas (Typ Latein II) as keusevak aangebied (vanaf die 6de klas in die verkorte vorm (G8)). Die tweede vreemde taal mag tot die 10de klas nie 'n vakverandering ondergaan nie. Jy moet eers die 9de (of 8ste) klas (Typ Latein III) klaarmaak. Sommige gimnasia bied dikwels uit ou tradisie 'basiese Latyn' vanaf die 5de klas aan (Typ Latein I het 21 800 leerlinge in 2006 gehad). Die Latynonderrig word hier reeds gedeeltelik parallel met Engels aangebied (byvoorbeeld volgens die Biberacher-model in Baden-Württemberg). Dit verseker die ontwikkelingsgang van die Engels wat reeds op laerskool verwerf is word nie versteur nie. Sulke klasse is in ander deelstate (Berlyn, Mecklenburg-Vorpommere) polities omstrede of verbode, waar Latyn as keusevak reeds in die Oriënteringsfase (Klasse 5 en 6) voorlopig as 'n uitgemaakte saak vir die gimnasia beskou word. In die meeste gevalle moet Latyn tot aan die einde van die Sekondêre Fase I, die 10de klas, gedek word. In Sakse word die Latinum (Typ Latein I) reeds teen die einde van die 9de klas verwerf (minstens Simbool 4, "voldoende").
In die Seniorstanderds kan Latyn selfs verder gedek word indien genoeg leerlinge die vak sou kies. Dit kan dan as 'n Abitureksamenvak op skriftelike of mondelinge wyse afgelê word. Daarvoor het die Kultuurministerkonferensie (KMK) Einheitliche Prüfungsanforderungen in der Abiturprüfung Latein voorgelê. Daar is slegs 'n handjievol leerlinge wat hierdie eksamen aflê. Hierdie eksamen behels langer vertalings en meer huiswerk by die uitleg van Latynse tekste. Sommige skole bied Latyn slegs in die laaste drie skooljare vanaf die 11de (of 10de) klas aan (Typ Latein IV) om deur middel van die aanvullingseksamen (sien onder) nog die Latinum te bereik. Typ Latein I tot IV het elkeen sy eie stel handboeke om by die ouderdomsgroep en taalkennis van die leerling te pas.
In Duitsland word die Latinum as die standaard gestel wat betref die taalvaardigheid om Latynse tekste te vertaal en te verstaan. Indien die Latinum op skool verwerf word, sal dit op die Abituruitslae aangeteken word. Volgens die Ooreenkoms van die Kultuurministerkonferensie, soos vervat in die hersiene uitgawe van 2005, is ten minste vier jaar Latynonderrig nodig om 'n gevorderde vlak te bereik of 'n skriftelike en mondelinge eksamen af te lê. Laasgenoemde eksamen staan in die regstaal bekend as die Ergänzungsprüfung, of "aanvullingseksamen"; dit wil sê, 'n eksamen wat die Abitur aanvul.
Die state vereis gedeeltelik nog langer studietyd sodat die leerlinge 'n gevorderde taalvlak werklik onder die knie kan kry. Die Latinum moet vir enkele studievakke aan sommige tersiêre instellings in die Geesteswetenskappe voorgelê word, soos die departemente Geskiedenis, Teologie en enkele vreemde tale. Dit hang natuurlik af van die betrokke deelstaat en universiteit se bepalings en voorwaardes. Indien die Latinum nie op skool behaal is nie, moet dit aan die universiteit ingehaal word. Wat natuurlik die studiejare kan verleng.
Die poging om in Duitsland 'n eenvormige Latinum daar te stel waar die onderskeid tussen die "klein" en "groot" Latinum verdwyn, lê nog êrens in die verskiet. Na gelang van deelstaat en taalvaardigheid bestaan daar ongeveer drie soorte Latinum: die klein Latinum, die Latinum (KMK-Latinum) en die groot Latinum.
Vir die Latinum moet 'n eenvoudige oerteks (byvoorbeeld 'n geskiedkundige teks deur Caesar) vertaal word. Vir die groot Latinum moet 'n abstrakter oerteks (byvoorbeeld 'n filosofiese teks deur Cicero) vertaal word. Die regsbeginsel word bepaal deur die reedsvermelde Ooreenkoms van die Kultuurministerkonferensie (2005), asook die verdere onderhewige bepalings in die onderskeie deelstate.
Al 16 deelstate ken die Latinum, wat in Berlyn, Brandenburg, Hesse, Noordryn-Wesfale, Sakse (sien bo) en in Thüringen as die enigste vorm erken word.
In Baden-Württemberg, Mecklenburg-Vorpommere, Rynland-Palts en Saarland is daar naas die Latinum ook die groot Latinum.
In Beiere bestaan daar twee soorte klein Latinum.
In die ander vyf deelstate (Bremen, Hamburg, Nedersakse, Sakse-Anhalt en Sleeswyk-Holstein) word al drie soorte Latinum aanvaar.
In der waarheid is Latynkennis onder die Latinumstandaard (soos skoolrapporte en kursussertifikate) dikwels by sommige instellings en vir sekere vakkeuses meer as voldoende.
Die regsbeginsel geld ook vir die Latinumeksamen wat in die studietyd afgelê word.
Die aanleer van die Latynse taal, sy grammatika en 'n kern- asook uitgebreide woordeskat neem in die reël minstens twee en 'n half jaar in beslag en duur vroeër selfs langer. Die huidige handboeke neem veral die oudheid onder die loep. Die onderrigmetodes het deur die loop van die jare aansienlik verander. So word die vroeë vanselfsprekende vertaaloefeninge in die Latynse taal geensins nog uitgevoer nie. Dit word dikwels selfs as onderrigspolitieke hindernis verbied.
Daarna kan met die oertekste in Latyn met 'n gepaste aanvangsles begin word. Gebruiklike skrywers sluit in Caesar se "De bello Gallico", Cicero se toesprake of briewe, Nepos, Plinius die jongere en verskeie Romeinse digters soos Catullus, Martialis of Ovidius. Onder die moeiliker werke is daar Cicero se filosofiese en retories-teoretiese werke, Horatius, Sallustus, Seneca, Livius, Tacitus of Vergilius. Buiten die Romeinse klassieke werke kom ook Laatantieke (byvoorbeeld Augustinus van Hippo), Middellatynse of Nieulatynse tekste aan bod. Buiten die vreemde taal word ook baie kennis opgedoen rondom die godeleer, geskiedenis, wysbegeerte en letterkunde uit die Romeinse en Griekse oudheid, asook die tydperke wat daarna sou volg.
Die jongste opleidingsvraagstukke behels:
Verskeie institute hou 'n wakende ogie, waaronder die klastydskrifte (Der Altsprachliche Unterricht, Friedrich Verlag Seelze), die huidige drie leerstoele in Berlyn, Göttingen en München (Stefan Kipf, Peter Kuhlmann en Markus Janka), asook die tweejaarlikse Bundeskongres (2016 in Berlyn) wat deur die Deutscher Altphilologenverband (DAV) aangebied word. Die voorsitter is tans Prof. Sabine Vogt (Universiteit van Bamberg). Tydens die kongres word die Humanismus-Preis toegeken.
Voorstanders van Latynonderrig voer dikwels die volgende argumente aan:
Eerstens verhelder Latyn die begrip rondom die wortels van die Westerse wêreld. Tweedens kan aansienlike voordele verwag word, omdat Latyn die ontwikkeling van intelligente leer- en argumenteringsstrategieë stimuleer. Derdens strek Latyn die leerling tot voordeel by die aanleer van vreemde tale – deels omdat Latyn die grammatiese begrip begunstig deels omdat baie Europese tale uit Latyn afkomstig is. Laastens moedig die aanleer van Latyn ook meer kreatiwiteit aan met die eie woordeskat en 'n verskeidenheid uitdrukkingsmoontlikhede in die moedertaal.
Hierdie aanname van die groot voordele wat Latyn bied word reeds deur Edward Lee Thorndike (1923) in twyfel getrek. Die punteverskil tussen die Natuurwetenskap- en Wiskundeleerlinge met of sonder Latynkennis vind hy onbeduidend.
In 'n langdurige navorsingstuk (2000) deur Ludwig Haag en Elsbeth Stern kon geen onderskeid by die uitwerking op intelligensie, Wiskundevaardighede tussen twee jaar Latyn en twee jaar Engels vasstel nie. Nog twee jaar later kon daar onder die leerlinge met nul/twee/vier jaar Latynonderrig geen beduidende onderskeid vasgestel word wat betref die induktiewe of deduktiewe begrip (afleidingslogika) asook teksbegrip nie. Die leerlinge met vier jaar Latynonderrig vaar wel beter as hul klasgenote (met twee/nul jaar Latynonderrig) by die opspoor van grammatikafoute in Duitse tekste en die samestelling van langer sinne uit kortes.
Haag en Stern (2003) gaan dan verder om uit te vind hoe maklik Spaans aangeleer kan word met die reedsverworwe Latynkennis. Na afloop van 'n aanvangskursus in Spaans moet 'n Duitse teks in Spaans vertaal word. Twee groepe is met mekaar vergelyk: die een groep het kennis van Frans gehad, terwyl die ander kennis van Latyn gehad het. Die studente met Latyn as tweede vreemdetaal het swakker gevaar as die studente met Frans as tweede vreemdetaal. Die swakplek van die Latyngroep is veral by die gebruik van die voorsetsels en by die vervoeging.
Die Frankfurtse romanis Horst G. Klein glo byvoorbeeld Frans is aansienlik beter as Latyn om as sogenaamde brugtaal te dien by die aanleer van ander Romaanse tale. Dit kan verklaar word deur die groot ooreenkomste wat taalleer en woordeskat betref tussen Frans en die ander Romaanse tale. Sandra Hutterli sonder onder andere by name Latyn uit as 'n taal wat as brugtaal ongeskik is.
'n Amerikaanse studie onderskraag ook nie die aanname dat Latynkennis die aanleer van mediese terminologie vergemaklik nie.
Die Latynonderrig in die Duitse taalgebied van vandag kan teruggevoer word na die Middeleeue, toe Iers-Skotse monnike sendingwerk onder die Germane doen en die eerste skole stig. In die Middeleeue en die vroeë moderne tyd bly Latyn die taal van die geestelikes en die geleerdes, wat die taal aktief en passief moet beheers, hoe onbeholpe dan ook. In die juniorfase word die kernbegrippe van Latyn geleer en lesse van die klassieke skrywers behandel. In die seniorfase word hoofsaaklik Duitse tekste in Latyn vertaal.
In die 19de eeu voer die humanistiese gimnasium met Latyn en Grieks die botoon. Elkeen wat universiteit toe wil gaan moet albei tale leer. Eers teen 1900 tydens die Pruisiese Skoolkonferensie vind die gelykstelling van die Realgymnasium met die Oberrealschule plaas. Latynonderrig duur egter nog voort by baie gimnasia tot en met die Republiek van Weimar. Onder die nuwe nasionaalsosialistiese bewind word die ou tale aanvanklik skerp bevraagteken. Die kulturele soewereiniteit (Kulturhoheit) van enkele deelstate word afgeskaf en die onderwysstelsel sentraliseer. Daar heers onsekerheid oor die toekoms van middelbare onderwys en die onderrig van die antieke tale tot 1938. Uiteindelik word die (humanistiese) gimnasium (met Latyn en Grieks) as "spesiale soort" (Sonderform) Oberschule (slegs vir seuns) toegelaat. In wese word Latyn egter weer verpligtend in die hoofstroom-Oberschule (vir seuns), en as 't ware as tweede vreemde taal vanaf die 7de skooljaar (naas Engels wat die eerste vreemde taal is).
Na 1945 word in die enkele deelstate in die Wessone hul kulturele soewereniteit terugbesorg. In die oostelike deel wat later die DDR sou word, bly die onderwys steeds sentralisties ingesteld. Terwyl in die Weste daar weer 'n opbloei in die onderrig van die antieke tale plaasvind en die algemeen-vormende karakter (Allgemeinbildender Charakter) van hierdie vakke benadruk word, kwyn dit drasties in die DDR verder weg.
Teen die einde van die 1960's tree 'n nuwe vraagstuk na vore. 'n Boek uit die VSA getiteld Bildungsreform als Revision des Curriculum (1967) wat in die boek van Saul B. Robinsohn genoem word, bevraagteken die tradisionele onderwysmetodes. Nie alleen die tradisionele Latynse skoollesse nie, maar sommer Latynonderrig in die geheel, en die geskiedenisklas (veral die onderrig van die antieke of Middeleeuse geskiedenis), kom onder skoot. Sedertdien gaan dit nie meer om die eeue-oue leerstof van geslag tot geslag oor te dra nie, maar om watter kwalifikasies (d.w.s. kennis, vermoëns en vaardighede) 'n kind, wat nou skoolgaan, moet beskik om probleme op sy toekomspad as "mondige burger" die hoof te bied. En selfstandig te wees. Sodoende is die nuwe bespreking van pligvakke en die leer- en werkmetodes in 'n beroepsgerigte rigting gestuur. Dit word gedeeltelik deurgevoer in die hervorming van die gimnasiale seniorfase vanaf 1972. Nou kon die gimnasiaste hul vakke in die seniorfase self kies, en hoef nie meer die ou tale te kies nie.
Die Latyndidaktiek in Duitsland (byvoorbeeld Rainer Nickel, Friedrich Maier, Hans-Joachim Glücklich) laat ook nie gras onder hulle voete groei nie. Met heelwat moeite gaan hulle in die 1970's tot die aanval oor om veld terug te wen. In enkele deelstate het ook vandag nog minstens 'n derde, meer dikwels selfs die helfte van alle leerlinge wat by 'n gimnasium skoolgegaan het, êrens in hul skoolloopbaan Latynonderrig gehad. Na die hereniging van Duitsland (1990) word die Latynonderrig ook by die nuwe deelstate weer sterk ingevoer. Omstreeks die jaar 2000 groei die aantal Latynleerlinge selfs sterk aan.
Die Latynonderrig op skool is keer op keer die onderwerp van hewige kritiek. Die teenstanders van die ou tale herhaal dikwels die volgende standpunte (met hul weerleggings):
As mens nog in die Duitsland van die 1950's en 1960's vasgevang is, ja. Maar in die moderne tyd is aantreklike leermateriaal en bekostigbare (en gesubsidieerde) ekstra klasse vir iedereen beskikbaar om die leemtes te vul - Mamma en Pappa hoef nie meer tot laataand oor die huiswerk te buk nie. Vroeër is ook aangevoer Latyn is 'n seunsvak. Maar meer as die helfte van die klas is dogters. Die inhoud spreek tot die hart van sowel seuns as dogters. Ook waar daar op die verheerliking van slagvelde voortborduur word, ondersoek mens eerder Caesar se oorredingsvermoë wat tussen die reëls verborge lê.
Duitsland het meer Latynleerlinge as in die verlede. Ook in die Gesamtschulen word Latyn as vak aangebied. Latyn het weliswaar geen onmiddellike nut in die werksplek nie, veral nie in die vervaardigingsbedryf nie. Maar opvoeding beteken veel meer as bloot opleiding en beroepsvoorbereiding (as om bloot net nog 'n ratjie in die groot geoliede masjien te wees); 'n mens kyk hier na uitbou en vorming van persoonlikheid, beoordelingsvermoë en die kultuur-historiese oordeelkundigheid. Latyn is wel bruikbaar wat die kernbegrippe van die grammatika betref, by die aanleer van vreemde tale, vir die vermoë om Duits te bemeester (by die vertaalwerk), algemene kennis, en die kritiese blik op die samelewing. Latyn kweek ook 'n gesonde houding en vaardighede soos noukeurigheid, grondigheid en oplossingsvermoë. Hierdie vaardighede word ook in ander velde gebruik. Hoewel dit waar is dat niemand buiten kenners Latyn aktief besig nie, behoort die tekste steeds tot die Wêreldliteratuur en die inhoud en temas bly steeds topaktueel. Cicero en Ovidius staan Shakespeare of Goethe geen stuk agteruit nie. Verder leef Latyn in baie tale voort, nie alleen in sy dogtertale nie, maar ook in Engels en Duits.
Die struktuur en uitgangsvorme is wel talryk en mens moet verskeie tegnieke gebruik en ontwikkel om die Latynse teks baas te raak. In hierdie opsig kan mens wel van 'n veeleisende vak praat. Die uitspraak en spelling is wel maklik - elkeen wat kan lees, kan Latynse tekste voorlees. Daar is Engels en Frans baie moeiliker. Om aan te voer Latyn is 'n "drilvak" ('Paukfach'), beteken dit om "sonder enige sin" te leer, en dit is nie so nie. Dit is soms nodig om op strukturele wyse die uitgangsvorme en woordeskat intensief uit die kop te leer. Juis daarom kan Latyn help hoe om te leer: leer hoe om te leer. Dit kom ander vakke ook heeltemal ten goede. Om te leer is by tye soms moeilik, maar dit is altyd sinvol en berei mens voor vir die toekoms. Hoewel die onderwyser en die onderrig droog of interessant kan wees, is die leerplan moderniseer en die tekste en inhoud gekies wat by die leerling pas. Hierdie motiverende prikkels beteken geen kwaliteitsverlies nie, maar is 'n bate om die kwaliteit te verbeter, juis omdat die lesse vir die leerlinge aangenaam is.
Die aanleer van Latyn gaan dikwels ten koste van 'n moderne vreemdetaal, in die reël Frans. Die Europese Kommissie, wat op die gebied van vreemde tale 'n beleidsfunksie beklee, erken weliswaar die wesentlike belang by die aanleer van ou tale. In die praktyk skep hierdie liggaam egter 'n versperring teen Latynonderrig, omdat twee moderne Europese tale naas die moedertaal by skoolverlaters toenemend ingeprent word (met verwysing na die "Witskrif oor Onderwys en Opleiding" van 1995). As mens die statistiek van al die deelstate van Duitsland se onderwysdepartemente egter van nader bekyk, kies die meeste Latynleerlinge in elk geval vele vreemde tale op skool. Dit is nie soseer omdat die aantal bleeksiele onder die Latynleeringe hoër is nie, maar omdat Latyn 'n grondvak is en die aanleer van vreemde tale aansienlik vergemaklik.
In van die debatte in die middel-2000's word die vierjarige Latynonderrig se gehalte gekritiseer. In weerwil van die groot steun wat hierdie vak kry, versleg die standaard. Hierdie kritiek val egter gereeld op dowe ore. Daar word skerp gestel: "Nog nooit het so baie leerlinge in Duitsland so sleg Latyn geleer nie".
In Duitsland is Latyn 'n vreemde taal wat die derde meeste geleer word. Onder die Europese lande het hierdie rang intussen 'n uitsondering geword, selfs al word Latyn in die meeste Europese lande nog aangebied.
In die afgelope jare het die aantal Duitse leerlinge in die vak Latyn gestyg tot 807 800 (in die skooljaar 2010/2011 by algemeen-vormende skole; dit is 9,2% van die 8,8 miljoen leerlinge landwyd; tussen 11,6% in Beiere en 3,4% in Thüringen). Twee jaar later het die syfer teruggesak: 740 302 leerlinge (= 8,7% van die hele Duitse leerlingbevolking ), die meeste 11,4% in Beiere, die minste 3,2% in Thüringen.
Latynonderwysers met opleiding in die Latynse filologie word tans in die meeste deelstate opgeraap. Skole gooi ook hul deure oop vir persone met akademiese opleiding in die vakgebied, maar wat geen spesiale onderwyskursusse gevolg het nie en ook nie by skole geproef het nie. Tans verlaat daar jaarliks slegs 225-375 leerkragte die Studieseminare met die tweede staatseksamen. Dit is juis hierdie gesogtheid van hierdie vak ter voorbereiding van die hoër onderwys wat hom nog 'n plek gun in 'n wêreld wat deesdae deur moderne vreemde tale oorheers word.
SJ 07/08 | SJ 08/09 | SJ 09/10 | SJ 10/11 | SJ 11/12 | SJ 12/13 | SJ 13/14 | SJ 14/15 | Verandering vanaf 07/08 tot 14/15 | |
Latyn | 825 275 | 832 891 | 822 673 | 807 839 | 772 705 | 740 302 | 709 407 | 688 625 | – 16,6 % |
Frans | 1 697 026 | 1 700 116 | 1 694 173 | 1 649 922 | 1 632 803 | 1 599 073 | 1 556 275 | 1 535 600 | – 9,5 % |
Spaans | 285 480 | 320 599 | 337 294 | 362 295 | 374 664 | 384 781 | 391 552 | 404 183 | + 41,6 % |
Russies | 99 991 | 99 884 | 101 377 | 104 464 | 106 620 | 108 391 | 107 132 | 108 922 | + 8,9 % |
Leerlinge van algemeen-vormende skole | 9 183 811 | 9 023 572 | 8 905 800 | 8 796 894 | 8 678 196 | 8 556 879 | 8 420 111 | 8 366 666 | – 8,9 % |
Die persentasies uit die totale nasionale leerlingtal volgens uitgesoekte eerste, tweede, derde en vierde vreemde taal in Duitsland. | ||||||||||
SJ 07/08 | SJ 08/09 | SJ 09/10 | SJ 10/11 | SJ 11/12 | SJ 12/13 | SJ 13/14 | SJ 14/15 | Jaarlikse groei | Groei oor agt jaar | |
Engels | 70,80 | 70,27 | 70,71 | 71,26 | 71,36 | 71,39 | 71,51 | 71,61 | 0,14 | 1,14 |
Frans | 16,29 | 16,34 | 16,01 | 15,42 | 15,43 | 15,34 | 15,23 | 15,12 | -0,93 | -7,75 |
Latyn | 7,92 | 8,01 | 7,78 | 7,55 | 7,30 | 7,10 | 6,94 | 6,78 | -1,93 | -16,85 |
Oudgrieks | 0,15 | 0,15 | 0,14 | 0,13 | 0,13 | 0,12 | 0,12 | 0,12 | -3,34 | -31,23 |
Spaans | 2,74 | 3,08 | 3,19 | 3,39 | 3,54 | 3,69 | 3,83 | 3,98 | 4,77 | 31,13 |
Italiaans | 0,50 | 0,54 | 0,53 | 0,55 | 0,55 | 0,56 | 0,52 | 0,50 | 0,05 | 0,41 |
Russies | 0,96 | 0,96 | 0,96 | 0,98 | 1,01 | 1,04 | 1,05 | 1,07 | 1,39 | 10,49 |
Turks | 0,11 | 0,10 | 0,10 | 0,11 | 0,07 | 0,12 | 0,12 | 0,12 | 0,73 | 5,67 |
Ander/Nie vermeld | 0,53 | 0,55 | 0,58 | 0,61 | 0,62 | 0,64 | 0,68 | 0,70 | 3,70 | 25,20 |
Totale aantal Latynstudente per studiejaar aan Duitse tersiêre instellings | |||||||||||||||||||
1998/ 1999 | 1999/ 2000 | 2000/ 2001 | 2001/ 2002 | 2002/ 2003 | 2003/ 2004 | 2004/ 2005 | 2005/ 2006 | 2006/ 2007 | 2007/ 2008 | 2008/ 2009 | 2009/ 2010 | 2010/ 2011 | 2011/ 2012 | 2012/ 2013 | 2013/ 2014 | 2014/ 2015 | 2015/ 2016 | ||
Duitse studente | Manlik | 1265 | 1 145 | 1 101 | 1 040 | 1 065 | 1 076 | 981 | 1 080 | 1 207 | 1 258 | 1 374 | 1 410 | 1 463 | 1 603 | 1 621 | 1 650 | 1 618 | 1 444 |
Vroulik | 1520 | 1 395 | 1 385 | 1 300 | 1 406 | 1 409 | 1 419 | 1 657 | 1 931 | 2 102 | 2 282 | 2 363 | 2 477 | 2 561 | 2 530 | 2 493 | 2 306 | 1 957 | |
Altesaam | 2785 | 2 540 | 2 486 | 2 340 | 2 471 | 2 485 | 2 400 | 2 737 | 3 138 | 3 360 | 3 656 | 3 773 | 3 940 | 4 164 | 4 151 | 4 143 | 3 924 | 3 401 | |
Buitelandse studente | Manlik | 44 | 54 | 47 | 46 | 49 | 52 | 33 | 39 | 38 | 34 | 39 | 43 | 43 | 49 | 50 | 43 | 33 | 33 |
Vroulik | 56 | 56 | 58 | 68 | 69 | 93 | 76 | 75 | 78 | 82 | 81 | 83 | 81 | 89 | 81 | 82 | 86 | 74 | |
Altesaam | 100 | 110 | 105 | 114 | 118 | 145 | 109 | 114 | 116 | 116 | 120 | 126 | 124 | 138 | 131 | 125 | 119 | 107 | |
Duitse en buitelandse studente | Manlik | 1 309 | 1 199 | 1 148 | 1 086 | 1 114 | 1 128 | 1 014 | 1 119 | 1 245 | 1 292 | 1 413 | 1 453 | 1 506 | 1 652 | 1 671 | 1 693 | 1 651 | 1 477 |
Vroulik | 1 576 | 1 451 | 1 443 | 1 368 | 1 475 | 1 502 | 1 495 | 1 732 | 2 009 | 2 184 | 2 363 | 2 446 | 2 558 | 2 650 | 2 611 | 2 575 | 2 392 | 2 031 | |
Altesaam | 2 885 | 2 650 | 2 591 | 2 454 | 2 589 | 2 630 | 2 509 | 2 851 | 3 254 | 3 476 | 3 776 | 3 899 | 4 064 | 4 302 | 4 282 | 4 268 | 4 043 | 3 508 |
Verdeling van leerlinge wat Latyn en Oudgrieks as tweede vreemde taal leer (aanvang van nuwe skooljaar 2015) | ||||||
Tipe skool | Graad | Totale aantal leerlinge per graad | Latyn | Oudgrieks | ||
Leerlinge | % | Leerlinge | % | |||
Staatskool | Cinquième | 620 177 | 115 109 | 18,6 | - | - |
Quatrième | 620 850 | 95 756 | 15,4 | - | - | |
Troisième | 634 830 | 84 887 | 13,4 | 12 581 | 2,0 | |
Totaal cinquième tot troisième | 1 875 857 | 295 752 | 15,8 | 12 581 | 2,0 | |
Seconde générale et technologique | 448 215 | 17 551 | 3,9 | 5 159 | 1,2 | |
Première générale et technologique | 391 410 | 13 826 | 3,5 | 3 775 | 1,0 | |
Terminale générale et technologique | 383 753 | 12 735 | 3,3 | 3 436 | 0,9 | |
Totaal second cycle général et technologique | 1 223 378 | 44 112 | 3,6 | 12 370 | 1,0 | |
Totaal Staatskool | 3 099 235 | 339 864 | 11,0 | 24 951 | 1,3 | |
Privaatskool | Cinquième | 172 667 | 41 346 | 23,9 | - | - |
Quatrième | 171 810 | 33 072 | 19,2 | - | - | |
Troisième | 174 357 | 30 345 | 17,4 | 3 161 | 1,8 | |
Totaal cinquième tot troisième | 518 834 | 104 763 | 20,2 | 3 161 | 1,8 | |
Seconde générale et technologique | 117 995 | 11 159 | 9,5 | 2 270 | 1,9 | |
Première générale et technologique | 106 955 | 8 893 | 8,3 | 1 589 | 1,5 | |
Terminale générale et technologique | 102 319 | 8 525 | 8,3 | 1 514 | 1,5 | |
Totaal second cycle général et technologique | 327 269 | 28 577 | 8,7 | 5 373 | 1,6 | |
Totaal Privaatskool | 846 103 | 133 340 | 15,8 | 8 534 | 1,7 | |
Staatskool en Privaatskool | Cinquième | 792 844 | 156 455 | 19,7 | - | - |
Quatrième | 792 660 | 128 828 | 16,3 | - | - | |
Troisième | 809 187 | 115 232 | 14,2 | 15 742 | 1,9 | |
Totaal cinquième tot troisième | 2 394 691 | 400 515 | 16,7 | 15 742 | 1,9 | |
Seconde générale et technologique | 566 210 | 28 710 | 5,1 | 7 429 | 1,3 | |
Première générale et technologique | 498 365 | 22 719 | 4,6 | 5 364 | 1,1 | |
Terminale générale et technologique | 486 072 | 21 260 | 4,4 | 4 950 | 1,0 | |
Totaal second cycle général et technologique | 1 550 647 | 72 689 | 4,7 | 17 743 | 1,1 |
Die Franse statistiek sit spesiaal 'n tabelletjie opsy om aan te toon uit watter sogenaamde "klas" van die samelewing die meeste leerlinge van Latyn kom. Ten eerste is die leerlinge persentasiegewys nogal 'n rapsie meer in die privaatskole as in die staatskole (veral in die hoër standerds). Ten tweede word 'n klasstelsel (gegrond op die beroepe van die ouers of voogde) bedink waaruit die leerlinge glo vandaan sou kom:
Die statistiekblad van die Departement van Nasionale Onderwys draai geen doekies om nie:
Frans | Afrikaans |
L’étude du latin demeure fortement liée à l’origine sociale. | Latynonderrig staan steeds in noue samehang met die maatskaplike herkoms. |
Ainsi, en classe de cinquième, seulement 12,6 % des élèves d’origine sociale défavorisée apprennent le latin, | Dus, in die cinquième (7de skooljaar; 12-jariges) leer slegs 12,6% van diegene uit 'n agtergeblewe agtergrond Latyn. |
contre 31,8 % des élèves d’origine très favorisée. | Daarteenoor leer 31,8% van die leerlinge vanuit 'n gegoede agtergrond Latyn. |
Le constat est le même en classe de troisième : | In die troisième (9de skooljaar; 14-jariges) lyk dit nie veel anders nie: |
9,0 % desélèves de milieu défavorisé étudient le latin, contre 23,2 % des élèves de milieu très favorisé. | daar is die syfer 9,0% by die agtergeblewenes teenoor 23,2% by diegene uit 'n baie bevoorregte agtergrond. |
Hier is die onderstaande tabel:
Verdeling van die studente in Latyn op “collège“ volgens maatskaplike afkoms (begin van nuwe skooljaar, 2015) | ||||||
Favorisée A | Favorisée B | Moyenne | Défavorisée | Totaal | ||
Aantal Latynleerlinge | Cinquième | 58 183 | 21 491 | 38 303 | 38 479 | 156 455 |
Quatrième | 47 938 | 18 047 | 31 676 | 31 167 | 128 828 | |
Troisième | 43 125 | 16 502 | 28 023 | 27 581 | 115 232 | |
Totaal cinquième tot troisième | 149 246 | 56 040 | 98 002 | 97 227 | 400 515 | |
Persentasie Latynleerlinge | Cinquième | 31,8 | 21,6 | 18,0 | 12,6 | 19,7 |
Quatrième | 26,1 | 18,0 | 14,8 | 10,3 | 16,3 | |
Troisième | 23,2 | 16,0 | 12,8 | 9,0 | 14,2 | |
Totaal cinquième tot troisième | 27,0 | 18,5 | 15,2 | 10,6 | 16,7 |
In Italië is Oudgrieks en Latyn pligvakke aan die Liceo Classico (Humanistiese Gimnasium). Die lesure is altesaam 5 ure lank per week vir Latyn en 4 uur per week vir Oudgrieks. Die Liceo Classico duur 5 jaar. In 2014/2015 was 6% van die Italiaanse leerlinge skoolgaande by die Liceo Classico (10-11% in 2003/2004). Latyn is egter ook 'n pligvak by die Liceo Scientifico (Wetenskaplike Gimnasium, 15,4% van die Italiaanse leerlinge van 2014/2015) en die Liceo delle scienze umane (Geesteswetenskaplike gimnasium, 7,4%). Altesaam leer 28,8% van die Italiaanse leerlinge Latyn.
By 39 gimnasia in Nederland in die skooljaar 2022/2023 word die aantal leerlinge geraam op 177 "dubbelvakkers", dit wil sê, leerlinge wat Grieks en Latyn neem. Maar in hierdie skooljaar, uit die 4 531 kandidate wat Nederlands neem, was daar 1 639 leerlinge wat Grieks geneem het, en 3 069 Latyn. As mens die syfers van Grieks en Latyn bymekaar sou tel, is dit 177 meer as vir Nederlands. Wat mens wel moet onthou is dat daar instromelinge is wat vir hul havo-diploma (Hoger algemeen voortgezet onderwijs) vrystelling soek vir die ckv (Culturele en kunstzinnige vorming). Verdere statistiek sluit in:
Sou mens egter na die geheelbeeld kyk, en kyk na die aantal eksamenkandidate oor die algemeen, wat nie noodwendig Nederlands neem nie, in die jaar 2022 vir havo en vwo onderskeidelik, lyk die syfer anders. Dit benadruk onder meer die kosmopolitiese aard van Nederland self. Maar, die aantal kandidate is gegrond op die aantal eksamens wat deur die skole bestel is. Die aantal kandidate wat in die werklikheid die eksamen aflê, is dikwels 5 tot 10 persent laer, omdat skole soms om veiligheidsredes meer aanvra (soos as 'n vraestel beskadig sou word). Die vwo staan vir Voorbereidend wetenschappelijk onderwijs, dus, diegene wat universiteit toe wil gaan.
Vak | havo | vwo |
---|---|---|
Engels | 54 966 | 41 374 |
Nederlands | 54 956 | 40 890 |
Duits | 15 278 | 19 830 |
Frans | 10 080 | 15 095 |
Latyn | - | 7 001 |
Spaans | 1 283 | 2 509 |
Grieks | - | 3 114 |
Arabies | 95 | 50 |
Fries | 55 | 35 |
Turks | 26 | 32 |
Russies | 15 | 40 |
In Oostenryk is Latyn 'n toelatingsvereiste vir baie vakrigtings en daarom by die gimnasium (maar nie by die Realgymnasium nie) 'n verpligte bestanddeel van die leerplan. Latyn kan by die gimnasium vanaf die 7de skoolvlak (3de graad in die gimnasium) onderrig word. Wanneer daar in die 7de skoolvlak reeds 'n ander vreemde taal gekies kan word, word Latyn vanaf die 9de skoolvlak (5de graad in die gimnasium) verpligtend. Die jongste ontwikkeling toon in die juniorstanderds van die gimnasium word graag 'n tweede, lewende vreemde taal gekies, naas Latyn in die seniorstanderds wat in elk geval verpligtend is.
In die Realgymnasium kan vanaf die 9de skoolvlak (5de graad in die gimnasium) nog 'n vreemde taal gekies word. Dit is meestal Latyn of Frans, maar dikwels is Spaans of Italiaans ook 'n beskikbare vak. Ook by handelskole word Latyn dikwels as keusevak aangebied.
Universiteite vereis minstens 10 lesure Latyn vanaf die 9de skoolvlak, waarby elkeen van die reedsvermelde vorme erken word. Andersins word die Latinum vereis. Latyn het daarom 'n stewige vastrapplek in Oostenryk.
In die Latynskole van die Middeleeue is oorwegend Latyn geleer. Met tot drie ure Latyn per dag kon 'n skoolverlater die taal byna praat, en in ieder geval vlot lees, sodat (Nieu-)latynse tekste geen hindernis gestel het nie. In die 19de eeu was Latyn steeds die kenmerkende leervak van die gimnasium en word vanaf die 5de skoolvlak (1ste graad in die gimnasium) onderrig. In die latere Realgymnasium was Latyn vanaf die 7de skoolvlak (3de graad Realgymnasium) vir ses jaar lank verpligtend. Die verskil tussen die gimnasium van die ander tipes skole soos die Realschule (wat nie met die Realgymnasium verwar moet word nie, hoewel hierdie skool na die Realgymnasium toe ontwikkel het), was die handelstale soos Frans en later Engels wat die voorgrond betree het. 'n Eerste hervorming vind in 1927 plaas toe Latyn ook in die hoofstroomskole as keusevak ingestel is om die oorgang na die Realgimnasium te vergemaklik. Die geringe aanbod word egter nie aangeneem nie. Latyn was tot in die 1960's vanaf die 5de skoolvlak (1ste graad gimnasium) 'n verpligte vak. Na die hervormings ingevolge die skoolwet is Latyn gewoonlik eers vanaf die 7de skoolvlak (3de graad gimnasium) verpligtend, terwyl vanaf die 5de skoolvlak Engels aangebied word.
Volgens Historya języka Łacińskiego w Polsce (1833) deur Karol Mecherzyński loop die paadjie van Latyn in Pole soos volg:
Latyn is volgens die Romeinse ritus in 965 saam met die Christendom in Pole ingevoer. Die eerste priesters is vernaamlik uit Duitsland en Italië gestuur om die Pole te bekeer en te bearbei. Toe die barbaarse Franke, Lombarde, Gote en Slawe ensomeer nog nie in hul eie taal kon skryf nie, word wet en orde in Latyn geskrywe en gehandhaaf.
Om die Christendom (en uitlegging) verstaanbaar onder die Pole te maak, skyn dit of daar tog aanvanklik oorweeg is om die nasionale taal uit te bou, maar hierdie besluit val op dowe ore en die Poolse moedertaal bly sodoende agterweë. Die geestelikes gestuur uit die buiteland het nie die volkstaal van die kerkgangers geken nie en hul nog minder die moeite getroos om Pools aan te leer. Hul apostolaat begin en eindig gewoon by die liturgie, en dit was nou maar eenmaal in Latyn. En basta.
Die Tsjeggiese priesters was veel meer toegeneë om in Tsjeggies te preek, juis omdat hierdie Slawiese taal op daardie tydstip nog veel nader op die sustertaal, Pools, gelyk het. Maar die taalinvloed op Pools was skynbaar nul. Kennis is mag, en die uitlandse geestelikes het oor al die wysheid en pag beskik, soos net verwoord kon word in Latyn. Hierdie Latyn was dié internasionale simbool van beskawing, terwyl Pools (en alles wat daarmee vereenselwig word) beskou is alles wat onbeskaafd en agterlik is: wild, barbaars, en bowenal, vatbaar vir die heidendom. 'n Suiwer dichotomie is daargestel om Latyn as die verhewe taal van die inligting (kerklik, wêreldlik en wetenskaplik) die volk te probeer oorhaal deur die aanloklike voordele van Latyn soos glinsterende sierade aan te bied; iets wat die volkstaal natuurlik nog nie kon nie. Op hierdie wyse het Latyn 'n noodsaaklike en onmisbare behoefte in Pole geword, die taal van vooruitgang. Maar vir 'n lang tyd kon geen landgenoot as priester of amptenaar dien of kroniek uitgee nie; diegene wat opgang wou maak, of hulself bo die gepeupel wou laat uitstyg, moes Latyn ken.
Daar was reeds Latynse skole met die invoer van die Christendom vanaf 950 tot 1100, nog lank voor die eerste kloosters opgerig is. Deur Pole se betrekking met Italië word heelwat leesstof ingevoer. Tussen 983 en 1005 sorg Urban, die tweede Biskop van Wrocław, dat kinders en jongmense in Latyn geletterd sou word; en daarvoor sou 'n skool in Smogorzów gebou word. Kloosters en abdye het egter apart van hierdie skole gebly, hoewel eersgenoemdes oor die algemeen die gewildste vorm was om Latyn aan die leek oor te dra. In hierdie eeu het die Italianers en Duitsers onder die bewind van Mieszko I die grondslag van die Poolse opvoeding gelê; talryke manuskripte is vanuit Italië na Pole ingevoer.
Maar Pole is nie in een dag bekeer nie, en die aanleer van Latyn groei maar stadig saam met die Christendom. Eers onder Kazimierz I is die Christendom gevestig en konstant aanwesig in die land; die gebruik van die Latynse taal word sodoende verder uitgebrei. Eers toe Latyn op skool en aan die hof nou ongetwyfeld gevestig was, ontwikkel die nasionale taal baie stadig deur die vertaling uit Latyn.
In 2009 leer sowat 35 000 leerlinge Latyn. Daar was sprake van om Latyn by die seniorstanderds by die Lyzeums uit te brei.
In die jare voor tsaar Pieter die Grote het Latyn maar 'n skrale bydrae tot die diplomasie, geneeskunde en onderrig onder die hoëlui gelewer. Bewerings dat die Russiese diplomate gedurende die 16de tot 17de eeu in hul amp op die ambassades in Wes-Europa Latyn op die een of ander wyse aangeleer het, bly in onsekerheid gehul. Lesmateriaal en onderwysverwante tekste is wel uit Latyn in Russies vertaal, net soos daar ook uit Duits en Frans in Russies vertaal is. Russies was ook die voertaal waarmee Latyn aangeleer is; tekste is oor en weer uit Russies in Latyn en vica versa vertaal. As voertaal is elke Russiese universiteit carte blanche gegee: party kursusse was in Latyn aangebied, ander kursusse het weer slegs Russies as voertaal gehad, en ander het parallelmedium in sowel Latyn as Russies gevolg. Net soos party kursusse of lesmateriaal ook in Duits en Frans aangebied is. Onder die bewind van Katharina die Grote is Latyn nog verder na die kantlyn geskuif: Rusland het meer volksbewus geword, Frans het as prestigetaal onder die hoogadellikes en die diplomasie geskitter [dikwels omrede die uitspraak van Latyn as lingua franca onverstaanbaar geword het, omrede elke volk Latyn anders leer uitspreek het], die reaksionêre groep wat hul betoë en pleidooie in Latyn gelewer het was al hoe meer slegs in Wes-Europa gesentreer - al hierdie faktore [maar ook die Verligting] het die moedertaal as onderrigtaal in Rusland geregverdig. Rusland was geen uitsondering op die reël nie; menige Europese lande het dieselfde hervormingspaadjie geloop. Toe Josef II in 1784 Duits die uitsluitlike amptelike taal in Oostenryk-Hongarye gemaak het en Latyn verban het, het Russies in dieselfde dekade nuwe status begin kry.
Hierdie agteruitgang van Latyn is nie noodwendig toe te skryf aan die afwesigheid van die eeue-oue tradisie van Latyn as leertaal soos in Wes- en Sentraal-Europa die geval was nie. Teen die 18de eeu was Latyn tog geen nuutjie in Rusland meer nie. Nog minder was die debat rondom Latyn wat in Wes-Europa gewoed het (en in Rusland aangehoor is), wat later ook teen die laaste helfte van die agttiende eeu onder die hoogadel 'n besprekingpuntjie sou word en die toekomstige taalbeleid sou skaaf. In die koningshuis self het die onderwyser (Frédéric-César de La Harpe) van die kleinkinders (Aleksander I en Konstantyn Pawlowitsj) van Katharina II aangevoer Latyn is oorbodig - die tsarin het hom gelyk gegee. Nietemin het van die adel hul kinders in Duitsland en Frankryk laat leer - en hierdie instansies het dikwels steeds Latyn as pligvak gestel, of as voertaal laat dien. Selfs al het Frans ook baie van die oorspronklike funksies van Latyn oorgeneem, het heelwat Franse handboeke die leser aangeraai om Latyn as byvak te neem om die geskiedenis van Frans ten volle te begryp en waardeer. Dit het Latyn opnuut onder die aandag van die adel gebring.
In Suid-Afrika was Latyn aanvanklik een van die verpligte matriekvakke.
Goewerneur De Chavonnes het in 1714 gepoog om die skoolstelsel te verbeter en die eerste Latynse skool is gestig. Daar is ook voorts bepaal dat alle onderwysers, ook dié wat van plaas tot plaas getrek het, getoets moes word. Die Latynse skool in die Kaap het egter nie lank bestaan nie, omdat welgestelde ouers hul kinders vir verdere opleiding na Europa gestuur het. Hierdie Latynskool, onder leiding van Ds. Slicken, bestaan vanaf 1714 tot 1728. Eers teen 1793 maak 'n Latynskool weer sy deure oop. Tog was daar privaat-Latynonderwysers wat gereeld gekom en gegaan het. Een voorbeeld is Otto Friedrich Mentzel (geskool te Joachimsthal Gimnasium in Berlyn) wat in 1733 in die Kaap aangekom en die kroos van Paul Keyser, die seun van eks-Goewerneur Jan de la Fontaine asook die kinders van Luitenant Rudolph Siegfried Alleman onderrig het. Predikante kon ook Latynonderrig gee, waar nodig. Van die eerste Latynse tekste in en oor Suid-Afrika uit Suid-Afrika self sluit in dié van Willem ten Rhyne (Schediasma de Promontorio Bonae Spei, 1686), Johannes Guilihelmus De Grevenbrouk ('n privaatversameling van 81 boeke in Latyn, asook sy eie briewe geskrewe in "woordeboeklatyn"), en Gijsbert Hemmy (Oratio Latina de Promontorio Bonae Spei, 1767). Meestal handel hierdie werke oor die KhoiKhoin, maar ook die klimaat, omgewing, plante- en dierelewe.
Op 5 Julie 1822 het lord Charles Somerset 'n proklamasie uitgevaardig dat Engels die enigste amptelike taal in die Kaapkolonie is. Engels en Latyn was die enigste tale wat in die staatskole onderrig kon word.
Vroeër jare is Latyn as vak aangebied in omtrent elke skool. T.J. Haarhoff het reeds in Die Klassieke in Suid-Afrika (1931) gewaarsku teen die verswakking van die posisie van die derde taal op skool en dat dit nie in die eerste plek die Engelse skole is wat Latyn uitskakel nie, maar "ons eie Afrikaanse skole, en dit is die Afrikaner-kind wat sal ly". Skaars 40 jaar later (1971) sou die plattelandse prokureurs en ouers wat hul kinders in die regsberoep wou sien, Latyn as 'n struikelblok beskou. In die 1940's het belangstelling in Latyn as 'n matriekvak verder begin daal, veral by Afrikaanse skole (wat later deur Duits Derde Taal vervang sou word as universiteitstoelatingsvak tot in die vroeë 1970's; lees Duits as vreemde taal), wat daarop dui dat Latyn moontlik nie meer 'n verpligte toelatingsvak tot universiteit was nie. In die Staatskoerant van 22 April 1955 word Latyn slegs as 'n keusevak gelys wat toelating kan gee tot die matrikulasiesertifikaat en moontlike universiteitstoelating.
C.M. van den Heever merk die tanende belangstelling reeds teen 1935 op:
Ten spyte van die tanende belangstelling kon Latyn nou vir die eerste keer volgens die Suid-Afrikaanse Staatskoerant van 21 Junie 1951 aan Suid-Afrikaanse universiteite tot op meestersgraadvlak bestudeer word, soos bepaal op bl. 34:
Nietemin was die medium van onderrig op Afrikaanse skole in hierdie vak hoofsaaklik in Engels, weens 'n gebrek aan Afrikaanse handboeke, en verder het dit moeiliker geword om bevoegde onderwysers vir die vak te kry (terwyl onderwysers uit Nederland en België voor die erkenning van Afrikaans hierdie leemte maklik sou kon vul). Die hulp van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is ingeroep om praktiese wenke aan die hand te doen wat betref die onderrig van Latyn op skool. 'n Memorandum is opgestel wat by voltooiing in 1961 aan die verskillende onderwysdepartemente en belangstellendes gestuur is, wat op hul beurt weer ernstige aandag aan die saak gegee het. Die afwesigheid van Latynhandboeke in Afrikaans, maar ook sy nou fakultatiewe aard as universiteitstoelatingvak, is maar enkele van die redes wat daartoe gelei het dat meer Engelstalige as Afrikanerskoolverlaters in Suid-Afrika 'n beter en konserwatiewer vakkeuse in die vroeë 1960's kon uitoefen om eindelik geneeshere, ingenieurs, regsgeleerdes en soortgelyke professionele werkers deur tersiêre instellings te word.
Skoolhoofde het self ook tot die agteruitgang van Latyn bygedra. In 'n huldeblyk ter viering van Henri Gonin se 70ste verjaarsdag, skryf Piet Meiring op 2 Desember 1976 in Die Beeld hoe skoolhoofde Latyn afkeur (ten gunste van 'n vak soos kriminologie) bloot omdat dit die eksamenprestasies van die skool laat daal.
In 1980 het daar nog slegs 18,1% skole in Suid-Afrika Latyn aangebied, en slegs 1,6% leerlinge het Latyn as een van hulle vakke gehad. Vanaf 1983 tot einde 1988 het die getal Latynmatrikulante in Transvaal van 305 tot 252 gedaal. In 1988 was daar in die Kaapprovinsie 260 Latynmatrikulante, Oranje-Vrystaat 38, Natal 64, Gemeenskaplike Matrikulasieraad 35 en Onderwys en Opleiding 25. Na raming het daar jaarliks nie meer as omtrent 10 universiteitstudente in die Vakdidaktiek Latyn klaargemaak nie. Die Universiteit van Pretoria het toe kragte saamgespan met Unisa en ander vrywilligers om elementêre Latynklasse vir standerd 4 en 5 leerlinge op vrywillige basis aan te bied.
Vanaf 1994 het die Suid-Afrikaanse prokureursorde egter verklaar dat dit nie meer nodig is om Latyn op sekondêre of universiteitsvlak te neem nie. Afrikaans gebruik Latyn nog grootliks in die vaktaal van die wetenskap. Benewens formele skool- en universiteitsopleiding bestaan daar wel die Schola Scripta-kursus wat deur afstandonderrig geskied. Meer as 700 studente uit alle ouderdomme, vanaf Graad 6, van regoor Suid-Afrika heen het die kursus tussen 2000–2010 voltooi.
Volgens 'n lesersbrief van 'n privaatskool-Latynonderwyser gerig aan Volksblad, het 2015 waarskynlik slegs een matrikulant in Suid-Afrika opgelewer wat Latyn geneem het. Die leerling het die vak met 'n onderskeiding geslaag. Tussen 23 Januarie en 25 Februarie 2016 het die Volksblad heelwat opinies gekry omtrent die waarde van Latyn as skoolvak. In 2016 het net twee leerlinge in die Wes-Kaap Latyn as tweede addisionele taal geneem en wel in matriek aan die Rynse Hoër Meisieskool op Stellenbosch en in gr. 11 aan die Privaat Skool Curro op Langebaan.
In Duitsland is Latyn derde op die ranglys van vreemdetaalkeusevakke by die skole van algemene onderwys (naas Engels en Frans), hoewel sewende by die ambagskole. Terwyl Europese lande, soos Duitsland, grootliks nog Latyn doseer omrede Latyn jare lank die beskawings-, regs- en godsdienstaal was (en daarom ook in die oudste geskrifte gevind kan word as die voertaal), sien Suid-Afrika anders daaruit. 'n Hewige debat of Latyn in die kurrikulum van voornemende regsgeleerdes behoue moes bly, het teen die middel van die 20ste eeu ook sy beslag gekry en met elke dekade verder in sy felheid toegeneem, tot en met die afskaffing daarvan in 1994.
Volgens twee Suid-Afrikaanse beroepsgidse van 1937 en 1962 (voor en ná die republiekwording van Suid-Afrika) was die matrikulasievrystelling met Latyn 'n voorvereiste vir die advokaat sowel as prokureur; indien Latyn nie op skool tot Standerd 10 geneem is nie, moes dit op universiteit begin word.
1950's
In 1956 het 'n komitee onder die voorsitterskap van advokaat A.A. Roberts bevind Latyn is nie in belang van die prokureursberoep nie.
En in 1957 is daar ook gepoog om Latyn as vereiste by prokureurs af te skaf. Die rede wat die Minister van Justisie en die Gemeenskaplike Komitee vir Professionele Eksamens hiervoor aangevoer het, is: daar is te min geleentheid op die platteland vir skoliere om dosering in Latyn te ontvang, omrede daar 'n gebrek aan bevoegde onderwysers is om hierdie vak aan te bied, met dien gevolge dat die stedelike leerling in hierdie opsig onregverdige voorkeur sou kry. Kansgelykheid was daarmee die oogmerk.
'n Wetsontwerp is sodoende ingedien en voorgelê om hierdie wetgewing te bekragtig. Maar die wetsontwerp het hewige teenkanting gekry, en 'n konferensie van universiteitsdosente in die regte, het op 24 Julie 1957 vergader en hierdie spesifieke bepaling in die wetsontwerp eenparig teengestaan.
Van die redes sluit in:
Die ongelukkigheid het onder andere ook geheers omdat die regering besluit het om Latyn as 'n vereiste vir die Prokureurstoelatingseksamen te skrap, sonder dat die Prokureursorde hieroor geraadpleeg is, moontlik omdat die Vereniging van Wetsgenootskappe op meer as een geleentheid die afskaffing afgekeur het. Dit was egter sterk te betwyfel of enige universiteit, in sy eie hoedanigheid, vir sy eie diploma- of graadkursus Latyn sou uitskakel, want geen universiteit by die betrokke konferensie was daarvoor te vinde nie.
Die Minister van Justisie het die wetsontwerp teruggetrek, en geen haan het vir die volgende 10 jaar daarna gekraai nie, maar "op versoek van die Departement van Justisie het verskeie universiteite egter in die sestigerjare grade in die regte (B. Iuris) sonder Latyn ingestel."
1960's
In 1968 dreig die wending weer teen Latyn, toe die Sekretaris van Justisie in sy jaarverslag van 1967 'n pleidooi lewer om Latyn af te skaf - wat ook die LL.B.-graad insluit. Maar die Algemene Balieraad, Vereniging van Wetsgenootskappe en die pers was sterk gekant teen die afskaffing daarvan, en het eerder vir sy behoud gestry. In die daaropvolgende jaarverslag van 1968 wys die Sekretaris van Justisie daarop dat "moontlik 80% van alle regspraak in die Republiek in die landdroshowe verrig word, vir die behartiging waarvan geen Latyn van die regsprekendes vir daardie howe vereis word nie." En kom tot die slotsom dat daar nou finaliteit oor hierdie saak bereik moet word wat Latyn se plek in die regsopleiding is.
Dit het weer 'n hewige reaksie uitgelok, en hierdie maal het die vaktydskrif De Rebus 'n meningsopname van stapel gestuur onder prokureurs en leerklerke. Die vraag is gestel:
"Is u ten gunste van Latyn as voorvereiste vir prokureurs wat
Die eerste 800 vraelyste wat teen Augustus 1969 terugontvang is, lyk so: 614 is beantwoord deur prokureurs en 186 deur leerklerke/kandidaatprokureurs. Omrede die Republiek van Suid-Afrika op daardie stadium byna 3 700 prokureurs gehad het en omtrent 1 000 leerklerke, is dit 'n steekproef van om en by 16% van die teikengroep.
Uit die prokureurs was daar
Onder die leerklerke was daar
Verdere statistiek word na gekyk, onder andere op grond van die kwalifikasie van die respondente, maar wat jaartal betref onder prokureurs is dit duidelik:
Die prokureurs wat hul opleiding voor 1939 gekry het...
Die prokureurs wat hul opleiding tussen 1940 en 1959 gekry het...
Die prokureurs wat hul opleiding ná 1960 gekry het...
De Rebus maak die volgende opmerkings:
Plek | Aantal respondente | Ten gunste van afskaffing | Ten gunste van Matrieklatyn | Ten gunste van Universiteitslatyn | ||||
Aantal | % | Aantal | % | Aantal | % | |||
Johannesburg | 142 | 60 | 42,2 | 50 | 35,2 | 32 | 22,6 | |
Pretoria | 100 | 19 | 19,0 | 40 | 40,0 | 41 | 41,0 | |
Transvaalse platteland | 164 | 42 | 25,6 | 82 | 50,0 | 40 | 24,4 | |
Totaal vir Transvaal | 406 | 121 | 29,8 | 172 | 42,3 | 113 | 27,9 | |
Bloemfontein | 29 | 6 | 20,7 | 16 | 55,1 | 7 | 24,2 | |
Vrystaatse platteland | 47 | 24 | 51,0 | 18 | 38,3 | 5 | 10,7 | |
Totaal vir die Oranje-Vrystaat | 76 | 30 | 39,4 | 34 | 44,7 | 12 | 15,9 | |
Kaapstad en Port-Elizabeth | 92 | 30 | 32,6 | 44 | 47,8 | 18 | 19,6 | |
Kaaplandse platteland | 106 | 40 | 37,7 | 52 | 49,0 | 14 | 13,3 | |
Totaal vir Kaapprovinsie | 198 | 70 | 35,3 | 96 | 48,4 | 32 | 16,3 | |
Durban en Pietermaritzburg | 84 | 28 | 33,3 | 34 | 40,9 | 22 | 25,8 | |
Natalse platteland | 27 | 11 | 40,7 | 12 | 44,4 | 4 | 14,9 | |
Totaal vir Natal | 111 | 39 | 35,1 | 46 | 41,4 | 26 | 23,5 | |
Suidwes-Afrika en Rhodesië | 9 | - | - | 8 | 88,8 | 1 | 11,2 | |
Totaal | 800 | 260 | 32,5% | 356 | 44,5% | 184 | 23% |
1970's
Dit wou voorkom of daar 'n ommeswaai begin plaasvind het teen 1973. Want nie alleen van die akademici nie, maar ook uit die geledere van die georganiseerde prokureursberoep het nou die Latynvereiste vir die toelating as prokureur sterk bevraagteken. Die Transvaalse én Kaaplandse Prokureursordes het albei in hul jaarverslae aangedui "dat komitees aangestel is om die noodsaaklikheid van Latyn as verpligte vak by die opleiding van prokureurs te ondersoek". En nie alleen verskyn daar 'n hoofartikel in Januarie 1973 in De Rebus Procuratoriis wat die vraag opper of die Latynvereiste die beroep in sy geheel benadeel nie, maar volgens 'n berig in Hoofstad (17 Januarie 1973) "was die oorgrote meerderheid van prokureurs wat gevra is om 'n mening uit te spreek, asook 'n regsakademikus, prof. M. L. Benade, nie ten gunste van die behoud van Latyn nie."
Die sogenaamde "retensioniste", wat vir die behoud van Latyn stry, voer die volgende argumente aan:
Die sogenaamde "abolisioniste", wat vir die afskaffing van Latyn stry, het op die volgende argumente gesteun:
Gevolglik skeep hy sy regsvakke en ander stopvakke af en word van die eerste klastoets of eksamen af geëtiketteer, gebrandmerk en getakseer as 'n vyftig-persenter. Slaag hy die spesiale Latyn, wonder bo wonder in sy eerste akademiese jaar, moet hy Latyn I in sy tweede jaar as vak neem. En weer eens is dit 'n herhaling van die eerstejaar se geskiedenis. Die regsvakke, wat nou al die pitkos-stadium bereik, word steeds afgeskeep en die regsdosent se eerste indrukke van die student se vermoë uit die eerstejaar word herbevestig, en siedaar! ons Latynlose matrikulant van weleer het finaal sy lot verseël met die vyftigpersenter-etiket aan sy baadjie.
Volgens die Amptelike Jaarboek van die Republiek van Suid-Afrika (1986) word die onderskeid en (voor)vereistes wat betref die onderwys en opleiding van advokate en prokureurs onderskeidelik, só uiteengesit:
Advokaat | Prokureur |
Die toelating van 'n advokaat word deur die Wet op die Toelating van Advokate, 1964 (Wet 74 van 1974) beheer. Die aansoeker moet ouer as 21 jaar wees en geskik en bevoeg om toegelaat te word. Hy moet 'n Suid-Afrikaanse burger wees of wettiglik vaste verblyf in Suid-Afrika verkry het, en hy moet bowendien normaalweg in die land woon. Hy moet in besit wees van die voorgeskrewe akademiese bevoegdhede - die graad LL.B. van 'n Suid-Afrikaanse universiteit wat behaal is ná 'n studiekursus van nie minder nie as vyf jaar, en wat nie minder nie as een kursus in elk van die volgende tale insluit: Afrikaans, Engels en Latyn. | Die toelating van 'n prokureur word deur die Wet op Prokureurs, 1979 (Wet 53 van 1979) beheer. Die kandidaat moet ouer as 21 jaar wees, en geskik en bevoeg om toegelaat te word. Hy moet 'n Suid-Afrikaanse burger wees of wettiglik permanent in die land kan woon, en moet bowendien normaalweg in die land woon. Hy moet die voorgeskrewe eksamens met goeie gevolg aflê en aan die bepalings van sy leerkontrak voldoen. Die vereiste akademiese bevoegdheid vir toelating as prokureur is die graad baccalaureus legum of baccalaureus procurationis van enige Suid-Afrikaanse universiteit. Daarbenewens moet die kandidaat voorgeskrewe eksamens in Afrikaans en Engels aflê, asook 'n praktiese eksamen in die prokureurspraktyk. Die voorgeskrewe tydperk van die leerkontrak is minstens twee jaar. Die prokureur moet voorgeskrewe praktiese eksamens aflê voordat hy as notaris en aktebesorger kan praktiseer. |
Die Universiteit van Kaapstad het in 1986 appèl aangeteken nadat die Kaapse Hooggeregshof bevind het dat die intensiewe kursusse in Afrikaans en Latyn van die betrokke universiteit niks hoër as matriekvlak is nie. Die appèl het misluk: die Appèlhof het beslis dat Afrikaans en Latyn op tersiêre vlak 'n vereiste tot die toelating van advokate tot die balie is – die UK se kursusse was substandaard. Volgens De Villiers (in 1988) verskil die prokureurs se siening van Latyn noodwendig van advokate s'n, omrede die prokureur nie oor dieselfde kennis van Latyn hoef te beskik as 'n advokaat nie. "'n Advokaat moet bevoeg wees om aan so 'n debat [in die Appèlhof] te kan deelneem en sy deel by te dra. As hy nie daartoe in staat is nie, sal sy opponent hom die loef kan afsteek". In 1988 het die Minister van Justisie daarop gewys dat Latyn in wese slegs van belang is indien die betrokke persoon 'n advokaat wil word. Reeds in 1988 het die Algemene Balieraad van Suid-Afrika al besluit om hierdie Latynvereiste te skrap. In 1988 het sowat 75 persent van Suid-Afrika se advokate gestem vir die afskaffing van Latyn as 'n voorvereiste vir toelating tot die Balie of as advokaat: "'n Belangrike rede vir dié verandering in die Balie se houding is dat Latyn as voorvereiste 'n groot struikelblok is vir swartmense wat tot die Balie toegelaat wil word" Dit beteken dat die skrapping van die genoemde vereiste bloot die status quo ante sou teweegbring, dus, voor 1964. Die verordening van artikel 3(2) van Wet 74 van 1964 het die Latynvereiste vir die eerste keer op die wetboek geplaas, wat die outonomie van die universiteite se leerplanne beïnvloed het. Nietemin is geglo dat die universiteite steeds Latyn sal behou as vereiste ter verwerwing van die LLB-graad, selfs al sou die wet geskrap word. Die Balies van Bloemfontein, Kimberley en Pretoria het egter teen die mosie gestem. Sowat die helfte van die Kaapse advokate het in die plaaslike stemming teen die afskaffing van Latyn gestem. Regstudente van die Universiteit van die Noorde het ook beswaar gemaak teen die motivering van die Algemene Balieraad, omdat dit die indruk geskep het dat swart studente nie Latyn onder die knie kan kry nie; uit die statistiek is bewys dat die swart studente nie meer met Latyn sukkel as hul blanke medestudente nie, selfs al het die meeste swart hoërskole nie Latyn aangebied nie. Verskeie lesersbriewe aan Die Burger het hierdie voorgestelde afskaffing beskou as paternalisties, kortsigtig, 'n afskaling van standaarde, 'n leerplan wat die pad van die minste weerstand volg, asook 'n bedekte innuendo dat swartmense nie skrander genoeg is om Latyn baas te raak nie; buitendien was Latyn vir die studente van vroeër geen struikelblok nie – dit sou so goed wees om ander vakke af te skiet, soos die wetenskap vir 'n voornemende ingenieur.
In 1989 het die Minister van Justisie, Kobie Coetsee, aangekondig dat Latyn nie afgeskaf kan word as toelatingsvereiste vir advokate nie. Coetsee het ook gesê die bewering dat Latyn vir swart studente moeilik is, "smaak na paternalisme", omrede Latyn ook vir baie Afrikaans- en Engelssprekendes moeilik is. In 1990 het die minister die volgende voorwaardes vir voornemende advokate as wetsontwerp tydens 'n Parlementsitting ingedien:
Wat dus nou gebeur het is dat dit nie meer nodig was vir die voornemende advokaat om Latyn op ná-matrikulasievlak te slaag nie – voorbereidende Latyn was nou as voldoende beskou vir toelating tot die Balie.
Hierdie wetgewing wat ingestel is het nie die teenstanders of voorstanders van die afskaffing van Latyn as vereiste vak tevrede gestel nie. Die Raad van die Vereniging van Prokureursordes het saam met die Balierade die siening gedeel dat Latyn heeltemal geskrap moet word as 'n vereiste tot die toelating van advokate.
Die dekaan van die regsfakulteit aan die Universiteit van Stellenbosch het in Februarie 1990 gesê dat die wegdoen van Latyn beslis 'n leemte in die regsopvoeding sal laat. In die fakulteit self het die meerderheid van twee derdes die vorige jaar ten gunste van die behoud van die vak gestem, selfs al sou wetgewing verander. In dieselfde maand nog was al die Afrikaanse universiteite (met die uitsondering van die Universiteit van Wes-Kaapland) feitlik die enigstes in die land oor wat besluit het om Latyn I nog as voorvereiste vir die regsgraad LL.B. te behou. Die Universiteit van Zoeloeland was die eerste Suid-Afrikaanse universiteit wat Latyn as voorvereiste vak afgeskiet het. Die Afrikaanse universiteite wat die behoud van die regsvak voorgestaan het was die Universiteite van Stellenbosch, Pretoria en Potchefstroom, die Randse Afrikaanse Universiteit en die Universiteit van die Oranje-Vrystaat.
In April 1990 het die staat besluit om die taalvereistewet nie te skrap nie, maar te verslap. Die sekere minimum standaarde is ingestel as oorgangswet wat "onder die bestaande bedeling afgehandel moet word".
Binne 'n bestek van vyf maande het die Afrikaanse regsfakulteite 'n ander deuntjie begin sing: daar was nou geen regverdiging meer vir die verpligte studie van Latyn deur regstudente nie – die mosie is unaniem aanvaar op 'n konferensie van die Vereniging van Universiteitsdosente. Die rede: die statutêre vereiste dat studente Latyn moet slaag, het ingedruis teen die selfstandigheid van regsfakulteite se besluit oor watter vakke studente moes slaag. Nietemin het die staat in Mei 1991 volgehou dat Latyn moet bly. In 1991 het die Wet no. 106 van 1991, wat oor die toelating van advokate tot die Balie handel, vereis dat die aansoeker, benewens universiteitskursusse in Afrikaans en Engels (destyds die twee amptelike landstale), óf in matrieklatyn, óf in 'n spesiale universiteitskursus in Latyn moes geslaag het ten einde toegelaat te word tot die Balie.
In Augustus 1994 het die Minister van Justisie, Dullah Omar, bevestig dat wetgewing ingedien gaan word om Latyn as voorvereiste vir regspraktisyns af te skaf. In vroeg-Augustus 1994 het die Universiteit van Kaapstad dit reeds oorweeg om Latyn vir LL.B. af te skaf. Agt ander universiteite het Latyn reeds opsioneel verklaar, maar het die studente gewaarsku dat die wet steeds geld dat hulle nie sonder Latyn mag praktiseer nie. Teen laat-Augustus 1994 was Omar besig om wetgewing op te stel om die verskyningsbevoegdheid aan prokureurs in die Hooggeregshof te verleen en om Latyn as toelatingsvereiste vir regspraktisyns af te skaf.
Tydens die tweejaarlikse dinee van die Bloemfonteinse Prokureursvereniging, in September 1994, het die oudpresident Nelson Mandela gesê dat die voorvereiste van Latyn, "wat so baie jong swart regstudente kniehalter", heroorweeg moet word. In die middel van November 1994 is die wetsontwerp, wat voorsiening daarvoor maak dat Latyn nie meer in Suid-Afrika 'n vereiste vir die toelating van prokureurs en advokate nie, deur die Senaat aanvaar. Op 23 November 1994 teken Mandela as president die Engelse teks van Wet No. 55 van 1994, wat op 2 Desember 1994 in werking tree. Die Wysigingswet op die Toelating van Advokate[dooie skakel] lui:
To amend the Admission of Advocates Act, 1964, so as to abolish the requirement that must be complied with by persons in respect of the Latin language in order to be admitted to practise as advocates;
Die reëls wat geskrap is dui uit die vorige Wysigingswet op die Toelating van Advokate, No. 106 van 1991 Geargiveer 21 Februarie 2016 op Wayback Machine dat die voornemende advokaat vroeër in sy matriekjaar Latyn HG moes geslaag het of op naskoolse vlak minstens een kursus in Latyn wat van 'n gelykstaande of hoër standaard was.
Teen 1996 het die nuwe Suid-Afrikaanse skoolwet van die Minister van Onderwys, prof. Sibusiso Bengu, voorgestel die leerling/onderwyser-verhouding moet landwyd 40 tot 1 vir laerskole en 35 tot 1 vir hoërskole wees. Oortollige onderwysers kon kies om af te tree, of na 'n ander provinsie verplaas te word. Op daardie tydstip was die Wes-Kaapse leerling/onderwyser-verhouding 26 leerlinge per onderwyser. Rapport van 28 Mei 1996 stel die volgende probleem:
Die afskaling van Latyn en die klassieke erfenis aan staatsinstansies word onder andere ook deur party as die doelbewuste aftakeling van die Westerse waardestelsel beskou, ten gunste van die Afrikaniseringsbeleid, wat vervreemding veroorsaak. 'n Senior politieke joernalis van Rapport skryf in 1999 eksplisiet in sy boek rondom Afrikaneridentiteit: "Die Afrikaner, gedra deur 'n nuwe Afrikaner-nasionalisme, is die produk van sy volledige Europese geskiedenis. Dit behels sy erfenis van die klassieke beskawings, onder meer die Romeinse reg, die Griekse filosofie en rasionalisme, Latyn en die Christendom en die Renaissance."
Luidens die Kwalifikasieraamwerk vir Hoër Onderwys, soos gewysig op Januarie 2013 (maar reeds aangedui in die Staatskoerant van 5 Oktober 2007), word Latyn op die sertifikate van Suid-Afrikaanse instansies ook nie deur die Staat aangemoedig nie:
In Junie 2003 het die Vryheidsfront in die parlement voorgestel Latyn moet deur Pansat bevorder word. Die Grondwet stipuleer spesifiek die tale Arabies, Hebreeus en Sanskrit, asook "other languages used for religious purposes in South Africa", maar nie Latyn nie. Die aansoek is verwerp.
Omdat Matrieklatyn sedert 1965 binne 'n jaar se tyd aangeleer moes word (as die student nie met Latyn gematrikuleer het nie), het die Universiteit van Stellenbosch die Consensus-rekenaarprogram ontwikkel wat aanvanklik ontwerp is vir die gebruik van Afrikaanssprekende studente. Later is die program ook uitgebrei na drietaligheid (Afrikaans, Engels en Xhosa). Die programmatuur was in Turbo Pascal geskryf en die antwoorde het geen uitsondering toegelaat nie – selfs 'n spasiebalk wat per ongeluk ingetik is, sou as 'n fout geregistreer word. Die voordeel was weer om die student bewus te maak van die noodsaaklikheid om presies en absoluut akkuraat te werk. Die program het gefokus op woordeskat (gegrond op die Lexis Latina-kernwoordelys deur Van Stekelenburg (1985), wat uit omtrent 1 500 inskrywings bestaan), vervoeging, veelkeuse morfologie, woorduitgange, sinsbou en uitbou van die selfstandige naamwoord (verbuigings). Hoewel van die studente nie ewe konsekwent gewerk het nie, het uit 480 eerstejaars (in die jaar 1991) 141 nie van die programmatuur gebruik gemaak nie. Uit 313 het slegs 43 die vereiste totale tyd ingesit (30 minute per week) of selfs meer. Die verskille tussen die gemiddelde prestasies van studente wat glad nie die programmatuur gebruik het en diegene wat langer as die vereiste minimum gewerk het, was 11,5%. Waar meer as 28% van die eerste groep uitgesak het, het geen van die "ywerige" werkers gesak nie. Diegene wat baie meer as die vereiste tyd ingesit het, het in November gemiddeld 64% behaal, geeneen het gesak nie, 17,4% het met lof geslaag. Wat toon: gemiddelde prestasie het tred gehou met toewyding. In 1992, 1993 en 1994 het die patroon hom naastenby herhaal. In 1994 is 'n wortel voor sommige studente se neus gehou om deelname aan te spoor; hier het die toewyding voor die rekenaar veel groter vrugte afgewerp.
Selfs met die onmiddellike daling van Latynstudente in 1995, het Claasen en Brand gehoop op beter kwaliteit bo kwantiteit in die toekoms.
In 2010 uiter Dircksen haar kommer oor die kwyning van Latyn by die Suid-Afrikaanse regsopleiding. Op 29 Mei 2013 is 'n spoedberaad gehou deur die Wetgenootskap van Suid-Afrika (LSSA), die Algemene Balieraad (ABR) en regsdekane en -dosente. Die swakker gehalte van die LLB-graad wat die land uitlewer aan swakker opgeleide regslui is bespreek. Eerstens is bevind dat daar gebreke in die regsgegradueerdes se geletterdheid en syfervaardighede bestaan. Tweedens was almal by die beraad dit eens dat die huidige LLB onvoldoende is. Prof. Marinus Wiechers, voormalige regsdosent en rektor aan Unisa, het tydens 'n onderhoud aan Beeld sy kommer uitgespreek oor die regters van die toekoms wat met geen behoorlike regsopleiding die bewakers van die reg gaan wees. Hy noem onder meer dat regstudente vroeër eers 'n ander B-graad moes behaal het, soos BA Regte of BCom Regte, voordat die LL.B. aangepak is. Dit is tydens laasgenoemde dat ook Latyn en Romeinse reg as vereistes gestel is: "As ’n mens nie Latyn ken nie, kan jy ook nie die Romeinse reg bestudeer nie. Jy kan dus nooit ’n begrip vorm van die regsreëls waarop ons huidige reg gegrond is nie." Die uiteinde hiervan is dat jong advokate en prokureurs pleitstukke in die howe indien wat "amper kinderagtig naïef is". Sowel Dircksen as Schumann beaam in hul briewe dat die waarde van Latyn in die regswese beslis nie onderskat moet word nie.
In navolging van veral die Europese tale wat hul uiters gewilde romans en blitsverkopers in Neolatyn onsterflik maak, ten einde die aanleer van Latyn sowel te vergemaklik en ook prettig te maak vir die Afrikaanse leerling, is daar ook al aan die hand gedoen dat C.J. Langenhoven se wetenskapsfiksieroman, Loeloeraai uit Afrikaans in Latyn vertaal moet word.
Vermoedelik is Elegans et accurata gentis Africanae circa Promontorium Capitis Bonae Spei vulgo Hottentotten nuncupata Descriptio epistolaris deur De Grevenbroek (1695) die eerste werk uit Latyn wat in Kaaps-Hollands vertaal is (gepubliseer Januarie/Februarie 1886); maar die 19de en 20ste eeu het geen noemenswaardige werke uit Afrikaans in Latyn opgelewer nie. Die grootste werk in Afrikaans uit Latyn is die sesdelige Voorlesinge oor die hedendaagse reg na aanleiding van De Groot se 'Inleiding tot de Hollandse Rechtsgeleerdheyd' van professor D. G. van der Keessel se Praelectiones Iuris Hodierni ad Hugonis Grotii Introductionem ad Iurisprudentiam Hollandicam - 'n projek wat in 1939 begin het by die sameroeping van 'n komitee. Die eerste boekdeel is in 1961 uitgegee, gevolg deur die tweede (1963), derde (1964), vierde (1966) en vyfde (1967), met die sesde en laaste deel eers in 1975.
Van die redes wat aangevoer word dat juis Loeloeraai die eerste geskikte vertaalde werk in Latyn moet wees, is omrede die vertaling in Latyn ook 'n pluimpie vir Afrikaans sal wees, omrede die Latiniste op sowel die bronteks as die vertaling sal fokus. Voorts bly die temas wat in die roman aangeroer word 'n eeu later steeds aktueel, van universele aard en humanisties. Die boek is meermale herdruk en vir sowel matrikulante as tweedejaarstudente voorgeskryf, en is in 'n proefskrif ondersoek. Die boek is sowel toeganklik vir die gewone mens as vir die akademici. Enkele Afrikaanse woorde in die roman is reeds verouderd, maar Latyn kan 'n makliker verklaring en standhoudende vertaling bied. Loeloeraai is ook deurspek van Latynse begrippe in vertaalde vorm. Die boek word veral in 2021 as relevant beskou in die tydperk wat Langenhoven sou beïnvloed het toe die boek geskryf is 'n eeu tevore - die Groot Griep het juis Oudtshoorn in daardie dekade getref. Boonop was Langenhoven self versot op Latyn.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Latynonderrig, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.